Skip to main content

Psalm 99 – Kom buig in aanbidding voor Hom: Heilig is Hy!

Psalm 99 is een van die prima aanbidding Psalms.  Twee keer loop die beskrywing van God se wese en werk uit op ’n gelykluidende oproep om God te aanbid:

  • Prys die Here ons God.  Kom buig in aanbidding voor Hom: Hy is heilig!” (vers 5).  Die 2014 vertaling vertaal “voor Hom” heel korrek as: “voor die voetbank vir sy voete,” wat dui op die verbondsark as simbool van die Here.
  • Prys die Here ons God, buig voor Hom op sy heilige berg, want die Here ons God is heilig.” (vers 9).  Die 2014 vertaling vertaal “voor Hom op sy heilige berg” meer direk as: “voor sy heilige berg” wat dui op die tempelberg, Sion, as simbool van die Here.

Dit is dan ook die indeling van die Psalm: vers 1–5 en vers 6–9.

Inderdaad: “U is heilig.”  Neem ’n paar oomblikke om jou in te leef in aanbidding voor dié God.

Aanbid die Heilige Heerser God – vers 1–5

Die Psalmis teken in die eerste deel ’n prentjie van God wat regeer vanaf die Allerheiligste deel van die tempel in Sion.  Die Psalmis sê: “Hy troon oor die gerubs” (vers 1).

Dit dui aan die eenkant op die twee gerubs (hemelse wesens soos die engele en die serafs) van goudbeslag wat op die deksel van die verbondsark in die Allerheiligste van die tabernakel, die tent van ontmoeting, aangebring is (vgl. Eks. 25:18).  Salomo het later in die tempel nog meer gerubs gemaak (vgl. 1 Kon. 6).  Dit is die plek vanwaar God met Moses gepraat het op hulle reis deur die woestyn (Num. 7:89), en waar die hoëpriester een keer ’n jaar versoening vir die sondes van die volk gedoen het (Lev. 16).

Die beskrywing van die gerubs dui egter ook aan die ander kant op die werklikheid van God wat vanuit die hemel heers, wat Hy is koning oor die hele wêreld, “hoog verhewe bo al die volke.” (vers 2).  Die tempel en die verbondsark is dus simbole van die dieper werklikheid van God se wese en werk wat alles omvat. Dit pas ons ook om voor Hom neer te buig, soos Psalm 99 sê, en te roep: “Heilig is Hy!” (2014 vertaling).

Hy is dus die Heilige Heerser, die magtige Koning (vers 4).  Dit is Hy wat aanbid moet word.  Waarvoor?

  • Dat Hy die reg (geregtigheid – 2–14 vertaling) liefhet,
  • dat Hy die reg (billikheid – 2014 vertaling) tot stand bring,
  • dat Hy reg en geregtigheid vestig in sy volk (Jakob).

Dit is waarvoor Hy geëer en aanbid moet word.  En let op dat Hy nie net geregtigheid liefhet nie, maar inderdaad tot stand kan bring sodat dit gevestig kan wees onder sy mense.

Die prentjie van hierdie Heilige Heerser God word voltooi met die beskrywing in vers 5 – wat ongelukkig weggelaat is in die 1983 vertaling – oor die verbondsark as “die voetbank vir sy voete” soos dit heel korrek in die 2014 vertaling aangebring is.  Hierdie Heilige God heers dus vanuit die heiligdom in die stad Jerusalem.  God is egter nie net in Sion nie.  Dit is maar net sy “voetbank” (vgl. 1 Kron. 28:2 waar Dawid juis van die verbondsark “as rusplek vir die voete van ons God” praat; vgl. ook Ps. 132:7).  Hy is ook: “hoog verhewe bo al die volke.”  Daarom kan die Psalmis alle mense oproep om sy groot en gevreesde Naam te prys: “U is heilig.”

Aanbid die God wat gebede antwoord – vers 6–9

Die fokus van die Psalmis skuif na drie gebedshelde van weleer, Moses, Aäron en Samuel wat sy Naam aangeroep het en ervaar het dat Hy hulle gebed geantwoord het (interessant, al drie word priesters genoem).  Samuel verbind homself interessant genoeg ook aan Moses en Samuel wat ’n aanduiding is dat hy sy lewe op dié van Moses en Aäron geskoei het (1 Sam. 12:6).

In die 1983 vertaling staan daar egter dat Hy die gebed verhoor het, maar eintlik staan daar net dat Hy geantwoord het (2014 vertaling).  Ons dink te maklik dat verhoring ’n ja–antwoord is.  Dit is nie wat die drie se ervaring was nie.  God het altyd geantwoord, maar soms ook nee geantwoord, soos wat ons eksplisiet van Moses (Eks. 32), en Samuel (1 Sam. 16) lees.

Trouens, die Here waarsku vir Jeremia op ’n punt in sy eie worsteling met die Here, dat selfs al was Moses en Samuel in gesprek met Hom oor die situasie van die volk net voor die ballingskap, sou Hy nie van sy plan afwyk nie (Jer. 15:1).  God se besluit is soewerein.  En ’n nee–antwoord is ook ’n Goddelike antwoord.  Laat ons dit nooit vergeet nie.

Wat ons ook moet raaksien van dié drie gebedshelde, is dat hulle God se bepalings nagekom het, die vaste voorskrifte wat Hy vir hulle gegee het (vers 7).  Gehoorsaamheid is belangriker as gebedsverhoring.  ’n Les wat ons weer ter harte kan neem in ons eie worstelinge met die Here oor allerlei.

Let ook op dat die antwoord op hulle gebede ingesluit het dat God hulle vergewe het, en soms ook hulle sondes gestraf het – al drie het dit ervaar: Moses kon nie die Beloofde Land in nie (Num. 16), Aäron ook nie (Num. 12; 16) en Samuel is deur die Here tereggewys oor sy hartseer oor Saul (1 Sam. 16).  God se dissipline was dus werksaam in hulle lewe.

Die Psalmis gebruik dus dié drie gebedshelde se lewens om ons op te roep om dié God te aanbid, sy leiding in ons lewens te aanvaar, want Hy is heilig!

Die boodskap van die Psalm

Psalm 99 roep ons op om God te aanbid.  Daar is twee redes daarvoor.  Eerstens is God die Heilige Heerser wat oor alles troon.  Tweedens is God die een wat gebede beantwoord.  Dit pas ons aan die eenkant om met ontsag Hom te aanbid.  Terselfdertyd nooi Hy ons aan die ander kant uit om soos Moses, Aäron en Samuel met Hom in gesprek te tree oor alles in ons lewe.  Hy sal antwoord.  Daarop kan ons vertrou.  Maar, dit sluit in dat Hy soewerein bly in die tipe antwoord wat Hy gee.  En gehoorsaamheid is belangriker as gebedsverhoring.

“Prys die Here ons God.  Kom buig in aanbidding voor Hom: Hy is heilig!” Dit is my gebed vir vandag.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.