Psalm 89 – Sal U dan vir altyd u hulp weerhou?

Die laaste Psalm in die 3de Psalmboek, Psalm 89,  begin met die wonderlike uitkoms wat God gee, wat eintlik ’n noodsaaklike boodskap is ná die donkerte van Psalm 88. Tog vra die Psalm ook of ’n mens altyd kan staatmaak daarop, veral wanneer dit lyk asof God in sy toorn sy verbond nie in ag neem nie (vers 39 en verder). ’n Situasie waarmee menige van ons kan identifiseer.

Die Psalm word toegeskryf aan Etan, soos Heman, ‘n Esragiet.  Hy was ook een van vier bekende wyses in Israel wie se wysheid egter deur Salomo oortref is (1 Kon. 4:31). Etan en Heman was nakomelinge van Serag uit die stam van Juda (1 Kron. 2:6), vandaar die naam Esragiet (nakomeling van Serag).  Hy moet onderskei word van die ander Etan, wat ook Jedutan genoem word, en saam met Asaf en Heman in die tyd van Dawid as tempelsangers opgetree het (1 Kron. 6:33).

Ek sal altyd sing van die Here se liefdesdade – vers 2-19

God word geloof vir sy liefde en trou wat vir altyd standhou beide in die hemel as op die aarde (vgl. die Ons Vader gebed oor God se wil) – vers 2-3.  Dit het Hy bewys:

  1. met sy verbond met en belofte aan Dawid : “Ek sal vir jou ’n nageslag verseker vir altyd en jou troon in elke geslag laat standhou.” (vers 4-5).
  2. met die ereposisie wat Hy beklee onder die hemelinge (“hemelse” heiliges – 2014 vertaling) en hemelwesens (seuns van God – grondteks) in die hemelse vergadering sowel as met die magsposisie in terme van die skep van orde in die chaos (vers 6-15).
  3. met die ereposisie wat Hy beklee onder die volk wat jubel tot sy eer omdat hulle sy guns geniet, ’n guns wat op spesiale wyse aan die koning bewys is: “Ons koning behoort aan die Here.” (vers 16-19).

U het talle beloftes aan Dawid gemaak – vers 20-38

Die Psalmis wy dan uit oor al die beloftes wat die Here aan Dawid gemaak het, van die bystand aan ’n dapper jong man wat gelei het tot die salwing as koning tot die ondersteuning in die talle oorloë waarin hy betrokke was.  Daarin was God se trou en liefde by hom.  Deur God se krag het hy oorwin.

God se verbond met hom staan vas.  Dawid sal God aanroep as Vader en God sal hom eerste stel (vers 28).  Vir altyd sal God sy trou handhaaf teenoor hom, want God se verbond met hom staan vas (vers 29).  Dit sluit in dat hy altyd nakomelinge sal hê en dat sy troon sal vasstaan solank as wat daar ’n hemel is (vers 30).

Tog beteken dit nie dat die nasate van Dawid hiermee ’n blanko tjek kry tot seën onafhanklik van hulle gehoorsaamheid aan die Here nie. Nee die Psalmis is duidelik daaroor dat as die volk nie handel volgens God se woord nie, nie lewe volgens sy bepalinge nie, sy voorskrifte verontagsaam, sy gebooie nie nakom nie, sal Hy hulle straf (vers 31-33).

Maar, my liefde sal Ek van hom nie terughou nie, my trou nie verbreek nie.” (vers 34).  God se verbond sal nie verbreek word nie. God se beloftes sal nie teruggehou word nie – spesifiek die beloftes van ’n nageslag om op sy troon te sit (vers 36-37).  En die permanensie daarvan word aan die bestaan van die son en die maan sowel as die hemel gekoppel (vers 38-39).

Maar nou het u die verbond met Dawid nie in ag geneem nie – vers 39-52

Teenoor hierdie beskrywing van God se liefde en trou – van sy verbintenis aan sy verbond, van sy liefde ten spyte van: “my liefde sal Ek van hom nie terughou nie,” selfs wanneer hulle ongehoorsaam is – staan die werklikheid dat God se gesalfde verstoot en verwerp is (vers 39), dat die verbond toe nie in ag geneem is nie (vers 40), dat die koningskap weggeneem is en Jerusalem verwoes is (vers 41).  Die vyande het geseëvier (vers 42-46).

Op grond van die feit dat God belowe dat Hy sy liefde nie sal terughou nie, ten spyte van Israel se ongehoorsaamheid, vra die Psalmis: “Sal U dan vir altyd u hulp weerhou, Here?” (vers 47).  As pleidooi dat die Here tog sy liefde weer sal in werking stel, word die kortstondigheid en nietigheid van die lewe (vers 48) geskets.  Almal gaan uiteindelik dood (vers 49) en het daarom behoefte aan God se liefde van vroeër (vers 50), ’n mens wil amper sê sonder verdienste, net uit deernis met hulle lot.  Daarom bid die Psalmis dat God aan hulle sal dink, verpersoonlik in die gestalte van sy gesalfde en nie vyande die oorhand laat kry nie: “Die mense … is u vyande, Here.” (vers 52)

Die Psalm sluit met vers 53 wat ook die 3de Psalmboek afsluit.

Die boodskap van die Psalm

God se liefdesdade is ’n sterk getuienis daarvan dat Hy sy beloftes waar maak.  Die vraag is egter of dié beloftes in alle omstandighede waar gemaak kan of sal word.  Wat gebeur as die nageslag nie meer die Here dien nie?  Kan God dan ook nog sy beloftes waarmaak, dié beloftes wat hy aan die voorgeslagte gegee het?  Meer spesifiek, kan Israel staatmaak op voorkeur behandeling omdat God ’n verbond met hulle stamvader Dawid gesluit het?  En wat van ons?

Ons is geneig om ’n meer wit-swart oordeel te fel – reg of weg.  Die Psalmis weet egter dat só ’n aanpak altyd sal lei tot ’n verwerping.  Daarom pleit hy eintlik vir die onmoontlike hoop, dat God se liefde sy oordeel sal troef en daaroor sal triomfeer.  Dit is die gebed wat ons kan aangryp en vir onsself en vir ons mense kan bid.  Die hoop op God se onverdiende guns alleen.

En die bloed het op Golgota geloop om dít vir ons almal reg te kry … daarin lê ons verlossing.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: