Skip to main content

Psalm 75 – Dis God wat verneder en verhef

Waar Psalm 73 gefokus het op die versoeking van ’n enkele gelowige om die goddeloses hul voorspoed te beny totdat sy hart tot rus gebring is toe hy oor die uitkoms van hulle lewe nagedink het, só fokus Psalm 75 op die versoeking van die gemeenskap van gelowiges om dieselfde te doen.

Ons almal kyk baie keer na die relatiewe sukses en mislukking van mense en wyt dit net te maklik aan sulke mense se eie toedoen, hetsy aan hulle vermoëns of aan hulle gebreke.  Soos die Psalmis in Psalm 73 in die heiligdom egter tot ander insigte gekom het oor die goddelose se uiteinde, so gebeur dit in Psalm 75 met die gemeenskap van gelowiges ook in terme van die lewe self.  Hulle word hiermee gerusgestel dat dit God is wat verneder en dat dit God is wat verhef in hierdie lewe (vers 8).  Daarvoor kan ’n mens God vertrou.

Dit is waarom ’n mens dié Psalm waarskynlik kan beskou as ’n “liturgiese preek” wat gelewer is om gelowiges in die heiligdom te help om God se bepalende werk in die wel en weë van die lewe raak te sien.  Die voorganger (profeet of priester) begelei hulle soos volg:

Loof God vir sy teenwoordigheid by en wonderwerke onder ons – vers 2

Let op hoe die Psalmis-prediker op twee goed fokus:

  • God se teenwoordigheid by ons  (“U Naam is na aan ons“ – 2014 vertaling)
  •  en die wonderwerke waarvan mense vertel (“Mense vertel van u wonderwerke” – 2014 vertaling).

Dit is immers waaroor ’n erediens gaan: om God se teenwoordigheid te ervaar, mekaar opgewonde te maak oor wat Hy in die (ons) lewe doen en Hom daarvoor te loof!

Hou rekening met God se beheer van alles en almal – vers 3-4

Die Psalmis herinner die geloofsgemeenskap aan twee van God se beloftes:

  • dat Hy regverdig sal oordeel as die tyd wat HY bepaal het, aanbreek en,
  • dat Hy orde sal bring in die chaos wat gemeenskappe op aarde kan tref (moontlik word daar ook aan natuurrampe gedink), uitgedruk met die metafoor dat Hy die aarde sal bevestig op sy pilare.  Onthou dit is ’n metafoor vir die stabiliteit van die aarde, nie ’n fisiese beskrywing van hoe die aarde gemaak is nie!

Dit is dié tipe gerusstellings wat gereeld deur die gemeenskap van gelowiges omarm moet word en hulle tot gebed moet aanmoedig vir plekke en gemeenskappe wat aan onreg en onrus blootgestel word.

Moenie verwaand wees en jouself verhef nie – vers 5-9

Saam met die belofte kom egter ook die waarskuwing vir dié wat verwaand is (hooghartig sê die 1983 vertaling) en goddeloos lewe en hulle eie beuel blaas.  In die oorspronklike Hebreeus word gepraat van “die horing oplig of verhef” (horing = simbool van mag) wat op die verheerliking van hulle eie mag dui.  Sulke mense moet veral hulleself nie verhef teenoor die hemel wat God se woonplek is nie, want Hy lewer uiteindelik die beslissende oordeel oor wie verhef word en wie verneder word.

Om die waarheid te sê, God se oordeel lê nie net in die vernedering van dié wat hulleself verhef nie, maar in die onnoembare leed wat hulle kan tref in die oordeelsbeker wat hulle sal moet drink.

Loof God vir sy regverdige oordeel oor goddelose mense en regverdiges – vers 10-11

Die Psalmis-prediker sluit af deur weer te fokus op die geloofsgemeenskap self deur hulle te bemoedig dat God die mag van die goddeloses sal verpletter en die regverdiges sal verhef.

Dit laat my dink aan die baie belangrike nadenke van Paulus oor die lewe van Jesus in sy brief aan die gemeente in Filippi, hfst. 2.  Dit is omdat Jesus God vertrou het – soos Psalm 75 dit ook onderstreep – dat Hy nie sy gelykheid aan God beskou het as iets waaraan Hy moes vashou nie en ten alle koste moes beskerm nie, maar Homself prysgegee het tot in die dood aan die kruis.  Dié daad van selfontlediging (kenosis) is deur God opgevolg met ’n uitermate verhoging van Jesus as Here voor wie elke knie sal buig van diegene in die hemel en op die aarde en onder die aarde waar elke tong sal bely: “Jesus Christus is Here!” (Fil. 2:5-11).

Boodskap van die Psalm

Dat God in beheer is van die uitkomste van hierdie lewe is ’n ongelooflike belangrike insig, want dit leer ons om in ons reaksies op wat om ons aangaan te alle tye rekening te hou met God se werk.  Die oënskynlike sukses en mislukking van mense is te wyte aan God se werk.  Dit is ook waar van jou eie suksesse en mislukkings.  Jy misken dít tot jou eie skade.  Daarmee moet ons mekaar bemoedig.

Ek hou vandag vas aan die gedagte in vers 8: “Nee, God is regter: Die een verneder Hy, die ander verhef Hy” (2014 vertaling).  Hy is billik en regverdig.  Dit is dié God wat die moeite werd is om te vertrou al gebeur wat ook al met jou in die lewe.

by Chris van Wyk


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on EENJAAR BYBELLEESPROGRAM 2020Welkom, stuur sommer vir my die aangepaste een ook, asb. Laai dit hier af:Eenjaar Bybellees program 2020
  • Elmarie Allies on EENJAAR BYBELLEESPROGRAM 2020Goeiemore Ons wil graag die Bybel in 1 jaar deurlees. Ek kry dit slegs op pdf. Kan dit asb vir my in wordformaat stuur sodat ek die datums kan aanpas asb. Ons is 'n nuutgestigte gebedsgroep. Baie dankie
  • Chris van Wyk on SpreukeHi Retha, ek kan jou nie self terugsit nie. Jy kan dit hier doen: https://wordpress.com/reader/subscriptions. Kies Bybelskool.com daar.
  • Retha Roux on SpreukeSal graag weer gereeld die Bybelstudie per epos wil ontvang. Groot asseblief. retharoux@telkomsa.net My epos het op stadium probleme gegee en ek kon niks ontvang nie, masr is nou weer herstel. Baie dankie. Retha Roux
  • Chris van Wyk on Psalm 6Hi Japie, uit die konteks van vers 8-9, en 11 in die Psalm lyk dit asof Dawid verwys na verlossing van vyande wat met Absalom se opstand of Saul se vervolging te make kan hê.
  • Japie Martin on Psalm 6Hi Ds Chris: is daar meer inligting rondom vers 10 van die Psalm
  • Chris van Wyk on Genesis – Die oorsprong van alle dingeHi, ek verkies om met die skriftelike bronne te werk wat die geskiedenis beskryf. Die skriftelike bronne van die Sumeriërs beskryf die geskiedenis tot so 3 000 jaar v.C. Die skriftlike bronne van die Jode, dit wat ons as die OT ken, bevat geslagsregisters, wette en verhale wat die vroeëre geskiedeni…
  • Louis Scheun on Genesis – Die oorsprong van alle dingeEk het sopas aangesluit. Wat my nog altyd pla is dat daar byvoorbeeld van inwoners in die Amerikas 10.000 of 20.000 daar aangekom het. Hoe sinkroniseer ons dit met die Bybelse tyd. Baie dankie. Louis Scheun.
  • Chris van Wyk on Inleiding op JakobusJesus en Jakobus is halfbroers deur Maria. Hulle het dieselfde ma, maar nie dieselfde pa nie. Josef was Jakobus se pa. God was Jesus se Vader.
  • Betsy Bester on Inleiding op JakobusHoekom word daar verwys Na Jakobus as Jesus Se halfbroer in die 83 vertaling
  • Chris van Wyk on Hosea 4:1-5:7Juda is op hierdie punt gewaarsku (ongeveer 740 vC), en hulle het veral onder koning Hiskia 'n paar dekades later die Here weer gedien. Maar, uiteindelik het hulleself onder die oordeel gekom weens die wydverspreide sondes van die konings, priesters, en gewone mense, en is in ballingskap weggevoer i…
  • Renier on Hosea 4:1-5:7Goeie more. Verstaan ek reg? Die Juda-lyn was gewaarsku, nie ook veroordeel nie? En wat beteken dit vir ons wat daarna verwek was?
  • Chris van Wyk on Lukas 23Ek stuur.
  • Elma Bosch on Lukas 23Baie dankie, ek doen die bybelstudies saam met u en lees ook die bybel kronologies saam, ek waardeer dit werklik.. Ek stel baie belang in die elektroniese lêer van die 4 Evangelies langs mekaar. Kan u dit asb vir my email na elmab0708@gmail.com
  • Trudie Vorster on Nuusbrief Mei 2025Prys die Here🙏🙏🙏