Skip to main content

Prediker 4:1-16 – Vennootskappe in vriendskappe en verhoudings het tog waarde

Die Prediker ondersoek verder die relatiewe waarde van verdrukking en geweld, van fluksheid en sukses versus luiheid, die sinvolheid van vennootskappe in vriendskappe en verhoudings, sowel as verstandigheid versus dwaasheid.  Hoewel hy dit genuanseerd sê, kan net saamwees as meer waardevol as eensaamheid beoordeel word, soos dit in vriendskappe en verhoudings na vore kom.

Verdrukking en geweld
Asof die sinloosheid van plesier en vreugde nie al genoeg is nie, herinner die Prediker ons aan die verdere sinloosheid van verdrukking en geweld.  Die probleem van verdrukking is vir ons oorbekend, nie net in ons eie land nie, maar ook reg oor die wêreld.  Om die waarheid te sê, dit is presies die oorsaak van die val van beskawings, dat onreg en verdrukking hoogty vier … maar dat niemand help nie, en niemand vir die magteloses opkom nie.

Dit lei uiteindelik onvermydelik tot een of ander opstand of revolusie waardeur die juk van verdrukking afgegooi word, met groot skade aan weerskante van die stryd of konflik.  ’n Mens dink byvoorbeeld aan die impak van die skeuring van die ryk van Israel wat onder andere die gevolg was van verdrukking weens Salomo se stelsel van dwangarbeid.  Dit is deur Jerobeam uitgedaag wat nie net die noordelike stamme van die suidelike stamme laat afskei het nie, maar ook die Joodse godsdiens en voortbestaan in die gedrang gebring het (1 Konings 11).

Ongelukkig leer die geskiedenis ons ook dat opstand en revolusie nie noodwendig tot ’n beter bedeling lei nie, omdat opstandelinge moeilik ’n stabiele samelewing kan vestig.  Só ’n bedeling lei baie keer tot ander vorme van verdrukking. So was dit ook die geval met Jerobeam, en in talle samelewings daarvoor en daarna.  En onthou dat Jerobeam deel van ’n groter opstand was.  In dieselfde tyd was daar ook Hadad wat teen Salomo in opstand gekom het (1 Kon 11:14).  Hy was ’n Edomiet, ’n afstammeling van Esau, wat beteken die skeuring van die ryk was ook ’n gevolg van die eeue-oue konflik tussen Jakob en Esau, die voorvaders van Israel en Edom!  Daar was ook Reson van wat ons vandag ken as Sirië (1 Kon 11:23).  Die Midde-Ooste is nie vandag af ’n kookpot van konflik nie!

Lees meer in my vorige bydraes hieroor: 1 Konings 10-11 – Die Here is lief vir Salomo, maar hy is lief vir perde en vroue, Salomo – ‘n oorsig van sy lewe, 1 Konings 12 – Die magswellus van Rehabeam skeur die ryk … deur die beskikking van die Here.

Dié toedrag van sake is so swaar vir die Prediker dat hy dink dat dié wat reeds dood is, of nog beter ongebore is, gelukkiger is as die wat die pyn van só ’n verydeling van verdrukking moet deurleef of aanskou.

Fluksheid en luiheid

Interessant genoeg beskou die Prediker fluksheid sowel as luiheid uit dieselfde hoek.  Anders as wat ’n mens sou verwag, beskou hy die moeite wat mense doen om sukses te behaal ook as sinloos.  Die rede?   Fluksheid en die gejaag na sukses begin baie keer op die verkeerde plek, omdat dit baie keer uit onsuiwer begeertes, uit jaloesie, gebore word, en daarom ook tot niks kom.

Luiheid daarenteen kom uit ‘n selfvernietigingsdrang wat per se tot niks kom nie!  Soos Peterson vers 5 vertaal: “The fool sits back and takes it easy, His sloth is slow suicide”! Die flukse is egter nie noodwendig beter af nie, want waarvoor doen hy dit, veral as hy nie die vreugde van ‘n gesin of familie het nie? Daarom, sê die Prediker, is dit heel moontlik beter om dood te wees, of nog beter, ongebore.  Dit bly ’n harde saak!

Saamwees
Tog, die gedagte van saamwees inspireer die Prediker om verder oor die waarde daarvan te skryf in vers 9-12. “Twee vaar beter as een” is sy oorwoë mening.  Vennootskappe in vriendskappe en verhoudings het tog ‘n waarde vir hierdie lewe, al bly die Prediker se oorhoofse lewensgevoel van sinloosheid nie ver agter in ‘n mens se gedagtes nie.

Dit is egter betekenisvol dat hy saamwees nie eksplisiet afskiet nie, en nie sy “alles kom tot niks” gevolgtrekking hieraan koppel nie. ‘n Sprankie hoop! Saamwees is beter as Een-saamwees!  Dit help vir onderskraging as jy val, vir warmte as jy slaap (in die veld [reis] óf in die bed [seksueel]), en om weerstand te bied.

Verstandigheid
Dieselfde waarde geld ongelukkig nie vir wysheid nie. Die Prediker gee toe dat verstandigheid meer werd is as dwaasheid – soos hy hier illustreer met die verhaal van die jong tronkvoël en die ou koning – maar dit kom tog ook tot niks, omdat die jongman in sy verhaal se lewe uiteindelik nie ‘n blywende betekenis gehad het nie, al het hy die “rags to riches” droom geleef.

Terloops: die illustrasie wat die Prediker gebruik, verwys waarskynlik na ‘n werklike verhaal, soos dié van Josef en die farao of Dawid en Saul, maar geen voorstel hier rondom het deur die eeue regtig oortuig nie. Die identiteit van die twee persone in die verhaal bly dus onbekend.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

fluksheid, geweld, luiheid, Prediker, saamwees, vennootskap, verdrukking, verhoudings, vriendskap, wysheid


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.