Skip to main content

Psalm 82 – Staan op, o God, oordeel die aarde

Dit is ‘n kort Psalm, maar een wat soos geen ander Psalm is nie.  Wat uitstaan van die Psalm is dat dit ’n direkte visioen op ’n “hemelse vergadering” bevat: “God staan op in die vergadering van die gode …” (vers 1-7) as aanleiding en motivering tot ’n gebed wat die Psalm afrond: “Kom tog, o God! Lewer uitspraak …” (vers 8).  Dit is ook die struktuur en indeling van die Psalm.

Soortgelyke verwysings na hierdie tipe “hemelse vergadering” kom voor in:

  • die verhalende gedeeltes van die OT: 1 Kon. 22:19–23 – met die raaiselagtige optrede van die “gees” wat in die gedaante van ’n “leuengees” Agab in ’n ramp inlei,
  • die wysheidsliteratuur: Job 1:6–12; 2:1–6 – die bekende toneel waar die Satan voor God verskyn,
  • die profete: Jes. 6:1–13 – Jesaja se troonvisie waar die serafs optree (vgl. ook Jes. 40:1–8 en Sag. 1:7–17; 3:1–5), en natuurlik ook
  • die Openbaring aan Johannes (Openb. 4 en verder).

Maar, dié vergadering in die Psalm is tog anders.  Dit lyk asof God die vergadering as’t ware “gatecrash”, want Hy sit nie soos dit normaalweg in die ander hemelse visioene die geval is nie.  Hy staan en vat die “gode” ernstig aan oor hulle vergrype en agterlosigheid en beëindig hulle status en invloed (vers 2-7).

Die vraag is dus wie dié “gode” is?

1.  Sommige interpreteer die “gode” as mense, en dink dat die “gode” verbind kan word met regters of amptenare voor wie die volk vir allerlei uitsprake en handelinge moes verskyn.  So interpreteer baie dit op grond van bv. Eks. 21:6 waar ook van “gode” gepraat word en ’n eienaar beveel word om sy slaaf “in die teenwoordigheid van God (of gode)” te bring (die Hebreeuse woord êlôhîm word ook daar gebruik – vgl. ook Eks. 22:6–7, 8, 27; 1 Sam. 2:25 vir soortgelyke gevalle).  Die woord “God” of “gode” kan dan as “owerhede” vertaal word soos dit in die 1933 vertaling gedoen is, asook in die Talmoed, die Joodse kommentaar op die OT.

Jesus se aanhaling van die Psalm in Johannes 10:34 berus waarskynlik op die Talmoed se interpretasie van die Psalm.  Hy interpreteer dié “gode” ook as mense in sy gesprek met die Fariseërs.

Daar is egter ander geleerdes wat sê dat dit eintlik meer sin maak dat die teks in Eksodus 21 met ’n transaksie in die tabernakel/tempel te make het wat heel tereg “in die teenwoordigheid van God” gebeur, omdat die handeling immers eerder religieus as geregtelike van aard was.  Regters was nie daarvoor nodig nie, eerder priesters.  Dit beteken ook dat die woord êlôhîm in sy meer gebruiklike betekenis as God gebruik word.  Daar is ook genoeg ander Bybelse getuienis wat die bestaan en werk van ’n “hemelse vergadering” bevestig, soos hierbo aangedui.

2.  Ander interpreteer die “gode” in die Psalm as hemelse wesens in die lig van God se optrede om dié vergadering te “gatecrash”.  Hulle kan dus as afgode geïnterpreteer word, bv. die Kanaänitiese groep afgode, soos die NET Bible dit interpreteer op voetspoor van VanGemeren se kommentaar op die Psalms.

Indien dié interpretasie geldig is, teken die Psalm vir God as die een wat die afgode se wanpraktyke, onreg, partydigheid, duistere praktyke aan die kaak stel en hulle tot niet maak, soos mense laat uitsterf en soos leiers van hulle magsposisie beroof (vers 7).

3.  Dit is egter ook baie duidelik uit die konteks van die Psalm dat hulle werk ’n bepalende effek op menslike lewens gehad het.  In ’n oordragtelike sin dui die “gode” dus ook op mense wat in magsposisies is – soos in die regspraak en die regering – en daaroor aangespreek kan word.  In ’n seker sin dui die “gode” dus op afgode en mense wat in gemeenskap met mekaar boosheid bedryf (Tate).

Vertaling

Omdat daar belangrike verskille is tussen die 1983 en 2014 vertalings, plaas ek dit hier langs mekaar sodat jy van die meer presiese betekenisse kan lees – bv. “vergadering van die gode” i.p.v. “hemelse vergadering”; “vaderloses” i.p.v. “weeskind”; “magteloses” i.p.v. “hulpeloses”; “verarmdes” i.p.v. “behoeftige” ensomeer:

1983 vertaling 2014 vertaling
82 ’n Psalm van Asaf. In die hemelse vergadering, tussen die hemelwesens, staan God op om uitspraak te lewer: 82 ’n Psalm van Asaf. God staan op op die vergadering van die gode; in die teenwoordigheid van die gode lewer Hy uitspraak:
2“Hoe lank gaan julle nog onregverdige beslissings vel, nog partydig wees vir die goddelose? Sela 2”Hoe lank gaan julle nog onregverdig oordeel en vir goddelose mense partydig wees? Sela
3Julle moet reg laat geskied aan die mens in nood en aan die weeskind, ’n regverdige uitspraak vir die hulpelose en die behoeftige lewer, 3Handhaaf die reg van hulpeloses en vaderloses; laat reg geskied aan die magteloses en verarmdes.
4julle moet die mens in nood en die arme bevry, hulle uit die mag van die goddelose red; 4Bevry die hulpeloses en behoeftiges, red hulle uit die mag van goddelose mense.
5maar julle weet niks, julle verstaan niks, julle gaan eenvoudig in duisternis voort, en so word die fondamente van die wêreld geskud. 5”Hulle (verwys na die afgode) weet niks en hulle verstaan nie, hulle verkeer in die duister.  Al die fondamente van die aarde wankel.
6Ek het wel gesê: Julle is almal gode, almal met mag beklee. 6“Ek het self gesê julle is gode, seuns van die Allerhoogste, julle almal.
7Maar nou, julle sal elkeen sterwe soos ’n mens en aan julle einde kom soos enige maghebber.” 7Maar, soos mense (dit kan ook na Adam verwys) sal julle sterf, soos enige leier sal julle val.”
8Kom tog, o God! Lewer uitspraak oor die wêreld, want al die nasies behoort aan U. 8Staan op, o God, oordeel die aarde, want U het besitreg oor al die nasies.

Boodskap van die Psalm

Of dié Psalm nou oor mense praat in magsposisies, of afgode, of van beide mense en afgode, die boodskap is duidelik: God tree op namens hulpeloses, vaderloses, magteloses, verarmdes, hulpeloses en behoeftiges.  Hoekom?  Want Hy het besitreg oor die aarde en al die nasies.  Hy is nie onregverdig en partydig nie.  Hy handhaaf die reg en Hy laat reg geskied.  Hy wil hê dat hulpeloses en behoeftiges bevry word en uit die mag van goddelose mense gered word.  En almal wat aan Hom verbind is, moet met Hom daarin saamwerk.

Anders wankel die fondamente van die aarde – ’n metafoor vir die gemeenskap wat in anargie en wetteloosheid verval en van die wêreld ’n onveilige onbarmhartige plek maak.

Dít moet dus ons gebed word – dat God sy besitreg inderdaad sal uitoefen tot bevryding en redding van hulpeloses en behoeftiges.  “Staan op, o God …” Stel dinge reg.  En as kerk moet ons self opstaan en ons daarvoor beywer in gehoorsaamheid aan God.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ja Gerhard, ek sal eerder sê dat 'n mens jouself kan verafgod, as jou geloof as sodanig. Die Bybel praat nie so nie so ver ek kan agterkom. Die Bybel wys uiteraard afgode af, en dinge soos gierigheid wat 'n afgod kan raak. Daaruit kan 'n mens aflei dat enigiets wat in die plek van God gestel word, o…
  • Gerhard on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ds ek is besig om afgodery na te slaan. Ek het 'n ds gehoor met die opmerking dat jy jou geloof kan verafgod? Afgodery is tog weg van God af soos wat ek verstaan. Groete Gerhard
  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.