Psalm 102 – Hy sal ons gebed nie minag nie

Psalm 102 is ’n roerende klaaglied van iemand wat magteloos en kragteloos voel, waarskynlik saam met sy mense in ballingskap. In ’n metafories ryk gebed stort hy sy hart uit voor die Here, soos die titel in vers 1 aandui, in die hoop dat God sy lot, die lot van sy mense en dié van hulle nageslag sal verander.
’n Mens kan die treffende gebed van die Psalm in drie dele opdeel (en onthou, dit is altyd ook ’n model vir ons eie gebede!):
- HULPGEROEP: Ek voel so verlate soos ’n pelikaan in ’n woestyn – vers 2–12
- BELYDENIS: God luister na die gebed van dié wat alles verloor het – vers 13–23
- HOOP: Ons nageslag sal die land bly bewoon – vers 24–29
HULPGEROEP: Ek voel so verlate soos ’n pelikaan in ’n woestyn – vers 2–12
Die Psalmis wend hom in sy nood tot die Here en skets in dertien metafore en vergelykings die ellende van sy toestand, sommige daarvan baie poëties:
- Sy dae verdwyn soos rook;
- Sy liggaam brand soos vuur;
- Hy is verskroei en uitgedroog soos gras – 2014 vertaal nog meer poëties: “My hart is platgeslaan en verdor soos onkruid”;
- Hy het alle eetlus verloor;
- Hy is net vel en been van al die pyn;
- Hy is so verlate soos ’n pelikaan in ’n woestyn (die betekenis is onseker; die 2014 vertaling dink dit verwys na ’n swartkraai, ander dink dit verwys na ’n aasvoël, nog ander na ’n woestyn uil);
- Hy is soos ’n uil (naguiltjie – 2014 vertaling) tussen die murasies;
- Hy voel soos ’n eensame voël op ’n huis se dak;
- Sy vyande verneder hom deur sy naam as ’n vloekwoord te gebruik;
- Sy daaglikse brood is as (of stof – 2014 vertaling);
- Sy drank is met trane gemeng;
- Sy lewe is naby sy einde soos ’n skaduwee wat lank word
- Hy is soos verdroogde gras (onkruid – 2014 vertaling).
Hy vra dat die Here tog gou sal antwoord, want uiteindelik is ook dié situasie een waaraan God op intieme wyse deel het – “oor u vervloeking en u woede; ja, U het my opgetel en neergegooi.” (vers 11 – 2014 vertaling). Hy sê egter nie hoekom nie, waarskynlik omdat dit verweef is met die lotgevalle van die volk in ballingskap.
In die deel wat kom, blyk dit meer duidelik dat hy van die lot van die volk praat, en dat sy eie persoonlike ervaring van ellende verweef is met die lot en pyn van sy mense wat in ballingskap is.
BELYDENIS: Hy luister na die gebed van dié wat alles verloor het – vers 13–23
Vers 13 begin met ’n groot MAAR, ’n woord wat ongelukkig uitgelaat is in die 1983 vertaling: “Maar, U, Here, U heers vir altyd, U is daar van geslag tot geslag.” In sy hulpgeroep herinner die Psalmis homself dus aan die ander kant van God: “U sal opstaan en U oor Sion ontferm, want dit is tyd om haar genadig te wees; ja, die aangewese tyd het gekom.” (vers 14). Dit is sy belofte, ’n belofte wat op verskillende wyses in die verlede deur die profete verwoord is. En hy vertolk dit as iets wat nou in aanskyn moet gaan.
God is immers die Heerser (vers 13) en Hy weet Sion is kosbaar vir sy mense, elke klip daarvan (vers 15). Daarom maak die Psalmis staat op die belofte dat Sion herbou sal word sodat die nasies ontsag sal hê vir Sy Naam en Sy Majesteit. En hy bring dié belofte in gebed na die Here en pleit om ’n antwoord.
Ten diepste sê die Psalmis hiermee, God is iemand wat luister na die gebed van dié wat alles verloor het; die armstes se gebed sal Hy nie minag nie (vers 18). Die verhaal van hulle verlossing moet daarom opgeteken word vir die komende geslagte sodat hulle God kan loof en sy lof kan besing.
Let op die eskatologiese perspektief wat in vers 23 geteken word: “wanneer die volke en die koninkryke bymekaarkom om die Here te dien.” Weereens is die herstel van Sion en die antwoord op gebed nie net ter wille van die hulpeloses nie, ook nie ter wille van die Psalmis self nie, maar ter wille van God se Naam en ter wille van al die volke wat Hom moet dien.
HOOP: Ons nageslag sal die land bly bewoon – vers 24–29
Die Psalmis keer terug tot sy eie lot en betreur dit dat sy krag gebreek is toe hy nog jonk was, dat sy lewe verkort is. Hy vra dat die Here hom nie in die fleur van sy lewe sal wegneem nie, maar vind tog berusting in God se ewigheid – “Die hemel en die aarde sal vergaan, maar U sal bly” (vers 27) – en in sy verwagting dat die belofte van verlossing vir sy nageslag bewaarheid sal word (vers 29).
Terloops, die skrywer van Hebreërs het hierdie Psalm se tekening van God as ewig en onveranderlik (vers 26–28) eksplisiet op Jesus van toepassing gemaak (Hebr. 1:10-12).
Die boodskap van die Psalm
Psalm 102 wys vir ons hoe verweef die lotgevalle van die individu is met dié van die geloofsgemeenskap waaraan hy of sy behoort. Wat met die geloofsgemeenskap gebeur, het ’n effek op die individuele gelowige en omgekeerd. Wat veral merkwaardig is, is dat die belofte van verlossing aangegryp word, hoewel die waarmaking daarvan as ’n realiteit uitgespel word wat eers vir die nageslag in werking sal tree. Dit is dus ’n soort geloof wat ’n realiteit vasgryp wat nog in die toekoms lê, en daaroor praat asof dit nou reeds daar is. Die Psalmis tree in vir sy mense hoewel hy self waarskynlik nie aan die uitkoms deel gaan hê nie.
In die NT vind ons op ’n hele paar plekke hierdie tipe geloof wat aan die toekoms vashou, ten spyte van die nie-vervulling daarvan. Petrus sê: “Daarom moet dié wat ly omdat God dit wil, hulle lewe toevertrou aan die getroue Skepper, en aanhou goeddoen.” (1 Pet. 4:19). ’n Mens kan die Psalm se spiritualiteit terugvind in Petrus se verwoording van die tipe geloofslewe wat van ons in beproewinge gevra word.
View all posts in this series
- Inleiding op die 4de Psalmboek: Psalms 90-106 - June 2, 2014
- Psalm 90 – Leer ons ons dae só gebruik dat ons wysheid bekom - June 3, 2014
- Psalm 91 – Ja, U, Here, is my skuilplek! - June 4, 2014
- Psalm 92 – Groots is alles wat U doen, Here - June 5, 2014
- Psalm 93 – God is Koning oor die wêreld en in die geloofsgemeenskap - June 6, 2014
- Psalm 94 – U wat onreg straf, verskyn tog! - June 9, 2014
- Psalm 95 – Die Here is ons God, en ons is sy volk - June 10, 2014
- Psalm 96 – Sing en getuig tot eer van die Regeerder en Regter van die aarde - June 11, 2014
- Psalm 97 – Verbly julle, liefhebbers van die Here - June 12, 2014
- Psalm 98 – Hy kom om oor die aarde te heers - June 13, 2014
- Psalm 99 – Kom buig in aanbidding voor Hom: Heilig is Hy! - June 16, 2014
- Psalm 100 – Juig al wat leef, juig voor die Heer! - June 17, 2014
- Psalm 101 – Ek wil my daaraan wy om met integriteit te lewe - June 18, 2014
- Psalm 102 – Hy sal ons gebed nie minag nie - June 19, 2014
- Psalm 103 – Ek wil die Here loof met alles wat in my is - June 20, 2014
- Psalm 104 – Hoe groot is U, hoe groot is U! - June 23, 2014
- Psalm 105 – Maak aan die nasies bekend wat Hy gedoen het - June 24, 2014
- Psalm 106 – Verlos ons, Here ons God! - June 25, 2014