Skip to main content

Psalm 102 – Hy sal ons gebed nie minag nie

Bybelskool.com bydrae grafika
Bybelskool.com bydrae

Psalm 102 is ’n roerende klaaglied van iemand wat magteloos en kragteloos voel, waarskynlik saam met sy mense in ballingskap. In ’n metafories ryk gebed stort hy sy hart uit voor die Here, soos die titel in vers 1 aandui, in die hoop dat God sy lot, die lot van sy mense en dié van hulle nageslag sal verander.

’n Mens kan die treffende gebed van die Psalm in drie dele opdeel (en onthou, dit is altyd ook ’n model vir ons eie gebede!):

  • HULPGEROEP: Ek voel so verlate soos ’n pelikaan in ’n woestyn – vers 2–12
  • BELYDENIS: God luister na die gebed van dié wat alles verloor het – vers 13–23
  • HOOP: Ons nageslag sal die land bly bewoon – vers 24–29

HULPGEROEP: Ek voel so verlate soos ’n pelikaan in ’n woestyn – vers 2–12

Die Psalmis wend hom in sy nood tot die Here en skets in dertien metafore en vergelykings die ellende van sy toestand, sommige daarvan baie poëties:

  • Sy dae verdwyn soos rook;
  • Sy liggaam brand soos vuur;
  • Hy is verskroei en uitgedroog soos gras – 2014 vertaal nog meer poëties: “My hart is platgeslaan en verdor soos onkruid”;
  • Hy het alle eetlus verloor;
  • Hy is net vel en been van al die pyn;
  • Hy is so verlate soos ’n pelikaan in ’n woestyn (die betekenis is onseker; die 2014 vertaling dink dit verwys na ’n swartkraai, ander dink dit verwys na ’n aasvoël, nog ander na ’n woestyn uil);
  • Hy is soos ’n uil (naguiltjie – 2014 vertaling) tussen die murasies;
  • Hy voel soos ’n eensame voël op ’n huis se dak;
  • Sy vyande verneder hom deur sy naam as ’n vloekwoord te gebruik;
  • Sy daaglikse brood is as (of stof – 2014 vertaling);
  • Sy drank is met trane gemeng;
  • Sy lewe is naby sy einde soos ’n skaduwee wat lank word
  • Hy is soos verdroogde gras (onkruid – 2014 vertaling).

Hy vra dat die Here tog gou sal antwoord, want uiteindelik is ook dié situasie een waaraan God op intieme wyse deel het – “oor u vervloeking en u woede; ja, U het my opgetel en neergegooi.” (vers 11 – 2014 vertaling).  Hy sê egter nie hoekom nie, waarskynlik omdat dit verweef is met die lotgevalle van die volk in ballingskap.

In die deel wat kom, blyk dit meer duidelik dat hy van die lot van die volk praat, en dat sy eie persoonlike ervaring van ellende verweef is met die lot en pyn van sy mense wat in ballingskap is.

BELYDENIS: Hy luister na die gebed van dié wat alles verloor het – vers 13–23

Vers 13 begin met ’n groot MAAR, ’n woord wat ongelukkig uitgelaat is in die 1983 vertaling: “Maar, U, Here, U heers vir altyd, U is daar van geslag tot geslag.” In sy hulpgeroep herinner die Psalmis homself dus aan die ander kant van God: “U sal opstaan en U oor Sion ontferm, want dit is tyd om haar genadig te wees; ja, die aangewese tyd het gekom.” (vers 14).  Dit is sy belofte, ’n belofte wat op verskillende wyses in die verlede deur die profete verwoord is.  En hy vertolk dit as iets wat nou in aanskyn moet gaan.

God is immers die Heerser (vers 13) en Hy weet Sion is kosbaar vir sy mense, elke klip daarvan (vers 15).  Daarom maak die Psalmis staat op die belofte dat Sion herbou sal word sodat die nasies ontsag sal hê vir Sy Naam en Sy Majesteit.  En hy bring dié belofte in gebed na die Here en pleit om ’n antwoord.

Ten diepste sê die Psalmis hiermee, God is iemand wat luister na die gebed van dié wat alles verloor het; die armstes se gebed sal Hy nie minag nie (vers 18).  Die verhaal van hulle verlossing moet daarom opgeteken word vir die komende geslagte sodat hulle God kan loof en sy lof kan besing.

Let op die eskatologiese perspektief wat in vers 23 geteken word: “wanneer die volke en die koninkryke bymekaarkom om die Here te dien.”  Weereens is die herstel van Sion en die antwoord op gebed nie net ter wille van die hulpeloses nie, ook nie ter wille van die Psalmis self nie, maar ter wille van God se Naam en ter wille van al die volke wat Hom moet dien.

HOOP: Ons nageslag sal die land bly bewoon – vers 24–29

Die Psalmis keer terug tot sy eie lot en betreur dit dat sy krag gebreek is toe hy nog jonk was, dat sy lewe verkort is.  Hy vra dat die Here hom nie in die fleur van sy lewe sal wegneem nie, maar vind tog berusting in God se ewigheid – “Die hemel en die aarde sal vergaan, maar U sal bly” (vers 27) – en in sy verwagting dat die belofte van verlossing vir sy nageslag bewaarheid sal word (vers 29).

Terloops, die skrywer van Hebreërs het hierdie Psalm se tekening van God as ewig en onveranderlik (vers 26–28) eksplisiet op Jesus van toepassing gemaak (Hebr. 1:10-12).

Die boodskap van die Psalm

Psalm 102 wys vir ons hoe verweef die lotgevalle van die individu is met dié van die geloofsgemeenskap waaraan hy of sy behoort.  Wat met die geloofsgemeenskap gebeur, het ’n effek op die individuele gelowige en omgekeerd.  Wat veral merkwaardig is, is dat die belofte van verlossing aangegryp word, hoewel die waarmaking daarvan as ’n realiteit uitgespel word wat eers vir die nageslag in werking sal tree.  Dit is dus ’n soort geloof wat ’n realiteit vasgryp wat nog in die toekoms lê, en daaroor praat asof dit nou reeds daar is.  Die Psalmis tree in vir sy mense hoewel hy self waarskynlik nie aan die uitkoms deel gaan hê nie.

In die NT vind ons op ’n hele paar plekke hierdie tipe geloof wat aan die toekoms vashou, ten spyte van die nie-vervulling daarvan.  Petrus sê: “Daarom moet dié wat ly omdat God dit wil, hulle lewe toevertrou aan die getroue Skepper, en aanhou goeddoen.” (1 Pet. 4:19).  ’n Mens kan die Psalm se spiritualiteit terugvind in Petrus se verwoording van die tipe geloofslewe wat van ons in beproewinge gevra word.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda