Psalm 85 – Die verbintenis aan en verwagting van God vir uitkoms

Dit is belangrik om in hierdie Psalm vers 2-4 van vers 5-8 te onderskei, iets wat meer duidelik in die 2014 vertaling as in die 1983 vertaling gedoen word.  Anders maak die verandering in perspektief van vers 4 na 5 nie sin nie – “4U het u gloeiende toorn laat afkoel … 5moet tog nie langer op ons toornig wees nie!”

Só kan ’n mens beter raaksien dat vers 2-4 terugverwys na God se herstel van die volk ná ’n tyd van woede (vers 4).  Dit kan verwys na enige episode in die Rigters- of Koningstyd, selfs na die terugkeer uit ballingskap.  Hy het die lot van die volk verander, hulle ’n nuwe toekoms gegee (vers 2).  Dink bv. aan die uitkoms in die tyd van Debora en Barak waarvan in Psalm 83 vertel is.

Vers 5-8 is ’n bede dat die Here Hom nou weer oor hulle sal ontferm (vers 5), in ’n tyd waarin die volk weereens ervaar dat die Here vir hulle kwaad is (vers 6).  Hy is immers hulle Verlosser (vers 5) wat die lewe vir hulle weer nuut kan maak, sodat hulle hul vreugde in die Here kan vind (vers 7).

  • Indien vers 5-8 ’n gebed vóór die ballingskap is, is dit ’n gebed in ’n volgende tyd van toorn weens die volk se halstarrigheid en ongehoorsaamheid.   Dink bv. aan die volgende episode in die tyd van Gideon toe die volk weer aan verdrukking blootgestel is, waarna eweneens in Psalm 83 verwys word.
  • Indien vers 5-8 ’n gebed ná die ballingskap is, is dit waarskynlik in dié tyd toe hulle vreugde oor die terugkoms getemper is deur die swak omstandighede waarin hulle steeds in hulle eie land verkeer het en sommige dit steeds as God se toorn beleef het.  Hulle vra dus vir God se ingrype sodat die tempel, die stad en die gemeenskapslewe herbou kan word, waarvan die uitkoms in Esra en Nehemia vir ons vertel word.

Die Psalm het dus ’n universele toepassing wat pas in enige tyd van ontwrigting waarin staatgemaak word op God se ingrype in die verlede as motivering vir ’n gebed vir omkeer in die hede.

Die res van die Psalm, vers 9-14, bevat die verbintenis van die liturg namens die volk om na God te luister (vers 9) en ’n beskrywing van die verwagte oorvloedige uitkoms wat God sal bring vir dié wat vir Hom ontsag het (vers 10-14).  Die verbintenis aan en die verwagting van God is albei onontbeerlike elemente in die herstel van die verhouding met God wat die vrede in ons lewe laat aanbreek.

“U was goed vir u land, Here”- vers 2-4

God se vergewende karakter staan voorop in dié verse waar die nuwe toekoms wat Hy aan die nageslag van Jakob gegee het, gekoppel word aan die feit dat God die volk hulle sondes nie toereken nie en al hulle skuld kwytgeskeld het.  God se woede bedaar dus.  Sy gloeiende toorn koel af.  Daarop kan ‘n mens reken.

“Ontferm U weer oor ons, o God, ons Verlosser – vers 5-8

Die gebed van die Psalmis verraai egter hoe wispelturig die Godsvolk kan wees, omdat dit waarskynlik gebid word in ’n nuwe siklus van ongehoorsaamheid wat tot die straf van die Here gelei het.  Weereens word staatgemaak op God se karakter as Verlosser, dié een wat nie vir altyd kwaad bly nie.  Van Hom word gevra dat Hy die lewe weer nuut sal maak, op só ’n wyse, dat die volk weer hulle vreugde in die Here kan vind.  Hulle het behoefte aan die troue liefde van die Here wat sy reddende hulp skenk selfs al stel hulle Hom teleur.

“Sy verlossing is beslis naby dié wat vir Hom ontsag het” – vers 9-14

Die Psalmis verbind homself plegtig aan die Here, waarskynlik namens die volk wat na hom luister, om te luister na wat die Here sê, want hy weet dit is die woorde wat vrede vir die volk sal bring.  Hoekom?  Want, “Hy praat oor vrede vir sy volk en sy getroue volgelinge.  Hulle moet net nie terugkeer na dit waarop hulle vertrou nie.” (vers 9 – 2014 vertaling).

Saam met die verbintenis spreek die Psalmis sy verwagting uit dat die Here sy verlossing só sal bring dat daar sewe uitkomste vir die volk sal aanbreek:

  • Daarmee sal eerbied weer ’n plek hê in ons land.” – eerbied vir God en vir die lewe (vers 10b).
  • Troue liefde en waarheid ontmoet mekaar,” – albei is nodig vir ’n stabiele gemeenskap (vers 11a),
  • geregtigheid en vrede omhels mekaar.” – sonder geregtigheid kan daar nie vrede wees nie en sonder dat ’n mens nie doelbewus vrede najaag nie, kan daar ook nie geregtigheid wees nie (vers 11b).
  • Waarheid sal uit die aarde spruit,” (vers 12a),
  • geregtigheid sal uit die hemel neerkyk.” – vers 11 se prentjie van liefde, waarheid, geregtigheid en vrede word hiermee as ’n omvattende hemelse en aardse werklikheid geskets (vers 12b).
  • Daarby sal die Here gee wat goed is,” (vers 13a),
  • en ons land sal sy opbrengs lewer.” (vers 13b).

Die toppunt van dié uitkomste is egter die agste een, dat God sy mense sal besoek, dat Hy na hulle toe sal kom (vers 14).  Dit is die einddoel van alles, om in die teenwoordigheid van God te lewe.

Boodskap van die Psalm

Dit tref my hoe belangrik nie net die gebed om verandering in ’n mens se lewe is nie, maar ook die verbintenis aan en verwagting van God.  Die Psalm leer ons dat al drie elemente onontbeerlik is vir die herstel van ’n mens se verhouding met God en vir die ontvangs van die vrede wat Hy bring.  Ons moet met alles in ons bid vir verandering.  Ons moet net so vasberade onsself aan God verbind en sorg dat ons nie weer afdwaal nie!  En ons moet met net soveel oorgawe vashou aan die agtvoudige verwagting wat die Psalmis hier uitspel.

Dit alles sal gebeur, omdat geregtigheid voor Hom uitgaan en die weg baan vir sy voetstappe!  Mensig, watter droom en visie om voor te bid, te lewe en na uit te sien!

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
  • Elsa Steyn on 1 Samuel 28Hi Chris 1 Sam 28 vers 19 Saul en Samuel is saam in dieselfde plek, die doderyk. Saul het volhard in die afskakeling van sy verhouding met God, en het nie tot inkeer en berou gekom nie. Hoekom is hulle twee na dieselfde plek? Samuel is dan in die hemel?
  • Chris van Wyk on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysEk het al heelwat hieroor geskrywe op bybelskool.com. Jy kan in die soekenjin verder kyk. Hier is die skakel na wat die belydenisskrifte daaroor sê wat 'n goeie vertrekpunt is: https://bybelskool.com/wat-is-die-drie-eenheid-die-getuienis-van-die-belydenisskrifte/?highlight=drie-eenheid
  • Petrus on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysBeste Chris "Ons" Gen 1: 26 -"Toe het God gese: Kom Ons maak...." Gen 11: 7 - "Kom laat Ons afgaan..." Ons praat v/d die Drie-eenhied en Jesus as God. Verstaanbaar. Wanner God na "Ons" verwys, is dit nie dat Jesus Sy Seun Die Woord is soos Johannes dit ook noem en Jesus fisies die Seun van God is so…
  • Chris van Wyk on AmosDankie Katrien, dit is my voorreg. Chris.
  • Katrien on AmosSo maklik verval ons ook in dieselfde gemaksone van ouds! Ons moet waak teen selfgenoegsaamheid in ons verhouding met God. Met die Heilige Gees binne my is daar nie wegkom kans vir God se kinders wat lou en koud word, in hul verhouding nie. Ek wil bid Heer bewaar my van gemaksugtigheid in my verhoud…
  • Chris van Wyk on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofHi Petrus, 'n mens kan die 666 simbolies verbind aan enige godsdiens wat Christene vervolg, ook dié tye en plekke deur die eeue waar Christene vervolg is in die naam van Islam. My gedagtes oor die 666 is soos volg: Die dier uit die aarde – die vals profeet (Openb 16:13 word die dier só genoem) – opp…
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 17Dankie Sarie, dit is 'n tikfout. Dit is vers 9 van 1 Samuel 21.
  • Sarie Cronje on 1 Samuel 171 Sam 21 het net 15 verse - Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit wat later in sy verhaal weer ‘n rol sou speel (1 Sam 21:19).
  • Petrus on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofGoeie Dag Chris Ivm die nommer 666. Ek het 'n interessante video gesien oor iemand wat selfs 'n boek daaroor geskryf het en die nommer met Mohammad/Allah verbind. Denkend aan die Openbaring 13 skrywe waar die wat nie die merk dra nie van ekonomiese welvaart afgesny word kilnk dit vir my reg. Soos jy…
  • Chris van Wyk on Lukas 10:38-42 – Kies om na Jesus te luister, want dit sal nie van jou af weggeneem word nieMy voorreg, Reinette.
%d bloggers like this: