Skip to main content

Psalm 79 – Ontferm U tog gou oor ons, want ons kragte is gedaan

Psalm 79 bring die haglike toestand van die volk wat agtergebly het in die land, na die meeste van hulle in ballingskap weggevoer is, onder God se aandag.  Die tempel is ontheilig, die stad is vernietig en baie min van hulle het oorgebly.  Daarom pleit Asaf by God dat Hy hulle situasie sal omkeer. 

Terloops, die titels van die Psalms is eers later bygesit.  Uit die inhoud van die Psalm kan ’n mens ook aflei dat dit in die ballingskap geskryf is, d.w.s. waarskynlik deur lede van die Asaf-groep, waarvan ’n hele klomp ná die ballingskap teruggekeer het na Israel (vgl. Esra 2-3 – Die Jode vestig hulle weer in die land en herstel hulle verhouding met God).

Interessant genoeg is die Psalm eintlik ’n samevoeging van frase uit ander bekende Palms.  Dit is asof die skrywer(groep) hulle gebed om redding saamgestel het uit hulle geheue, van dele van ander Psalms wat vir hulle betekenis gehad het: vgl. bv. vers 4 se beskrywing van die vyande met Ps. 44:15; ook vers 9 se pleidooi op grond van God se naam met die soortgelyke frase in die bekende Ps. 23:3 en verskeie ander plekke.  Tate (Word kommentaar) noem amper 30 verwysings wat met Psalm 79 verbind kan word.  Dit is net vers 3-4 en vers 13 wat waarskynlik eie formulerings is.

Psalm 79 is dus ’n soort verpersoonliking van Psalmfrases om ’n eie gebed tot God te bid, in ’n ander situasie as dié waarin die Psalms in die eerste plek geskryf is.  Dit is amper soos ons ’n spontane gebed sou bid waarin ons sekere Bybelfrases wat vir ons van betekenis is, sal gebruik.

Die haglike situasie van die agtergeblewenes – vers 1-5

Op roerende wyse word die effek van die beleg en verwoesting van Jerusalem en die tempel beskryf.  Lyke het oral rondgelê en is deur voëls en wilde diere gevreet.  Die bloed het rondom Jerusalem gevloei soos water.  Niemand is begrawe nie, wat die toppunt van skande vir ’n Oosterling was.  Dit het hulle ’n bespotting gemaak in die oë van almal rondom hulle.

Hoe lank sal dit nog aanhou Here?  Is dit vir altyd klaar met ons?  Sal u woede vir ewig teen ons bly brand?

Doen reg aan dié wat met U in verhouding is – vers 6-13

Die Psalmis bring Psalm 1 se paradigmatiese stelling dat die Here die regverdiges seën en die goddeloses soos kaf laat vergaan voor die Here.  Hy bid dat dít nou hier sal gebeur, dít wat Psalm 1 beskrywe: dat die heidene wat nie met God in ’n verhouding is nie, wat Hom nie ken nie, Hom nie dien nie, dit sal ontgeld; en dat die Here Hom oor die volk van God sal ontferm en hulle lot sal verander.

Let op dat sy pleidooi gekoppel is aan ’n gebed om vergifnis vir hulle sonde en gegrond is op die eer van God se Naam wat in diskrediet gebring word weens die haglike situasie van die volk in die land.  Hy is ook nie net bekommerd oor dié in die land nie, maar ook oor dié wat gevange is (vers 11), dié wat in ballingskap is.  Dan sal die volk die Here loof “van geslag tot geslag” (vers 13).

Die boodskap van die Psalm

Die Psalm is waarskynlik gebruik deur die klein gemeenskappies van Jode wat in die land agtergebly het in die ballingskap.  Dit druk die afgryse van die agtergeblewenes wat krepeer van die ellende van hulle verlies op treffende wyse uit. Daarmee het dit ’n Psalm geword vir enigiemand wat ’n uitmergelende verlies ervaar het en smag na uitkoms en ommekeer.  Jy kan dié Psalm as basis vir jou eie gebed tot God gebruik.

Dit beteken dat jy jou eie nood aan die hand van dié Psalm kan beskryf in jou gebed, jou skuld aan die toedrag van sake bely (indien dit in jou geval só is), en ’n beroep doen op die Here se “onverdiende” vergifnis en vra vir ’n lotsverandering.  Jy kan dit ook namens ander doen.

Dit is daarom die gebed wat ek vandag saam met my neem vir almal wat worstel met hulle omstandighede en namens hulle sê ek ook: “ontferm U tog oor ons, want ons kragte is gedaan.” (vers 8).

by Chris van Wyk


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda