Skip to main content

Inleiding op Prediker

Die Prediker was ‘n wysheidsleraar

Die Prediker was nie ‘n profeet, priester of geskiedskrywer wat oor die belangrike godsdienstige en historiese aspekte van Israel as Godsvolk praat nie.  Daarom soek ‘n mens tevergeefs in Prediker vir tradisies rondom die ontstaan van die wêreld, die aartsvaders, die Uittog uit Egipte, die Intog in Kanaän, en die belangrike momente van Israel se bestaan as volk.

Waaroor die Prediker nadink, is die sin van die lewe en of dit enigsins te vinde is.  Hy dink na oor watter manier van lewe wys sou wees, en watter onwys, watter lewenstyl waarde het en watter nie.  Byvoorbeeld, wanneer hy oor die aanbidding van God praat (hfst 5), fokus hy nie op die waarde van die tempel en die godsdienstige nut daarvan nie, eerder op watter benadering tot God daar wys sou wees, en wat nie.  En sy slotsom is dat luister beter is as praat.

Die Prediker staan dus in die wysheidstradisie van Israel.  Dat hy ook ‘n leraar in dié wysheidstradisie was, lei ‘n mens uit die naam “Prediker” (Qohelet in Hebreeus) af.  Die naam beteken “sameroeper”, wat dit waarskynlik maak dat hy een of ander amptelike rol gehad het, moontlik as sameroeper van die Godsvolk in hulle samekomste (Pred 12:9), wat ook die taak van lering in die wysheid gehad het (vgl Jer 18:18 wat van “raadgee” as taak van die wyses praat, op vergelykbare vlak met die profete en priesters).

Hy staan dus in die tradisie van die wysheidsleraars, soos die skrywers van Spreuke en Job, wat oor die sin van die lewe nagedink het, gesoek het vir begrip en insig oor hoe dinge in die praktyk werk, en probeer het om hulle leringe op hulle ervarings van die werklikheid van die lewe te baseer.  Hulle het daarom gesoek na patrone en ordes in die werklikheid (of die gebrek daaraan!), om daaruit beproefde beginsels en wyshede af te lei, wat tot hulp kan wees in die lewenskuns.[1]

Van die wyshede is:

  • as spreuke verwoord (“Wat krom is, kan nie reguit word nie” – Pred 1:15),
  • ander as raad (“As die heerser vir jou kwaad word, moenie jou pos verlaat nie” – Pred 10:4),
  • ander as opdragte (“Werp jou brood op die water, eendag kry jy dit terug” – Pred 11:1),
  • nog ander as voorbeeldverhale (die verhaal van die tronkvoël wat koning geword het – Pred 4:14-16).

Wie die Prediker presies was, histories gesproke, is egter moeiliker om vas te stel.  Omdat die boek van hom praat as ‘n koning van Israel, boonop ‘n seun van Dawid (Pred 1:1,12), is hy tradisioneel met Salomo verbind. Trouens, daar is ’n tradisie wat sê dat Salomo Hooglied in die fleur van sy lewe geskryf het, Spreuke gedurende sy middeljare, en Prediker aan die einde van sy lewe (Spangenberg).

Salomo se naam kom egter glad nie in die boek voor nie.  Pred 1:12 praat ook van dié koningskap in die verlede tyd.  Dit kan nie van Salomo geld nie, omdat hy immers oorlede is toe hy nog koning was.  Die boek vertoon daarby inhoudsgewys ook geen verdere tekens van só ‘n koningskap nie, selfs, anders as wat ‘n mens verwag, nie in die laaste hoofstuk nie.  Die Prediker was dus waarskynlik net ‘n wysheidsleraar, wat homself in die boek voorstel in die rol van die koning, om gewig aan sy argumentasie te gee, sonder dat hy dit inderdaad was.

Die boodskap van Prediker

Die Prediker het spesifiek sy onderrig geskoei op sy worsteling met die werklikhede van hierdie lewe.  Die wyshede wat hy dus kwyt raak, neem die volle spektrum van die verganglikheid en eindigheid van hierdie lewe in ag.  Hy gee nie maklike antwoorde op moeilike worstelvrae nie.  En hy wys veral op die futiliteit om die lewe “onder die son” sonder God te probeer leef.

Die Prediker plaas homself dus meesal doelbewus in die skoene van iemand wat die lewe sonder God probeer leef, en wys duidelik op die futiliteit daarvan.  Hy beskryf nie die posisie van ‘n atëis nie – hy bly baie bewus van God se bestaan – eerder dié van ‘n agnostikus, wat God van ‘n afstand af beleef as die onpeilbare, onkenbare, en onbeweeglike, en daarom nie met God probeer rekening hou nie …   uiteindelik tot sy skade.

Die Prediker sluit aan by die diep soeke in ons na meer, na beter, na die buitengewone. Hy oorweeg ons soeke daarna in besit, plesier, mag, avontuur, wysheid, kennis, selfs dwaasheid.  Hy neem waar dat ons meer wil hê, meer wil voel, meer wil doen, meer wil bereik … of juis nie bereik nie, as ons die dwaasheid ondersoek, of die werklikheid deur dwelms of drank of degradering ontvlug om ons eie werklikheid te skep.

Maar hy wys uit, in sy eie ervaring daarvan, dat die probleem met die soektog na meer, na die buitengewone, is dat dit uiteindelik vrugteloos is. Dit kom tot niks.  Dit is hebel – niks, nietigheid, ’n rookwalmpie, ’n miswolkie, ’n wasempie (1:2 – die woord kom 37 keer voor in die boek!) – ’n metafoor vir die wese van die menslike toestand.

Die soeke na meer is wonderlik in die oomblik, maar die plesier daarvan hou nie.   Dit bly relatief.  Dit is nie absoluut nie.  Ons klim die hoogste berg – en dan is dit verby. Ons bereik die hoogste sport – en dan is dit verby.  Ons ervaar die hoogste plesier – en dan is dit verby.  Ons beywer ons vir ’n miljoen, of twee, of drie – en daar is altyd nog ’n miljoen wat wag.

Hy weet, dit gee groot genoegdoening terwyl jy daarmee besig is, of vir ’n kortstondige oomblik as jy dit bereik het;  maar hy weet ook, daar is altyd weer iets, nog ’n berg, nog ’n mylpaal, nog ’n ervaring. Die soeke na meer hou nooit op nie. En enige “plus” in die lewe, word gekanseleer deur die sekerheid van die dood.

Sommige van ons gooi natuurlik gou tou op in dié soeke, kom gou agter dat die soeke na meer nie bevredig nie, of dat die soeke te veel van ons vra.  Ander hou verbete aan, “until by the time they die there is hardly enough humanity left to compose a corpse.” (Peterson).   Tog vind ons daardie meer … nooit nie.

Die Prediker getuig dan, na hy self alles onder die son probeer het, selfs die dwaasheid, en waarsku ons almal dat dié soektog na meer na nêrens lei nie. In sy ervaring kom alles tot niks – alles! Die beste ervaring wat ons kan hê, die hoogste plesier, die beste avontuur, is en was vir hom soos die laaste rookwalm van ‘n doodgedrukte sigaret. “There’s nothing to anything—it’s all smoke.” (Peterson in The Message).

Maar … dit is nie al nie!

‘n Sleutelvers vir sy boodskap is 3:11 wat as volg vertaal kan word: “Hy (God) het alles mooi/goed gemaak op sy tyd. Hy het ook die ewigheid in hulle hart geplaas.  Tog kan die mens nie God se werk van begin tot end uitvind/begryp nie.

Die Prediker sê eerstens hiermee dat daar ‘n plan of patroon is vir en met alles, maar dat dit God s’n is.  Die plan of patroon is dus meesal nie binne ons bereik nie.  Ons kan dele daarvan verstaan, sommige minder, en ander meer.  Maar, niemand van ons kan dit van begin tot end volledig begryp of deurvors nie.

Dit beteken dat ons moeilik die patrone van die hede kan gebruik om die toekoms te bepaal.  Ons insig in die verloop van gebeure, soos die tyd aanstap, is net te min.  Die toekoms kan nie volledig voorspel word op grond van goed wat in die hede voorkom nie, en kan veral nie voorskryf wat sal gebeur of wat sal nie gebeur nie.

Dit is, volgens die Prediker, net God wat die insig daarin het (Pred 7:14).  Om die waarheid te sê, selfs ons insig in wat reg voor ons oë gebeur, is gebrekkig!  Dit staan alles onder God se beheer.  En ons begrip van wat Hy doen, is uiters beperk (Pred 8:17).  “No one can really understand it.” (New Century Version)

Die tweede ding wat hy daarmee sê, is dat ons mense is wat die kapasiteit het vir die ewigheid (“Hy het ook die ewigheid in hulle hart geplaas”). Ons kan nie deur enigiets “onder die son” (soos dit letterlik staan in Pred 1:3 en op vele ander plekke: 2:11; 3:16; 4:2; 5:12; 6:2; 8:9; 9:3; 10:5) tevrede gestel word nie.  Daardie soeke in ons na meer, is eintlik ’n soeke na God, na die eintlike werklikheid, na die eindbestemming, na die ewigheid.

En dit is wat die Prediker met sy boek wil doen.  Hy wil ons herinner – terwyl hy die soeke na meer, sonder God,  aan die kaak stel, en wys dat daar niks is wat regtig uiteindelik bevredig nie, dat alles tot niks kom – aan die werklikheid van God, die enigste Een wat sin bring aan ons lewens “onder die son”.

Daarom sê hy in die derde plek, dat wanneer die lewe as ‘n gawe uit Sy hand geniet word (hy beklemtoon dit 6 keer: 2:24; 3:12-13; 3:22; 5:17-19; 8:15; 9:7-9), wanneer ons ons fokus op Hom plaas (12:1-14), dit is dan wat goed begin sin maak, wat die begeerte na meer in God sy vervulling vind.  Die vreugde van die reis self, en die genot van die oomblik self, is reeds die gawe van God, nie eers die blywende waarde of uiteindelike betekenis daarvan nie, want dié uitkoms lê uiteraard uiteindelik in die hande van God, iets waarin ons nie ’n helder en volledige insig het nie.

Die Prediker breek dus ons illusies af oor die relatiewe waarde van die dinge waarop ons ons begeerte na meer fokus, sodat ons die absolute werklikheid van God se betrokkenheid by ons kan begin waardeer.  Daarom moet ons goed luister na die Prediker en leer om met God te begin leef “onder die son”.

Die boek Prediker

Die boek is duidelik deur ‘n redakteur saamgestel (1:1-2; 7:27; 12:9-14).

Daar is egter geen konsensus onder geleerdes hoe om dié boek in te deel nie, behalwe dat 1:1-11 ’n inleiding op die boek as ’n geheel is, en 12:9-14 ’n afsluiting daarvan is.

Ek het gehou van die eenvoudige indeling van Fleming: 1) Accept what God gives and enjoy it (1:1-4:16); 2) Make the most of life’s varied circumstances (5:1-10:20); 3) Have a positive attitude towards life (11:1-12:14), wat ook ’n interessante opsomming van die boodskap van die boek is.  Maar dit is uiteraard ook ’n reduksie van die boodskap van die boek.

Ek het ook waardering gehad vir Spangenberg se indeling van die inhoud in 32 min of meer losstaande “argumente” waarin hy telkens in gesprek tree met die bestaande wyshede van ander wysheidsleraars – bv. oor arbeid: “Vrugtelose arbeid” (1:2-11), oor die lewe en dood: ”Geen troos in lewe en in dood nie” (3:16–22), en oor die wysste lewenshouding: “Aanvaar die lewe soos dit is” (7:8–10).

In my leeswerk het die volgende indeling in 14 perikope vir my die meeste sin gemaak, wat ook is hoe ons dit oor die volgende 14 dae gaan deurlees:

  • Prediker 1:1-11 – 12 April
  • Prediker 1:12-2:26 – 13 April
  • Prediker 3:1-15 – 16 April
  • Prediker 3:16-22 – 17 April
  • Prediker 4:1-16 – 18 April
  • Prediker 4:17-5:6 – 19 April
  • Prediker 5:7-6:9 – 20 April
  • Prediker 6:10-7:29 – 23 April
  • Prediker 8:1-17 – 24 April
  • Prediker 9:1-12 – 25 April
  • Prediker 9:13-10:15 – 26 April
  • Prediker 10:16-11:6 – 27 April
  • Prediker 11:7-12:8 – 30 April
  • Prediker 12:9-14 – 1 Mei

 


[1] Terloops, soortgelyke wysheidstradisies het natuurlik ook in Mesopotamië en Egipte bestaan, waarvan ‘n hele paar geskrifte bewaar gebly het, bv die Mesopotamiese dialoog tussen die baas en sy dienskneg, ’n kostelike storie!


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Prediker


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar