Skip to main content

Psalm 74 – God self is ons enigste hoop

Waarom hou U aan om ons te verstoot – vers 1-11?

Die 1983 vertaling sê so mooi: “Kom loop tog deur die plek wat so lankal in puin lê,” (vers 3) waarmee die Psalmis die behoefte uitspreek dat hy as’t ware die Here aan die hand wil vat en deur die verwoesting van Jerusalem en veral die heiligdom van God wil neem.  Hoekom?  Want die Psalmis kan nie dink dat God daardeur onaangeraak sal kan bly nie.  Selfs al was God ook hóé kwaad vir sy mense (vers 1), dié mense en dié stad is tog sy eiendom.  Hy kan mos nie aanhou om hulle te verstoot nie, of hoe?  Soos die 1984 vertaling vers 1 vertaal: “Waarom smeul u woede teen die kleinvee van u weiplek?” En vir hoe lank nog (vers 10)?

Met dié inleiding skets die Psalmis waarskynlik die grootskaalse ontwrigting en vernietigende ontworteling van die Joodse ballingskap van die 6de eeu v.C., ’n tyd toe die stad Jerusalem vernietig is en selfs die heiligdom in die slag gebly het.  In plaas van lofsang van die gemeente het die oorwinningskreet van die vyande in die plek van samekoms weerklink (vers 4) en is alles daarbinne verwoes en aan die brand gesteek (vers 5-8).  Dit het eintlik regdeur die land gebeur.  God se teenwoordigheid in terme van heilige geboue is uitgewis.

Daarom pleit hy by die Here dat Hy tog sal dink aan die gemeente wat Hy lank gelede al vir Hom sy eiendom gemaak het (vers 2).  Hy pleit dat die Here Hom weer aan hulle bekend sal maak deur sy profete (vers 9) en hulle sal help (vers 11).

God se sorg, sy verbond en sy verbintenis aan Homself is ons enigste hoop – vers 12-23.

In drie treffende gedeeltes herinner die Psalmis God aan Wie Hy werklik is.  Daarmee steek die Psalmis die hoop aan dat die Here miskien van gedagte sal verander as Hy dink aan sy sorg (vers 12-17), sy verbond (vers 18-21) en sy verbintenis aan Homself (vers 22-23).

God sorg immers vir alles en vir almal soos Hy helder gedemonstreer het in sy skeppingsmag en verlossingsdade deur die eeue.  Hy is van altyd af die Psalmis se koning, die een aan wie die dag en die nag behoort, wat die seisoene vasgestel het en in beheer bly van alle aardse onstuimigheid en mag.

God se verbond is verder tog met sy mense al is hulle onderdruk, magteloos, en behoeftig in hulle verstrooiing na die donker plekke van die wêreld.  Die vyand wat met God spot en sy Naam belaster kan tog nie die oorhand kry oor dié mense met wie God in ’n verhouding getree het nie?  Hy noem die volk God se “tortelduif” wat nie aan die wilde diere oorgegee moet word nie (vers 19 in die 2014 vertaling – 1983 vertaal: “dié wat deur U onderrig is”).  Die Psalmis doen ‘n beroep op God om sy mense in hulle nood raak te sien en hulle te help sodat hulle Hom weer kan prys.

Die diepste oproep op God is egter sy verbintenis aan Homself, die verbintenis wat Hy het om sy Naam te beskerm teen die gespot van dwase.  Die Psalmis maak staat op God se sin vir regverdigheid: “Laat geld tog u reg.”  Barbare (dwase in 2014 vertaling) en God se teëstanders en vyande kan tog nie God se aandag ontglip nie!

Boodskap van Psalm 74

Die ontreddering van die Psalmis strek veel vêrder as maar net die fisiese verwoesting van die stad, tempel en volk.  Sy diepste nood is dat God stil geraak het, dat daar niemand meer is wat God se boodskap verkondig nie, dat dit lyk asof God nie meer omgee nie, dat Hy nie meer (wil) optree nie.

Eerder egter as om die hoop op God te laat vaar, doen die Psalmis die enigste ding wat hy kan.  Hy herinner God aan sy mag soos Hy geïllustreer het oor die monsters van die voortyd.  Hy herinner God aan sy karakter as die Versorger van alles wat lewe.  Hy herinner God aan die feit dat Hy in verhouding getree het met dié volk wat nou verwoesting gesmaak het.  En as die toppunt van sy rede aan God, herinner Hy God aan Wie Hy in Homself is, ’n God wat op die reg gefokus is.  Sy hoop is dat God getrou aan Homself sal bly, dat Hy sy reg sal laat geld – redding vir sy mense en vergelding vir sy teenstanders.

Die Psalmis herinner ons daarmee aan die feit dat ons nie moet wegdraai van God as ons seerkry nie, selfs nie as ons seerkry omdat ons dit verdien nie.  Ons moet altyd weer ons hoop op God plaas, Hom herinner aan sy sorg, sy verbond en sy verbintenis aan die reg.  Daarmee moet ons nie ophou nie: “Laat geld u reg.”

Dit is ook gedagte waarmee ek die dag ingaan: “Laat geld u reg.”

by Chris van Wyk


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlDankie! Waardeer.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlDankie Chris, jou uiteensetting is baie goed en help om die tye waarin ons leef beter te hanteer. Volharding en gebed.
  • Chris van Wyk on DaniëlEk is bly die pennie het vir jou gedrop. Dit is só 'n kosbare boek.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlChris, dankie vir jou studie leiding. Ek het, of die Here se redding vir my het gekom in Mei 1973. Baie geleer uit die Heilige Skrif, maar Daniël vermy, behalwe die maklike begin dele. Vir die eerste keer maak Daniel 8 ev baie sin met jou studiegids. Baie, baie dankie. Dolf
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Dankie vir die verduideliking.
  • Chris van Wyk on Openbaring 21Nee, dit is ook nie wat die teks sê nie. Dit gaan oor mense wat towerspreuke en dwelms gebruik om met geeste kontak te maak en nie dit aflê en tot bekering kom nie.
  • Chris van Wyk on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefEk hoop jy geniet dit, Elsie.
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Sekerlik kan die afleiding tog nie gemaak word dat dwelmverslaafdes nie hemel toe gaan nie?!
  • Elsie on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefDankie sien uit na die saamreis om te lees, te leer en te leef
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My voorreg.
  • Doreen Snyders on Openbaring 22Net om baie baie dankie te sê vir die wonderlike voorreg om elke dag se reis mee te maak . Dit is só insiggewend en besonders. Ek besef dit verg baie tyd en toewyding en waardeer dit opreg . Sien uit na die volgende aflewerings. Met dank. Doreen Snyders.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22Ek is dankbaar.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My vreugde.
  • Albertus Van Schalkwyk on Openbaring 22Dankie Chris, ek het teen die einde van die Ou Testament eers ingeval, maar dit was (is) voorwaar sielsvereikend en het die Woord soos nooit tevore vir my oopgemaak. Bybel lees in die konteks van die tydlyn om die Drie-enige God waarlik te leer ken. Weer dankie!
  • runawayjoyous2427b27b07 on Openbaring 22Dankie Dr. Chris, vir die voorreg om saam met jou en ander gelowiges deur die Woord van God te stap. Ek het redelik laat (by Handelinge) van Bybelskool gehoor, en het begin om dit saans en soggens te lees. Ek leer so baie. Erna.