Prediker 12:9-14 – Rigting en vastigheid kom van God as die één Herder

Die Prediker het klaar gepraat.  Die redakteur neem nou oor en gee twee afsluitende perspektiewe in vers 9-11, en 12-14.  Die eerste is sy opsomming van wat die Prediker gesê het.  Die tweede is waarskynlik sy eie onderrig, dié boodskap wat die redakteur aan sy nageslag wil aangee as die geheim van die lewe.

Wysheid gee rigting en vastigheid – 12:9-11

Na hy die uitmuntende werk van die Prediker beskryf het (“raak uitgedruk”, “getrou op te teken”), gebruik die redakteur twee metafore om die funksie van die wysheid te beskryf.

  1. Die woorde van die wyses is soos skerp stokke wat die beeste (ons) aanjaag in die regte rigting.  “The words of the wise prod us to live well,” soos Peterson dit vertaal.
  2. Die versamelde spreuke van die wyses – soos onder andere die Prediker en Spreuke – is soos spykers wat ingeslaan is om alles, gemeenskappe en hulle wêrelde, bymekaar te hou.  “They’re like nails hammered home, holding life together” (Peterson).

En die redakteur gee dan aan die impak van dié wysheid die hoogste lof.  Die woorde en spreuke van die wyses is die woorde van God self, die een Herder, wat ons daarmee in die regte rigting stuur (skerp stokke) en beskerm van verydeling en verstrooiing (spykers).  Hierdie opmerking het waarskynlik bygedra daartoe dat dié boek deel van die Bybel geword het.

’n Mens wonder of hy daarmee nie ook moontlik een wyse manier aangedui het waarmee die Babelse verwarring in taal van Genesis 11 te bowe gekom kan word nie, dat mense mekaar sou vind in die eenheid wat ’n gedeelde wysheid bring.  Die Pinksterwonder van Handelinge 2 sou natuurlik veel later hierdie vereniging prakties maak met die uitstorting van die Heilige Gees wat mense uit verskillende nasies en tale tot een nuwe mensheid onder een Herder, Jesus Christus, saamgesnoer het.

Wees prakties in jou ontsag vir God – 12:12-14

In twee verdere opsommings – “die belangrikste van alles”, en “die slotsom van alles” – gee die redakteur gestalte aan sy eie wysheid.

Die belangrikste – van alles – wat hy vir sy seun wil deurgee, is om versigtig te wees vir te veel studie en skryfwerk … dit ooreis die liggaam.  Ek hoor daarin so ’n tong in die kies relativering van die neergepende wysheid van die Prediker, die werk wat hy as redakteur so pas voltooi het!  Daarmee relativeer hy die Prediker se werk, sowel as sy eie redakteurswerk, en plaas dit ondergeskik aan die tweede opsomming wat hy gaan gee.

En hierdie tweede slotsom – van alles – is om in ontsag (vrees) vir God te leef – wat rekenskap eis oor alles wat gedoen word, goed of kwaad – en te doen wat Hy vra.  Godsdiens, sê hy daarmee, moet altyd met dié twee perspektiewe werk: om in afhanklikheid van en met ontsag vir God te leef, en om prakties te wees in jou gehoorsaamheid aan wat God vra.

Vir my preek van Sondag hieroor:  http://ngkerksomerstrand.co.za/prediker-129-14-lewe-met-oorleg-en-vreugde/

dwaasheid, Prediker, rigting, vastigheid, vreugde, wysheid


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (3)

  • Dankie vir hierdie wonderlike webtuiste. Graag wil ek weet waarom Jesus gese het dat niemand God gesien het nie en tog is daar in die bybel verskeie mense wat God gesien het, bv Jacob, Abraham, Jesaja, Johannes e.a. Dankie vir u verklaring.

    • God verskyn op baie maniere aan mense, maar nooit in sy volledige vorm nie. Die Bybel kan dus sê dat Hagar wonder of sy God gesien het (Gen. 16:13), dat Abraham God in die gedaante van drie manne sien en onthaal (Gen 18:3), dat Moses God in die vorm van die Engel van die Here in die verskyning in die braambos sien (Eks. 3:2; selfs ‘n esel sien die Engel van die Here! soos Num. 22:25 vertel, ook Bileam) en verskeie ander kere (Num. 12:8), en selfs op ‘n besondere manier van agter af (Eks 33:23), en die volk ook die heerlikheid van die Here in die woestyn gesien het (Eks. 16:7), maar God se werklike vorm het hulle, of Moses, of Esegiël of Johannes op Patmos of niemand ná hulle ooit voledig gesien nie. Net Jesus het daardie voorreg gehad, want Hy was self God (Joh. 6:46), maar sê wel dat dié wat Hom gesien het, het in ‘n sekere sin natuurlik die Vader gesien (Joh. 14:9). Dit geld ook vir ons waar ons in Hom glo en op ‘n geestelike manier die waarheid in Hom sien. Terloops, Jakob het God natuurlik nie gesien nie, dit was donker, maar hy het met God in die vorm van ‘n man gestoei in een of ander verskyning van Hom (Gen. 32:24). Dit tel wel as ‘n besondere aanraking met God. Watter wonderlike werklikheid dat God Hom met ons bemoei!

  • Dankie, ook vir u passie vir God. As ek Prediker 12 lees doen ek dit met hartseer en tog blydskap. My aardse tentwoning is byna verby (66).
    Groete in Christus.
    Barrie

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: