Prediker 9:13-10:15 – Wysheid is broos en breekbaar

Die Prediker is ambivalent oor wysheid

Die Prediker ondersoek verder die waarde van wysheid in terme van die voordele wat dit bring.  Hy doen dit deur die voorbeeld-verhaal te vertel van ’n wyse man wat ’n stad teen ’n magtige koning gered het.  Maar omdat hy arm was, het niemand hom geëer en onthou nie.  Wysheid is dus wel beter as krag, maar dit verhoog nie noodwendig ’n arm persoon se status in die oë van dié rykes van hierdie lewe nie.

Die Prediker is dus baie ambivalent oor wysheid.  Dit is beter as brute krag (9:14).  Dit is beter as ‘n dwase geskree (9:17).  Dit is beter as wapens (9:18).  Maar, dit gee bv geen blywende status nie (9:16), word maklik geminag (9:16), en kan slegs deur een misstap bederf word (9:18).   Wysheid is dus van groot waarde, maar is broos en breekbaar, omdat dit baie keer getroef kan word deur dwaasheid en/of mag.

‘n Bietjie dwaasheid doen meer kwaad as wat wysheid en eer goed doen

Hy som sy gevolgtrekking dus op met die spreuk: “dooie vlieë laat salf stink en gis”, wat hy daarna self uitlê met die verduideliking dat ‘n bietjie dwaasheid meer kwaad doen as wat wysheid en eer goed doen (10:1).

Die waarde van verstand

Daarna probeer hy ontleed hoekom wysheid beter is as dwaasheid en vind dit veral in intellektuele krag of verstand (10:2), en illustreer die waarde daarvan in ‘n paar negatiewe opmerkings oor die gebrek aan verstand by dwase, met tussen-in ‘n paar positiewe opmerkings oor die korrekte aanwending van verstand.

Aan die negatiewe kant:

  • ‘n Gebrek aan verstand maak dwase swak (10:2).
  • ‘n Gebrek aan verstand bring dwase publiek in die skande (10:3).

Aan die positiewe kant:

  • ‘n Verstandige optrede darenteen is om nie oorhaastig op te tree as iemand in gesag vir jou kwaad word nie, en bv nie jou pos te verlaat, net omdat jy onder druk verkeer nie.  ‘n Pragtige spreuk vat die wysheid hiervan saam: “Kalmte voorkom groot foute” (10:4).

Die misbruik van dwaasheid deur magtiges

Maar die Prediker se ambivalensie bly, omdat daar altyd die probleem van mag is.  En magtiges het die manier om dwaasheid tot hulle eie voordeel te misbruik (10:5).  Dit is een van die groot verkeerde dinge wat die Prediker in die wêreld gesien het – en ek dink ons kan almal aan voorbeelde dink – dat mense in gesag aan dwase hoë aansien gee tot die magtiges se voordeel.

Peterson vertaal vers 5-7 as volg: “Here’s a piece of bad business I’ve seen on this earth, an error that can be blamed on whoever is in charge: Immaturity is given a place of prominence, while maturity is made to take a backseat. I’ve seen unproven upstarts riding in style, while experienced veterans are put out to pasture.

Dwaasheid baat nie op die lang duur nie

Gelukkig kom mense in gesagsposisies, dié wat dwase misbruik, egter nie ongeskonde daarvan af nie.  Met ‘n hele paar spreuke verwoord die Prediker sy oortuiging:

  • “Wie ‘n sloot grawe, val self daarin” – 10:8;
  • “Wie ‘n muur afbreek, word deur ‘n slang gepik” – 10:8;
  • “Wie klippe afbreek, word daardeur beseer” – 10:9;
  • “Wie hout kap, moet versigtig wees” – 10:9;

Dit betaal om jou verstand te gebruik

Dit betaal dus om jou verstand te gebruik (10:10).  Let op hoe hy wys hoe hierdie “slaggate” vermy kan word, deur iets aan die byl te doen waarmee gekap word, en iets aan die slang te doen, voordat hy jou pik.  Dit is nodig:

  • want “as die byl stomp word en nie geslyp word nie, moet jy meer krag gebruik” – 10:10 (dit is sommer ook goeie raad vir die wyses, soos Stephen Covey in sy Seven Habits boeke aangevoer het met ‘n soortgelyke metafoor – “Sharpen the saw”)
  • en “as die slang pik voor hy besweer is, bereik die besweerder niks nie” – 10:11.

Wysheid is beter as dwaasheid

In ‘n laaste kontrasterende kort opmerking oor die wysheid versus die langer onsinnigheid van die dwaasheid verwoord die Prediker weereens sy voorkeur vir die wysheid.

  • Wyse woorde vind byval – 10:12
  • Dwase vernietig hulleself met wat hulle sê – 10:12,
    • Hulle woorde eindig in loutere onsin – 10:13;
    • Hulle woorde bring hoe langer, hoe minder insig – 10:14,
    • Hulle woorde put selfs hulleself later uit, sodat hulle heeltemal die pad byster raak – 10:15.

Voorwaar!

dwaasheid, mag, Prediker, verstand, vreugde, wysheid


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

  • Gesels gisteraand met die groep in Somerstrand oor Jakobus 3 se visie oor wysheid: “13 Is daar ’n wyse en verstandige mens onder julle? Dan moet hy dit toon deur sy goeie gedrag en deur dade wat van nederigheid en wysheid getuig. 14 Terwyl daar bittere naywer en selfsug in julle harte is, moet julle nie daarmee spog dat julle wysheid het nie, want dan praat julle nie die waarheid nie. 15 Dié soort wysheid kom nie van Bo nie, maar is aards, sinlik, demonies, 16 want waar daar naywer en selfsug is, kom daar wanorde en allerhande gemene dade. 17 Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg. 18 Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak.” Klink soos ‘n kommentaar op Prediker!

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: