Skip to main content

Psalm 100 – Juig al wat leef, juig voor die Heer!

Psalm 100 is seker een van die bekendste lofpsalms wat steeds gesing word in ons kerke.  Die titel van die Psalm is nie verniet nie: “’n Psalm.  Vir lofprysing.” (2014 vertaling) en “’n Dankpsalm” (1983 vertaling).  Albei titels is verantwoorde vertalings van die oorspronklike, omdat die woord tôdâ vir baie betekenisse gebruik kan word: lofprysing, danklied, verklaring, en selfs vir belydenis (vgl. bv. Jos. 7:19; Esra 10:11).

Dit is ’n kort Psalm en daarom wil ek net drie perspektiewe uitlig: 1) Hoe God geteken word, en 2) Wie Hom moet loof, en 3) Hoe ons Hom moet prys/dank.

1. Die Here is God

Jahwe (Here) word as God geteken en alle mense op aarde opgeroep om Jahwe as God te erken.  Hy moet gedien word met blydskap; Hy moet erken word as God; Hy moet geprys word, omdat Hy goed is vir ewig en deur die geslagte.

2. Die ganse aarde moet hom prys

Let op dat dié lofpsalm vir die hele aarde bedoel is: “Juig die Here toe, o ganse aarde.” (2014 vertaling).  Dit beteken dat hier ’n universele oproep is aan almal wat leef en beef op die aarde om die Here met blydskap en vreugde te dien.  Meer nog, hulle almal word geteken as begunstigdes van God se versorgende hand, want hulle almal is sy kleinvee wat Hy laat wei.

Uiteraard gee almal nie hieraan gehoor nie, en gaan hulle nie almal deur die poorte van die tempel in met dankliedere en lofsange nie, maar die feit dat hulle in God hulle oorsprong het, dat Hy vir hulle sorg, word nie daarmee verminder nie.

Met sewe opdragte word dié dinamiese karakter van hierdie lof uitgedruk: juig, dien, gaan (kom), erken, gaan, dank, prys.  Die Here moet met blydskap gedien word.

3. Erken God se goedheid en troue liefde

Die inhoud van ons lof aan God word gekoppel aan die erkenning dat Hy God is, dat Hy ons gemaak het, dat ons aan Hom behoort, dat Hy ons soos ’n kudde kleinvee versorg, dat sy goedheid en troue liefde van geslag tot geslag duur, vir ewig.

Dit is waarom die styl van ons lof geteken word as een van blydskap en vreugde.  In die tempel moet sy poorte met lofprysing binnegegaan word, sy voorhowe met ’n loflied.  Hy moet geloof word.  Sy Naam moet geprys word.

Die boodskap van die Psalm

Psalm 100 maak ’n paar regtig belangrike punte.  Die eerste is: Jahwe is God, en niemand meer.  Die tweede is: Alle mense moet Hom loof.  En dit is baie belangrik: wanneer ons in die kerk hierdie lied sing, het dit betekenis vir die hele mensdom.  Ons moet hulle die hele tyd in gedagte hou as ons dié lied uit volle bors sing.

As jy dus weer sing: “Juig almal tot Gods lof en eer, kom dien met blydskap God die Heer.” (of soos dit vroeër was: “Juig al wat leef, juig voor die Heer, dien God met blydskap gee Hom eer!”), dan dui dit nie net op dié wat langs jou in die kerkbanke sit of staan nie.  Jy sluit elke mens op aarde in by jou loflied!

Daarom sing ek ook vandag: “Juig al wat leef, juig voor die Heer, dien God met blydskap, gee Hom eerKom nader voor Sy aangesig en prys Hom met ’n lofgedig!


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.