Psalm 76 – God is oor ons soos ’n leeu oor sy skuilplek
Dié Psalm word in die Griekse vertaling van die OT verbind aan God se oorwinning oor Sanherib in die tyd van koning Hiskia. Die tipe oorwinning wat in die Psalm beskryf word, pas besonder goed by dié geveg in die tyd van Hiskia omdat die oorwinning daar behaal is sonder dat enige een van Israel eers nodig gehad het om ’n wapen op te tel. God het namens hulle geveg en hulle verlos. Lees meer daaroor by hierdie bydraes van my: 2 Kon. 19 – “God luister waar sy eer in gedrang kom”; Jes. 37 – “Gebed en vertroue beweeg God tot optrede”.
God is ’n leeu
Wat uitstaan van hierdie Psalm, is dat dit ’n verstommende uitspraak maak oor God se werk. In plaas daarvan dat menslike woede God ontstel, gebruik Hy dit in sy diens (vers 11): “selfs die laaste reste van die woede gebruik U in u diens.” Dit kan óf beteken dat dié wat vir God kwaad is, uiteindelik Hom sal moet loof, óf dat God se oordeel oor dié wat Hom teëstaan lof by God se mense sal ontlok. Laasgenoemde pas beter in die konteks van die verhaal van Sanherib in, maar in albei gevalle teken die Psalmis ’n prentjie van God wat teëstand transformeer tot ’n triomf vir Homself.
Dit is waarom God met ‘n leeu vergelyk word in vers 2, soos ’n mens kan aflei in die beskrywing van God wat vanuit sy skuilplek in die stad Jerusalem (Salem), sy lêplek in die tempel op Sion, optree om sy teëstanders se aanvalle af te weer en hulle oorlogswapens te vernietig.
God beskerm sy volk
Vers 5 se 1983 vertaling verberg die feit dat dié metafoor voortgesit word deur die volk Israel met die berge van Jerusalem en Israel gelyk te stel wat amper die prooi van hulle vyand geword het, maar deur God gered is. Daarom vertaal die 2014 vertaling dit soos volg: “U was skitterend, magtig, op die berge wat die prooi moes wees.” (eerder as “Die glans waarmee U verskyn het, was skitterender as dié op die hoogste berge.”)
Dit beteken dat God soos ’n leeu is wat sy skuilplek, sy lêplek, d.w.s. Israel, sy mense, beskerm. ’n Ongelooflike diepsinnige en ook bemoedigende en hoopgewende metafoor. Dit is waarom die aanval van die teëstanders tot niks gekom het nie, want God het hulle teëstand getroef (vers 6-7) om die intieme verhouding met sy mense in stand te hou. ’n Mens kan eintlik hoor hoe God se verhoring van Hiskia se gebed in die tempel met die briewe van Sanherib voor die Here oopgesprei hier geëggo word!
God is Ontsagwekkend
Dié God is voorwaar ontsagwekkend. Sy woede (toorn) laat mense sidder en beef (vers 7-8). Maar, let op dat God nie sommer kwaad raak vir niks nie. Sy woede ontbrand ter wille van die “verdruktes van die land” (“hulpeloses op die aarde” – 1983) om hulle te verlos.
Wat beteken dat as dít is wie God is, as Hy aan die kant van verdruktes is, beteken dit dat sy mense hulle ook oor verdruktes moet bekommer en vir hulle saak moet opstaan.
Daarom is die enigste gepaste reaksie teenoor dié God wat teëstand transformeer in triomf vir Homself, om in dankbaarheid teenoor Hom te leef, jou dankoffers te bring as geskenke wat hulde bring aan die Ontsagwekkende, voor wie die hele aarde sidder (vers 11-13).
Moontlik was dié deel van die Psalm bedoel as ’n stukkie kritiek teen Hiskia wat juis nie dít gedoen het nie, maar geskenke ontvang het van die koning van Babel en toe deur Jesaja tereggewys is (2 Kon. 20).
Boodskap van die Psalm
Hierdie Psalm bemoedig my met die beeld van God wat namens sy kinders optree en vir hulle veg. Hy is oor ons soos ’n leeu oor sy skuilplek. Sy woede is gerig op dié wat ons wil benadeel. Hy sal reg laat geskied, selfs sonder dat ons ’n vinger hoef te verroer. Só ’n God verdien ons hele lewe as ’n geskenk uit dankbaarheid vir wie Hy vir ons is.
Ek vertroetel vandag in my gees die woorde wat ek as titel vir die Psalm gebruik het: “God is oor ons soos ’n leeu oor sy skuilplek”.
by Chris van Wyk
View all posts in this series
- Bybelskool oor die 3de en 4de Psalmboek – 2de kwartaal 2014 - April 12, 2014
- Inleiding op die Psalms - May 7, 2014
- Vorige bydraes
- Inleiding op die 3de Psalmboek: Psalms 73-89
- Indeling van die 3de Psalmboek
- Hoe om die Psalms te lees
- Psalm 73 – God is my krag en erfenis - May 8, 2014
- Psalm 74 – God self is ons enigste hoop - May 9, 2014
- Psalm 75 – Dis God wat verneder en verhef - May 12, 2014
- Psalm 76 – God is oor ons soos ’n leeu oor sy skuilplek - May 13, 2014
- Psalm 77 – O God, u weg is heilig - May 14, 2014
- Psalm 78 – Die raaisel van onbestendigheid - May 15, 2014
- Psalm 79 – Ontferm U tog gou oor ons, want ons kragte is gedaan - May 16, 2014
- Psalm 80 – Laat dit weer met ons goed gaan, verskyn tog tot ons redding! - May 19, 2014
- Psalm 81 – Maak jy jou mond wyd oop, dan vul Ek dit! - May 20, 2014
- Psalm 82 – Staan op, o God, oordeel die aarde - May 21, 2014
- Psalm 83 – O God, moet U nie doof hou nie, u vyande is oproerig - May 22, 2014
- Psalm 84 – Hoe gelukkig is hulle wat in u huis woon
- Psalm 85 – Die verbintenis aan en verwagting van God vir uitkoms - May 26, 2014
- Psalm 86 – Gee my ’n teken van u goedheid - May 27, 2014
- Psalm 87 – Elke persoon wat God ken, is in Sion gebore - May 28, 2014
- Psalm 88 – Die swaarkry het vir my te veel geword - May 29, 2014
- Psalm 89 – Sal U dan vir altyd u hulp weerhou? - May 30, 2014