Skip to main content

Indeling van die 3de Psalmboek

Die eerste Psalm in dié Psalmboek, Psalm 73, begin met die stelling: “God is vir Israel baie goed.” Dít is die stelling van die Psalmis wat deeglik getoets gaan word in die res van die derde Psalmboek, want die vraag is of die stelling waar is in die lig van die voorspoed van die goddeloses en die dilemma van die ballingskap wat aan God se straf toegeskryf word.  Hoekom laat God dit so goed gaan met die goddeloses as dit so swaar gaan met die regverdiges wat ly onder die oordeel van God oor die ongehoorsaamheid van die res van die volk?

Die antwoord wat die derde Psalmboek verskaf, lê onder andere opgesluit in die boodskap van Psalm 82 (en 88) dat die hoop by God self lê en sy ingrype, “want al die nasies behoort aan U.” (82:8)  Hy sal uitspraak lewer sodat daar reg kan geskied regoor die hele aarde (vers 3-4).

’n Mens kan die derde Psalmboek in sy geheel rondom die tema van die lotgevalle van Sion, die plek waar die tempel van God gebou is, en die lotgevalle van die volk van Israel indeel (vgl. Fee en Stuart, How to Read the Bible Book by Book, 2002, p. 141). Dit is ook waarom die Psalms veral aan Asaf (Ps. 73-83) en die Koragiete (Ps. 84-85, 87-88) toegeskryf word, omdat hulle ten nouste met die ontwikkeling van die tempel gemoeid was.  Psalm 86 is die enigste Psalm van Dawid wat in hierdie versameling opgeneem is.

  1. In Psalm 73-78 word die vraag na die voorspoed van die goddeloses gevra terwyl nagedink word oor die ballingskap van die volk van God.  Hoekom het U ons verlaat, soos Psalm 74 en 77 verslae vra?  En, sal dit vir ewig duur?  Psalm 78 vertel dan die verhaal van die volk in detail, soos ook later in Psalm 105, 106 en 136 gedoen sal word.
  2. In Psalm 79-83 word dieselfde tema aangeroer waarin meer op die vraag na hoe lank dit sal duur gekonsentreer word.    Die hoop, soos reeds aangeroer, lê uiteindelik in God self en sy ingrype opgesluit, omdat die volk die oproep van God verontagsaam het, soos Ps. 81:14 sê: “Ag, as my volk maar na My wou luister, as Israel maar my wil wou doen.”
  3. In Psalm 84-89 word op dié tema voortborduur op die vraag hoekom en hoe lank nog, waarin onder andere ’n pleidooi gelewer word vir genade op grond van die feit dat die Here “’n barmhartige en genadige God is, lankmoedig, vol liefde en trou.” (Ps. 86:15).  Psalm 89 eindig met die brandende vraag of die volk op die liefde van die Here van vroeër wat Hy in sy trou aan Dawid belowe het, kan staatmaak (Ps. 89:50) en lewer ’n pleidooi dat die Here sal dink aan die smaad wat die volk aangedoen is wat uiteindelik ook Sy “gesalfde tref waar hy ook al gaan” (Ps. 89:52).

Iets meer oor Asaf

Asaf was een van die sangleiers wat Dawid aangestel het om die sangerstradisie in Israel te begin.  Dawid het aanvanklik twee Leviete aangestel om die sang waar te neem voor en in die huis van die Here, die tabernakel van sy tyd, of soos dit in Kronieke genoem word, die “tent van ontmoeting”.  Die manne was Heman en Asaf.

Jedutun is later tot dié getal bygevoeg (1 Kron 25:1).  Gesamentlik was daar ‘n hele 280 opgeleide mense deel van hierdie sangersgeslag in Dawid se tyd (1 Kron 25:7), wat ook interessant genoeg van Heman se dogters ingesluit het (1 Kron 25:5-6).  En dié tradisie het tot eeue se diens aan die volk gelei, selfs tot na die ballingskap (Neh 7:44).

Hierdie sangerstradisie het ‘n aanvang geneem met die vreugdevolle vestiging van die ark in “sy rusplek” (1 Kron 6:31) en het ‘n belangrike deel van die tempeldiens geword, nadat die tempel deur Salomo gebou is.  Hierbenewens was daar natuurlik ook nog die Levitiese ampsgenote wat al die dienste in die heiligdom verrig het, en die Aäronitiese priesters  wat die offerdienste behartig het, uit wie die hoëpriester ook telkens aangewys is, en wat die enigste was wat voor God in die Allerheiligste deel van die tabernakel/tempel kon ingaan.

Die sangleiers het hulle dienste verrig volgens ’n vaste rooster en interessant genoeg saam met hulle kinders in die uitgebreide familiegroep.  Die seuns het onder leiding van hulle pa’s opgetree (1 Kron 25:6) wat ook in sommige gevalle (Heman) die dogters ingesluit het.  Hierdie diens was ook ‘n voltydse diens (1 Kron 16:37).

Asaf was waarskynlik die meer produktiewe digter van dié drie leiers. Ons het 12 Psalms van Asaf in die Bybel (Ps 50 en die reeks in Ps 73-83 wat hierdie 3de Psalmboek inlui).  Die feit dat Asaf so produktief was, hou interessant genoeg verband met die betekenis van sy naam, nl., die “versamelaar”.

Hierdie sangleiers was natuurlik ook bedrewe musikante.  Asaf was bv. bedrewe met kopersimbale (1 Kron 15:19; 16:5) iets waarmee die Asafgroep, benewens hulle sang (Neh 7:44), mettertyd geïdentifiseer is (Esr 3:10). ‘n Interessante brokkie geskiedenis word vir ons in 1 Kron 16:7 vertel dat Asaf en sy amsgenote die eerste uitvoerders van Psalm 105, in opdrag van Dawid, met die titel “Loof die Here”, was.

Daarbenewens het Asaf, Heman en Jedutun ook soms as profete opgetree, onder begeleiding van liere, harpe en simbale, soos ons in 1 Kronieke 25:1 lees.  Hulle het dus gepreek sowel as gesing!

Iets meer oor die Koragiete, Heman en Etan

11 Psalms word in totaal aan die Koragiete toegeskryf.  Ons vind hulle Psalms in 2 kort reekse,  aan die begin van die 2de Psalmboek – Ps. 42–49 – en hier in die 3de Psalmboek – Ps. 84-88 (uitgesonderd 86 wat ’n Psalm van Dawid is).

Die Koragiete was deel van die stam van Levi.  Van die Koragiete het diens gedoen as deurwagte by die heiligdom (1 Kron. 9). Sommige was soldate in Dawid se leër (1 Kron. 12). Ander was weer bekend as musikante in die tempel (1 Kron. 6).

Een van die groot Koragiete was die profeet Samuel.  Een van sy kleinseuns, Heman, word ook uitgesonder as ‘n musikant (1 Kron. 6), hoewel dit waarskynlik nie dieselfde persoon is wat ook saam met die Koragiete verantwoordelik was vir Psalm 88 nie.  Die Heman van Psalm 88 was waarskynlik die wyse man  van 1 Kon. 4:31, omdat hy ‘n Esragiet was soos die eerste vers van die Psalm dit aandui.

Ps. 89, die afsluiting van die 3de Psalmboek, word aan Etan, ‘n wyse man van Juda in die tyd van Dawid en Salomo (1 Kon. 4:31) toegeskryf.


by Chris van Wyk


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Inleiding op JakobusJesus en Jakobus is halfbroers deur Maria. Hulle het dieselfde ma, maar nie dieselfde pa nie. Josef was Jakobus se pa. God was Jesus se Vader.
  • Betsy Bester on Inleiding op JakobusHoekom word daar verwys Na Jakobus as Jesus Se halfbroer in die 83 vertaling
  • Chris van Wyk on Hosea 4:1-5:7Juda is op hierdie punt gewaarsku (ongeveer 740 vC), en hulle het veral onder koning Hiskia 'n paar dekades later die Here weer gedien. Maar, uiteindelik het hulleself onder die oordeel gekom weens die wydverspreide sondes van die konings, priesters, en gewone mense, en is in ballingskap weggevoer i…
  • Renier on Hosea 4:1-5:7Goeie more. Verstaan ek reg? Die Juda-lyn was gewaarsku, nie ook veroordeel nie? En wat beteken dit vir ons wat daarna verwek was?
  • Chris van Wyk on Lukas 23Ek stuur.
  • Elma Bosch on Lukas 23Baie dankie, ek doen die bybelstudies saam met u en lees ook die bybel kronologies saam, ek waardeer dit werklik.. Ek stel baie belang in die elektroniese lêer van die 4 Evangelies langs mekaar. Kan u dit asb vir my email na elmab0708@gmail.com
  • Trudie Vorster on Nuusbrief Mei 2025Prys die Here🙏🙏🙏
  • Chris van Wyk on Matteus 27Ek waardeer die terugvoer. Ek stuur vir jou die lêers per e-pos.
  • briefly31ea27a91f on Matteus 27Baie dankie, ek doen die bybelstudies saam met u en lees ook die bybel kronologies saam, ek waardeer dit werklik.. Ek stel baie belang in die elektroniese lêer van die 4 Evangelies langs mekaar. Is dit moontlik om dit ook vir my te stuur. E-pos : heydenrychwilma1961@gmail.com Ek is van die NG Gemeen…
  • Chris van Wyk on Matteus 27Hi Neels, ons lees nie in die NT dat Petrus eksplisiet sy sonde voor die Here bely en om vergifnis vra nie. Ons sien wel dat dit indirek gebeur met sy hartseer in die voorhof ná hy die Here Jesus verloën het (Luk. 22:62). Ons sien dit ook in sy keuse om na Jesus te gaan op die strand en in die gespr…
  • Neels Fourie on Matteus 27Goeie more prof, kan jy vir my die skrif stuur waar Petrus vergifnis gevra het asb
  • Chris van Wyk on Lees Handelinge en die NT briewe kronologies saam met my deur van 7 Junie afEk sien self uit na die reis!
  • Dianne on Lees Handelinge en die NT briewe kronologies saam met my deur van 7 Junie afBaie dankie vir die geleentheid om saam met julle deur die woord te reis.Amen
  • andrebrophy812 on Johannes 17Good day sir. Thank you for the meaningful insight. May the Good Lord bless and keep your own spirit always in connection with the Holy spirit
  • Chris van Wyk on SubscribeWelkom. Ek stuur na jou Inbox.