Skip to main content

Hoe om die Psalms te lees

Die Bybel moet ons lewe vorm. Daarom is dit nodig dat ons leer om die Bybel te leef terwyl ons dit lees. Daardeur hoor ons die stem van God in die Bybel, leer ons hoe om Jesus prakties te volg, en skryf die Gees ons in God se verhaal met die wêreld in.

Lees, luister, leef

Ek stel voor dat jy die volgende metodiek gebruik wat gebaseer is op Lectio Divina en die luistersiklus van die Seisoen van Luister:

  1. LEES – Raak stil voor die Here.  Lees die teksgedeelte deeglik deur, desnoods 2 of 3 keer, hardop as dit kan.  Wat tref jou?  Let op vir temas in die gedeelte.  Wat sê dit van God?  Wat sê dit van mense?  Wat sê dit van die wêreld?  Soek vir een sleutel gedagte wat jou besonderlik tref.  Skryf dit in jou joernaal neer.  Lees dan wat ek geskryf het en dink na oor wat jou daarin tref.
  2. LUISTER – Dink na oor wat God vir jou deur die sleutel gedagte wil sê.  Waar raak hierdie gedagte jou lewe in die praktyk?  Wat vra dit van jou?  Wat belowe dit vir jou?  Wat moet jy dink of doen daarmee?  Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe?
  3. LEEF – Besluit hoe jy daarop gaan reageer.  Sê dit vir die Here in gebed.  Skryf dit in jou joernaal.  Geniet Sy teenwoordigheid.  Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag.  Leef dit uit.

Die proses sal gou só deel van jou manier van lees word, dat jy dit eintlik outomaties sal kan doen: lees, luister, leef.

Lectio Divina

Indien jy ’n meer omvattende Lectio Divina metodiek wil gebruik, kan jy hierdie een van Alice Fryling (The Art of Listening: 2003) gebruik wat ek self baie sinvol vind.  Dit werk met 6 bewegings:

  1. Silencio – kom tot rus voor God en aanvaar die uitnodiging om in Sy teenwoordigheid te wees.  Gebruik musiek, óf ’n Psalmvers, óf ’n meditasie oefening, óf net die stilte van die omgewing.  Dink na oor wat sleg was die afgelope dag (week).  Vra die Here vir vergifnis, verandering, vertroosting.  Dink na oor wat goed was die afgelope dag (week).  Sê vir die Here dankie daarvoor.  Bid vir insig in jou lees van die Bybel.
  2. Lectio – lees die Skrifgedeelte, hardop indien moontlik, en fokus op die verse of gedagtes wat jou tref.  Dink na oor temas in die gedeelte.  Wat sê dit van God?  Wat sê dit van mense?  Wat sê dit van die wêreld?  Soek vir een  sleutel gedagte wat jou besonderlik tref.  Skryf dit in jou joernaal neer.  Lees my bydrae en dink na oor wat jou daarin tref.
  3. Meditatio – kies een gedagte, en oordink die praktiese impak van die gedagte op jou lewe.  Dink na oor wat God vir jou deur die sleutel gedagte wil sê.  Waar raak die gedagtes in die Bybel jou lewe in die praktyk?  Wat vra dit van jou?  Wat belowe dit vir jou?  Wat moet jy dink of doen daarmee?  Wat is die boodskap van dié gedagte vir jou dag en lewe?  Besluit hoe jy gaan reageer daarop.
  4. Oratio – antwoord God in gebed daarop.  Fokus op dit wat jy ervaar die Here op jou hart lê.  Doen ook voorbidding.  Skryf dit alles neer in jou joernaal.
  5. Contemplatio – geniet God se teenwoordigheid sonder om te praat.  Dit kan ’n paar minute wees of langer.  Spandeer een keer ’n week ’n bietjie meer tyd hieraan.
  6. Incarnatio – wees gehoorsaam aan wat God sê.  Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

Op ’n ander plek het ek ook ’n verkorte weergawe van bogenoemde ses stappe gegee:

  1. Kom tot rus – fokus op jou asemhaling, sit gemaklik, gee jou kommer vir die Here (Silencio)
  2. Lees die Psalm – lees dit biddend, lees die bydraes wat ek daaroor skrywe (Lectio)
  3. Oordink die betekenis van die Psalm – kies ’n vers of woord uit die Psalm wat jou ruk/troos/uitdaag en oordink die praktiese betekenis daarvan vir jou (Meditatio)
  4. Antwoord die Here in gebed  – fokus op wat jy gehoor het; jy kan ook hier voorbidding doen (Oratio)
  5. Geniet God se teenwoordigheid – doen dit sonder woorde (Contemplatio)
  6. Wees gehoorsaam aan God  – gaan doen wat jy gehoor het (Incarnatio)

Vir Bybelstudiegroepe

Laat elkeen by die webtuiste inskryf (daar is twee opsies, kies die een wat jou pas) en die bydraes vir hulle persoonlike stiltetyd gebruik soos hierbo beskryf.  Ek plaas vyf bydraes ’n week, maar julle kan dit natuurlik ook oor ’n langer tydperk lees.

Gebruik dan die volgende proses vir julle byeenkoms:

  1. LEES – Raak stil voor die Here.  Gebruik van die voorstelle hierbo van die Silencio  van Lectio Divina.  Laat elkeen een kort teksgedeelte voorlees uit die hoofstukke wat julle gelees het, en deel wat hom of haar daarin getref het.  Gebruik julle joernale.  Deel dan met mekaar watter temas julle raakgesien het in die onderskeie bydraes.  Watter ander gedagtes wil julle byvoeg?  Wat sê dit van God?  Wat sê dit van mense?  Wat sê dit van die wêreld?
  2. LUISTER – Dink na oor wat God vir julle as groep deur al die gedagtes wil sê.  Waar raak hierdie gedagtes julle lewe in die praktyk?  Wat vra dit van julle?  Wat belowe dit vir julle?  Wat moet julle dink of doen daarmee?  Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir julle lewe?
  3. LEEF – Besluit hoe julle daarop gaan reageer.  Sê dit vir die Here in gebed.  Doen ook voorbidding.  Geniet Sy teenwoordigheid.  Laat die boodskap wat God julle gee met julle saamgaan tot die volgende byeenkoms.  Leef dit uit.

Vir Bybelskole

Indien die stof in ’n Bybelskool hanteer word, en daar baie deelnemers is, kan die groep óf in kleiner groepe opgedeel word, met ’n kleingroepleier wat die gesprek in elke kleiner groep begelei, waarna terugvoer gegee word aan die hele groep.  Óf die leier van die Bybelskool kan in wisselwerking met die groep meer tyd spandeer om  hulle insigte en vrae te fasiliteer en hoofstuk vir hoofstuk of tema vir tema deur die Bybelteks werk.

Fokus telkens op wat die afgelope week se leeswerk vir julle van God sê, van mense, en van die wêreld.  Probeer om deelnemers se verstaan van die Bybelteks op te helder, veral in die hantering van hulle insigte en vrae.  Lei die gesprek altyd ook in die rigting van die betekenis daarvan vir julle as gemeente, en vir elkeen persoonlik.  En beklemtoon dat ons eers regtig die teks verstaan wanneer ons begin om dit wat ons lees ook uit te leef.


by Chris van Wyk


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.
  • Marius smit on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieHoekom beskerm die Here jou juis aan jou regterkant?
  • runawayjoyous2427b27b07 on Eenjaar Bybelleesprogram – 366 daeBaie dankie!