Skip to main content

Prediker 10:16-11:6 – Belê en bestee met oorleg

In die laaste deel van hoofstuk 10 kry ‘n mens ‘n paar wyshede oor instandhouding en selfbeheersing, waarvan sommige feite is in verband met jou huishouding, waaraan jy aandag kan en moet gee en die ander onveranderlikhede is in verband met regerings en die burokrasie, waarvan ‘n mens moet kennis neem, hoewel jy min daaraan kan doen.

In hoofstuk 11 sit die Prediker ‘n lewenswyse op die tafel wat met beide voorsorg en werksywer, belegging en besteding werk.  Dit is nogal vir my ‘n baie interessante perspektief, omdat die twee aspekte ‘n strewe na balans beskryf, wat nie in ‘n verheerliking van net voorsorg en belegging of net ywerigheid en besteding bestaan nie, maar juis in die gelyktydigheid daarvan.

Instandhouding en selfbeheersing

Die Prediker kyk in 10:16-17 na die regerings of burokrasieë van sy dag en wys hoe goeie besluitneming en selfbeheersing tot die voordeel van ’n land is. ’n Slaaf wat koning word (vgl 10:7) kan amper nie anders as om sy vryheid te vier op allerhande maniere, sonder in ag neming van die gevolge nie (Spreuke 30:22 praat van so iemand as “’n ongemanierde sot nadat hy hom vol geëet het!”).  Nét so ook sy amptenare nie.

Maar waar die koning dit regkry om nie net op die raad van sy burokrate staat te maak nie, maar vir homself besluite neem – dws ’n leier in eie reg is – lei dit tot goeie regering (onthou die demokrasie was nog ’n veraf droom).  Feesviering is natuurlik nie verkeerd nie, ook nie op staatsvlak nie; dit moet net op die regte tyd en met selfbeheersing gebeur, sê die Prediker.

Dit is ook nie ’n wyse ding om die koning te verwens nie, selfs ook nie die rykes nie, want jy weet nie wanneer selfs die gedagtes daaraan miskien by hulle uitkom nie, en dit jou suur bekom nie (10:20 – die profeet Miga het ook iets soortgelyks gesê: “pasop wat jy sê vir die vrou langs wie jy lê”! [7:5]).  Interessant genoeg is die omgekeerde oor die profeet Elisa geglo, dat hy geweet het wat in die vyande van Israel se slaapkamers aangaan (2 Kon 6:12)!  En dit het hulle laat vrees!

Die Prediker onderbreek hierdie gedagtes met 10:18-19 deur ook na die huishouding te kyk en ’n saak uit te maak vir aandag aan instandhouding – anders kan die huis lek of die dak inval (hulle huise was van klei met plat dakke, so voorsorg was baie belangrik) – en beheer oor eet en drink – want alles kos geld.  Dit is eintlik dieselfde soort gedagtes as dié oor die regering en staatsmasjinerie.  Instandhouding en beheer is oral nodig, in die huishoudings van die publieke en private lewe.

Belegging en besteding

Hierdie eerste 6 verse van hoofstuk 11 is ‘n heerlike manier om oor die lewe na te dink.  Die Prediker begin om werksywer en besteding te verheerlik (11:1).  Die brood verwys waarskynlik na koring wat vrygewig en oorvloedig op die modderwater van ’n akker gesaai is, nie na iets wat jy vir ander uitdeel nie, hoewel dié gedagte natuurlik op ander plekke in die Bybel voorkom.  Spreuke 19:17 sê bv dat om jou oor ‘n arm mens te ontferm, is om ‘n lening aan die Here te gee, wat Hy ten volle sal vergoed!

Net daarna bring die Prediker egter voorsorg en beleggings in spel, met die raad om jou besittings op 7 of selfs 8 plekke te hou, ter wille van voorsorg teen teëspoed (11:2).  ‘n Mens wonder of hy nie selfs plekke buite die land in gedagte gehad het nie.

Maar net na hy ‘n saak vir uitgebreide beleggingsvoorsorg gemaak het, praat hy weer van risiko’s met besteding neem!  Dit help nie jy kyk net na die natuurlike verloop van sake (wolke, bome, wind), en probeer om jou planne daarna te skik nie, want dan sal jy nooit enigiets doen nie.  Daar sal altyd die moontlikheid van mislukking wees (11:3-4).  Om te lewe is mos alreeds ‘n risiko, so moenie bang wees daarvoor nie, is sy argument!

Die rede vir dié risiko’s lê natuurlik vir hom in die enigma van die lewe, dat God se werk vir ‘n groot deel daarvan ondeursigtig is (11:5).  Net so min as wat ‘n mens die geheim van die vereniging van gees en liggaam in swangerskap kan verstaan, net so min kan jy die werk van God verstaan.  Maar, in plaas daarvan dat dit die Prediker lamlê en fatalisties maak, raai hy steeds almal aan om risiko’s te neem, vrygewig en ywerig te lewe, terwyl ook aandag aan ordentlike voorsorg gegee word.

Daarom gee hy die raad in vers 6 om net nooit op te hou om jou saad te saai nie – die saad waarvan hy al in vers 1 gepraat het – in die môre, in die laatmiddag, voortdurend.  Vrygewigheid en ywer in voorbereiding is eintlik die regte manier om voorsorg vir die lewensonsekerhede te tref, want “eendag kry jy dit terug” in ‘n oes wat geluk!  Nogal ‘n resep vir entrepeneurskap!

Die rede vir dié stukkie lewenswysheid lê waarskynlik in sy oortuiging dat as ‘n mens net sou voorsorg tref vir die toekoms bv met beleggings, jy baie moeilik so ver sal kom om met oorgawe die tyd, middele en energie te spandeer om nuwe goed te probeer of nuwe moontlikhede te ontgin, want dit kan jou beleggings in gevaar stel.  As jy aan die ander kant net jou beleggings sou spandeer en net sou inspan vir nuwe ontwikkelinge, sonder om steeds ook voorsorg te tref, loop jy die gevaar dat teenspoed alles kan ruïneer, iets wat natuurlik ook geldig is vir al die verskillende tipe huishoudings (10:16-20).  Albei is nodig, voorsorg en ywer.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

belê, bestee, dwaasheid, Prediker, vreugde, wysheid


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms