Skip to main content

Prediker 9:1-12 – Ontwikkel jou kapasiteit vir vreugde

Ek het so lekker gewerk aan dié perikoop vir my preek in Somerstrand, dat ek dit vandag net so insluit, eerder as ‘n verkorte weergawe.  Geniet!

Pasop vir selfvoldaanheid en oorgerustheid

Ons het van tyd tot tyd nodig om bestek op te neem van ons vermoë om dinge te laat gebeur.  Ons kan só maklik dink dat ons prestasies aan ons eie talente en vermoëns te danke is, hetsy fisies (vinnigste, sterkste) of intellektueel (wyses, verstandiges, kennisvrate).

Die Prediker herinner ons dat dit nie die vinnigstes wat die reisies wen nie.  Dit is asof ’n mens die verhaal van skilpad en hasie hoor in sy waarskuwing.  Spoed is goed, maar uithouvermoë nog beter.  Oor kort afstande kan spoed jou nog uithelp, maar as die afstand langer is, help spoed jou baie minder.

Dit is ook nie altyd die sterkstes wat die oorlog wen nie.  Hoeveel maal is dit nie al in die geskiedenis bewys nie.  Tegnologie, tegniek, toeval – is baie keer meer deurslaggewend in wié ’n oorlog wen.  Dink aan die Trojaanse perd wat die mag van Troje verbreek het, en aan die Grieke die oorwinning gegee het.  Die perd wat die simbool van Troje was, is op slinkse manier gebruik om ’n mag tot binne die stad te kry vanwaar hulle die oorhand oor die Trojane kon kry.

Dieselfde lot geld ons intellektuele kapasiteit.  Dit is nie noodwendig die wyses of die verstandiges of die kennisvrate wat die beste daaraan toe is nie.  Jou wysheid of verstand, jou kennis of vermoëns kan nie sorg dat tragedie of terreur jou nie tref nie.  Natuurlik is dwaasheid en onkunde nog slegter vir ’n mens, maar bose dinge kan enigiemand tref op hierdie aarde.

Onthou, alles gaan oor tyd en geleentheid

Dit gaan oor “tyd en geleentheid”, sê die Prediker.  Alles word daardeur bepaal.  Hoeveel maal in jou eie lewe was daar die één tyd, of die één geleentheid, wat iets na jou kant toe laat kom het, of iets vir jou moontlik gemaak het, vanwaar alles soos ’n pad voor jou oop gemaak het.  Dit is baie keer wie jy ken, of wie jy raakloop, of wat mense op ’n tyd nodig het, en waarvoor jy die nommerpas oplossing het, wat vir jou sukses en voorspoed bring, hoewel dit natuurlik ook te enige tyd van jou weggeneem kan word deur teëspoed, of tragedies, of die dood.  Oorgerustheid kan jou suur bekom.

Wees dankbaar en nederig

Dit is nodig dat ons ons eie vermoëns na waarde skat, nie minag, of verkleineer nie, maar binne konteks probeer sien.  Dit sal jou laat besef, aan die een kant hoe dankbaar jy moet wees vir watter geleenthede na jou kant toe gekom het, op ‘n tyd waar jy die beste gebruik daarvan kon maak, en aan die ander kant laat besef dat jy nie inherent beter is as jou medemense nie, wat sal keer dat jy oorgerus word of selfvoldaan sal optree. Uiteindelik is ons almal op een of ander manier weerloos, afhanklik van ander, afhanklik van God.

Dit is so, dat dit soms nodig is dat dinge van ons weggeneem word, voordat ons die waarde van dinge regtig kan besef, voordat ons God se hand in ons lewens na waarde skat.

Nou waarsku die Prediker ons om by voorbaat met meer dankbaarheid en nederigheid ons lewens te lei, nie op ander neer te sien omdat hulle minder as jy bereik het nie, en ook nie jouself te verhef omdat jy meer as ander bereik het nie.  En om veral nie ander se weerloosheid vir jou eie gewin uit te buit nie.

Ontwikkel jou kapasiteit vir genot

Dit is darem heerlik om hierdie opdrag in die Skrif agter te kom.

Dit sluit die vermoë in om te geniet.

Dit sluit ook die vermoë in om tevrede te wees met wat jy het.

  •  “Eet jou brood met vreugde … drink jou wyn met ‘n bly gemoed” – Pred 9:7 – “Seize life! Eat bread with gusto, Drink wine with a robust heart. Oh yes—God takes pleasure in your pleasure!” (Peterson).
  • “Dra altyd wit klere, versorg jou hare met olie” – Pred 9:8 – “Dress festively every morning. Don’t skimp on colors and scarves” (Peterson).
  • “Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet” – Pred 9:9
  • “Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen” – Pred 9:10 – “Whatever turns up, grab it and do it. And heartily!” (Peterson).

Waaroor dink die Prediker ?

TAFELGEMEENSKAP:

Hy het in die oog die gemeenskap van jou daaglikse ete saam met jou mense.  Brood en wyn is die voedsel wat jou nie net aan die lewe hou nie, maar wat die lewe die moeite werd maak.  Die eenvoudige plesier van die doodnormale – brood – en die bykomende plesier van die interessante – wyn – maak van enige maaltyd ‘n stukkie lewensgemeenskap.

Soms kan brood en wyn natuurlik ook ‘n simbool wees vir ‘n stuk geestelike gemeenskap wat om die tafel gebeur, soos wat ons by Melgisedek en Abraham in Gen 14 sien, ook met brood en wyn, en natuurlik ook in die nagmaal ervaar wat die Here Jesus ingestel het, wat van brood en wyn simbole van Sy teenwoordigheid maak (Mark 14; Matt 26; Lukas 22).  Geen wonder Peterson vertaal: “God takes pleasure in your pleasure!” God is teenwoordig waar ons brood en wyn geniet met ons mense.

FEESTELIKE GELEENTHEID:

Hy het ook in die oog die gemeenskap van ‘n fees saam met jou gemeenskap.  Wit klere was feestelike klere en om met welriekende olie gesalf te word, het ‘n geleentheid as baie spesiaal gekenmerk.  “Don’t skimp on colors and scarves”, sê Peterson. Wat besonders is van die Prediker se voorskrifte, is dat hy wit klere en olie vir elke dag voorskryf!  Elke dag moet eintlik as ‘n feesgeleentheid in die kleine gevier word!

My suster het die woord gemunt, ons hou ‘n fesie, as ons skare kinders bymekaar was en ons van ‘n doodgewone maal of viering ‘n fesie gemaak het.  Dit bring kleur en opwinding in ons lewe.  Dit laat die sleur en verveling van die lewe vervaag, en laat ‘n mens weer mens voel.

LIEFDESGEMEENSKAP:

Hy dink ook aan verhoudings, veral die huweliksgenot en huwelikstrou tussen man en vrou.  Let op die enkelvoud waarin hy skryf – dit is een man, een vrou.

Hoekom is dít so belangrik?  Want, dit is die een ding wat jou die frustrasies in die lewe die hoof kan laat bied, wanneer twee mense wat in ‘n lewensgemeenskap mekaar uitkies en opsoek en niks in die pad laat staan van hulle liefdesverbintenis nie.

Verlede naweek het ek en Lynette The Next Three Days gekyk waar ‘n vrou verkeerdelik vir moord opgesluit word, en haar man, ‘n doodgewone onderwyser, “against all odds” haar uit die tronk ontvoer om weer ‘n lewe in ‘n vreemde land te begin.

Nou, ek wil nie dieselfde optrede noodwendig aanbeveel nie … maar ek wil wel die ononderhandelbare van sy liefde aanprys en vir jou aanbeveel.

En dit is vir altyd … ons het te gewoond geraak aan die gemak van egskeiding.  Dit is soos om jou gewig met liposuction te beheer.  Sny net ‘n stuk maag weg, en jy is weer dun.  Dit werk net nie so maklik nie!  En die effek daarvan is wydverspreid.

En hoor wat hy sê, dit is nie jou man of vrou wat ‘n soort beloning vir al jou moeite in die lewe is nie, maar die effek wat só ‘n verhouding op jou lewensgenot het.  Dit is net saam met haar of hom wat jy die lewe sal kan geniet!

LEWENSVREUGDE:

En die Prediker sluit af deur te dink aan wat die hele lewe die moeite werd maak.  En hy sit op die tafel jou hele lewe, jou werk, jou belangstellings, jou roeping in die lewe, jou betrokkenheid in die gemeenskap, jou toewyding aan ‘n saak.  Dit is wat jy met oorgawe en absolute passie moet doen.

  • Hy het in die oog deeglikheid (daar is min wat ‘n mens so ontstel as werk wat halfhartig en onbeholpe gedoen is),
  • die ontwikkeling van vermoëns (ek is besig om my ma te help om rekenaarvaardig te word, en ek word getref deur haar absolute commitment al moes ek haar eers leer waarvoor ‘n spasiebalk op die sleutelbord is),
  • en intensiteit (dít is baie keer wat sportmanne laat wen, die passie, die never-say-die houding).

En dit is die Bybel self wat dit vir jou voorskryf!  Die lewe moet nou ten volle geleef word!  Wat God ook al vir jou gee – die goed of die sleg daarvan – moet met oorgawe en toewyding aangepak word.

Veel later, sou Paulus sê, hoekom dit so belangrik is … want, dit is God wat in julle werk, om te wil sowel as om te werk (Fil 2:12-13).

En daar is natuurlik ook die waarskuwing wat die Prediker ‘n paar keer uitspel, en dit is, dat God ook rekenskap eis van alles wat Hy aan ons toevertrou het (Pred 11:9; 12:14).


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

geniet, Prediker, vreugde, wysheid


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.