Skip to main content

Niere en hart staan vir gevoelens en gedagtes in die Bybel

Ek het ‘n navraag gekry oor die betekenis van “niere” in die Bybel.

https://www.etsy.com/ca/listing/247908291/kidney-watercolor-painting-watercolor

Die Hebreeuse woord “kilyāh” word in sy letterlike betekenis vir “niere” gebruik en in sy figuurlike betekenis vir “emosies“, die “inmost and most secret part of man“. Dit word baie keer saam met die Hebreeuse woord “lēḇāḇ” gebruik wat letterlik op die “hart” van ‘n mens dui, maar figuurlik op sy “gedagtes“, of die setel van die “intellek“.

Job gebruik “kilyāh” om die setel van sy diepste verlange uit te druk: “My niere versmag van verlange in my binneste.” (Job 19:27).

Dawid gebruik “kilyāh” en “lēḇāḇ” as ‘n kombinasie vir gevoelens en gedagtes om God se regverdige oordeel diep binne in ‘n mens mee uit te druk: “Laat tog die boosheid van die goddelose mense ’n einde neem, maar bevestig U die regverdige, ja, U wat harte en niere toets, o regverdige God!” (Ps 7:10).

So sien ‘n mens dit ook by Asaf in Psalm 73:21. “Toe my hart bitter gestemd en ek in my niere geprikkel was …” toe het hy sy binnekant tot rus gebring voor God wat alles weet en Hom nie in die steek laat, selfs al tree hy soms dom op weens sy gevoelens en gedagtes wat bitter en ontstemd word. God sal Hom selfs dan lei!

Dawid gebruik ook “kilyāh” as hy oor sy gewete praat wat hom in die nag vermaan: “Ek sal die HERE loof wat my raad gegee het; selfs in die nag vermaan my niere my.” (Ps 16:7). En hy is baie bewus dat dit die werk van God self is: “Want Ú het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef.” (Ps 139:13).

Dawid wil in elke deel van sy lewe in die regte verhouding met God wees, soos hy dit stel in Psalm 26:2: “Toets my, HERE, en beproef my, keur my niere en my hart.

Daarom gebruik Spreuke 23:16 ook “kilyāh” om die blydskap uit te druk as die pa agterkom dat sy seun kies om die waarheid te praat: “En my niere sal jubel as jou lippe spreek wat reg is.

Ook Jeremia wy uit daaroor dat God op ‘n regverdige manier oordeel, omdat Hy tot diep binne in ons sien. Trouens, Jeremia wil sien dat daardie private oordeel in die publieke oordeel van die goddeloses gesien moet kan word: “Maar, o HERE van die leërskare, regverdige Regter, wat niere en hart toets, laat my u wraak op hulle sien, want aan U het ek my regsaak toevertrou.” (Jer 11:20).

Jeremia is immers baie duidelik daaroor dat goddeloses se woorde en gevoelens in die publiek myle van mekaar af is: “U is naby in hulle mond, maar ver van hulle niere.” (Jer 12:2). Daarom is dit so noodsaaklik dat God diep binne in sal kyk en elkeen aan die hand daarvan sal hanteer: “Ek, die HERE, deursoek die hart, toets die niere, om aan elkeen te gee na sy weë, volgens die vrug van sy handelinge.” (Jer 17:10).

Dit is immers die regverdige wat God se guns sal geniet, en die onregverdige sy wraak: “Maar, HERE van die leërskare, wat die regverdige toets, wat die niere en die hart sien—laat my u wraak sien op hulle, want aan U het ek my regsaak toevertrou.” (Jer 20:12).

Ook in die NT eggo Johannes dié gebruik van “niere en hart” vir “gevoelens en gedagtes” in sy waarskuwing aan die gemeente Tiatira in Openbaring. Hy gebruik die Griekse woorde “nephrous” en “kardia“. Jesus skryf aan die gemeente oor hulle gebrek aan optrede teen die verleiding tot afgodery en onsedelikheid van die gemeentevrou Isébel: “En haar kinders sal Ek sekerlik doodmaak, en al die gemeentes sal weet dat dit Ek is wat niere en harte deursoek, en Ek sal aan elkeen van julle gee volgens sy werke.” (Openb 2:23).

Op ‘n positiewe noot, is daar ook die wonderlike oproep van Paulus in Filippense 4:4-7 wat ons uitnooit om ons behoeftes met gebed en smeking aan God bekend te maak. Hy belowe dat Jesus Christus ons gedagtes (nous) en gevoelens (kardia) tot rus sal bring in die vrede wat God in sy wese is en bring!


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Gedagtes, Gevoelens, hart, Niere


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar