Hebreërs 9:23-10:18 – Jesus Christus verskyn in die heiligdom voor God ter wille van ons

HebreërsDie skrywer kom nou by die derde gevolg van Jesus se Hoëpriesterskap:

  • Benewens die feit dat Jesus in die eerste plek tussen ons en God staan as Middelaar om ons met Hom te versoen (Hebr. 8:1-13),
  • benewens die feit dat Hy in die tweede plek ons gewete reinig van dooie werke om die lewende God vandag te dien (Hebr. 9:1-22),
  • verskyn Hy in die derde plek in die hemelse heiligdom voor God ter wille van ons totdat Hy weer kom om ons te verlos (Hebr. 9:23-10:18).

En dít doen Hy vir ewig.

Die skrywer spel hierdie derde gevolg van Jesus se Hoëpriesterskap in twee perikope uit:

  • Jesus reinig die hemelse heiligdom deur sy bloed – 9:23-28
  • Jesus maak ons heilig eens en vir altyd – 10:1-18

9:23-28 – Jesus reinig die hemelse heiligdom deur sy bloed

Let op dat sonde hier nie net as iets geteken word wat ’n effek op die sondaar en sy gemeenskap het nie, maar dat dit inderdaad ’n invloed in die hemel gehad het.  Sonde het ’n wig ingedryf tussen ons en God, want dit het sy verhouding met ons besoedel.  Daarom was dit nodig dat Jesus ’n offer bring wat die afstand tussen God en ons kon oorbrug, en so “die sonde ter syde te stel”, waarna Hy die voorreg kon benut om “nou ter wille van ons voor God te verskyn”.

Dít kon die aardse rituele van die aardse heiligdom nooit regkry nie, want dit het beperkinge in terme van ruimte en tyd gehad.  Dit was uiteraard aardsgebonde, maar ook lewensduurte gebonde – die hoëpriesters het immers almal gesterwe!  Jesus daarenteen is die Een wat ewig lewe.  Met Sy kruisdood, opstanding en hemelvaart het Hy die hemelse heiligdom gereinig en God se guns vir mense verwerf.  Met Sy wederkoms sal Hy die proses voltooi, waarmee ons, wat Hom verwag, nie maar net van ons sondes bevry sal word nie – Hy het immers reeds daarvoor gesorg – maar volkome verlos sal word (9:28).

10:1-18 – Jesus maak ons heilig eens en vir altyd

Die skrywer hak by wyse van vergelyking aan by die offerkultus van die OT wat sy waarde gehad het, maar nooit die aanbidders tot volmaaktheid kon bring nie.  Die offers van die OT kultus kon nie die besef van sonde uitwis nie, iets wat inderdaad moontlik is in die nuwe bedeling wat Jesus gebring het.  Trouens, die gedurige offers het juis die aanbidders aan hulle sondes herinner, want die bloed van die diere offers kon per slot van sake onmoontlik hulle sondes weggeneem het.

Daarom was die offer van Jesus nodig met die liggaam wat God vir Hom voorberei het: “Kyk, hier is Ek om u wil te doen, o God!” aangehaal uit Psalm 40:7-9 as heenwysing na Jesus Christus.  Die Levitiese offerstelsel is daarmee beëindig met die volmaakte offer van Christus: “Volgens sy wil is ons heilig gemaak deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, eens en vir altyd.

Sedertdien wag Jesus totdat sy vyande “’n voetbank vir sy voete gemaak word, want deur een offer het Hy hulle wat geheilig word, vir altyd vervolmaak.”  Dít is die erfenis van elkeen wat in Hom glo.  Dít is die verbond wat met ons gesluit word dat God nie net sy wette in ons harte gee en op ons verstand neerskryf nie, maar glad nie meer aan ons sondes en ons wettelose dade dink nie!

Die besef van sonde is dus uit God se geheue weggeneem deur die offer van Jesus … dit is die omvattende betekenis van hierdie boodskap.  Dít is waarom daar ook nie meer ’n offer vir ons sondes nodig is nie, want die vergifnis wat Jesus gebring het, het God se geheue vir ons sonde uitgewis: “Ek sal glad nie meer aan hulle sondes en aan hulle wettelose dade dink nie.

Boodskap

Die werk van Jesus Christus in elkeen van ons se lewe is van onskatbare waarde.  Dit omvat ons hele lewe.  Daar is niks waarvoor Jesus nie verantwoordelikheid vat in ons lewe nie:

  • Jesus het afgehandel met ons verlede deur ons met God te versoen (Hebr. 8). Ons kan daarop staatmaak!
  • Jesus stel ons in staat om God te dien vandag, omdat ons gewete gereinig is en ons sonder skroom voor God kan staan (Hebr. 9). Al wat nodig is om die waarde hiervan te geniet, is om ons skuld voor Hom te bely en sy belofte om ons gewete te reinig, vir onsself toe te eien en God dan met alles in ons te dien (vgl. ook 1 Joh. 1:9: “As ons ons sondes erken – Hy is getrou en regverdig en daarom sal Hy ons ons sondes vergewe en ons van alle kwaad reinig.”).
  • Jesus neem verantwoordelikheid vir ons toekoms deurdat Hy 1) vir altyd voor God verskyn ter wille van ons en 2) ons heilig maak eens en vir altyd (Hebr. 10). En daarmee sal Hy nooit ophou nie, totdat Hy weer kom ons te verlos en Hy ons aan God bekend sal stel met die woorde: “Kyk, hier is Ek en die kinders wat God My gegee het!” (Hebr. 2:13).

Dít is natuurlik ook waarom ons niks anders as Hy nodig het nie.  Jesus is genoeg.  Hy handel met verlede, hede en toekoms.  Jesus is meer as genoeg.  Hy sal ons nooit in die steek laat nie.  Hy sal ons verlos.

Hebreërs


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: