Skip to main content

Prediker 4:17-5:6 – Om met ontsag na God te luister

Vervolgens vestig die Prediker ons aandag op wysheid in die beoefening van godsdiens.  Hy fokus op die hart van die Israelitiese godsdiens, die offerkultus in die tempel.

Dit is ook die eerste keer dat hy die leser aanspreek: “Wees baie versigtig …”.  Hy sal dit hierna meer gereeld begin doen, waarmee hy sy self-nagevorsde lewenswysheid in die vorm van onderrig begin uitdeel  (Pred 5:7; 7:9-10, 13-14, 16-18, 21; 8:2-3; 9:7-10; 10:4, 20; 11:1-2, 6, 9-10; 12:1-8, 12-14).

Sy oorwoë mening is dat luister in die tempel meer waarde het as praat – iets wat Jakobus in die NT eintlik in alles situasies aanbeveel (Jak1:19 –“elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou te praat nie …”).  Luister het meer waarde as offers, veral die offers wat met min nadenke gebring word.  Die rede is dat die fokus op offers jou fokus kan verskuif van die Een oor wie dit in die tempel gaan, na die ritueel waarmee jy besig is. En dan is jy besig met alles behalwe met God, en om van Hom te leer.  “Enter to learn” vertaal Peterson in The Message.

Geen wonder dat Jesus die tempel in die NT skoongemaak het van die handelaars wat die klem op (die geldmaak uit) die offers geplaas het, eerder as die ontmoeting met God in die huis van Sy Vader (Joh 2:13-22).  Daarna kon Jesus sy lering oor die geestelike geboorte aan Nikodemus met gesag oordra, sonder om na die tempel te verwys (Joh 3), sowel as sy lering aanbied oor die aanbidding in Gees en waarheid buite die tempel aan die Samaritaanse vrou (Joh 4).  Die tempel was eintlik altyd net ’n plek van ontmoeting met God, iets wat oral in Sy wêreld moontlik was, en sal bly.

Die rede hiervoor is nie omdat God ver is nie, of nie ook in die tempel teenwoordig was nie, soos ‘n mens sou kon aflei uit die kontras tussen God in die hemel en ons op die aarde nie.  Die Prediker spel drie redes uit:

  • Die eerste rede is dat God soewerein en in beheer is, en ons van Hom afhanklik.   Daarom moet die luister na Hom die eerste plek in ons lewens kry, al is Sy weë soms onnaspeurbaar, en kan ’n mens net dele daarvan verstaan.
  • Die tweede rede is dat God nie gemanipuleer kan word nie. ‘n Stortvloed van woorde sal Hom nie oorrompel nie, soos Jesus ook in die Bergrede sê (Matt 6:7). Om met ontsag jou fokus op die luister na God te plaas, is die pad van wysheid in jou godsdiens beoefening.
  • Die derde rede is die goeie nuus dat God hoor, baie beter as wat ons dink. Hy het nie ’n stortvloed van woorde nodig om ons gebede te verhoor nie (Matt 6:7).  Om die waarheid te sê, God hoor nog voordat ons praat, omdat Hy weet wat ons nodig het (Matt 6:8)!  Die slegte nuus is egter, volgens die Prediker, dat ons gevaar kan loop om nie met Sy goeie ore rekening te hou nie! Hy het die eerste keer al gehoor … en jou woorde tel voor God!

Die slotsom is dus, wees baie versigtig wat jy vir God sê – hier beskryf as iets wat in die tempel plaasvind waar ‘n priester kon hoor, soos ons lees van Hanna in Eli se teenwoordigheid (1 Sam 1:9-19). En, sê die Prediker, wat jy steeds kies om vir God te sê-beloof, doen dan wat jy sê-beloof (soos Hanna inderdaad gedoen het)!

Om God te dien (ontsag vir Hom te hê) is die hoogste goed, iets wat hier al begin deurskemer, en in die laaste hoofstuk sy finale opsomming sal wees van wat regtig waarde het.

Let op dat die Prediker ook hiervan, soos met sy vorige uitsprake oor saamwees, nie sê dat dit waardeloos is nie.  Om met mekaar in ’n gemeenskap of vennootskap te leef, en dit te doen saam met, en vanuit ’n luisterverhouding met God, is die Prediker se hoogste goed, die lewenswysheid wat die meeste sin maak.

En ’n mens wil-wil die liefdesgebod – wat Jesus saamgevat het as liefde vir God bo alles, en liefde vir jou naaste soos jouself (Matt 22:37-40) – hierin begin raaksien.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

luister, ontsag, Prediker, wysheid


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.