Skip to main content

Psalm 74 – God self is ons enigste hoop

Waarom hou U aan om ons te verstoot – vers 1-11?

Die 1983 vertaling sê so mooi: “Kom loop tog deur die plek wat so lankal in puin lê,” (vers 3) waarmee die Psalmis die behoefte uitspreek dat hy as’t ware die Here aan die hand wil vat en deur die verwoesting van Jerusalem en veral die heiligdom van God wil neem.  Hoekom?  Want die Psalmis kan nie dink dat God daardeur onaangeraak sal kan bly nie.  Selfs al was God ook hóé kwaad vir sy mense (vers 1), dié mense en dié stad is tog sy eiendom.  Hy kan mos nie aanhou om hulle te verstoot nie, of hoe?  Soos die 1984 vertaling vers 1 vertaal: “Waarom smeul u woede teen die kleinvee van u weiplek?” En vir hoe lank nog (vers 10)?

Met dié inleiding skets die Psalmis waarskynlik die grootskaalse ontwrigting en vernietigende ontworteling van die Joodse ballingskap van die 6de eeu v.C., ’n tyd toe die stad Jerusalem vernietig is en selfs die heiligdom in die slag gebly het.  In plaas van lofsang van die gemeente het die oorwinningskreet van die vyande in die plek van samekoms weerklink (vers 4) en is alles daarbinne verwoes en aan die brand gesteek (vers 5-8).  Dit het eintlik regdeur die land gebeur.  God se teenwoordigheid in terme van heilige geboue is uitgewis.

Daarom pleit hy by die Here dat Hy tog sal dink aan die gemeente wat Hy lank gelede al vir Hom sy eiendom gemaak het (vers 2).  Hy pleit dat die Here Hom weer aan hulle bekend sal maak deur sy profete (vers 9) en hulle sal help (vers 11).

God se sorg, sy verbond en sy verbintenis aan Homself is ons enigste hoop – vers 12-23.

In drie treffende gedeeltes herinner die Psalmis God aan Wie Hy werklik is.  Daarmee steek die Psalmis die hoop aan dat die Here miskien van gedagte sal verander as Hy dink aan sy sorg (vers 12-17), sy verbond (vers 18-21) en sy verbintenis aan Homself (vers 22-23).

God sorg immers vir alles en vir almal soos Hy helder gedemonstreer het in sy skeppingsmag en verlossingsdade deur die eeue.  Hy is van altyd af die Psalmis se koning, die een aan wie die dag en die nag behoort, wat die seisoene vasgestel het en in beheer bly van alle aardse onstuimigheid en mag.

God se verbond is verder tog met sy mense al is hulle onderdruk, magteloos, en behoeftig in hulle verstrooiing na die donker plekke van die wêreld.  Die vyand wat met God spot en sy Naam belaster kan tog nie die oorhand kry oor dié mense met wie God in ’n verhouding getree het nie?  Hy noem die volk God se “tortelduif” wat nie aan die wilde diere oorgegee moet word nie (vers 19 in die 2014 vertaling – 1983 vertaal: “dié wat deur U onderrig is”).  Die Psalmis doen ‘n beroep op God om sy mense in hulle nood raak te sien en hulle te help sodat hulle Hom weer kan prys.

Die diepste oproep op God is egter sy verbintenis aan Homself, die verbintenis wat Hy het om sy Naam te beskerm teen die gespot van dwase.  Die Psalmis maak staat op God se sin vir regverdigheid: “Laat geld tog u reg.”  Barbare (dwase in 2014 vertaling) en God se teëstanders en vyande kan tog nie God se aandag ontglip nie!

Boodskap van Psalm 74

Die ontreddering van die Psalmis strek veel vêrder as maar net die fisiese verwoesting van die stad, tempel en volk.  Sy diepste nood is dat God stil geraak het, dat daar niemand meer is wat God se boodskap verkondig nie, dat dit lyk asof God nie meer omgee nie, dat Hy nie meer (wil) optree nie.

Eerder egter as om die hoop op God te laat vaar, doen die Psalmis die enigste ding wat hy kan.  Hy herinner God aan sy mag soos Hy geïllustreer het oor die monsters van die voortyd.  Hy herinner God aan sy karakter as die Versorger van alles wat lewe.  Hy herinner God aan die feit dat Hy in verhouding getree het met dié volk wat nou verwoesting gesmaak het.  En as die toppunt van sy rede aan God, herinner Hy God aan Wie Hy in Homself is, ’n God wat op die reg gefokus is.  Sy hoop is dat God getrou aan Homself sal bly, dat Hy sy reg sal laat geld – redding vir sy mense en vergelding vir sy teenstanders.

Die Psalmis herinner ons daarmee aan die feit dat ons nie moet wegdraai van God as ons seerkry nie, selfs nie as ons seerkry omdat ons dit verdien nie.  Ons moet altyd weer ons hoop op God plaas, Hom herinner aan sy sorg, sy verbond en sy verbintenis aan die reg.  Daarmee moet ons nie ophou nie: “Laat geld u reg.”

Dit is ook gedagte waarmee ek die dag ingaan: “Laat geld u reg.”

by Chris van Wyk

Psalms


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar