Skip to main content

Psalm 77 – O God, u weg is heilig

Hierdie Psalm worstel met die vraag of God nog handel soos in die verlede.  Om die waarheid te sê, die worsteling is só erg dat die Psalmis eintlik amper hoop opgegee het, soos die kernvers in vers 11 met hartseer uitdruk: “My grootste smart is dat die Allerhoogste nie handel soos voorheen nie.”

Dit wil vir die Psalmis nie voorkom asof God nog die tipe dade doen soos in die vroeër dae, die jare lank gelede nie (vers 6), of hoe?

Ek roep om hulp, maar verniet – vers 2-4 

Hy roep immers na God om hulp, in die verwagting dat God sal hoor, maar daar gebeur niks nie (vers 2 – let op dat die 2014 vertaling “sodat Hy my moet hoor” vertaal en nie “want Hy sal my hoor”  soos in die 1983 vertaling nie).  Hy is onvermoeid besig om te bid, maar vind geen troos nie.  Sy denke aan God bring hom nie vreugde nie.  Om die waarheid te sê, sy gedagtes oor God laat hom kreun en kla, dit mergel hom uit (vers 4).

My nadenke bring geen verligting nie – vers 5-10

Dit is so erg vir hom dat hy wakker lê in die nag, trouens “U hou my ooglede oop” (vers 5).  Weens sy ontsteltenis kan hy eintlik nie meer bid nie, hy is “sprakeloos” (1983).  Al wat vir hom oorbly is om terug te dink en te peins oor wat in die verlede lê.  Hy probeer om die kloutjie by die oor te kry.  Wat kan ’n mens nog regtig van God verwag vandag?

Die Psalm worstel dus met die basiese belewenis van God se teenwoordigheid in die nood wat ’n mens in die lewe ervaar.  Die nood word nie uitgespel nie, maar in die proses sit die Psalmis vyf baie belangrike aspekte van God se karakter en betrokkenheid by ons op die tafel:

  • Aanvaarding – “Sal my Heer ons dan vir ewig verstoot en ons nooit weer aanvaar nie?” (vers 8 in 2014 vertaling);
  • Getrouheid – “Is dit vir altyd die einde van sy troue liefde?” (vers 9a in 2014 vertaling);
  • Beloftes – “Het sy boodskappe van geslag tot geslag nou tot ’n einde gekom?” (vers 9b in 2014 vertaling – die Hebreeuse woord wat hier met boodskappe vertaal word, kan ook as “woorde van belofte” verstaan word);
  • Genadig – “Het God vergeet om genadig te wees?” (vers 10a in 2014 vertaling);
  • Ontferming – “het Hy in sy woede sy ontferming opgehef?” (vers 10b in 2014 vertaling).

Ek sal tog oor U dade en wonders bly dink – vers 11-21

Die Psalm se kernvers is vers 11 omdat dit eintlik die vorige 10 verse opsom, terwyl dit die volgende deel van die Psalm inlei.  “En ek sê: ‘My grootste smart is dat die Allerhoogste nie handel soos voorheen nie.‘” In die NET Bible (77:10) lui dit so: “Then I said, ‘I am sickened by the thought that the sovereign One might become inactive.'”

Hoewel ons nie enigsins van ’n verandering in die situasie van die Psalmis lees nie, bly hy egter nie in hierdie verslaentheid en bevraagtekening van God nie.  Vanaf vers 14 kry hy dit reg om van die merendeels ek-taal wat hy tot dusver gebruik het, weg te beweeg en meer direk met God besig te raak.  Hy spreek God direk aan: “U is die God …”  Hy fokus weer doelbewus sy gedagtes op die wonderlike dade van die Here uit die verlede, maar hierdie keer om God se lof direk te besing, want alles wat die Here doen, is eintlik heilig.  “O God, u weg is heilig” (vers 14 – 2014 vertaling).  Die pad wat God met hulle stap, is heilig, want die Here is daar midde-in die onrus en nood en bring op sy tyd uitkoms.  Daarom kan ’n mens Hom vertrou.

Dit wys tog onomwonde in die verhale van die Uittog uit Egipte (vers 16), die tog deur die Rooi See (vers 20) en die begeleiding deur die woestyn (vers 21).  God is vir sy mense ’n God wat wonders doen, wat hulle op kragtige wyse verlos, wat sy krag in die natuur kan demonstreer, maar ook in verhouding met sy mense hulle kan begelei (vers 21).

Psalm 78 sal verder uitbrei op dié dade van God regdeur die woestyntyd tot en met Dawid, wat beteken die twee Psalms kan as ‘n eenheid gelees word. In vers 65 van Psalm 78 word God se ingrype geteken as ‘n held wat uit die slaap wakker word en optree om sy mense te verlos, wat eintlik as ’n antwoord op die vrees van Ps. 77:11 gesien kan word.

Die boodskap van die Psalm

Die worsteling van die Psalm is baie relevant vir ons vandag.  Dieselfde vrae oor God se betrokkenheid by ons lewens kom by ons op veral wanneer ons in die nood is.  Kan Hy vandag nog dieselfde dinge doen as wat Hy in die verlede gedoen het?  Om die waarheid te sê, soms as ons hoor van ander mense wat wonders ervaar, bring dit ons in twyfel nie óf God in ons lewens kan ingryp nie, maar of Hy dit wil doen.

Die omkeer in ons worsteling kom wanneer ons minder bekommerd raak oor wat ons ervaar en ons met God self besig raak, Hom aanspreek, Hom loof vir sy grootheid en heiligheid, ten spyte van ons nood.  Dit is dan wat ons begin ervaar dat Hy al die tyd by ons is en dat ons op sy begeleiding in elke situasie kan staatmaak, selfs al word die spesifieke nood nie presies opgelos soos ons dit wil hê nie.

Ek neem vandag die frase in vers 14 met my saam: “O God, u weg is heilig”.  Die sin van my lewe lê nie in die afwesigheid van nood nie, maar in die teenwoordigheid van God self.  Daarin vind ek berusting.

by Chris van Wyk


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.