Skip to main content

Tag: gawes

Prediker 1:12-2:26 – Niks bevredig werklik nie, net gawes uit die hand van God

Die Prediker beskryf in hierdie deel die harde werklikheid van die lewe aan die hand van twee persoonlike eksperimente (let op die “ek”-taal): ‘n lewe van plesier en vreugde, en ‘n lewe van wysheid versus dwaasheid.  Die eksperimente slaag egter nie die toets nie; Alles kom tot niks, hoewel hy afsluit met die klein sprankie hoop dat genot ‘n gawe uit God se hand kan wees.

Continue reading

1 Korintiërs 14 – ’n Wye reeks gawes bou gelowiges op in die erediens

Na alles wat Paulus oor die gawes en die liefde gesê het, fokus hy in die hoofstuk op wat in die eredienste moet gebeur en maak basies twee punte: 1) alleen die gawes wat verstaanbaar en opbouend is, moet in die eredienste beoefen word (vers 1-25), en 2) alles moet met ’n sekere mate van orde gebeur (vers 26-40), omdat dit is hoe God Homself aan ons geopenbaar het (vers 33).  God se karakter, die liefde, struktureer dus die gebruik van ons gawes in liturgie en die erediens.

Hy brei uitvoerig uit oor die onverstaanbare onsinnigheid van tale in die erediens eerder as die verstaanbare opbouende karakter van profesie, veral ook omdat tale eintlik ’n teken vir die (lidmaat-)ongelowiges is (vgl Jes 28:11-12; Deut 28:49 – God se grootheid is raakgesien in die vreemde taal van die Assiriërs, hoewel dit nie begryp is nie).  Nie dat Paulus die gebruik van tale afkraak nie, hy gebruik dit immers self. Maar tale (glossolalie) is bedoel vir die binnekamer en aanbidding, nie soseer vir die eredienste en byeenkomste nie, omdat dit ’n gebedstaal is.

Paulus sal dus eerder 5 woorde met sy verstand wou praat (met ’n openbaring, kennis, profesie of lering) as 1000 woorde in ’n ongewone taal.  Dit is die volwasse manier om in eredienste op te tree, wat nie net vir gelowiges iets beteken nie (opbou), maar ook vir ongelowiges of buitestaanders (word aangespreek).

Orde beteken natuurlik nie ’n monoloog deur bv. ’n predikant nie!  Dit beteken net dat wanneer die gemeente bymekaar is, en elkeen ’n bydrae het om te lewer, moet hulle mekaar met liefde hanteer en een na die ander optree.  Let op hoe wyd die verskeidenheid van bydraes is waarvan Paulus hier praat: ’n psalm, onderwysing, openbaring, sowel as ’n ongewone taal en uitleg daarvan (anders moet die een wat die taal praat stilbly).  En daar kan 2 of 3 sprekers van die onderskeie gawes optree.

Ek het reeds oor die vroue geskryf by my bydrae oor hoofstuk 11 – genoeg om hier net te sê dat Paulus die ordelikheid van die byeenkoms in gedagte het – vrouens moet hulle mans by die huis gaan vra en nie die erediens onnodig onderbreek nie – nie dat vroue nie mag optree nie.

1 Korintiërs 13 – Die liefde is onmisbaar in alles

Hierdie is só ’n pragtige tekening van die hart van die Christelike geloof in die vorm van ’n gedig.  Dit besing eerstens die onmisbaarheid van die liefde in die gebruik van die gawes in ’n gemeente (1-3), dan die wyse waarop die liefde met die gawes tot sy reg kom in die gemeente (4-7), en dan die duursaamheid van die liefde bo alles anders (8-13).  Daarmee korrigeer Paulus die verkeerde idees wat die Korinte oor die liefde gehad het, wat eerder in onsedelikheid en afguns ontaard het.

Let op hoe Paulus regdeur van die gawes wat hy so pas genoem het (tale, profesie, kennis, geloof), eksplisiet relativeer en ondergeskik maak aan die liefde (4-7).  Selfs die bereidheid om jouself op te offer, word ondergeskik gestel aan die liefde. Om die waarheid te sê, gawes sal verdwyn, terwyl die liefde sal voortduur (8-13).  Dit geld natuurlik alle gawes.  Anders gestel, die gawes kom net tot hulle reg binne ’n konteks van liefde.

Hierdie tipe liefde is eienskappe van God (bv. Eks 34:6 – lankmoedig) wat Hy deur die Gees aan ons skenk (Gal 5:22).  Daarom maak die liefde dat ’n mens die gawes gebruik terwyl jy geduldig is met mense, vriendelik is en nie afgunstig nie, en verseker nie grootpraterig en verwaand daaroor nie.  Anders bring die gawes verdeeldheid en hoogmoed.  Liefde leer jou verder om nie onwelvoeglik op te tree daarmee nie, nie jou eie belang binne die liggaam te soek nie en ook nie liggeraak te wees oor wat ander doen nie.  Daarom hou die liefde ook nie boek van die kwaad nie.

Maar die liefde en die waarheid is verbind aan mekaar.  Daarom is onreg nooit iets waaroor ’n gelowige hom kan verbly nie. So, hoewel jy nie boekhou van die kwaad nie, kan onreg nooit aanvaar word nie.

Vers 7 belig ’n intesessante aspek van die liefde, dat hoewel dit nie bly is oor die onreg nie, dit tog in liefde bereid is om “alles te bedek”, dws om te verdra en te beskerm (NIV), wat ’n mens herinner aan Spreuke 10:12: “Haat verwek twis; liefde bedek alles wat aanstoot gee.”  Miskien is die beste manier om dit te verstaan dat die liefde nie ou wonde wil oopkrap nie, bereid is om ’n tweede myl te loop, bereid is om 70×7 keer te vergewe, bereid is om te verdra en vorentoe te kyk.  Daarby is die liefde bereid om onbevange ’n pad met mense te loop, en nie in sinisme te verval nie en mense te wantrou op grond van ervarings uit die verlede. Let op hoe die drie woorde (glo, hoop, verdra) in wese ooreenstem met die geloof, hoop en liefde van vers 13.

Liefde is ook meer duursaam as die gawes; profesie en tale sal verdwyn, en kennis sal uitgedien raak, wanneer ons eendag met God se oë na alles kan kyk, maar die liefde sal bly.

Vers 11 kontrasteer die onvolwasse gebruik van die gawes teenoor die volwasse gebruik daarvan.  Vers 12 kontrasteer ons gebrekkige verstaan van dinge teenoor die volle kennis wat eendag ons deel sal wees.

Wat hom uitbring by sy belangrike slot, dat al wat saak maak, is geloof, hoop en liefde, waarvan die liefde die grootste is.

1 Korintiërs 12 – Verskeidenheid dien die eenheid

Hoofstuk 12-14 handel oor die wyse waarop die gawes van die Gees in die gemeente gefunksioneer het.  Die gemeente se siening van die gawe van tale as die taal van die engele (13:1) en iets wat in ’n toestand van ekstase manifesteer (12:2) het gedreig om so oorbeklemtoon te word, dat die ander gawes oorheers is, en hulle eredienste onverstaanbaar begin word het.

Daarom fokus Paulus in hoofstuk 12 eerstens op die basiese belydenis van elke kind van God, dat Jesus die Here is (12:1-3).

Tweedens gebruik hy die tekening van God as Drie-enig (let op die drie woorde vir God in vers 4-6: Gees, Here, God wat met drie beskrywings van die gawes gekoppel word: genadegawes, bedieninge, kragtige werkinge) om aan die een kant die verskeidenheid van gawes wat van die persoon-ryke God kom, aan te moedig, maar aan die ander kant ook die gawes se inherente eenheid te beklemtoon omdat dié God een wese is.  Die onderskeie gawes van wysheid, kennis, geloof, gesondmaking, wonders, profesie, onderskeiding en tale kom van een Gees, en is daarom bedoel om tot die voordeel van almal in die een liggaam gebruik te word (12:7-11).

Daarmee hoop hy dat hulle met die vergelyk-speletjie sal ophou, en eerder die verskeidenheid van gawes sal gebruik tot stigting en opbou van die een liggaam van Christus in die gemeente.

Derdens brei hy uit oor die samehang van die gelowiges met hulle gawes in die een liggaam van Christus, die gemeente, wat beteken dat daar nie verdeeldheid kan wees nie (12:12-31).  Hy gebruik die beeld van ’n regte liggaam om die noodsaaklikheid van verskille (voet, hand, oor, oog) binne die groter organiese eenheid van die gemeente te demonstreer, maar ook die noodsaaklike en integrale eenheid te beklemtoon.  ’n Liggaam kan nie voortbestaan as dit verskeurd is nie.

As daar eenheid is, kan die liggaam se lede met integriteit gelyke sorg dra vir mekaar – onder andere deur mense wat spesifieke take ontvang het: apostels, profete en leraars – gawes wat veral met die Woord te make het; en deur mense wat gawes ontvang het om wonderdade te kan doen, mense gesond te maak, hulp te verleen (bystand), leiding te gee (kubernesis – bestuur of administreer), en ongewone tale of klanke te gebruik.  Die lysie kom ooreen met dié in vers 7-11, met 2 gawes wat bykom, hulp en leiding.  Dit wys dat die gawes nie ’n vaste aantal was nie, maar slegs as voorbeelde genoem word.

Paulus beklemtoon dat nie almal al die gawes het nie, en dat daar beter gawes is (profesie is bv. beter as die gawe van tale, soos hy in hoofstuk 14 sal wys), maar dat alles ondergeskik is aan die gawe van die liefde wat aan almal in die gemeente gegee is, waaroor hoofstuk 13 handel.

Onlangse kommentaar

  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms