Skip to main content

Psalm 81 – Maak jy jou mond wyd oop, dan vul Ek dit!

Psalm 81 is weereens ’n “liturgiese preek” wat:

  • ’n oproep tot lof bevat (vers 2-6),
  • ’n lerende gedeelte (preek) wat God se voorsiening, die volk se koppigheid, maar ook God se gereedheid om te help as hulle sou luister op die tafel sit (vers 7-15) en
  • ’n appèl aan die einde om die Here te dien insluit, omdat dit God se voorsiening vir hulle sal ontsluit (16-17).

Jubel tot eer van God ons sterkte – vers 2-6

Dis interessant dat lof meermale die eerste oproep aan die volk van God is, selfs wanneer daar spesifieke dinge is wat aangespreek moet word.  Lofprysing kom voor skuldbelydenis, soos dit ook in die verhaal van die teruggekeerde ballinge in Nehemia 8 die geval was.  Hulle moes hulle hartseer bedwing nadat die Woord hulle aangespreek het en eers die Here loof en prys, vóór hulle in skuldbelydenis en boetedoening voor Hom vergader het.

Israel word hier tot feestelike lofprysing aangemoedig met sang, tamboeryne, liere en harpe op hulle onderskeie feeste.  Die ramshoring moet geblaas word om die verskillende feeste aan te kondig: nuwemaan, volmaan en so meer (vgl. Paulus wat sê dat dít in die nuwe bedeling tot ’n einde gekom het – Kol. 2:16).  Dit is God se instelling wat as dure plig op hulle gelê is reeds van die begin van hulle roeping as Godsvolk.

Vers 6b lui eintlik soos volg: “In ’n taal wat ek nie ken nie, hoor ek …” (2014 vertaling) wat dui op die feit dat die liturg (profeet/priester) ’n openbaring van God ontvang het wat hy nou aan die volk meedeel as gesaghebbende woord van God.

Israel, luister na My – vers 7-15

God se boodskap word dan in drie dele gelewer: God se oorvloedige voorsiening in die verlede (vers 7-11), die volk se koppigheid om na Hom te luister (vers 12-13) en God se gereedheid om te help as hulle sou luister (vers 14-15).

Let op hoe swaar tyd in Egipte in herinnering geroep word met die metafoor van die mandjies wat hulle kon neersit, waarmee God se verlossing uit Egipte geteken word.  Die gawe van die wet in die woestyn word met die stem uit die donderwolk geskets, die teenstand van die volk met die versoeking by Meriba.  Die wet self word in herinnering geroep met die verwysing na die eerste twee gebooie (vers 10).

Maar ná die geskiedenisles van God se voorsiening verander die fokus na die bevestiging van ’n belofte wat steeds vir hulle geld: “Maak jy jou mond wyd oop, dan vul Ek dit.” Die uitnodiging is dus vir elkeen wat na dié woord luister en daarop reageer, ook vandag nog.

Dan word teruggegaan na die geskiedenis van Israel se koppigheid wat nie na God wou luister nie en daarom deur die Here gelos is om hulle eie kop te volg, al was dit tot hulle skade.

Tóg is die Here onmiddellik gereed om te help as hulle maar net wou luister.  Hy sal dan verseker ingryp en hulle vyande verslaan.

God sal julle voed met die beste koring – vers 16-17

Die liturg sluit af met die appèl op die volk om te kies om na Hom te luister (vers 16-17).  “Dié wat voorgee dat hulle die Here dien, maar Hom haat, hulle straf sal vir altyd duur.” “Maar vir julle sal Hy voed met die beste koring, julle versadig met heuning uit ’n rots.”

Die boodskap van die Psalm

Dit is onmoontlik vir my om dié Psalm te lees sonder om die verhaal van George Müller te onthou.  Ek haal uit die “Bybel vir die Lewe.  24/7” ’n kort deel van sy lewensverhaal aan:

“1835 was ’n slegte jaar vir die Müllers.  George se vrou, Mary, se pa is oorlede en hulle vyftien maande oue babaseun het siek geraak en gesterf.  Mary was depressief en George het erge maagprobleme ontwikkel.  Die ergste was dat hulle geen geld oor gehad het nie.  In hierdie tyd het hy en sy vrou ’n sagte hart ontwikkel vir al die weeskinders in Engeland, maar hoe begin jy ’n kinderhuis sonder geld?  Toe lees George Psalm 81:11.  Hy het op God alleen vertrou en nooit in al sy jare vir iemand geld gevra nie.  Die Here het gesorg dat hy in sy leeftyd vir 10 000 weeskinders kon omgee.” (my beklemtoning)

Inderdaad: “Wat julle nodig het, sal Ek in oorvloed gee” (vers 11).  ’n Belofte uit dié Psalm wat menige lewe al aangeraak en verander het.  Trouens, in die oorspronklike Hebreeus staan daar: “Maak jy jou mond wyd oop, dan vul Ek dit”!  Die prentjie van ’n klein voëltjie in ’n nessie wat wag vir die kos wat sy ma of pa bring, inspireer my verbeelding om dieselfde, en méér, van God te verwag!

Ek gaan vandag tegemoet met die belofte van die Here: “Maak jy jou mond wyd oop, dan vul Ek dit”!


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.