Skip to main content

Niere en hart staan vir gevoelens en gedagtes in die Bybel

Ek het ‘n navraag gekry oor die betekenis van “niere” in die Bybel.

https://www.etsy.com/ca/listing/247908291/kidney-watercolor-painting-watercolor

Die Hebreeuse woord “kilyāh” word in sy letterlike betekenis vir “niere” gebruik en in sy figuurlike betekenis vir “emosies“, die “inmost and most secret part of man“. Dit word baie keer saam met die Hebreeuse woord “lēḇāḇ” gebruik wat letterlik op die “hart” van ‘n mens dui, maar figuurlik op sy “gedagtes“, of die setel van die “intellek“.

Job gebruik “kilyāh” om die setel van sy diepste verlange uit te druk: “My niere versmag van verlange in my binneste.” (Job 19:27).

Dawid gebruik “kilyāh” en “lēḇāḇ” as ‘n kombinasie vir gevoelens en gedagtes om God se regverdige oordeel diep binne in ‘n mens mee uit te druk: “Laat tog die boosheid van die goddelose mense ’n einde neem, maar bevestig U die regverdige, ja, U wat harte en niere toets, o regverdige God!” (Ps 7:10).

So sien ‘n mens dit ook by Asaf in Psalm 73:21. “Toe my hart bitter gestemd en ek in my niere geprikkel was …” toe het hy sy binnekant tot rus gebring voor God wat alles weet en Hom nie in die steek laat, selfs al tree hy soms dom op weens sy gevoelens en gedagtes wat bitter en ontstemd word. God sal Hom selfs dan lei!

Dawid gebruik ook “kilyāh” as hy oor sy gewete praat wat hom in die nag vermaan: “Ek sal die HERE loof wat my raad gegee het; selfs in die nag vermaan my niere my.” (Ps 16:7). En hy is baie bewus dat dit die werk van God self is: “Want Ú het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef.” (Ps 139:13).

Dawid wil in elke deel van sy lewe in die regte verhouding met God wees, soos hy dit stel in Psalm 26:2: “Toets my, HERE, en beproef my, keur my niere en my hart.

Daarom gebruik Spreuke 23:16 ook “kilyāh” om die blydskap uit te druk as die pa agterkom dat sy seun kies om die waarheid te praat: “En my niere sal jubel as jou lippe spreek wat reg is.

Ook Jeremia wy uit daaroor dat God op ‘n regverdige manier oordeel, omdat Hy tot diep binne in ons sien. Trouens, Jeremia wil sien dat daardie private oordeel in die publieke oordeel van die goddeloses gesien moet kan word: “Maar, o HERE van die leërskare, regverdige Regter, wat niere en hart toets, laat my u wraak op hulle sien, want aan U het ek my regsaak toevertrou.” (Jer 11:20).

Jeremia is immers baie duidelik daaroor dat goddeloses se woorde en gevoelens in die publiek myle van mekaar af is: “U is naby in hulle mond, maar ver van hulle niere.” (Jer 12:2). Daarom is dit so noodsaaklik dat God diep binne in sal kyk en elkeen aan die hand daarvan sal hanteer: “Ek, die HERE, deursoek die hart, toets die niere, om aan elkeen te gee na sy weë, volgens die vrug van sy handelinge.” (Jer 17:10).

Dit is immers die regverdige wat God se guns sal geniet, en die onregverdige sy wraak: “Maar, HERE van die leërskare, wat die regverdige toets, wat die niere en die hart sien—laat my u wraak sien op hulle, want aan U het ek my regsaak toevertrou.” (Jer 20:12).

Ook in die NT eggo Johannes dié gebruik van “niere en hart” vir “gevoelens en gedagtes” in sy waarskuwing aan die gemeente Tiatira in Openbaring. Hy gebruik die Griekse woorde “nephrous” en “kardia“. Jesus skryf aan die gemeente oor hulle gebrek aan optrede teen die verleiding tot afgodery en onsedelikheid van die gemeentevrou Isébel: “En haar kinders sal Ek sekerlik doodmaak, en al die gemeentes sal weet dat dit Ek is wat niere en harte deursoek, en Ek sal aan elkeen van julle gee volgens sy werke.” (Openb 2:23).

Op ‘n positiewe noot, is daar ook die wonderlike oproep van Paulus in Filippense 4:4-7 wat ons uitnooit om ons behoeftes met gebed en smeking aan God bekend te maak. Hy belowe dat Jesus Christus ons gedagtes (nous) en gevoelens (kardia) tot rus sal bring in die vrede wat God in sy wese is en bring!


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Gedagtes, Gevoelens, hart, Niere


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.