Prediker 4:1-16 – Vennootskappe in vriendskappe en verhoudings het tog waarde
Verdrukking en geweld
Asof die sinloosheid van plesier en vreugde nie al genoeg is nie, herinner die Prediker ons aan die verdere sinloosheid van verdrukking en geweld. Die probleem van verdrukking is vir ons oorbekend, nie net in ons eie land nie, maar ook reg oor die wêreld. Om die waarheid te sê, dit is presies die oorsaak van die val van beskawings, dat onreg en verdrukking hoogty vier … maar dat niemand help nie, en niemand vir die magteloses opkom nie.
Dit lei uiteindelik onvermydelik tot een of ander opstand of revolusie waardeur die juk van verdrukking afgegooi word, met groot skade aan weerskante van die stryd of konflik. ’n Mens dink byvoorbeeld aan die impak van die skeuring van die ryk van Israel wat onder andere die gevolg was van verdrukking weens Salomo se stelsel van dwangarbeid. Dit is deur Jerobeam uitgedaag wat nie net die noordelike stamme van die suidelike stamme laat afskei het nie, maar ook die Joodse godsdiens en voortbestaan in die gedrang gebring het (1 Konings 11).
Ongelukkig leer die geskiedenis ons ook dat opstand en revolusie nie noodwendig tot ’n beter bedeling lei nie, omdat opstandelinge moeilik ’n stabiele samelewing kan vestig. Só ’n bedeling lei baie keer tot ander vorme van verdrukking. So was dit ook die geval met Jerobeam, en in talle samelewings daarvoor en daarna. En onthou dat Jerobeam deel van ’n groter opstand was. In dieselfde tyd was daar ook Hadad wat teen Salomo in opstand gekom het (1 Kon 11:14). Hy was ’n Edomiet, ’n afstammeling van Esau, wat beteken die skeuring van die ryk was ook ’n gevolg van die eeue-oue konflik tussen Jakob en Esau, die voorvaders van Israel en Edom! Daar was ook Reson van wat ons vandag ken as Sirië (1 Kon 11:23). Die Midde-Ooste is nie vandag af ’n kookpot van konflik nie!
Lees meer in my vorige bydraes hieroor: 1 Konings 10-11 – Die Here is lief vir Salomo, maar hy is lief vir perde en vroue, Salomo – ‘n oorsig van sy lewe, 1 Konings 12 – Die magswellus van Rehabeam skeur die ryk … deur die beskikking van die Here.
Dié toedrag van sake is so swaar vir die Prediker dat hy dink dat dié wat reeds dood is, of nog beter ongebore is, gelukkiger is as die wat die pyn van só ’n verydeling van verdrukking moet deurleef of aanskou.
Fluksheid en luiheid
Interessant genoeg beskou die Prediker fluksheid sowel as luiheid uit dieselfde hoek. Anders as wat ’n mens sou verwag, beskou hy die moeite wat mense doen om sukses te behaal ook as sinloos. Die rede? Fluksheid en die gejaag na sukses begin baie keer op die verkeerde plek, omdat dit baie keer uit onsuiwer begeertes, uit jaloesie, gebore word, en daarom ook tot niks kom.
Luiheid daarenteen kom uit ‘n selfvernietigingsdrang wat per se tot niks kom nie! Soos Peterson vers 5 vertaal: “The fool sits back and takes it easy, His sloth is slow suicide”! Die flukse is egter nie noodwendig beter af nie, want waarvoor doen hy dit, veral as hy nie die vreugde van ‘n gesin of familie het nie? Daarom, sê die Prediker, is dit heel moontlik beter om dood te wees, of nog beter, ongebore. Dit bly ’n harde saak!
Saamwees
Tog, die gedagte van saamwees inspireer die Prediker om verder oor die waarde daarvan te skryf in vers 9-12. “Twee vaar beter as een” is sy oorwoë mening. Vennootskappe in vriendskappe en verhoudings het tog ‘n waarde vir hierdie lewe, al bly die Prediker se oorhoofse lewensgevoel van sinloosheid nie ver agter in ‘n mens se gedagtes nie.
Dit is egter betekenisvol dat hy saamwees nie eksplisiet afskiet nie, en nie sy “alles kom tot niks” gevolgtrekking hieraan koppel nie. ‘n Sprankie hoop! Saamwees is beter as Een-saamwees! Dit help vir onderskraging as jy val, vir warmte as jy slaap (in die veld [reis] óf in die bed [seksueel]), en om weerstand te bied.
Verstandigheid
Dieselfde waarde geld ongelukkig nie vir wysheid nie. Die Prediker gee toe dat verstandigheid meer werd is as dwaasheid – soos hy hier illustreer met die verhaal van die jong tronkvoël en die ou koning – maar dit kom tog ook tot niks, omdat die jongman in sy verhaal se lewe uiteindelik nie ‘n blywende betekenis gehad het nie, al het hy die “rags to riches” droom geleef.
Terloops: die illustrasie wat die Prediker gebruik, verwys waarskynlik na ‘n werklike verhaal, soos dié van Josef en die farao of Dawid en Saul, maar geen voorstel hier rondom het deur die eeue regtig oortuig nie. Die identiteit van die twee persone in die verhaal bly dus onbekend.
View all posts in this series
- Bybelskool oor Prediker en Hooglied - April 3, 2012
- Inleiding op Prediker - April 11, 2012
- Prediker 1:1-11 – Alles kom tot niks. Daar is niks blywends nie. - April 12, 2012
- Prediker 1:12-2:26 – Niks bevredig werklik nie, net gawes uit die hand van God - April 13, 2012
- Prediker 3:1-15 – Daar is nie blywende sin in die ritmes van die lewe nie - April 16, 2012
- Prediker 3:16-22 – Die sin van vreugde in jou werk - April 17, 2012
- Prediker 4:1-16 – Vennootskappe in vriendskappe en verhoudings het tog waarde - April 18, 2012
- Prediker 4:17-5:6 – Om met ontsag na God te luister - April 19, 2012
- Prediker 5:7-6:9 – Die soeke na welvaart - April 20, 2012
- Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking - April 23, 2012
- Prediker 8:1-17 – Die voordeel en frustrasie van wysheid - April 24, 2012
- Prediker 9:1-12 – Ontwikkel jou kapasiteit vir vreugde - April 25, 2012
- Prediker 9:13-10:15 – Wysheid is broos en breekbaar - April 26, 2012
- Prediker 10:16-11:6 – Belê en bestee met oorleg - April 27, 2012
- Prediker 11:7-12:8 – Leer met God leef in jou jong dae - April 30, 2012
- Prediker 12:9-14 – Rigting en vastigheid kom van God as die één Herder - May 1, 2012
- MENINGSOPNAME 2012 - May 16, 2012
- Prediker – Lees, luister, leef – ePub - October 15, 2012
- Moenie self-regverdigend of self-verskonend leef nie - June 21, 2018
fluksheid, geweld, luiheid, Prediker, saamwees, vennootskap, verdrukking, verhoudings, vriendskap, wysheid
Serona Hannies
Dankie my siel word so gestig.