Skip to main content

Hoe om die Psalms te lees

Die Bybel moet ons lewe vorm. Daarom is dit nodig dat ons leer om die Bybel te leef terwyl ons dit lees. Daardeur hoor ons die stem van God in die Bybel, leer ons hoe om Jesus prakties te volg, en skryf die Gees ons in God se verhaal met die wêreld in.

Lees, luister, leef

Ek stel voor dat jy die volgende metodiek gebruik wat gebaseer is op Lectio Divina en die luistersiklus van die Seisoen van Luister:

  1. LEES – Raak stil voor die Here.  Lees die teksgedeelte deeglik deur, desnoods 2 of 3 keer, hardop as dit kan.  Wat tref jou?  Let op vir temas in die gedeelte.  Wat sê dit van God?  Wat sê dit van mense?  Wat sê dit van die wêreld?  Soek vir een sleutel gedagte wat jou besonderlik tref.  Skryf dit in jou joernaal neer.  Lees dan wat ek geskryf het en dink na oor wat jou daarin tref.
  2. LUISTER – Dink na oor wat God vir jou deur die sleutel gedagte wil sê.  Waar raak hierdie gedagte jou lewe in die praktyk?  Wat vra dit van jou?  Wat belowe dit vir jou?  Wat moet jy dink of doen daarmee?  Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe?
  3. LEEF – Besluit hoe jy daarop gaan reageer.  Sê dit vir die Here in gebed.  Skryf dit in jou joernaal.  Geniet Sy teenwoordigheid.  Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag.  Leef dit uit.

Die proses sal gou só deel van jou manier van lees word, dat jy dit eintlik outomaties sal kan doen: lees, luister, leef.

Lectio Divina

Indien jy ’n meer omvattende Lectio Divina metodiek wil gebruik, kan jy hierdie een van Alice Fryling (The Art of Listening: 2003) gebruik wat ek self baie sinvol vind.  Dit werk met 6 bewegings:

  1. Silencio – kom tot rus voor God en aanvaar die uitnodiging om in Sy teenwoordigheid te wees.  Gebruik musiek, óf ’n Psalmvers, óf ’n meditasie oefening, óf net die stilte van die omgewing.  Dink na oor wat sleg was die afgelope dag (week).  Vra die Here vir vergifnis, verandering, vertroosting.  Dink na oor wat goed was die afgelope dag (week).  Sê vir die Here dankie daarvoor.  Bid vir insig in jou lees van die Bybel.
  2. Lectio – lees die Skrifgedeelte, hardop indien moontlik, en fokus op die verse of gedagtes wat jou tref.  Dink na oor temas in die gedeelte.  Wat sê dit van God?  Wat sê dit van mense?  Wat sê dit van die wêreld?  Soek vir een  sleutel gedagte wat jou besonderlik tref.  Skryf dit in jou joernaal neer.  Lees my bydrae en dink na oor wat jou daarin tref.
  3. Meditatio – kies een gedagte, en oordink die praktiese impak van die gedagte op jou lewe.  Dink na oor wat God vir jou deur die sleutel gedagte wil sê.  Waar raak die gedagtes in die Bybel jou lewe in die praktyk?  Wat vra dit van jou?  Wat belowe dit vir jou?  Wat moet jy dink of doen daarmee?  Wat is die boodskap van dié gedagte vir jou dag en lewe?  Besluit hoe jy gaan reageer daarop.
  4. Oratio – antwoord God in gebed daarop.  Fokus op dit wat jy ervaar die Here op jou hart lê.  Doen ook voorbidding.  Skryf dit alles neer in jou joernaal.
  5. Contemplatio – geniet God se teenwoordigheid sonder om te praat.  Dit kan ’n paar minute wees of langer.  Spandeer een keer ’n week ’n bietjie meer tyd hieraan.
  6. Incarnatio – wees gehoorsaam aan wat God sê.  Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

Op ’n ander plek het ek ook ’n verkorte weergawe van bogenoemde ses stappe gegee:

  1. Kom tot rus – fokus op jou asemhaling, sit gemaklik, gee jou kommer vir die Here (Silencio)
  2. Lees die Psalm – lees dit biddend, lees die bydraes wat ek daaroor skrywe (Lectio)
  3. Oordink die betekenis van die Psalm – kies ’n vers of woord uit die Psalm wat jou ruk/troos/uitdaag en oordink die praktiese betekenis daarvan vir jou (Meditatio)
  4. Antwoord die Here in gebed  – fokus op wat jy gehoor het; jy kan ook hier voorbidding doen (Oratio)
  5. Geniet God se teenwoordigheid – doen dit sonder woorde (Contemplatio)
  6. Wees gehoorsaam aan God  – gaan doen wat jy gehoor het (Incarnatio)

Vir Bybelstudiegroepe

Laat elkeen by die webtuiste inskryf (daar is twee opsies, kies die een wat jou pas) en die bydraes vir hulle persoonlike stiltetyd gebruik soos hierbo beskryf.  Ek plaas vyf bydraes ’n week, maar julle kan dit natuurlik ook oor ’n langer tydperk lees.

Gebruik dan die volgende proses vir julle byeenkoms:

  1. LEES – Raak stil voor die Here.  Gebruik van die voorstelle hierbo van die Silencio  van Lectio Divina.  Laat elkeen een kort teksgedeelte voorlees uit die hoofstukke wat julle gelees het, en deel wat hom of haar daarin getref het.  Gebruik julle joernale.  Deel dan met mekaar watter temas julle raakgesien het in die onderskeie bydraes.  Watter ander gedagtes wil julle byvoeg?  Wat sê dit van God?  Wat sê dit van mense?  Wat sê dit van die wêreld?
  2. LUISTER – Dink na oor wat God vir julle as groep deur al die gedagtes wil sê.  Waar raak hierdie gedagtes julle lewe in die praktyk?  Wat vra dit van julle?  Wat belowe dit vir julle?  Wat moet julle dink of doen daarmee?  Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir julle lewe?
  3. LEEF – Besluit hoe julle daarop gaan reageer.  Sê dit vir die Here in gebed.  Doen ook voorbidding.  Geniet Sy teenwoordigheid.  Laat die boodskap wat God julle gee met julle saamgaan tot die volgende byeenkoms.  Leef dit uit.

Vir Bybelskole

Indien die stof in ’n Bybelskool hanteer word, en daar baie deelnemers is, kan die groep óf in kleiner groepe opgedeel word, met ’n kleingroepleier wat die gesprek in elke kleiner groep begelei, waarna terugvoer gegee word aan die hele groep.  Óf die leier van die Bybelskool kan in wisselwerking met die groep meer tyd spandeer om  hulle insigte en vrae te fasiliteer en hoofstuk vir hoofstuk of tema vir tema deur die Bybelteks werk.

Fokus telkens op wat die afgelope week se leeswerk vir julle van God sê, van mense, en van die wêreld.  Probeer om deelnemers se verstaan van die Bybelteks op te helder, veral in die hantering van hulle insigte en vrae.  Lei die gesprek altyd ook in die rigting van die betekenis daarvan vir julle as gemeente, en vir elkeen persoonlik.  En beklemtoon dat ons eers regtig die teks verstaan wanneer ons begin om dit wat ons lees ook uit te leef.


by Chris van Wyk


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.