Skip to main content

Psalm 88 – Die swaarkry het vir my te veel geword

Hierdie Psalm kom van Heman, die Esragiet.  Hy was een van vier bekende wyses in Israel (waaronder ook Etan van die volgende Psalm), wie se wysheid egter deur Salomo oortref is (1 Kon. 4:31). Hulle was nakomelinge van Serag uit die stam van Juda (1 Kron. 2:6), vandaar die naam Esragiet (nakomeling van Serag).  Hy moet onderskei word van die ander Heman, ook uit die stam van Levi, maar ‘n kleinseun van Samuel wat ‘n tempelsanger en simbaalspeler was, saam met Asaf en Jedutan (wat ook Etan genoem word, maar onderskei moet word van die Esragiet in die volgende Psalm!) in die tyd van Dawid (1 Kron. 6:33).

Midde in sy nood klou die Psalmis aan God vas – vers 2-3

Die Psalm eindig nie verniet in die Hebreeuse teks met die woord duisternis nie: “my vertroueling is die duisternis” (2014 vertaling).  Dit is ’n donker worsteling met die onverklaarbaarhede van die lewe, die naaste wat ’n mens in die Psalms aan die smart van Job kom.  Waar Job egter op ’n hoopvolle noot eindig, bly dié Psalm in die donker al wagtende op die lig om deur te breek.

Die enigste positiewe punt in die Psalm is die hoopvolle belydenis waarmee hy begin: “Here, my God wat my altyd help …” (vers 2).  Dit is die motivering vir sy gebed en die roerende pleidooi wat hy rig tot God om sy geroep te hoor, sodat sy gebed nie tevergeefs sal wees nie (vers 3).

Die swaarkry het vir egter vir hom te veel geword – vers 4-10

Die Psalmis het net mooi genoeg gehad van teenspoed, die swaarkry het vir hom te veel geword.  Hy beskryf sy nood met beelde wat op roerende wyse uitdruk dat hy amper dood is – “ek vat al aan die doderyk”, “ek staan al met die een voet in die graf (wat ’n Afrikaanse idioom geword het)” en “Dit is asof ek al tussen die dooies is”.

En hy verbind dié ervaring van hom aan God se werk: “U gramskap rus swaar op my” en “U laat bekendes ver van my afstaan” (vers 8-9).  Dit is hoe hy dit ervaar, omdat die werklikheid vir die Jode een was en God alleen vir alles verantwoordelik gehou is.

Kan die dooies U loof en van U getuig? – vers 11-13

Die Psalmis is bang sy stem sal stil raak in die graf en keer dat hy God loof en van Hom getuig.  Tate praat van “The Land of Forgetfulness” waarin die Psalmis ervaar dat hy verkeer.  Daarom bring hy sy lot met drie dubbele retoriese vrae onomwonde voor die Here en maak ’n sterk argument daarmee daarvoor uit dat God hom moet help, terwille van die lofprysing en getuienis wat Hom toekom.

Ek is magteloos en verslae – vers 14-19

In taal wat herinner aan Job, keer die Psalmis terug na meer spesifieke klagtes:

  • onbeantwoorde gebed en ’n onbereikbare God (vers 14-15);
  • magteloosheid, verslae en radeloos in doodsgevaar (vers 16);
  • vernietigende ervaring van God wat soos water is wat op hom toesak en hom afsluit van alles en almal (vers 17-18);
  • vervreemding van geliefdes en vriende (bure) met net die duisternis as geselskap (vertroueling) (vers 19).

Dit is ervarings waarmee baie van ons op een of ander tyd in ons lewe geworstel het.  En die realiteit daarvan is dat dit baie keer ’n amper onmenslike lang tyd só aanhou, sonder dat daar antwoorde of oplossings is.

Die boodskap van die Psalm

Gelukkig is daar darem ná dié Psalm ook ‘n Psalm 89.  Psalm 88 spreek nie die laaste woord oor God nie!  Dit is egter ’n eerlike en egte worsteling met die onverklaarbaarhede van die lewe.  Daar is nie maklike antwoorde en vinnige oplossings nie.  Dit is ’n Psalm vir die winternag van ons menslike ervarings.

Die hoop is dat die Psalm ons ook leer om vanuit die belydenis van God se hulp en bystand na Hom te roep wanneer dié hulp en bystand nêrens meer te sien of te ervaar is nie.  Dit is omdat daar ook ’n ander ervaring van God is, dat Hy saam met ons in die dal van doodskaduwee is, dat ons in dié tye waar ons sy hand nie ervaar by ons nie, tog op Hom kan vertrou.

Soos Tate sê (Word kommentaar), dié Psalm herinner ons dat die lewe nie net uit gelukkige eindes bestaan nie, soos in die sprokies van die lewe nie.  Al raad in sulke tye is om die saak voortdurend met God op te neem, vanuit die vertroue dat Hy daar is en ’n beloner van dié wat Hom soek (Hebr. 11:6), totdat Hy antwoord.

My gebed vandag is vir diegene vir wie die duisternis ’n vertroueling geword het, wat voel asof die water hulle heeltemal omsluit, wat voel asof hulle besig is om heeltemal onder te gaan.  Vir dié vir wie die swaarkry te veel geword het, vir julle bid ek dié Psalm in die vertroue dat die God “wat my altyd help” sal opdaag en inderdaad help.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar