Psalm 83 – O God, moet U nie doof hou nie, u vyande is oproerig

Hierdie Psalm is duidelik een wat in ’n situasie van aanvegting gebruik word om God se optrede teen sy vyande af te smeek: “O God, moet tog nie stilbly nie; moet U nie doof hou nie en moenie stil wees nie, o God.” (vers 2 – 2014 vertaling). Hoekom?  “Want kyk, u vyande is oproerig, u haters loop kop omhoog.” (vers 3 – 2014 vertaling).

Om die Psalm beter te verstaan, help dit om iets meer te weet van die twaalf nasies en agt leiers wat in die Psalm genoem word as teenstanders van God en sy volk.  Hier is ’n lysie daarvan uiteraard met net die mees noodsaaklike inligting:

  • Edom – dit is die naam van die nageslag van Jakob se broer Esau wat sy eersgeboortereg verkoop het aan Jakob en waarvan hulle nageslagte in ’n ewige stryd teen mekaar gewikkel was (Gen. 36:1).  Hulle het aan die suid-oostekant van Juda gewoon in die omgewing van die Dooie See omring deur woestyn.
  • Ismaeliete  – nakomelinge van Ismael, die kind wat Abraham by Hagar gehad het en toe deur Sarai weggestuur is die woestyn in, maar deur God versorg is (Gen. 16:1 vv).  Ismael was die stamvader van verskeie noord-Arabiese stamme aan die oostekant van Juda (Gen. 25:12-18.
  • Moab – dit was die seun van Lot by sy oudste dogter (Gen. 19:31). Sy nageslag het op die Hoogland oos van die Dooie See gebly.  Hulle was nie in guns by die Israeliete of die Here nie, omdat Bileam deur die Moabiete gehuur is om die Israeliete in die woestyn te vervloek (Num. 22-24) en hulle ongasvry opgetree het (Deut. 23:4).  Rut was egter ’n Moabiet wat guns in die oë van die Here geniet het.
  • Hagarëers – dit was waarskynlik afstammelinge van Hagar (1 Kron. 5:10 vv; 27:31).
  • Gebal – dit was ’n stad in Kanaän (Jos. 13:5) waarvan sommige met die bou van die tempel gehelp het (1 Kon. 5:18).  Dit kan ook die hawestad Gebal noord van Beirut wees.
  • Ammon – dit was die seun van Lot by sy jongste dogter (Gen. 19:38).  Sy nageslag het noord-oos van Juda en die Dooie See gebly.
  • Amalek – dit was ’n kleinseun van Esau (Gen. 36:12) wie se nakomelinge in ’n verwoede oorlog met die Israeliete in die woestyntyd was (Eks. 17).
  • Filistea – dit is die landstreek aan die kus tussen Joppe en Gasa waar die Filistyne gewoon het (Eks. 15).  Hulle was in hewige gevegte met die eerste konings van Israel totdat Dawid hulle oorwin het.
  • Tirus – dit was die belangrike handelstad van die Feniciërs aan die Middellandse See.
  • Assirië – dit was die groot wêreldmoondheid wat die noordelike ryk weggevoer het in ballingskap in 722 v.C.
  • Lot – dit was die broerskind van Abraham wat in die Jordaanstreek gaan bly het in Sodom wat deur die oordeel van die Here verwoes is.
  • Midian – dit was ’n seun van Abraham by Ketura (Gen. 25) wie se mense in die Siries-Arabiese woestyn gebly het.  Jetro, Moses se skoonpa, was ’n Midianiet (Eks. 3).  Gideon het ’n groot oorwinning oor hulle behaal (Rigt. 6) waarna ons nie weer van hulle hoor nie.
  • Sisera – hy was die leërowerste van Jabin, ’n koning van Kanaän, wat deur Debora en Barak verslaan is en deur Jael doodgemaak is met ’n tentpen deur die kop (Rigt. 4-5).
  • Jabin – hy was die koning van Hasor in Kanaän in die rigterstyd.  Daar was ook vroeër ’n Jabin wat teen Josua geveg het (Jos. 11).
  • Kison – dit is die spruit, eintlik ’n vleiland, waar die oorwinning van Debora en Barak oor Sisera behaal is.
  • En-dor – dit is een van die dorpe waar die veldslag plaasgevind het en waar die heks van En-Dor later deur Saul opgespoor is (1 Sam. 28:7).
  • Oreb – een van die vorste van die Midianiete wat saam met Seëb gevang is en deur Gideon doodgemaak is (Rigt. 7).
  • Seëb – een van die vorste van die Midianiete wat saam met Oreb gevang is en deur Gideon doodgemaak is (Rigt. 7).
  • Seba – hy was een van die konings van die Midianiete in die oorlog teen Gideon (Rigt. 8).
  • Salmunna – hy was ook een van die konings van die Midianiete in die oorlog teen Gideon (Rigt. 8).

Hier is drie opmerkings oor die inhoud van die Psalm:

  • Let op dat die teenstanders se vyandskap eers as gemik op God self uitgespel word (vers 2-3), dan eers oor die bedreiging vir die volk gepraat word (vers 4-5), voordat die teenstand weereens as ’n verbond teen God self  geteken word.  Die verset teen God self is van ’n belangriker orde as die verset teen die volk, as motivering om die Here tot optrede te beweeg.
  • Die vyande wat in vers 6-9 genoem word, was almal geswore vyande van Israel, maar het sover ons kan agterkom uit die geskiedenis nooit as ’n eenheid teen Israel geveg nie.  Hulle word dus hier waarskynlik gelys as historiese voorbeelde van die tipe teenstand wat die volk wel deur die loop van hulle bestaan in die oë moes staar (Tate).
  • Die wreedheid van die gebed om die vyand se vernietiging – “maak tolbosse van hulle, stoppels in die wind, ’n bos wat in vuur verteer word, berge wat in vlamme uitbrand …” (vers 14-15) – het dus nie net met ’n wens tot vernietiging te make nie, maar met die begeerte om God se naam in ere te hou.  Deur die oordeel moet die vyande agterkom wie God is (vers 17), “dat alleen U die Naam ‘Here’ het, U, die Allerhoogste oor die hele aarde.” (vers 19).

Boodskap van die Psalm

Die Psalm help ons ook verstaan hoe belangrik gebed is.  Die Psalm vra eenvoudig dat God sal optree soos Hy dit in die verlede al in die lewe van die volk gedoen het, veral in die oorlog teen die Kanaäniete (Rigt. 4-5) en die Midianiete (Rigt. 6-8).

Dit is ook insiggewend dat die Here se optrede in beide oorloë die deurslaggewende faktor was:

  • met die Kanaäniete deur die slim keuse van die vleiland as terrein waar die swaar ysterstrydwaens van Jabin oneffektief was, en
  • met die Midianiete deur ’n verrassingsaanval in die nag wat grootskaalse verwarring geskep het.

Gebed en gehoorsaamheid aan wat die Here openbaar (Gideon moes net met 300 man veg), is en bly die belangrikste wapens in ons geestelike arsenaal.

Die vraag vandag is dus eerder aan myself gerig: Het ek nie stil geraak nie?  Moet dié Psalm nie my woorde vir vandag word waar God se naam in diskrediet gebring word en sy mense verguis word in die wêreld nie?  Miskien is dit nie die Here wat so stil is nie, maar ek …

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: