Prediker 10:16-11:6 – Belê en bestee met oorleg

In die laaste deel van hoofstuk 10 kry ‘n mens ‘n paar wyshede oor instandhouding en selfbeheersing, waarvan sommige feite is in verband met jou huishouding, waaraan jy aandag kan en moet gee en die ander onveranderlikhede is in verband met regerings en die burokrasie, waarvan ‘n mens moet kennis neem, hoewel jy min daaraan kan doen.

In hoofstuk 11 sit die Prediker ‘n lewenswyse op die tafel wat met beide voorsorg en werksywer, belegging en besteding werk.  Dit is nogal vir my ‘n baie interessante perspektief, omdat die twee aspekte ‘n strewe na balans beskryf, wat nie in ‘n verheerliking van net voorsorg en belegging of net ywerigheid en besteding bestaan nie, maar juis in die gelyktydigheid daarvan.

Instandhouding en selfbeheersing

Die Prediker kyk in 10:16-17 na die regerings of burokrasieë van sy dag en wys hoe goeie besluitneming en selfbeheersing tot die voordeel van ’n land is. ’n Slaaf wat koning word (vgl 10:7) kan amper nie anders as om sy vryheid te vier op allerhande maniere, sonder in ag neming van die gevolge nie (Spreuke 30:22 praat van so iemand as “’n ongemanierde sot nadat hy hom vol geëet het!”).  Nét so ook sy amptenare nie.

Maar waar die koning dit regkry om nie net op die raad van sy burokrate staat te maak nie, maar vir homself besluite neem – dws ’n leier in eie reg is – lei dit tot goeie regering (onthou die demokrasie was nog ’n veraf droom).  Feesviering is natuurlik nie verkeerd nie, ook nie op staatsvlak nie; dit moet net op die regte tyd en met selfbeheersing gebeur, sê die Prediker.

Dit is ook nie ’n wyse ding om die koning te verwens nie, selfs ook nie die rykes nie, want jy weet nie wanneer selfs die gedagtes daaraan miskien by hulle uitkom nie, en dit jou suur bekom nie (10:20 – die profeet Miga het ook iets soortgelyks gesê: “pasop wat jy sê vir die vrou langs wie jy lê”! [7:5]).  Interessant genoeg is die omgekeerde oor die profeet Elisa geglo, dat hy geweet het wat in die vyande van Israel se slaapkamers aangaan (2 Kon 6:12)!  En dit het hulle laat vrees!

Die Prediker onderbreek hierdie gedagtes met 10:18-19 deur ook na die huishouding te kyk en ’n saak uit te maak vir aandag aan instandhouding – anders kan die huis lek of die dak inval (hulle huise was van klei met plat dakke, so voorsorg was baie belangrik) – en beheer oor eet en drink – want alles kos geld.  Dit is eintlik dieselfde soort gedagtes as dié oor die regering en staatsmasjinerie.  Instandhouding en beheer is oral nodig, in die huishoudings van die publieke en private lewe.

Belegging en besteding

Hierdie eerste 6 verse van hoofstuk 11 is ‘n heerlike manier om oor die lewe na te dink.  Die Prediker begin om werksywer en besteding te verheerlik (11:1).  Die brood verwys waarskynlik na koring wat vrygewig en oorvloedig op die modderwater van ’n akker gesaai is, nie na iets wat jy vir ander uitdeel nie, hoewel dié gedagte natuurlik op ander plekke in die Bybel voorkom.  Spreuke 19:17 sê bv dat om jou oor ‘n arm mens te ontferm, is om ‘n lening aan die Here te gee, wat Hy ten volle sal vergoed!

Net daarna bring die Prediker egter voorsorg en beleggings in spel, met die raad om jou besittings op 7 of selfs 8 plekke te hou, ter wille van voorsorg teen teëspoed (11:2).  ‘n Mens wonder of hy nie selfs plekke buite die land in gedagte gehad het nie.

Maar net na hy ‘n saak vir uitgebreide beleggingsvoorsorg gemaak het, praat hy weer van risiko’s met besteding neem!  Dit help nie jy kyk net na die natuurlike verloop van sake (wolke, bome, wind), en probeer om jou planne daarna te skik nie, want dan sal jy nooit enigiets doen nie.  Daar sal altyd die moontlikheid van mislukking wees (11:3-4).  Om te lewe is mos alreeds ‘n risiko, so moenie bang wees daarvoor nie, is sy argument!

Die rede vir dié risiko’s lê natuurlik vir hom in die enigma van die lewe, dat God se werk vir ‘n groot deel daarvan ondeursigtig is (11:5).  Net so min as wat ‘n mens die geheim van die vereniging van gees en liggaam in swangerskap kan verstaan, net so min kan jy die werk van God verstaan.  Maar, in plaas daarvan dat dit die Prediker lamlê en fatalisties maak, raai hy steeds almal aan om risiko’s te neem, vrygewig en ywerig te lewe, terwyl ook aandag aan ordentlike voorsorg gegee word.

Daarom gee hy die raad in vers 6 om net nooit op te hou om jou saad te saai nie – die saad waarvan hy al in vers 1 gepraat het – in die môre, in die laatmiddag, voortdurend.  Vrygewigheid en ywer in voorbereiding is eintlik die regte manier om voorsorg vir die lewensonsekerhede te tref, want “eendag kry jy dit terug” in ‘n oes wat geluk!  Nogal ‘n resep vir entrepeneurskap!

Die rede vir dié stukkie lewenswysheid lê waarskynlik in sy oortuiging dat as ‘n mens net sou voorsorg tref vir die toekoms bv met beleggings, jy baie moeilik so ver sal kom om met oorgawe die tyd, middele en energie te spandeer om nuwe goed te probeer of nuwe moontlikhede te ontgin, want dit kan jou beleggings in gevaar stel.  As jy aan die ander kant net jou beleggings sou spandeer en net sou inspan vir nuwe ontwikkelinge, sonder om steeds ook voorsorg te tref, loop jy die gevaar dat teenspoed alles kan ruïneer, iets wat natuurlik ook geldig is vir al die verskillende tipe huishoudings (10:16-20).  Albei is nodig, voorsorg en ywer.

belê, bestee, dwaasheid, Prediker, vreugde, wysheid


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: