Psalm 86 – Gee my ’n teken van u goedheid
Midde-in die Psalms van die Koragiete vind ons hierdie juweel van ’n Psalm wat aan Dawid toegeskryf word, die enigste Psalm van Dawid in die derde Psalmboek. Dit word as ’n gebed getipeer, die gebed van iemand wat smeek om God se uitkoms in nood.
Die Psalm gee vir ons ’n navolgenswaardige struktuur vir ons smeekbedes:
- Roep na God in die tyd van jou nood – vers 1-7
- Prys Hom vir sy wese en werke – vers 8-10
- Verbind jou aan Hom – vers 11-13
- Vra van Hom genade en spesifieke uitkomste – vers 14-17
“Here, draai u oor na my” – vers 1-7
Die eerste vers word in die 2014 vertaling só vertaal: “Here, draai u oor na my; antwoord my, want ek is magteloos en behoeftig.” Die Psalmis twyfel nie dat God kan hoor nie, maar wil graag hê dat God na hóm sal luister, dat Hy sý gebed sal verhoor.
Let op hoe hy as motivering aan die Here aan die eenkant sy getrouheid (vers 2) noem, dat hy die Here se “getroue volgeling” is, sy “dienskneg wat op U vertrou” (2014 vertaling). Daarom vra hy dat God hom sal beskerm en red (vers 2), hom genadig sal wees en vreugde sal verskaf (vers 3-4).
Aan die ander kant bely hy ook dat die diepste motivering geleë is in God se getrouheid wat immers goed is en altyd weer vergewe (vers 5). “U is getrou teenoor dié wat na U roep om hulp.” (vers 5b). In die oorspronklike staan daar dat God vol “troue liefde” is teenoor almal wat na Hom roep. Daarom kan hy staatmaak daarop dat die Here die gebed sal verhoor, ”want U antwoord my.” (vers 7).
“Daar is niemand soos U onder die gode nie, my Heer” – vers 8-10
Die herinnering aan God se getrouheid – sy goedheid, vergewensgesindheid en troue liefde – laat hom dan fokus op Wie God is en Wat God doen. Daar is niemand soos die Here nie en niks kan met sy werke vergelyk word nie.
Onder sy werke tel die feit dat Hy die nasies gemaak het om Hom te dien en onder sy wese tel die feit dat Hy alleen God is, dat sy Naam – sy teenwoordigheid – groot is en eer verdien. Daarom sal die nasies Hom dien en aan Hom eer gee.
Terloops, dit is iets wat in die NT baie spesifiek ook aan die Here Jesus se Naam verbind word: “Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en aan Hom dié Naam geskenk wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elke knie sal buig van diegene in die hemel en op die aarde en onder die aarde en elke tong sal bely: ‘Jesus Christus is Here!’ – tot eer van God die Vader.” (Fil. 2:9-11).
“Leer my u pad, Here; ek wil in u waarheid leef” – vers 11-13
Die hart van die Psalm is die gebed vir en verbintenis daaraan dat die Here hom Sy pad sal leer, omdat hy in God se waarheid wil leef (of loop/wandel, soos in die Hebreeus staan). Hy wil leer om die Here met toewyding te dien, om “heelhartig vir u Naam ontsag” te hê (vers 11 – 2014 vertaling) en Hom terselfdertyd “met my hele hart” te loof (vers 12). Ontsag vir God sowel as Lof vir God – dit is die mikpunt van die Psalmis se lewe. Iets wat gerus die mikpunt van ons eie lewe kan word!
Hierdie keer word sy gebed en verbintenis begrond op sy vroeëre ervaring van God se troue liefde wat groot is, soos hy voorheen in doodsgevaar beleef het (vers 13). Dit neem nie veel verbeelding om Psalm 23 se woorde in herinnering te roep nie – “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my.” (Ps. 23:4).
“O God, vermeteles het teen my opgestaan … Draai na my en wees my genadig” – vers 14-17
Die Psalmis keer terug na die eerste deel van sy gebed, maar word nou meer spesifiek in sy smeekgebed. Hy loop deur onder hovaardiges (vermeteles – 2014 vertaling), geweldenaars, mense wat nie met God rekening hou nie (vers 14).
Hy maak staat op God se genade en barmhartigheid, sy geduld, troue liefde, en soos in die grondteks staan, sy waarheid. Dit is jammer dat die verwysing na waarheid uitgeval het in die 1983 vertaling omdat die waarheid hier terugverwys na die Psalmis se behoefte om in God se waarheid te leef, soos dit vroeër in vers 11 verwoord is. Die 2014 vertaling het dit wel ingesluit.
Hy sluit sy gebed af met sy versoek dat die Here hom sal raaksien: “Draai na my en wees my genadig.” Hy vra dat God hom krag sal gee en hom sal verlos. En hy vra dat God vir hom persoonlik ’n teken van sy goedheid sal gee, iets wat publieke betekenis sal hê.
Dit is hoe die 2014 vertaling dit het: “Gee my ’n teken van u goedheid dat hulle wat my haat dit kan sien en beskaam staan. U, Here, het my immers gehelp en getroos.” (vers 17) Die fokus lê dus op iets wat vir die Psalmis gedoen word. Die 1983 vertaling plaas die fokus op iets wat God met hom doen as ’n teken aan ander: “Maak my ’n voorbeeld van u goedheid, sodat dié wat my haat, verleë sal moet toesien dat U, Here, my help en vir my uitkoms gee.” Albei moontlikhede het besondere betekenis in die konteks van die verhoring van gebed.
Boodskap van die Psalm
Hierdie Psalm is een van die vele model gebede in die Bybel. Dit gee ’n struktuur aan ons smeekgebede wat navolgenswaardig is: roep, prys, verbind, vra. Wat veral merkwaardig is vir my in die Psalm is in die eerste plek die behoefte om deur God geleer te word om in die waarheid te leef (vers 11) en in die tweede plek die waagmoed om van God ’n teken van sy goedheid te vra, iets wat vir jouself betekenis kan hê, maar verseker ook iets wat vir ander iets van God se werklikheid kan oordra.
Ek loop vandag tegemoet met die frase: “Gee my ’n teken van u goedheid,” nie dat ek soseer in nood is nie, maar omdat ek behoefte aan God se teenwoordigheid het.
View all posts in this series
- Bybelskool oor die 3de en 4de Psalmboek – 2de kwartaal 2014 - April 12, 2014
- Inleiding op die Psalms - May 7, 2014
- Vorige bydraes
- Inleiding op die 3de Psalmboek: Psalms 73-89
- Indeling van die 3de Psalmboek
- Hoe om die Psalms te lees
- Psalm 73 – God is my krag en erfenis - May 8, 2014
- Psalm 74 – God self is ons enigste hoop - May 9, 2014
- Psalm 75 – Dis God wat verneder en verhef - May 12, 2014
- Psalm 76 – God is oor ons soos ’n leeu oor sy skuilplek - May 13, 2014
- Psalm 77 – O God, u weg is heilig - May 14, 2014
- Psalm 78 – Die raaisel van onbestendigheid - May 15, 2014
- Psalm 79 – Ontferm U tog gou oor ons, want ons kragte is gedaan - May 16, 2014
- Psalm 80 – Laat dit weer met ons goed gaan, verskyn tog tot ons redding! - May 19, 2014
- Psalm 81 – Maak jy jou mond wyd oop, dan vul Ek dit! - May 20, 2014
- Psalm 82 – Staan op, o God, oordeel die aarde - May 21, 2014
- Psalm 83 – O God, moet U nie doof hou nie, u vyande is oproerig - May 22, 2014
- Psalm 84 – Hoe gelukkig is hulle wat in u huis woon
- Psalm 85 – Die verbintenis aan en verwagting van God vir uitkoms - May 26, 2014
- Psalm 86 – Gee my ’n teken van u goedheid - May 27, 2014
- Psalm 87 – Elke persoon wat God ken, is in Sion gebore - May 28, 2014
- Psalm 88 – Die swaarkry het vir my te veel geword - May 29, 2014
- Psalm 89 – Sal U dan vir altyd u hulp weerhou? - May 30, 2014