Psalm 99 – Kom buig in aanbidding voor Hom: Heilig is Hy!

Psalm 99 is een van die prima aanbidding Psalms.  Twee keer loop die beskrywing van God se wese en werk uit op ’n gelykluidende oproep om God te aanbid:

  • Prys die Here ons God.  Kom buig in aanbidding voor Hom: Hy is heilig!” (vers 5).  Die 2014 vertaling vertaal “voor Hom” heel korrek as: “voor die voetbank vir sy voete,” wat dui op die verbondsark as simbool van die Here.
  • Prys die Here ons God, buig voor Hom op sy heilige berg, want die Here ons God is heilig.” (vers 9).  Die 2014 vertaling vertaal “voor Hom op sy heilige berg” meer direk as: “voor sy heilige berg” wat dui op die tempelberg, Sion, as simbool van die Here.

Dit is dan ook die indeling van die Psalm: vers 1–5 en vers 6–9.

Inderdaad: “U is heilig.”  Neem ’n paar oomblikke om jou in te leef in aanbidding voor dié God.

Aanbid die Heilige Heerser God – vers 1–5

Die Psalmis teken in die eerste deel ’n prentjie van God wat regeer vanaf die Allerheiligste deel van die tempel in Sion.  Die Psalmis sê: “Hy troon oor die gerubs” (vers 1).

Dit dui aan die eenkant op die twee gerubs (hemelse wesens soos die engele en die serafs) van goudbeslag wat op die deksel van die verbondsark in die Allerheiligste van die tabernakel, die tent van ontmoeting, aangebring is (vgl. Eks. 25:18).  Salomo het later in die tempel nog meer gerubs gemaak (vgl. 1 Kon. 6).  Dit is die plek vanwaar God met Moses gepraat het op hulle reis deur die woestyn (Num. 7:89), en waar die hoëpriester een keer ’n jaar versoening vir die sondes van die volk gedoen het (Lev. 16).

Die beskrywing van die gerubs dui egter ook aan die ander kant op die werklikheid van God wat vanuit die hemel heers, wat Hy is koning oor die hele wêreld, “hoog verhewe bo al die volke.” (vers 2).  Die tempel en die verbondsark is dus simbole van die dieper werklikheid van God se wese en werk wat alles omvat. Dit pas ons ook om voor Hom neer te buig, soos Psalm 99 sê, en te roep: “Heilig is Hy!” (2014 vertaling).

Hy is dus die Heilige Heerser, die magtige Koning (vers 4).  Dit is Hy wat aanbid moet word.  Waarvoor?

  • Dat Hy die reg (geregtigheid – 2–14 vertaling) liefhet,
  • dat Hy die reg (billikheid – 2014 vertaling) tot stand bring,
  • dat Hy reg en geregtigheid vestig in sy volk (Jakob).

Dit is waarvoor Hy geëer en aanbid moet word.  En let op dat Hy nie net geregtigheid liefhet nie, maar inderdaad tot stand kan bring sodat dit gevestig kan wees onder sy mense.

Die prentjie van hierdie Heilige Heerser God word voltooi met die beskrywing in vers 5 – wat ongelukkig weggelaat is in die 1983 vertaling – oor die verbondsark as “die voetbank vir sy voete” soos dit heel korrek in die 2014 vertaling aangebring is.  Hierdie Heilige God heers dus vanuit die heiligdom in die stad Jerusalem.  God is egter nie net in Sion nie.  Dit is maar net sy “voetbank” (vgl. 1 Kron. 28:2 waar Dawid juis van die verbondsark “as rusplek vir die voete van ons God” praat; vgl. ook Ps. 132:7).  Hy is ook: “hoog verhewe bo al die volke.”  Daarom kan die Psalmis alle mense oproep om sy groot en gevreesde Naam te prys: “U is heilig.”

Aanbid die God wat gebede antwoord – vers 6–9

Die fokus van die Psalmis skuif na drie gebedshelde van weleer, Moses, Aäron en Samuel wat sy Naam aangeroep het en ervaar het dat Hy hulle gebed geantwoord het (interessant, al drie word priesters genoem).  Samuel verbind homself interessant genoeg ook aan Moses en Samuel wat ’n aanduiding is dat hy sy lewe op dié van Moses en Aäron geskoei het (1 Sam. 12:6).

In die 1983 vertaling staan daar egter dat Hy die gebed verhoor het, maar eintlik staan daar net dat Hy geantwoord het (2014 vertaling).  Ons dink te maklik dat verhoring ’n ja–antwoord is.  Dit is nie wat die drie se ervaring was nie.  God het altyd geantwoord, maar soms ook nee geantwoord, soos wat ons eksplisiet van Moses (Eks. 32), en Samuel (1 Sam. 16) lees.

Trouens, die Here waarsku vir Jeremia op ’n punt in sy eie worsteling met die Here, dat selfs al was Moses en Samuel in gesprek met Hom oor die situasie van die volk net voor die ballingskap, sou Hy nie van sy plan afwyk nie (Jer. 15:1).  God se besluit is soewerein.  En ’n nee–antwoord is ook ’n Goddelike antwoord.  Laat ons dit nooit vergeet nie.

Wat ons ook moet raaksien van dié drie gebedshelde, is dat hulle God se bepalings nagekom het, die vaste voorskrifte wat Hy vir hulle gegee het (vers 7).  Gehoorsaamheid is belangriker as gebedsverhoring.  ’n Les wat ons weer ter harte kan neem in ons eie worstelinge met die Here oor allerlei.

Let ook op dat die antwoord op hulle gebede ingesluit het dat God hulle vergewe het, en soms ook hulle sondes gestraf het – al drie het dit ervaar: Moses kon nie die Beloofde Land in nie (Num. 16), Aäron ook nie (Num. 12; 16) en Samuel is deur die Here tereggewys oor sy hartseer oor Saul (1 Sam. 16).  God se dissipline was dus werksaam in hulle lewe.

Die Psalmis gebruik dus dié drie gebedshelde se lewens om ons op te roep om dié God te aanbid, sy leiding in ons lewens te aanvaar, want Hy is heilig!

Die boodskap van die Psalm

Psalm 99 roep ons op om God te aanbid.  Daar is twee redes daarvoor.  Eerstens is God die Heilige Heerser wat oor alles troon.  Tweedens is God die een wat gebede beantwoord.  Dit pas ons aan die eenkant om met ontsag Hom te aanbid.  Terselfdertyd nooi Hy ons aan die ander kant uit om soos Moses, Aäron en Samuel met Hom in gesprek te tree oor alles in ons lewe.  Hy sal antwoord.  Daarop kan ons vertrou.  Maar, dit sluit in dat Hy soewerein bly in die tipe antwoord wat Hy gee.  En gehoorsaamheid is belangriker as gebedsverhoring.

“Prys die Here ons God.  Kom buig in aanbidding voor Hom: Hy is heilig!” Dit is my gebed vir vandag.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: