Skip to main content

Prediker 1:12-2:26 – Niks bevredig werklik nie, net gawes uit die hand van God

Die Prediker beskryf in hierdie deel die harde werklikheid van die lewe aan die hand van twee persoonlike eksperimente (let op die “ek”-taal): ‘n lewe van plesier en vreugde, en ‘n lewe van wysheid versus dwaasheid.  Die eksperimente slaag egter nie die toets nie; Alles kom tot niks, hoewel hy afsluit met die klein sprankie hoop dat genot ‘n gawe uit God se hand kan wees.

Die lewe is ‘n harde werklikheid  – 1:12-18

Na die inleiding identifiseer die Prediker homself as ‘n koning van Israel in Jerusalem met die selfopgelegde missie om alles wat in hierdie wêreld gebeur te ondersoek en behoorlik te deurdink.

En sy oorwoë oordeel daaroor word sommer reg met die aanvang van sy skrywe gegee: “God het ‘n harde taak aan die mens gegee om hom mee besig te hou” (vers 13).  Daarmee sê hy natuurlik nie net iets oor God nie – dat Hy ‘n harde God is, wat eintlik onverstaanbaar is – en oor die menslike bestaan nie, maar ook dat sy eie ondersoek eintlik van God af kom.

Die rede vir sy oordeel is dat sy ondersoek hom tot net een konklusie gebring het: “Alles kom tot niks, dit is ‘n gejaag na wind” (vers 14).  Met ‘n spreuk gee hy een van sy onveranderlike lewensfeite weer: “Wat krom is, kan nie reguit word nie; wat nie daar is nie kan nie getel word nie” (vers 15).  “Life’s a corkscrew that can’t be straightened, A minus that won’t add up” (Peterson).

Selfs vir iemand met so ‘n groot intellek, ervaring en insig soos die Prediker, wat baie wysheid versamel het, is dié harde taak ‘n gejaag na wind.  Wysheid vra baie van ‘n mens, en kennis sluit nie net die goeie in nie, maar ook veral die smart van die wêreld.Die lewe is eintlik vervelig, want daar is niks nuuts nie.

Dit staan in skerp kontras met die boodskap van Paulus dat “alles ten goede meewerk vir dié wat God liefhet” in Romeine 8:26. Maar onthou dat Paulus dit vanuit sy geloof in Christus sê, wat sy ervaring van die werklikheid verander. Selfs die kwade en onverstaanbare kry sin en betekenis binne ‘n geloofsperspektief, waarin God se hand in die werklikheid raakgesien kan word. Omdat die Prediker egter net redelik kyk – in elk geval op dié punt in sy verhaal – maak dinge net nie vir hom sin nie; is die lewe vir hom ‘n baie harde werklikheid.

Dit laat my dink aan die woorde van Psalm 27:13 “As ek darem nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie …!” Let op die geloofstaal!

‘n Lewe van plesier en vreugde – 2:1-16

Die Prediker beoordeel dan sy eerste groot eksperiment, om ‘n lewe van plesier en vreugde na te jaag, veral in die tot stand bring van groot goed waarin ‘n mens vreugde kan vind.

Dit is nie noodwendig oppervlakkig bedoel nie, ook nie dwaas nie.  Die Prediker gee hom oor aan plesier om die waarde daarvan te kan beoordeel, spesifiek in terme van wat dit oplewer, dws watter wins dit op die lange duur sal hê.

Terloops: vers 3 is effens moeilik om te verstaan. Die Prediker probeer die sin van ‘n oorgee aan wyn, wat eintlik dwaas is, agterkom, wat natuurlik die wyse manier is om dit te doen. Hoop dit maak sin!

Helaas, selfs plesier en vreugde in groot goed kom ook tot niks nie , is ook soos ‘n rookwalm wat deur die wind weggewaai word, ’n doodloopstraat. Dit geld groot ondernemings, huise, wingerde, tuine, parke, vrugteboorde, damme, ‘n groot arbeidsmag, baie beeste en kleinvee, silwer en goud, groot kore, baie meisies om die lewe mee te geniet, mag en rykdom.

Soos Peterson vertaal: “I never said no to myself. I gave in to every impulse, held back nothing. I sucked the marrow of pleasure out of every task—my reward to myself for a hard day’s work!”  Maar dit kom ook tot niks.

Hy het homself alles veroorloof, en kon dit met groot wysheid doen, maar uiteindelik moet egter hy van al die plesier en vreugde sê, ook dit bevredig nie op die lange duur nie. Dit alles kom ook tot niks. Dit is wonderlik terwyl jy daarmee besig is.  Sy eksperiment was dus eintlik suksesvol; dit het plesier gebring … maar dit het geen blywende waarde nie. Dit bring geen blywende bevrediging “onder die son” nie, soos vers 11 eintlik lui.

Wysheid versus dwaasheid as lewenstyl – 2:12-16

Na die eksperiment met vreugde fokus die Prediker op die relatiewe waarde van wysheid en dwaasheid as lewenstyl, die lig teenoor die duisternis, en hoewel wysheid en lig beter is in sy perspektief, kom dit uiteindelik albei ook tot niks. Albei word gou vergeet, die wyse en die dwase, en albei eindig in die dood.

Om die lewe te geniet as gawe van God – 2:17-26
Dit bring die Prediker by ‘n intense afkeer aan die lewe. Hy sê letterlik dat hy die lewe haat, veral omdat hy geen beheer oor sy nalatenskap sal en kan hê nie. Wat hom by die eerste verwoording bring van die insig dat om die lewe te (kan) geniet ten spyte van die sinloosheid van die einde daarvan, ‘n gawe uit die hand van God is.

God gee wysheid, kennis en blydskap aan dié met wie se lewens Hy tevrede is (onthou Rom 8:26!) en Hy weerhou dit van sondaars. Daar is dus by die Prediker ‘n sprankie hoop in die genot van die lewe as gawe van God, maar steeds oorhoofs die ervaring dat daar geen blywende sin “onder die son” is op die lange duur nie.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

dwaasheid, gawes, geniet, Prediker, vreugde, wysheid


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda