Skip to main content

Tag: geniet

Prediker 11:7-12:8 – Leer met God leef in jou jong dae

Die Prediker verskuif sy aandag na die jeug van sy dag, interessant genoeg aan die einde van sy breë blik oor die sinvolheid van die lewe al dan nie.  Dit is soos ’n jeugdiens aan die einde van die erediens – onthou hy is die Prediker.  Dit is asof alles oploop hierheen!  Daarmee plaas hy, insiggewend genoeg, eintlik sy hoop op die jongmense om meer sin van die lewe te maak as wat hy en ander soos hy in hulle ouderdom daarin kon vind … as hulle dit net kan regkry om dankbaar (11:8), plesierig (11:9), ligvoets en kommervry te leef (11:10) en veral sorg dat hulle leer om in dit alles met God die lewe aan te durf (12:1).

Leef dankbaar

Hy speel met die metafoor van lig en donker om die jeug met die ouderdom te kontrasteer, om jongmense aan te moedig om die geleenthede wat die jeug bied aan te gryp met dankbaarheid, en niks daarvan nutteloos te laat verbygaan nie – 11:7-8.

Leef plesierig, ligvoets en kommervry

Die Prediker moedig jongmense aan om plesier te vind in hulle jong dae as sodanig, om te doen wat hulle goedvind (hart), en waarvan hulle hou (oë), nie wat die ou mense goedvind nie!.  Die enigste grens wat hulle moet stel vir hulle plesier is aan die een kant die goedkeuring van God self, en aan die ander kant dinge wat hulle swaarmoedig (hart) kan maak, of hulle liggame skade kan aandoen – 11:9-10.

Leef met God

Dit beteken vir die Prediker dat hulle eintlik hulle plesier in hulle verhouding met God self moet vind.  Daarom noem hy God Skepper, en nie Almagtig, of ‘n ander term vir God nie – 12:1. Hulle moet doelbewus God se bedoeling met hulle, dít waarvoor Hy hulle gemaak het, uitvind en daarin plesier en betekenis vind … voordat die ouderdom aanbreek, waarin dit nie meer moontlik sal wees nie.

Continue reading

Prediker 9:1-12 – Ontwikkel jou kapasiteit vir vreugde

Ek het so lekker gewerk aan dié perikoop vir my preek in Somerstrand, dat ek dit vandag net so insluit, eerder as ‘n verkorte weergawe.  Geniet!

Pasop vir selfvoldaanheid en oorgerustheid

Ons het van tyd tot tyd nodig om bestek op te neem van ons vermoë om dinge te laat gebeur.  Ons kan só maklik dink dat ons prestasies aan ons eie talente en vermoëns te danke is, hetsy fisies (vinnigste, sterkste) of intellektueel (wyses, verstandiges, kennisvrate).

Die Prediker herinner ons dat dit nie die vinnigstes wat die reisies wen nie.  Dit is asof ’n mens die verhaal van skilpad en hasie hoor in sy waarskuwing.  Spoed is goed, maar uithouvermoë nog beter.  Oor kort afstande kan spoed jou nog uithelp, maar as die afstand langer is, help spoed jou baie minder.

Dit is ook nie altyd die sterkstes wat die oorlog wen nie.  Hoeveel maal is dit nie al in die geskiedenis bewys nie.  Tegnologie, tegniek, toeval – is baie keer meer deurslaggewend in wié ’n oorlog wen.  Dink aan die Trojaanse perd wat die mag van Troje verbreek het, en aan die Grieke die oorwinning gegee het.  Die perd wat die simbool van Troje was, is op slinkse manier gebruik om ’n mag tot binne die stad te kry vanwaar hulle die oorhand oor die Trojane kon kry.

Dieselfde lot geld ons intellektuele kapasiteit.  Dit is nie noodwendig die wyses of die verstandiges of die kennisvrate wat die beste daaraan toe is nie.  Jou wysheid of verstand, jou kennis of vermoëns kan nie sorg dat tragedie of terreur jou nie tref nie.  Natuurlik is dwaasheid en onkunde nog slegter vir ’n mens, maar bose dinge kan enigiemand tref op hierdie aarde.

Continue reading

Prediker 1:12-2:26 – Niks bevredig werklik nie, net gawes uit die hand van God

Die Prediker beskryf in hierdie deel die harde werklikheid van die lewe aan die hand van twee persoonlike eksperimente (let op die “ek”-taal): ‘n lewe van plesier en vreugde, en ‘n lewe van wysheid versus dwaasheid.  Die eksperimente slaag egter nie die toets nie; Alles kom tot niks, hoewel hy afsluit met die klein sprankie hoop dat genot ‘n gawe uit God se hand kan wees.

Continue reading

Onlangse kommentaar