Skip to main content

Bid vir reën soos Elia van ouds

Die idee dat God reën gee en weerhou is helder ingebed in die OT.

http://paulbdyal.blogspot.co.za/2017/05/a-hand-rising-from-sea.html

Moses skrywe daaroor in sy tweede en derde preek net vóór die Intog in Kanaän en waarsku die volk dat God se seën aan gehoorsaamheid en sy straf aan ongehoorsaamheid verbind is (Deut 11; Deut 27; Deut 28).

Die Psalms verkondig dieselfde waarheid (Ps 3-4Ps 39) sowel as die profeet Esegiël (Eseg 25).

‘n Helder voorbeeld hiervan is die profeet Elia wat in opdrag van die Here droogte aankondig, vanweë die sonde van Agab, en drie jaar later weer die reën, nadat die mag van die Baälprofete gebreek is (1 Kon 17-18).

Hierdie helder Skrifgetuienis lê agter die oproep om hierdie God aan te roep as dit droog is en jou voor Hom te verootmoedig en uitkoms te vra. Trouens, dit is die enigste rede waarom ons op enige plek kan bymekaar kom om te bid. God belowe dat Hy gebede sal beantwoord.

Daarom is die Here se woord aan Salomo steeds geldig, maak nie saak wie voor Hom verskyn nie:

As Ek die hemel toesluit, dat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land af te eet, of as Ek pes onder my volk stuur, en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.” (2 Kron 7:13-14).

God sal luister na dié wat hulle voor Hom verootmoedig en van Hom vra. Dit glo ek met my hele hart. Hy luister self na vreemdelinge, soos Salomo in sy gebed onderstreep. God luister:

ook na die uitlander wat nie uit u volk Israel is nie … sodat al die volke van die aarde u Naam mag ken en U vrees soos u volk Israel” (2 Kron 7:32-33)!

Hierdie OT Woord is alreeds ‘n duidelike woord wat deur gelowiges (en vreemdlinge) ter harte geneem moet en kan word. Dit is die wonderlike Skriftuurlike basis waarop ons kan en mag vra dat God sal ingryp, want ons glo dat God in beheer is van die natuur. Hy is na alles die Skepper en Instandhouer van die heelal, soos talle van ons elke Sondag met die Apostoliese Geloofsbelydenis bely.

Wat baie gelowiges egter vergeet, is dat dié boodskap net so sterk in die NT verkondig word.

Lees net weer vir Jakobus wat die voorbeeld van die biddende Elia aangryp as ‘n model wat ons kan navolg. Hy wil hê dat ons, soos Hy, sake van belang voor God sal bring, en sóós hy ernstig sal bid en intree.

Hoekom?

Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking. Elia was ’n mens net soos ons. Hy het ernstig gebid dat dit nie moet reën nie, en in die land het dit drie jaar en ses maande lank nie gereën nie. Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy oes gelewer.” (Jak 5:16-18).

Meer nog, die mag oor die natuur word aan die getuienis van die kerk in die wêreld verbind. Lees weer die Openbaring van Johannes wat sê:

Hulle (die twee getuies) het die mag om die hemel toe te sluit, sodat daar gedurende die hele tyd wanneer hulle God se boodskap verkondig, geen reën sal val nie. Hulle het ook die mag om al die water in bloed te verander en om die aarde met allerhande plae te tref so dikwels as hulle dit nodig vind.” (Openb 11:6).

Hierdie twee getuies is waarskynlik ‘n metafoor vir die getuienis van die kerk, soos talle teoloë dit uitlê. Wat beteken dat ons as kerk ook kan saamkom om by die Here in te tree vir die breek van die droogte, soos hierdie getuies, en soos ‘n Elia.

Trouens, dit is wat Jesus doen. Hy tree vir ons vanuit die hemel in (Hebr 9:24), en ons bid in die Gees dat Hy alles ten goede sal laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, al weet ons nie eers altyd hoe ons moet bid nie (Rom 8:28).

Dit maak natuurlik nie saak in watter gestalte van die kerk ons is nie, klein of groot, jonk of oud. Die belangrike is om te bid, sodat God se eer in ons konteks voorop kan staan. En daar uitkoms kan kom.

Daar is sommige wat Jesus aanhaal (Matt 5:45) wat gesê het dat God reën gee oor regverdiges en onregverdiges, en dat dit beteken dat sonde geen rol speel nie. Dit is aan die een kant waar. God se reën is bedoel vir almal, sonder uitsondering.

Maar aan die ander kant is dit ‘n halwe waarheid. Jesus praat nie daar oor droogtes nie. Hy praat daar oor ons liefde vir ons vyande. Ons moet dus die konteks waarin Jesus dit sê reg lees. Hy gebruik dié voorbeeld van God se algemene genade in die Bergrede om ons op te roep om ons vyande lief te hê, en nie self vyandig te wees nie (Matt 5:44-48). Hy maak nie ‘n uitspraak oor droogtes nie.

Jesus het nie gesê dat daar nooit droogtes sal wees nie. Hy het nie gesê dat God nooit sal optree teen mense wat ongehoorsaam is nie. Inteendeel. Hy waarsku in dieselfde Bergrede dat ons nie moet dink dat ons die wet van God kan verbreek en skotvry daarvan afkom nie. Hy gee ses voorbeelde daarvan juis in Matteus 5!

Die waarheid van die Skrif is nie net dat God seën nie. God straf ook. En dit gebeur in dié lewe, selfs in gemeentes (Ananias en Safira – Hand 5; Swakkes, siekes en sterfgevalle in die gemeente weens die onwaardige gebruik van die nagmaal – 1 Kor 11), sowel as in die lewe wat kom (Matt 25:46; 2 Tess 1:9; Hebr 10:29; Jud 7,11).

Die hele Skrif moet gebruik word in ons teologie, nie net een aanhaling uit die Bergrede waarmee nie net die res van die hoofstuk as konteks geïgnoreer word nie, maar die res van die Skrifboodskap ontkrag word nie.

Trouens, gemeentes word opgeroep om ongehoorsaamheid te straf (2 Kor 10:6). As daar dus oor sonde gepraat en dit bely word, is dit nie net die korrupsie en misdaad daar buite nie. Dit is ook die sondes wat binne gemeentes gepleeg word, ook dié waarin ons nie ons verpligting nakom om ongehoorsaamheid van lidmate met die opsig en tug te hanteer nie.

Bid ernstig dat die Here die droogte sal breek

Waar jy dus ook al jouself bevind, begin om ernstig in te tree en soos ‘n Elia van ouds te vra dat die Here uitkoms sal gee in die Wes-Kaap en Oos-Kaap en enige ander plek in ons land waar die droogte nou krisis afmetings aanneem. Jy kan gerus ook vir die wêreld bid, maar ons fokus is nou duidelik in Suidelike Afrika. Onthou Namibië sukkel ook plek plek.

Baie kerke bid die 14de Februarie saam. Ek hou ‘n byeenkoms dié aand in Somerstrand gemeente om 17:30. Jy is welkom om saam te kom bid! Die Bybelskool sal net daarna om 18:15-19:00 hervat oor Josua.

Daar is ook ‘n groot byeenkoms in die Kaap die 24ste Maart van Angus Buchan. Moenie dat jou vooroordele in die pad staan van gesamentlike gebed nie.

Maar jy het ook ‘n binnekamer. Kom op jou knieë en bid!

Die Here luister na die gebed van ‘n regverdige.

En bid dat die Here se Naam in dit alles geëer word.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

gebed


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda