Psalm 95 – Die Here is ons God, en ons is sy volk

Psalm 95 val in twee duidelike dele uiteen:

  • ’n Oproep tot ’n loflied oor God – vers 1–7a
  • ’n Waarskuwing om nie hardkoppig en moedswillig te wees nie – vers 7b–11

Soos met die vorige twee Psalms was Psalm 95 ook geassosieer met die Sabbatsviering, hoewel dit nie formeel deel van die “Sabbatsweek” Psalms was nie.  Dit is in Joodse huishoudings gebruik as ’n intrede Psalm, veral die eerste 7 verse, met die aanvang van die Sabbatsritueel op ’n Vrydagaand.  Dit is ook ’n baie geliefde Psalm om as toetredelied of loflied in die liturgie te gebruik.

Oproep tot ’n loflied oor God – vers 1–7a

Let op die drie woorde wat die oproep tot lof inlei: “Kom …” (vers 1), “Laat onsgaan…” (vers 2), en “Kom ons val in eerbetoon voor Hom neer …” (vers 6), telkens gekoppel aan die verdere oproep tot lof en jubeling.  Dit beskryf die dinamiek van die liturgiese beweging tot lof van God, van buite die tempel, na die binnekant, en uiteindelik die neerkniel voor God in aanbidding.

God word beskryf as die een wat redding gee, wat koning is oor al die gode, die Skepper van die dieptes van die aarde sowel as die kruine van die berge.  Dié God is ook die Herder wat die volk soos ’n kudde skape versorg.

Waarskuwing om nie hardkoppig en moedswillig te wees nie – vers 7b–11

Die oorgang na die waarskuwing is amper brutaal eerlik.  Die profeet–priester draai nie doekies om nie.  Die liturgiese prosessie om aan God eer te betoon, beteken uiteindelik niks as dit nie gekoppel word aan gehoorsaamheid aan die Skepper– en Herder–God in die pad wat hulle met dié God in die lewe loop nie.

Dié boodskap word met voorbeelde uit die verlede gerugsteun, en die volk opgeroep om die Here nie teleur te stel soos die geval was in die woestyn by Meriba en Massa nie waar die volk fout gevind het met God se pad van “waterskaarste” met hulle en die realiteit van sy teenwoordigheid by hulle bevraagteken het en Hom getoets het met die woorde: “Is die Here by ons of nie?” (Eks. 17:7 en Num. 20:13).  Dieselfde lot kan die aanbidders in die tempel tref as hulle nie luister na die Here nie en sy teenwoordigheid by hulle bevraagteken.

Wees daarom nie hardkoppig en moedswillig soos hulle nie, anders sal julle ook nie die rus van die Here beleef nie, sê die Psalmis.  In die NT vind dié boodskap ’n neerslag in Hebreërs 3–4 waarin die gevaar van afvalligheid deur ongeloof uitgespel word met verwysing na beide Eks. 17 as Psalm 95.  Nie net word die NT volk van God daar uitgenooi om die “rus” van God binne te gaan deur Hom te erken en na Hom te luister nie, maar die waarskuwende stem van die Psalm word direk met die Heilige Gees in verband gebring.

Boodskap van die Psalm

Ons kan maklik gewoond raak aan die lofprysing van die Here in ons byeenkomste en die ontsag vir Hom verloor in ons daaglikse lewe waar ons uitgelewer is aan allerlei uitdagings en beproewinge.  Die lofprysing moet ons juis energie gee vir die uitdagings wat wag, eerder as wat dit ons soort van laat ontvlug van die werklikheid.  God is immers by ons in ons lofprysing sowel as in die beproewings van die lewe.  Daarop kan ons staatmaak, maar daarvoor moet ons ook toelaat en begroot: “Die Here IS by ons!”

Daarom, dit is die realiteit wat ek vandag bely en verwag: “Die Here is ons God en ons is sy volk, sy kudde, sy skape, deur sy hand versorg.” (vers 7a)

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: