Skip to main content

Psalm 90 – Leer ons ons dae só gebruik dat ons wysheid bekom

O God, our help in ages past

Our hope for years to come,

Our shelter from the stormy blast,

And our eternal home.”

So lui die eerste vers van Isaac Watts se parafrase van hierdie Psalm reeds in 1719 n.C. wat steeds wêreldwyd in die Christelike kerk gesing word.  Hy het nege verse geskryf; die eerste vers het aanvanklik begin met “Our God …”, maar is deur John Wesley verander na “O God”.

Hy het die essensie van hierdie Psalm op ’n besondere raak manier vasgevang.  God was ’n toevlug (skuilplek – 2014 vertaling) van geslag tot geslag (vers 1): “in ages past”, sowel as die hoop “for years to come”.  Om die waarheid te sê, Hy is “our eternal home.”  Want, is Hy dan nie van ewigheid tot ewigheid God nie? (vers 2)

Die prentjie wat die woord toevlug/skuilplek oproep, is dié van ’n kraal of opstal waar skape of bokke weg van die wind en weer en gevaar beskerm word.  Só is God vir ons, sê die Psalmdigter, wat die tradisie aan Moses verbind (vgl. ook die lied van Moses in Deut. 31:30–32:47).  Om die waarheid te sê, die woord vir toevlug word ook gebruik vir God se woonplek (Deut. 26:15) waarin Hy natuurlik die Een is wat die veiligheid daarvan waarborg.  Dit is dié wete wat  rus bring in onstuimige omstandighede.

Voordat jy verder lees, eien dié woord vir jouself toe: “God is vir jou ’n toevlug van geslag tot geslag.”

Die Psalm verdeel in twee natuurlike dele:

  • Vers 1–12 is ’n lofprysing op God se werk in die volheid van die lewe van die mensdom wat afsluit met ’n gebed dat die Here ons wysheid sal gee.
  • Vers 13–17 is ’n gebed dat God sy ontferming en liefde in oorvloed aan sy volk sal gee sodat God se goedheid en grootheid vir die nageslag duidelik sal bly.

Lofprysing – vers 1–12

God word geloof vir sy beskerming wat nie net deur die geslagte in die geskiedenis ervaar is nie, maar ook van die begin van die skepping af – “voordat die berge gebore is”.  Trouens, die frase “van ewigheid tot ewigheid” kan ook vertaal word as “van die begin af tot die einde toe” wat God se allesomvattende sorg en betrokkenheid by alle mense uitdruk.

Tog, sê die Psalmis, is God nie aan die verloop van tyd gebonde of onderworpe nie.  “Duisend jaar is vir U soos gister as dit verby is.” (vers 4).  Dit beteken nie dat tyd geen betekenis vir God het nie, net dat tyd as’t ware inpas as net een deel van die ewigheid waarin God bestaan – waar Hy self geen begin of einde het nie.

Hierteenoor word die mens se eindigheid geskets met die beeld van gras wat maar vir ’n dag bestaan voor dit afgesny word, en verlep en verdroog (vers 5–6).  So is mense onderworpe aan die verganklikheid van die dood.  Daar is ’n absolute einde aan hulle kortstondige bestaan, wat skerp kontrasteer met die oneindigheid van God se bestaan.

Voeg dit by die ander probleem van mense – dat hulle weens hulle oortredinge en sonde aan God se toorn onderworpe is – en die ellende van die mensdom is maar al te duidelik.  Ons jare skiet verby soos ’n gedagte en is vol swaarkry en leed (moeite en rampe – 2014 vertaling) waaroor die Psalmis uitroep: “Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom,” of soos die 2014 vertaling dit het: “Om ons lewensdae na waarde te skat – dit moet U ons leer, sodat ons ’n hart vol wysheid kan verwerf.” (vers 12).

God ken ons soos ons werklik is – eindig, verganklik, geneig tot sonde, onderworpe aan die moeite en rampe van die lewe.  Die geheim van die lewe is dat ’n mens dit doodgewoon erken, en nie net sonder voorgee en met meer eerlikheid sal lewe nie, maar ook jou sal instel om beter die geleenthede en potensiaal wat daar wel is, raak te sien en te benut.  Dit is die tipe wysheid wat ons van God moet afbid, sê die Psalmis, sodat ons die dae wat ons uit God se hand ontvang, kan “tel”, d.w.s. met wysheid kan gebruik.

Gebed – vers 13–17

In hierdie deel van die Psalm bely die Psalmis dat die geheim van die lewe afhanklik is van God se gawes, van sy ontferming (vers 13), sy liefde (vers 14), en die jare wat Hy ons gee (vers 15).  Dit is wanneer Hy elke dag sy liefde in oorvloed gee (vers 14) en Hy sorg dat Sy werk en grootheid duidelik raak vir ons kinders (vers 16) dat die lewe sin begin maak en ons blydskap kan belewe (vers 15).

Daarom vra die Psalmis dat ons die goedheid van die Here ons God só sal belewe, dat Hy die werk van ons hande in stand sal hou.  Watter ongelooflike insig in hoe die lewe werk, en watter belangrike gebed om te bid!

Die boodskap van die Psalm

Dié Psalm is baie bewus van twee goed: 1) hoe onbeduidendheid menslike lewe werklik is in vergelyking met God se grootheid en ewigheid; en 2) hoe afhanklik die mens is van God se ontferming, liefde, en goedheid.  Daar is niks wat goed is wat nie van God af kom nie.  Daarom is die enigste verwagting en hoop wat sin maak van die lewe, in God self en die gawes wat Hy gee, geleë.

Daarom kan ek myself vind in hierdie aanhaling van Nicolas Herman, beter bekend as Brother Lawrence: “The time of business,” het hy gesê, “does not with me differ from the time of prayer and in the noise and clutter of my kitchen, while several persons are at the same time calling for different things, I possess God in as great tranquility as if I were upon my knees at the blessed sacrament.” (The Practice of the Presence of God the best rule of a Holy Life. https://archive.org/details/brotherlawrencep00lawr)

Die hele lewe is in God se hand en moet as sodanig deur my gelewe word.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms