Skip to main content

Psalm 87 – Elke persoon wat God ken, is in Sion gebore

Psalm 87 brei uit op die stelling in die vorige Psalm: “Al die nasies wat U gemaak het, sal kom en voor U, my Heer, in aanbidding buig; hulle sal u Naam eer.” (Ps. 86:9 – 2014 vertaling).

Die Psalmis se visie is dat Sion die sentrum van al die nasies se aanbidding van die Here sal word, ’n droom wat deur verskeie van die profete geëggo word.  Trouens, die Joodse volk word in ballingskap gestuur, omdat hulle nie die droom van die Here wou omarm nie – dit is om ’n blywende ontmoetingsplek vir die nasies met God te wees (Jes. 2:1-5; Miga 4:1-7).

Dit is ’n kort Psalm, so ek gaan dit vers vir vers behandel:

Vers 1 – Die Psalmis begin sy lied met die beskrywing van die vestiging van God se plek, Sion, op die heilige berg (die meervoud word in die oorspronklike teks gebruik).

Vers 2 – God se liefde vir sy plek onder die volk word in die oorspronklike teks beskryf as dat Hy “die poorte van Sion” liewer het as “al die wonings van Jakob”.   Dit is omdat God in die tempel vrye gemeenskap met sy mense kon geniet, iets wat in die NT oral moontlik geraak het met die koms van die Heilige Gees.  Interessant genoeg sien ’n mens in Handelinge dat die byeenkomste van die gelowiges daarom al hoe meer in die huise van gelowiges plaasgevind het, want die tempel was nie meer die enigste plek waar God Hom aan mense openbaar het nie.

Vers 3-4 – Sion as die “stad van God” word verheerlik, nie net omdat God daar is en Hy die plek lief het nie, maar omdat dit ook die plek is van al die nasies wat Hom (er)ken.  Rahab (Egipte) en Babel word genoem, twee plekke waar Israel slawe en ballinge was, sowel as Filistea (kusstreek aan die Middellandse See), Tirus (kusstad in Lebanon noord van Filistea) en Kus (Nubië, suid-oos van Egipte, vandag deel van Ethiopië), wat almal deur die eeue vyande van die Godsvolk was.  “Hulle almal het kinders van Sion geword.” .  Soos Peterson in The Message vertaal: “I name them off, those among whom I’m famous”!

Die Hebreeuse teks lui eintlik dat hulle tel “onder dié wat daar gebore is.”   Dit beteken in wese dat lede van die nasies wat God erken volle burgerskap onder sy mense sal hê.

Vers 5 – Sion word in hierdie visie van die Psalmis die geestelike tuiste van elkeen wat in verhouding met God is, uitgedruk met die metafoor dat elke persoon in haar gebore is.  Geen wonder dat Peterson dit heel spitsvondig vertaal: “Word’s getting around; they point them out:This one was born again here!’”  Daar is ’n duidelike verband met Jesus se woorde aan Nikodemus dat ’n mens van bo gebore moet word! (Joh. 3)

Vers 6 – in die register van God se mense – “die boek van die volke” – word elkeen van dié mense uit al die nasies wat God erken, deur Homself opgeskryf.  Hulle word gereken as kinders van Sion – hulle is in sy perspektief daar gebore!  Watter wonderlike voorreg!

Vers 7 – daar is maar net een manier om op dié voorreg van kindskap te reageer – met sang en dans word God, die bron van alles, geloof en prys.

Die boodskap van die Psalm

Die visie op aanbidding in die NT verander aan die een kant van ’n plek na ’n persoon, van Sion na God self, soos Jesus aan die Samaritaanse vrou duidelik maak: “daar kom ’n tyd dat julle die Vader nóg op hierdie berg, nóg in Jerusalem sal aanbid … Daar kom egter ’n tyd en dit is nou, dat die ware aanbidders die Vader in Gees en waarheid sal aanbid … God is Gees en wie Hom aanbid, moet in Gees en waarheid aanbid.” (Joh. 4:21-24).

Die universele karakter van dié aanbidders word in die NT ook steeds met groot passie beskryf, net soos in dié Psalm.  Hulle kom “uit elke geslag en taal en volk en nasie.” (Openb. 5:9).  Geen wonder die vrou het Jesus op die punt in haar gesprek by die put herken as die Messias nie (Joh. 4:25)!

Tog word daar aan die ander kant ook van die hemelse Sionsberg, die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem, gepraat waar God se mense se name in sy boeke opgeteken is (Hebr. 12:22-23; vgl. ook Openb. 14:1-5).  Ook Paulus praat van die hemelse Jerusalem wat ons almal se moeder is (Gal. 4:27).  Kragtige metafore wat hulle oorsprong in die visie van Psalm 87 het.

Ek loop dié dag tegemoet met ’n lied in my hart: “Hierdie een is daar gebore!”  (vers 6).  Dit is nou ek!


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda