Prediker 3:1-15 – Daar is nie blywende sin in die ritmes van die lewe nie

Die Prediker gee in hoofstuk 3:1-15 ‘n uitgebreide oorsig oor hoe die ritmes van die lewe mekaar opvolg, en afwissel, maar vind nie blywende sin daar in nie (gesien uit die hoek van die onafwendbaarheid van die dood).
  • Dit is wonderlik as daar nuwe lewe is, die dag dat jy gebore word … maar net so wonderlik as wat die lewe is, net so seker is die feit dat daar ook ’n tyd kom om te sterwe, waar dit wat in jou lewe tot stand gekom het, aan ander oorgelaat word, en jy nie meer daar is nie.  Dit kom dus tot niks.
  • Dit is heerlik om met ‘n nuwe tuin te begin en nuwe plante in die grond te druk en te kyk hoe hulle groei … maar daar kom ook ‘n tyd om plante uit te trek, om te snoei en selfs om te vernietig, en as dit groot bome is, dan is dit dubbeld so swaar.  Dit kom tot niks.
  • Dit is moeilik om te moet erken, maar daar is mense wat hulle lewens daaraan spandeer om lewens te neem, te vernietig … gelukkig is daar ook mense wat hulle lewens daaraan spandeer om lewens te red, maar die een gebeur net soseer soos die ander.  Dit kom dus tot niks.
  • Die beloop van die lewe is doodgewoon, daar is mense wat hulle instel om af te breek, al is daar gelukkig ook mense wat hulle tyd spandeer om te bou, hetsy aan huise, aan verhoudings, of aan gemeenskappe.
  • En daar kom tye wat ‘n mens huil, en treur, oor verlies, oor verydeling, oor verlangens, net soos daar die tye is om te lag, en te jubel, en opgewonde te wees oor wat die lewe bied, ‘n tyd om van blydskap te dans.  Die een tyd kom net so seker soos die ander, en jy kan nie altyd kies wanneer dit sal wees nie.  Dit kom dus tot niks.
  • Daar is mense wat hulle tyd spandeer aan klippe weggooi, net soseer as wat daar mense is wat klippe bymekaar maak, vir watter doel dit ook al mag wees.
  • Daar is ’n tyd om te omhels, om oorweldig te word deur jou passie vir iemand, en ‘n mens moet dit benut, want daar kom tye wat jy dit moet vermy en moet wegbly van omhelsing af, vir watter rede dit ook al mag wees.
  • Daar is ’n tyd om aan te skaf, en ’n tyd om te laat wegraak,
  • ’n tyd om te spaar, en ’n tyd om weg te gooi,
  • ’n tyd om te skeur,en ’n tyd om toe te werk,
  • ’n tyd om stil te bly, en ’n tyd om te praat,
  • Daar kom tye van liefde, en daar kom tye van haat,
  • Tye van oorlog, en tye van vrede.

En die punt is, dit is alles relatief, dit hou nie vir ewig nie – wat goed is as ’n mens dink aan die tye van haat en oorlog, maar sleg is as jy dink aan die tye van liefde en vrede.  Dit kom dus tot niks.

Dit is hierdie ongemak wat die Prediker laat uitroep: “Wat kry die mens vir die werk waarmee hy hom vermoei?”  Dit voel vir hom “Alles kom tot niks.  Niks is blywend nie.”

En dan antwoord hy self in 3:11 wat as volg vertaal kan word: “Hy (God) het alles mooi/goed gemaak op sy tyd. Hy het ook die ewigheid in hulle hart geplaas.  Tog kan die mens nie God se werk van begin tot end uitvind/begryp nie.

Die Prediker sê hiermee eerstens dat daar wel ‘n plan of patroon is vir en met alles, maar dat dit God s’n is.  Die plan of patroon is daar, maar meesal nie binne ons bereik nie.  Ons kan dele daarvan verstaan, sommige minder, en ander meer.  Maar, niemand van ons kan dit van begin tot end volledig begryp of deurvors nie.  Maar, die plan is darem daar!

Dit beteken aan die een kant dat ons moet erken dat ons moeilik die patrone van die hede kan gebruik om die toekoms te bepaal.  Ons insig in die verloop van gebeure, soos die tyd aanstap, is net te min.  Om die waarheid te sê, selfs ons insig in wat reg voor ons oë gebeur, is gebrekkig!  Die toekoms kan nie volledig voorspel word op grond van goed wat in die hede voorkom nie, en kan veral nie voorskryf wat sal gebeur of wat sal nie gebeur nie.

Maar, aan die ander kant ons darem gerustelling kry in die feit dat God die volledige insig daarin het.  Dit staan alles onder God se beheer, al is ons begrip van wat Hy doen, uiters beperk.  Ons kan Hom daarvoor vertrou.

Die tweede ding wat hy daarmee sê, is dat ons mense is wat die kapasiteit het vir die ewigheid.  Dit beteken dat ons nie deur enigiets “onder die son” tevrede gestel kan word nie, nie die tragedies nie, ook nie die triomf van die lewe nie.  Daardie soeke in ons na meer, is eintlik ’n soeke na God, na die eintlike werklikheid, na die eindbestemming, na die ewigheid.

En dit is wat die Prediker met sy boek wil doen.  Hy wil ons herinner aan die werklikheid van God, die enigste Een wat sin bring aan ons lewens “onder die son”, terwyl hy op vele wyses in die proses die soeke na meer, sonder God, aan die kaak stel, en wys dat daar niks is wat regtig uiteindelik bevredig nie, dat alles tot niks kom, as dit sonder God is.

Maar, dan sê hy in die derde plek ook dat daar een manier is waarop ’n mens tog sin in die lewe kan ervaar, wanneer jy die lewe as ‘n gawe uit Sy hand geniet.  Dit is dan wat die begeerte na meer in God sy vervulling vind.  Dit is dan wat jy besef dat die vreugde alreeds lê in die reis self, en die genot van die oomblik self.  Dit is die gawe van God.  Vreugde lê nie eers aan die einde daarvan, in die blywende waarde of uiteindelike betekenis van iets nie.  Nee, dit lê in die genot van iets as ’n gawe van God, soos jy dit ervaar, soos jy dit beleef.

Dit beteken ons meer op die reis van die lewe self en die ervaring daarvan en daarbinne moet fokus en ons daarop instel om dit te geniet, eerder as dat ons wag vir ‘n bestemming of ‘n vervulling of ‘n betekenis wat êrens in die toekoms op ons wag en wat ons na baie harde werk sal bereik.

En dit is hiervoor dat ons ’n kapasiteit moet ontwikkel.

Soos RBY Scott sê (Ancor Bible): “One must develop the capacity to find enjoyment in work and wisdom and in the very experience of living.”

Dit laat my dink aan wat Paulus skryf aan die gelowiges in Korinte: “Nou kyk ons nog in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld”. Hy het vanuit sy verhouding met Christus die hoop dat ons eendag alles sal sien “soos dit werklik is.”. Wat hom by die gevolgtrekking bring: “Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.” en wat hom laat vasklou aan geloof, hoop en liefde: “hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde” (1 Kor 13:12-13).

ewigheid, patroon, plan, Prediker, ritme, sin, tyd, wysheid


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (3)

  • Lily Groenewald

    Die hoofstuk bring weer “Turn, turn, turn” van Seeger en Aber helder in die gedagte. Byna woordeliks uit Pred 3.

    “Maar, dan sê hy in die derde plek ook dat daar een manier is waarop ’n mens tog sin in die lewe kan ervaar, wanneer jy die lewe as ‘n gawe uit Sy hand geniet. Vreugde lê nie eers aan die einde daarvan, in die blywende waarde of uiteindelike betekenis van iets nie. Nee, dit lê in die genot van iets as ’n gawe van God, soos jy dit ervaar, soos jy dit beleef.”

    Jou derde punt laat my dink aan die Nissan (?) advertensie: “Life’s a journey; enjoy the ride.”

    Groete

    Lily

    • Inderdaad! Die genot lê in die reis – in NT terme – aan die hand van die Leidsman na die lewe.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: