Skip to main content

Psalm 95 – Die Here is ons God, en ons is sy volk

Psalm 95 val in twee duidelike dele uiteen:

  • ’n Oproep tot ’n loflied oor God – vers 1–7a
  • ’n Waarskuwing om nie hardkoppig en moedswillig te wees nie – vers 7b–11

Soos met die vorige twee Psalms was Psalm 95 ook geassosieer met die Sabbatsviering, hoewel dit nie formeel deel van die “Sabbatsweek” Psalms was nie.  Dit is in Joodse huishoudings gebruik as ’n intrede Psalm, veral die eerste 7 verse, met die aanvang van die Sabbatsritueel op ’n Vrydagaand.  Dit is ook ’n baie geliefde Psalm om as toetredelied of loflied in die liturgie te gebruik.

Oproep tot ’n loflied oor God – vers 1–7a

Let op die drie woorde wat die oproep tot lof inlei: “Kom …” (vers 1), “Laat onsgaan…” (vers 2), en “Kom ons val in eerbetoon voor Hom neer …” (vers 6), telkens gekoppel aan die verdere oproep tot lof en jubeling.  Dit beskryf die dinamiek van die liturgiese beweging tot lof van God, van buite die tempel, na die binnekant, en uiteindelik die neerkniel voor God in aanbidding.

God word beskryf as die een wat redding gee, wat koning is oor al die gode, die Skepper van die dieptes van die aarde sowel as die kruine van die berge.  Dié God is ook die Herder wat die volk soos ’n kudde skape versorg.

Waarskuwing om nie hardkoppig en moedswillig te wees nie – vers 7b–11

Die oorgang na die waarskuwing is amper brutaal eerlik.  Die profeet–priester draai nie doekies om nie.  Die liturgiese prosessie om aan God eer te betoon, beteken uiteindelik niks as dit nie gekoppel word aan gehoorsaamheid aan die Skepper– en Herder–God in die pad wat hulle met dié God in die lewe loop nie.

Dié boodskap word met voorbeelde uit die verlede gerugsteun, en die volk opgeroep om die Here nie teleur te stel soos die geval was in die woestyn by Meriba en Massa nie waar die volk fout gevind het met God se pad van “waterskaarste” met hulle en die realiteit van sy teenwoordigheid by hulle bevraagteken het en Hom getoets het met die woorde: “Is die Here by ons of nie?” (Eks. 17:7 en Num. 20:13).  Dieselfde lot kan die aanbidders in die tempel tref as hulle nie luister na die Here nie en sy teenwoordigheid by hulle bevraagteken.

Wees daarom nie hardkoppig en moedswillig soos hulle nie, anders sal julle ook nie die rus van die Here beleef nie, sê die Psalmis.  In die NT vind dié boodskap ’n neerslag in Hebreërs 3–4 waarin die gevaar van afvalligheid deur ongeloof uitgespel word met verwysing na beide Eks. 17 as Psalm 95.  Nie net word die NT volk van God daar uitgenooi om die “rus” van God binne te gaan deur Hom te erken en na Hom te luister nie, maar die waarskuwende stem van die Psalm word direk met die Heilige Gees in verband gebring.

Boodskap van die Psalm

Ons kan maklik gewoond raak aan die lofprysing van die Here in ons byeenkomste en die ontsag vir Hom verloor in ons daaglikse lewe waar ons uitgelewer is aan allerlei uitdagings en beproewinge.  Die lofprysing moet ons juis energie gee vir die uitdagings wat wag, eerder as wat dit ons soort van laat ontvlug van die werklikheid.  God is immers by ons in ons lofprysing sowel as in die beproewings van die lewe.  Daarop kan ons staatmaak, maar daarvoor moet ons ook toelaat en begroot: “Die Here IS by ons!”

Daarom, dit is die realiteit wat ek vandag bely en verwag: “Die Here is ons God en ons is sy volk, sy kudde, sy skape, deur sy hand versorg.” (vers 7a)


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda