Prediker 9:1-12 – Ontwikkel jou kapasiteit vir vreugde

Ek het so lekker gewerk aan dié perikoop vir my preek in Somerstrand, dat ek dit vandag net so insluit, eerder as ‘n verkorte weergawe.  Geniet!

Pasop vir selfvoldaanheid en oorgerustheid

Ons het van tyd tot tyd nodig om bestek op te neem van ons vermoë om dinge te laat gebeur.  Ons kan só maklik dink dat ons prestasies aan ons eie talente en vermoëns te danke is, hetsy fisies (vinnigste, sterkste) of intellektueel (wyses, verstandiges, kennisvrate).

Die Prediker herinner ons dat dit nie die vinnigstes wat die reisies wen nie.  Dit is asof ’n mens die verhaal van skilpad en hasie hoor in sy waarskuwing.  Spoed is goed, maar uithouvermoë nog beter.  Oor kort afstande kan spoed jou nog uithelp, maar as die afstand langer is, help spoed jou baie minder.

Dit is ook nie altyd die sterkstes wat die oorlog wen nie.  Hoeveel maal is dit nie al in die geskiedenis bewys nie.  Tegnologie, tegniek, toeval – is baie keer meer deurslaggewend in wié ’n oorlog wen.  Dink aan die Trojaanse perd wat die mag van Troje verbreek het, en aan die Grieke die oorwinning gegee het.  Die perd wat die simbool van Troje was, is op slinkse manier gebruik om ’n mag tot binne die stad te kry vanwaar hulle die oorhand oor die Trojane kon kry.

Dieselfde lot geld ons intellektuele kapasiteit.  Dit is nie noodwendig die wyses of die verstandiges of die kennisvrate wat die beste daaraan toe is nie.  Jou wysheid of verstand, jou kennis of vermoëns kan nie sorg dat tragedie of terreur jou nie tref nie.  Natuurlik is dwaasheid en onkunde nog slegter vir ’n mens, maar bose dinge kan enigiemand tref op hierdie aarde.

Onthou, alles gaan oor tyd en geleentheid

Dit gaan oor “tyd en geleentheid”, sê die Prediker.  Alles word daardeur bepaal.  Hoeveel maal in jou eie lewe was daar die één tyd, of die één geleentheid, wat iets na jou kant toe laat kom het, of iets vir jou moontlik gemaak het, vanwaar alles soos ’n pad voor jou oop gemaak het.  Dit is baie keer wie jy ken, of wie jy raakloop, of wat mense op ’n tyd nodig het, en waarvoor jy die nommerpas oplossing het, wat vir jou sukses en voorspoed bring, hoewel dit natuurlik ook te enige tyd van jou weggeneem kan word deur teëspoed, of tragedies, of die dood.  Oorgerustheid kan jou suur bekom.

Wees dankbaar en nederig

Dit is nodig dat ons ons eie vermoëns na waarde skat, nie minag, of verkleineer nie, maar binne konteks probeer sien.  Dit sal jou laat besef, aan die een kant hoe dankbaar jy moet wees vir watter geleenthede na jou kant toe gekom het, op ‘n tyd waar jy die beste gebruik daarvan kon maak, en aan die ander kant laat besef dat jy nie inherent beter is as jou medemense nie, wat sal keer dat jy oorgerus word of selfvoldaan sal optree. Uiteindelik is ons almal op een of ander manier weerloos, afhanklik van ander, afhanklik van God.

Dit is so, dat dit soms nodig is dat dinge van ons weggeneem word, voordat ons die waarde van dinge regtig kan besef, voordat ons God se hand in ons lewens na waarde skat.

Nou waarsku die Prediker ons om by voorbaat met meer dankbaarheid en nederigheid ons lewens te lei, nie op ander neer te sien omdat hulle minder as jy bereik het nie, en ook nie jouself te verhef omdat jy meer as ander bereik het nie.  En om veral nie ander se weerloosheid vir jou eie gewin uit te buit nie.

Ontwikkel jou kapasiteit vir genot

Dit is darem heerlik om hierdie opdrag in die Skrif agter te kom.

Dit sluit die vermoë in om te geniet.

Dit sluit ook die vermoë in om tevrede te wees met wat jy het.

  •  “Eet jou brood met vreugde … drink jou wyn met ‘n bly gemoed” – Pred 9:7 – “Seize life! Eat bread with gusto, Drink wine with a robust heart. Oh yes—God takes pleasure in your pleasure!” (Peterson).
  • “Dra altyd wit klere, versorg jou hare met olie” – Pred 9:8 – “Dress festively every morning. Don’t skimp on colors and scarves” (Peterson).
  • “Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet” – Pred 9:9
  • “Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen” – Pred 9:10 – “Whatever turns up, grab it and do it. And heartily!” (Peterson).

Waaroor dink die Prediker ?

TAFELGEMEENSKAP:

Hy het in die oog die gemeenskap van jou daaglikse ete saam met jou mense.  Brood en wyn is die voedsel wat jou nie net aan die lewe hou nie, maar wat die lewe die moeite werd maak.  Die eenvoudige plesier van die doodnormale – brood – en die bykomende plesier van die interessante – wyn – maak van enige maaltyd ‘n stukkie lewensgemeenskap.

Soms kan brood en wyn natuurlik ook ‘n simbool wees vir ‘n stuk geestelike gemeenskap wat om die tafel gebeur, soos wat ons by Melgisedek en Abraham in Gen 14 sien, ook met brood en wyn, en natuurlik ook in die nagmaal ervaar wat die Here Jesus ingestel het, wat van brood en wyn simbole van Sy teenwoordigheid maak (Mark 14; Matt 26; Lukas 22).  Geen wonder Peterson vertaal: “God takes pleasure in your pleasure!” God is teenwoordig waar ons brood en wyn geniet met ons mense.

FEESTELIKE GELEENTHEID:

Hy het ook in die oog die gemeenskap van ‘n fees saam met jou gemeenskap.  Wit klere was feestelike klere en om met welriekende olie gesalf te word, het ‘n geleentheid as baie spesiaal gekenmerk.  “Don’t skimp on colors and scarves”, sê Peterson. Wat besonders is van die Prediker se voorskrifte, is dat hy wit klere en olie vir elke dag voorskryf!  Elke dag moet eintlik as ‘n feesgeleentheid in die kleine gevier word!

My suster het die woord gemunt, ons hou ‘n fesie, as ons skare kinders bymekaar was en ons van ‘n doodgewone maal of viering ‘n fesie gemaak het.  Dit bring kleur en opwinding in ons lewe.  Dit laat die sleur en verveling van die lewe vervaag, en laat ‘n mens weer mens voel.

LIEFDESGEMEENSKAP:

Hy dink ook aan verhoudings, veral die huweliksgenot en huwelikstrou tussen man en vrou.  Let op die enkelvoud waarin hy skryf – dit is een man, een vrou.

Hoekom is dít so belangrik?  Want, dit is die een ding wat jou die frustrasies in die lewe die hoof kan laat bied, wanneer twee mense wat in ‘n lewensgemeenskap mekaar uitkies en opsoek en niks in die pad laat staan van hulle liefdesverbintenis nie.

Verlede naweek het ek en Lynette The Next Three Days gekyk waar ‘n vrou verkeerdelik vir moord opgesluit word, en haar man, ‘n doodgewone onderwyser, “against all odds” haar uit die tronk ontvoer om weer ‘n lewe in ‘n vreemde land te begin.

Nou, ek wil nie dieselfde optrede noodwendig aanbeveel nie … maar ek wil wel die ononderhandelbare van sy liefde aanprys en vir jou aanbeveel.

En dit is vir altyd … ons het te gewoond geraak aan die gemak van egskeiding.  Dit is soos om jou gewig met liposuction te beheer.  Sny net ‘n stuk maag weg, en jy is weer dun.  Dit werk net nie so maklik nie!  En die effek daarvan is wydverspreid.

En hoor wat hy sê, dit is nie jou man of vrou wat ‘n soort beloning vir al jou moeite in die lewe is nie, maar die effek wat só ‘n verhouding op jou lewensgenot het.  Dit is net saam met haar of hom wat jy die lewe sal kan geniet!

LEWENSVREUGDE:

En die Prediker sluit af deur te dink aan wat die hele lewe die moeite werd maak.  En hy sit op die tafel jou hele lewe, jou werk, jou belangstellings, jou roeping in die lewe, jou betrokkenheid in die gemeenskap, jou toewyding aan ‘n saak.  Dit is wat jy met oorgawe en absolute passie moet doen.

  • Hy het in die oog deeglikheid (daar is min wat ‘n mens so ontstel as werk wat halfhartig en onbeholpe gedoen is),
  • die ontwikkeling van vermoëns (ek is besig om my ma te help om rekenaarvaardig te word, en ek word getref deur haar absolute commitment al moes ek haar eers leer waarvoor ‘n spasiebalk op die sleutelbord is),
  • en intensiteit (dít is baie keer wat sportmanne laat wen, die passie, die never-say-die houding).

En dit is die Bybel self wat dit vir jou voorskryf!  Die lewe moet nou ten volle geleef word!  Wat God ook al vir jou gee – die goed of die sleg daarvan – moet met oorgawe en toewyding aangepak word.

Veel later, sou Paulus sê, hoekom dit so belangrik is … want, dit is God wat in julle werk, om te wil sowel as om te werk (Fil 2:12-13).

En daar is natuurlik ook die waarskuwing wat die Prediker ‘n paar keer uitspel, en dit is, dat God ook rekenskap eis van alles wat Hy aan ons toevertrou het (Pred 11:9; 12:14).

geniet, Prediker, vreugde, wysheid


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Hi goeiemore chris ek wil graag meer leer oor skrif in Prediker 9 vers 5 wat dit se verstaan dit nie mooi asb.

    • Hi Karien

      Die Prediker is in hoofstuk 9:1-12 besig om ons te leer om ons kapasiteit vir vreugde en genot te ontwikkel. Eet byvoorbeeld jou brood met vreugde, drink jou wyn met ’n bly gemoed (vers 7). Dit gaan oor “tyd en geleentheid”, sê die Prediker. Alles word daardeur bepaal.

      Geniet dit dus dat jy lewe.

      Die Prediker illustreer dit in vers 4 met ‘n voorbeeld wat wys dat die lewe beter is as die dood: “’n Hond wat lewe, is beter as ’n leeu wat dood is.”

      Hy doen dieselfde in vers 5 met ‘n voorbeeld wat op soortgelyke wyse wys dat die lewe beter is as die dood, al is dit net dat jy nog kan dink: “Dié wat lewe, weet hulle sal doodgaan, maar die dooies weet niks; daar wag vir hulle niks meer nie, hulle is vergeet.”

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Skakel in by Veritas!Hi Hanneke, ek het die skakel gestuur.
  • Hanneke Meyer on Skakel in by Veritas!Ek fasiliteer reeds vir n geruime tyd modules 1 en 2, maar sou graag tog n paar van die zoom-byeenkomste bywoon vir verryking. Ek het n handleiding. Vriendelike groete Hanneke Meyer
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
%d