Hebreërs 10:19-39 – Laat ons die heiligdom ingaan met vrymoedigheid
Die skrywer rond nou die tema af wat hy in hfst. 5 begin het deur die geloofsgemeenskap op te roep om nie vas te val by die basiese prediking oor Christus nie – die “melk” van “die bekering van dooie werke, van geloof in God, van dooponderrig, oplegging van hande, opstanding uit die dood en van ewige oordeel” (6:1-2) – en eerder te fokus op die “vaste kos” van onder andere “die boodskap van regverdiging”, “die aanvoeling, deur gewoonte geoefen, om te kan onderskei tussen goed en kwaad” (5:13-14) en “die volle sekerheid van die hoop” op God se beloftes (6:11).
Dit is immers waarom hy die moeite gedoen het om die omvattende waarde van Jesus se Hoëpriesterskap uit te spel in hfst. 7-10, want die regte perspektief daarop, sal hulle in staat stel om geestelike volwasse te word en die wedloop te hardloop wat vir elkeen van hulle voorlê. Hy staan immers in vir hulle verlede, hede en toekoms.
10:18-25 – Laat ons tot God nader met vrymoedigheid
Die onderwerp wat hy nou aanraak, is die feit dat ons vrymoedigheid het om met God gemeenskap te hou: “ons het dus vrymoedigheid deur die bloed van Jesus om in te gaan na die heiligdom langs ’n nuwe en lewende weg wat Hy vir ons geopen het.” Soos Paulus op soortgelyke wyse aan die Efesiërs skryf, het ons dus in Jesus Christus “deur ons geloof sekere en vrymoedige toegang tot God” (Ef. 3:12).
Daarom die oproep om hierdie vrymoedigheid aan te gryp in ons verhouding met God: “Laat ons daarom ingaan met ’n opregte hart, in volle geloofsekerheid, met ons harte besprinkel, vry van ’n slegte gewete, en ons liggame gewas met skoon water.” Laasgenoemde verwys na die doop. Let ook op die samehang van die interne reinigingswerk van God met die uiterlike teken daarvan, die doop.
Dit is dus nie genoeg om mense by geloofsekerheid uit te bring nie, hoe belangrik dit ook al is by die begin van die pad met God. Geestelike groei kom wanneer ons vrymoedigheid voor God eksponensieel toeneem soos ons al hoe meer die voorreg om met Hom gemeenskap te hou, benut (10:22), in alles fokus daarop om sy wil te doen (10:36) en so te groei in die geloof wat lei tot behoud van die lewe (of “siel” – 10:39).
Die Griekse woord wat die skrywer hier vir vrymoedigheid gebruik, is parrēsia en dra ook die betekenisse van moed, vertroue, reguit en openhartig (in Engels: courage, boldness, confidence, en frankness).
Vrymoedigheid is só noodsaaklik in ons kontak en gesprek met God. Sonder dié vrymoedigheid kan ons moeilik vir Johannes navolg waar hy skryf: “En dit is die vrymoedigheid wat ons voor Hom het: Dat Hy ons gebede verhoor as ons iets volgens sy wil vra. En as ons weet dat Hy ons verhoor in alles wat ons vra, weet ons dat ons alles ontvang wat ons van Hom vra.” (1 Joh. 5:14-15).
Dit is net so noodsaaklik in ons omgang met mense. Van Paulus word bv. gesê dat hy die koninkryk van God verkondig het en die mense van Rome “met alle vrymoedigheid en ongehinderd oor die Here Jesus Christus onderrig,” het (Hand. 29:31; vgl. Ef. 6:19). En hy wys uit hoe goeie dienswerk (diakens) in die gemeente ’n mens se vrymoedigheid in die geloof laat groei (1 Tim. 3:13).
Ons moet egter nie net persoonlik op vrymoedigheid fokus nie, maar ons moet ons ook “daarop toelê om mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade”, boonop sonder dat ons in die proses ons eie samekomste verwaarloos, soos sommige ongelukkig die gewoonte gehad het in sy tyd (10:24-25).
Die volwasse wordende geestelike lewe bestaan dus uit 1) persoonlike toewyding, 2) aansporing en bemoediging van medelowiges tot liefde en goeie dade, sowel as 3) gereëlde samekomste as geloofsgemeenskap. Dít is die dinge wat ons vrymoedigheid in die teenwoordigheid van die Here bevorder en ons in staat stel om die beloftes wat Hy vir ons in vervulling wil laat gaan, in ontvangs te neem.
10:26-31 – Moenie God se gawes gering ag nie
Na die positiewe aanmoediging om in hulle vrymoedigheid teenoor God te groei, waarsku die skrywer hulle ernstig dat die alternatief eenvoudig verskriklik sal wees. “As ons willens en wetens sondig” bly daar niks oor om ons situasie te beredder nie. “Hoeveel erger straf dink julle sal iemand verdien wat die Seun van God vertrap het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, gering geag het en die Gees van genade uitgedaag het.” Sterk woorde!
Dit is ’n kant van God wat baie van ons nie graag wil hoor nie, maar wat noodsaaklik is om regtig te agterkom wat op die spel is. Die skrywer is oortuig dat niemand van hulle geloofsgemeenskap dié pad sal volg nie, maar hy waarsku nietemin sterk, omdat hy ook dié kant van God ken.
10:32-39 – Moenie julle vrymoedigheid prysgee nie
Hy herinner hulle dus aan die stryd wat hulle aanvanklik gehad het toe hulle tot geloof gekom het: beledigings, verdrukking, bespotting en verlies van besittings. Wat hulle toe aangespoor het, was die wete dat hulle ’n beter en blywende besitting het, iets waaroor hy verder sal uitbrei in die volgende hoofstuk.
Dit is ook die rede vir die dringende oproep: “Julle moet dus nie julle vrymoedigheid prysgee nie; dit hou ’n groot beloning in.” (10:35). Dit is immers hierdie vrymoedigheid in ons verhouding met God wat ons in staat stel om te bid en te volhard.
Hy bemoedig hulle dus dat die uitkoms naby is, want net nog ’n kort rukkie, “en Hy wat kom, sal kom en nie talm nie.” Wat nodig is dat hulle uit die geloof in God sal bly lewe en hulle nie aan Hom onttrek en só afdwaal van die geloof nie.
Boodskap
In die lig van die omvattende voorsiening wat Jesus Christus vir elkeen van God se kinders gemaak het om gemeenskap met God te geniet, is dit geen wonder dat die skrywer hulle oproep om met vrymoedigheid self die heiligdom van God in te gaan. Die pad is oop en niks moet ons verhinder om in hierdie gemeenskap te volhard nie. Trouens, ons moet mekaar voortdurend daartoe aanmoedig. Enigiets minder sal dislojaal wees aan dié Een wat sy lewe daarvoor gegee het.
In die volgende hoofstukke sal die skrywer ons verder herinner aan die skare van voorbeelde van vrymoedige geloofsvolharding wat ons aanmoedig en inspireer (hfst. 11), sodat ons hierdie wedloop van geloof self met volharding sal hardloop, veral in die lig van die sonde wat ons so maklik aankleef, so maklik ons vrymoedigheid wegneem, en ons geestelik moeg kan maak (hfst. 12).
engela
Ds ek leesHeb 10 maar graag vers 34 en 35 beter verstaan. Kan asb verduidelik
Chris van Wyk
Die gemeente is met hulle ontstaan aan baie beledigings en vervolgings blootgestel. Hulle is bespot en beroof van hulle besittings. Maar dit het hulle nie gekeer om steeds vir die gevangenes meegevoel te hê nie. Onthou gevangenes moes deur familie en vriende in die tronk onderhou word, anders het hulle van honger en dors doodgegaan. Hulle het ook nie gekla oor hulle besittings wat afgeneem is weens hulle geloof nie, want hulle het geweet dat hulle ‘n besitting in die hemel het wat beter en blywend is. Dieselfde tipe ding word van Jesus gesê in hfst. 12 dat Hy die skande van die kruis verduur het, omdat Hy vasgegryp het aan die vreugde wat vir Hom anderkant die dood gelê het.
Maar, sê die skrywer, dié geloofsvertroue kan deur die lyding in gedrang kom. Sorg dus dat julle dit nie prysgee nie, want dit hou ‘n groot beloning in die hiernamaals in. Gelowige moet mekaar in geloofsvertroue voorgaan en ondersteun dat dit nie êrens blyk iemand het verlore geraak in die stryd van die geloof waaraan ons almal blootgestel is.
Lorraine Paquet
Dankie Ds
Dit verduidelik vrymoedigheid so goed. Beteken baie.