Skip to main content

Psalm 86 – Gee my ’n teken van u goedheid

Midde-in die Psalms van die Koragiete vind ons hierdie juweel van ’n Psalm wat aan Dawid toegeskryf word, die enigste Psalm van Dawid in die derde Psalmboek.  Dit word as ’n gebed getipeer, die gebed van iemand wat smeek om God se uitkoms in nood.

Die Psalm gee vir ons ’n navolgenswaardige struktuur vir ons smeekbedes:

  • Roep na God in die tyd van jou nood – vers 1-7
  • Prys Hom vir sy wese en werke – vers 8-10
  • Verbind jou aan Hom – vers 11-13
  • Vra van Hom genade en spesifieke uitkomste – vers 14-17

“Here, draai u oor na my” – vers 1-7

Die eerste vers word in die 2014 vertaling só vertaal: “Here, draai u oor na my; antwoord my, want ek is magteloos en behoeftig.”  Die Psalmis twyfel nie dat God kan hoor nie, maar wil graag hê dat God na hóm sal luister, dat Hy  gebed sal verhoor.

Let op hoe hy as motivering aan die Here aan die eenkant sy getrouheid (vers 2) noem, dat hy die Here se “getroue volgeling” is, sy “dienskneg wat op U vertrou” (2014 vertaling).  Daarom vra hy dat God hom sal beskerm en red (vers 2), hom genadig sal wees en vreugde sal verskaf (vers 3-4).

Aan die ander kant bely hy ook dat die diepste motivering geleë is in God se getrouheid wat immers goed is en altyd weer vergewe (vers 5).  “U is getrou teenoor dié wat na U roep om hulp.” (vers 5b).  In die oorspronklike staan daar dat God vol “troue liefde” is teenoor almal wat na Hom roep.  Daarom kan hy staatmaak daarop dat die Here die gebed sal verhoor, ”want U antwoord my.” (vers 7).

“Daar is niemand soos U onder die gode nie, my Heer” – vers 8-10

Die herinnering aan God se getrouheid – sy goedheid, vergewensgesindheid en troue liefde – laat hom dan fokus op Wie God is en Wat God doen.  Daar is niemand soos die Here nie en niks kan met sy werke vergelyk word nie.

Onder sy werke tel die feit dat Hy die nasies gemaak het om Hom te dien en onder sy wese tel die feit dat Hy alleen God is, dat sy Naam – sy teenwoordigheid – groot is en eer verdien.  Daarom sal die nasies Hom dien en aan Hom eer gee.

Terloops, dit is iets wat in die NT baie spesifiek ook aan die Here Jesus se Naam verbind word: “Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en aan Hom dié Naam geskenk wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elke knie sal buig van diegene in die hemel en op die aarde en onder die aarde en elke tong sal bely: ‘Jesus Christus is Here!’ – tot eer van God die Vader.” (Fil. 2:9-11).

“Leer my u pad, Here; ek wil in u waarheid leef” – vers 11-13

Die hart van die Psalm is die gebed vir en verbintenis daaraan dat die Here hom Sy pad sal leer, omdat hy in God se waarheid wil leef (of loop/wandel, soos in die Hebreeus staan).  Hy wil leer om die Here met toewyding te dien, om “heelhartig vir u Naam ontsag” te hê (vers 11 – 2014 vertaling) en Hom terselfdertyd “met my hele hart” te loof (vers 12).  Ontsag vir God sowel as Lof vir God – dit is die mikpunt van die Psalmis se lewe.  Iets wat gerus die mikpunt van ons eie lewe kan word!

Hierdie keer word sy gebed en verbintenis begrond op sy vroeëre ervaring van God se troue liefde wat groot is, soos hy voorheen in doodsgevaar beleef het (vers 13). Dit neem nie veel verbeelding om Psalm 23 se woorde in herinnering te roep nie – “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my.” (Ps. 23:4).

“O God, vermeteles het teen my opgestaan … Draai na my en wees my genadig” – vers 14-17

Die Psalmis keer terug na die eerste deel van sy gebed, maar word nou meer spesifiek in sy smeekgebed.  Hy loop deur onder hovaardiges (vermeteles – 2014 vertaling), geweldenaars, mense wat nie met God rekening hou nie (vers 14).

Hy maak staat op God se genade en barmhartigheid, sy geduldtroue liefde, en soos in die grondteks staan, sy waarheid.  Dit is jammer dat die verwysing na waarheid uitgeval het in die 1983 vertaling omdat die waarheid hier terugverwys na die Psalmis se behoefte om in God se waarheid te leef, soos dit vroeër in vers 11 verwoord is.  Die 2014 vertaling het dit wel ingesluit.

Hy sluit sy gebed af met sy versoek dat die Here hom sal raaksien: “Draai na my en wees my genadig.”  Hy vra dat God hom krag sal gee en hom sal verlos.  En hy vra dat God vir hom persoonlik ’n teken van sy goedheid sal gee, iets wat publieke betekenis sal hê.

Dit is hoe die 2014 vertaling dit het: “Gee my ’n teken van u goedheid dat hulle wat my haat dit kan sien en beskaam staan. U, Here, het my immers gehelp en getroos.” (vers 17)  Die fokus lê dus op iets wat vir die Psalmis gedoen word.  Die 1983 vertaling plaas die fokus op iets wat God met hom doen as ’n teken aan ander: “Maak my ’n voorbeeld van u goedheid, sodat dié wat my haat, verleë sal moet toesien dat U, Here, my help en vir my uitkoms gee.”  Albei moontlikhede het besondere betekenis in die konteks van die verhoring van gebed.

Boodskap van die Psalm

Hierdie Psalm is een van die vele model gebede in die Bybel. Dit gee ’n struktuur aan ons smeekgebede wat navolgenswaardig is: roep, prys, verbind, vra.  Wat veral merkwaardig is vir my in die Psalm is in die eerste plek die behoefte om deur God geleer te word om in die waarheid te leef (vers 11) en in die tweede plek die waagmoed om van God ’n teken van sy goedheid te vra, iets wat vir jouself betekenis kan hê, maar verseker ook iets wat vir ander iets van God se werklikheid kan oordra.

Ek loop vandag tegemoet met die frase: “Gee my ’n teken van u goedheid,” nie dat ek soseer in nood is nie, maar omdat ek behoefte aan God se teenwoordigheid het.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.