Judas – Bestry dwaalleer en bou julle lewe op julle heiligste geloof

Inleiding op Judas

600-x-800px-Voorblad---Petrus-JudasDie brief van Judas word geskryf deur die: “dienskneg van Jesus Christus en broer van Jakobus.” (Jud. 1). Daarmee kies Judas om sy geloofsbande met Jesus te beklemtoon eerder as sy familiebande. Sy verwantskap met Jakobus maak dit egter tog duidelik dat hy familie van Jesus is. Saam met die brief van Jakobus het ons dus briewe van twee van Jesus se broers in die NT.

In vers 3-4 spel Judas die aanleidende rede uit vir die skryf van die brief, hoewel ons nie presies weet wie dié groep gelowiges is aan wie hy dit gerig het nie. Dit is aan die een kant om die leringe van dwaalleraars te bestry wat verdeeldheid en onsekerheid onder hulle gesaai het (vers 4). Aan die ander kant skryf hy om hulle op te roep om hulle lewe te bou op hul heiligste geloof (vers 3).

Hierdie twee temas bepaal dan ook die indeling van sy boodskap in die res van die brief. Die tema van vers 4 word eerste behandel en dié van vers 3 tweede:

  • Die leringe van die dwaalleraars word bestry in vers 5-19 veral met die uitleg van bekende temas uit die Joodse geskiedenis, waarin ‘n mens ses OT temas (Eksodus, Vloedverhaal, Sodom en Gomorra, Kain, Bileam, Korag), kan herken, ook twee temas uit die pseudepigrafiese werke Henog 1 (vers 14-15 – profesie van Henog) en die Hemelvaart van Moses (vers 9 – stryd tussen Migael en die duiwel) en nog verwysings na engele en hemelwesens uit twee ander werke. Pseudepigrafiese werke is Joodse werke uit dié tyd wat toegeskryf is aan historiese persoonlikhede om daaraan gesag te verleen, maar nie deur hulle geskryf is nie. Die woord pseudepigrafies beteken letterlik “valse geskrifte”, wat egter nie beteken dat die inhoud vals is nie, maar dat die titel daarvan misleidend is. Hierdie temas van die Joodse geskiedenis word aangevul met die uitleg van ‘n tema uit die woorde van die apostels van die NT (vers 18).
  • Die oproep om hulle lewe op hul heiligste geloof te bou, word in vers 20-23 behandel. Dit is opvallend hoe Judas dié geloof op Trinitariese wyse uitspel – gebed deur die Gees, bewaring deur die liefde van God, en die hoop geskoei op die ontferming van die Here Jesus Christus. Dít is die wyse waarop ‘n mens jou lewe bou op jou heiligste geloof. Dit is ook die basis vir ons ontferming oor dié wat twyfel.

Judas se klem op temas uit die Joodse geskiedenis en sy aanvaarding dat dit bekend sal wees vir sy lesers, beteken dus waarskynlik dat hulle Joodse Christene was, anders as wat die geval was met die geloofsgemeenskap waaraan Petrus sy briewe gerig het.

Vers 24-25 eindig die brief met ‘n lofprysing op die bewarende krag van God, eerder as die verwagte groeteboodskap soos in ander NT briewe.

Die verband tussen Judas en 2 Petrus 2

Daar is redelike verskil van mening oor hoe die verband tussen hoofstuk 2 van die 2de brief van Petrus en die brief van Judas verklaar moet word. Vyftien verse uit die brief van Judas se vyf en twintig verse kom in sy geheel of gedeeltelik ook in hierdie tweede hoofstuk van Petrus voor.

Sommige geleerdes dink dat Judas staatmaak op Petrus, omdat dit uit Petrus se brief lyk asof die uitdaging van die dwaalleraars nog net begin het (“omdat daar onder julle vals leraars sal wees” – 2 Pet. 2:1), terwyl dit uit Judas se brief lyk asof die uitdaging in volle swang is (“sekere mense … het julle geledere binnegesypel” – Jud. 4).

Die meerderheid geleerdes dink egter dat dit eerder Petrus is wat Judas se brief gebruik, omdat Petrus nie nét in die toekomstige tyd oor hulle skryf nie (“Hulle is roekelose arrogante mense” – 2 Pet. 2:10), en dit lyk asof Petrus se gebruik van die toekomstige tyd meer ‘n retoriese skryfstyl is. Uit Judas se brief blyk dit immers ook duidelik dat die uitdaging nog maar so pas begin het. Judas moes sy planne om oor hulle gemeenskaplike verlossing te skrywe, verander en is weens die skielike uitdaging van die dwaalleraars genoodsaak om eers daaroor te skrywe (Jud. 3).

Dié mening word verder ondersteun deur die feit dat Petrus se brief ook meer uitgebreid is as die brief van Judas. Dit maak meer sin dat die korter weergawe eerste is, en die langer weergawe tweede. Daarby is dit duidelik dat Petrus wel dieselfde temas uit die Joodse pseudepigrafiese werke aanhaal, maar sonder om dit, soos Judas wel doen, direk aan te haal. Sommige sê dat dit Juda se prioriteit aandui, maar ‘n mens kan dit natuurlik andersom ook argumenteer!

Die ander moontlikheid is dat Petrus en Judas onafhanklik van mekaar ‘n ander en gemeenskaplike bron gebruik, bv. ‘n bestaande stuk kategetiese onderrigmateriaal, maar elkeen op sy eie manier. So ‘n moontlikheid is waarskynlik die eenvoudigste verklaring, maar ons sal nooit volle sekerheid oor enigeeen van die drie standpunte kan hê nie.

Ek het ‘n tabel aan die einde van hierdie bydrae geplaas wat die ooreenstemmende gedeeltes tussen Judas en 2 Petrus langs mekaar sit, sodat jy self die ooreenkomste en verskille kan vergelyk en tot jou eie gevolgtrekking kan kom. Interessante leesstof!

Judas se gebruik van pseudepigrafiese bronne

Judas haal een keer eksplisiet ‘n profesie van Henog aan in vers 14-15 uit ‘n pseudepigrafiese bron, Henog 1:9 (Engelse vertaling). Daar is ook ‘n verwysing na ‘n gesprek tussen die aartsengel Migael en die duiwel uit die Hemelvaart van Moses in vers 9 (Engelse vertaling) en waarskynlik ook nog verwysings na engele uit die Testament van Naftali in vers 6 (Engelse weergawe) en na hemelwesens uit die Testament van Aser in vers 8 (Engelse weergawe).

Hoewel Judas nie daarmee noodwendig gesag verleen aan dié bronne nie, en eerder wys dat hy deeglik bekend is met die gesag wat sy waarskynlik merendeels Joodse lesers aan dié bronne toeken, het dit gelei daartoe dat die kerk baie lank geworstel het daarmee of die brief van Judas in die kanon ingesluit moes word. Augustinus het onder andere baie skerp te velde getrek teen die ongebreidelde gebruik van die apokriewe (“verborge” of “geheime” boeke – die term wat veral in Rooms-Katolieke geledere vir dié boeke gebruik word) of pseudepigrafiese werke (“valse geskrifte” – die term wat vandag veral in Protestantse geledere gebruik word – onthou dit het met die misleiding van die titel te make, nie noodwendig met die inhoud daarvan nie) wat die kerk onseker gemaak het oor die insluiting van die brief van Judas in die Bybel .

Die feit dat die outeurskap van die brief eintlik van die begin af duidelik aan Judas, die broer van Jesus en Jakobus, gekoppel is, het waarskynlik bygedra dat dit tóg as outentieke brief uiteindelik in die kanon ingesluit is.

Indeling

Die brief van Judas kan dus op grond van die inhoud as volg ingedeel word:

  • Inleiding – vers 1-2
  • Aanleiding – vers 3-4
  • Bestryding van dwaalleer – vers 5-19
  • Oproep om hulle lewe te bou op hul heiligste geloof – vers 20-23
  • Lofprysing – vers 24-25

Vers 1-2 – Inleiding

Judas skryf as: “dienskneg van Jesus Christus en broer van Jakobus.” (Jud. 1). Daarmee kies Judas om sy geloofsbande met Jesus te beklemtoon eerder as sy familiebande. Sy verwantskap met Jakobus maak dit egter tog duidelik dat hy familie van Jesus is. Saam met die brief van Jakobus het ons dus briewe van twee van Jesus se broers in die NT (vgl. Mark. 6:3: “Jakobus, Joses [variante spelling van Josef], Judas en Simon”; Matt. 13:55: “Jakobus, Josef, Simon en Judas”).

Vers 3-4 – Aanleiding

Judas val direk weg met die aanleidende rede van sy brief, hoewel ons nie presies weet wie dié groep gelowiges is aan wie hy dit gerig het nie. Hy wil aan die een kant die leringe van dwaalleraars bestry wat verdeeldheid en onsekerheid onder hulle gesaai het (vers 4). Aan die ander kant skryf hy om hulle op te roep om hulle lewe te bou op hul heiligste geloof (vers 3).

Judas noem dié dwaalleraars goddeloses – praktiese ateïste, mense wat sê hulle glo in God, maar leeef asof Hy nie bestaan nie – en losbandiges wat nie net God se genade misbruik het tot hulle eie voordeel nie, maar die gesag van die Here Jesus Christus verwerp het. Petrus noem hulle vals leraars – soortgelyk aan die vals profete van die OT – wat die Here Jesus verloën. Hy is ook duidelik daaroor dat dit tot hulle eie skade en ondergang is.

Vers 5-19 – Bestryding van dwaalleer

Die leringe van die dwaalleraars word bestry met veral die uitleg van bekende temas uit die Joodse geskiedenis, waarin ‘n mens ses OT temas (Eksodus, Vloedverhaal, Sodom en Gomorra, Kain, Bileam, Korag – Petrus gebruik nie die voorbeelde van die Eksodus, Kain en Korag nie), kan herken, ook twee temas uit die pseudepigrafiese werke Henog 1:9 (Engelse vertaling – vers 14-15 – profesie van Henog – Petrus verwys nie hierna nie) en die Hemelvaart van Moses ((Engelse vertaling – vers 9 – stryd tussen Migael en die duiwel) en nog verwysings na engele en hemelwesens uit twee ander werke (Testament van Naftali in vers 6 – Engelse weergawe – en die Testament van Aser in vers 8 – Engelse weergawe – Petrus verwys ook waarskynlik hierna). Hierdie temas van die Joodse geskiedenis word later aangevul met die uitleg van ‘n tema uit die woorde van die apostels van die NT, sonder om die verwysing eksplisiet aan te dui (vers 18 – soos Petrus ook doen).

Judas gebruik die voorbeelde om die geloofsgemeenskap nie net te help om die dwaalleringe uit te ken nie, maar inderdaad versigtig te kan wees om nie op dieselfde wyse as hulle van die evangelie van Jesus Christus af te dwaal nie. Die voorbeelde uit die verlede is “waarskuwende voorbeelde” wat dien as afskrikmiddel weens die ellende wat hulle getref het.

1.  Die eerste voorbeeld uit Eksodus (vers 5) herroep die eerste geslag in die woestyn wat nie op die Here vertrou het om hulle die land van Kanaän in te lei nie. Hulle is in die woestyn dood.

2.  Die tweede voorbeeld kom uit die pseudepigrafiese werke Henog en die Testament van Naftali (vers 6) met verwysing ook na die verhaal in Genesis 6:1-4 oor die engele wat nie God se gesag oor hulle aanvaar het nie, en met mense vermeng het. Hulle het daardeur hulle posisie voor God verloor en word in bewaring gehou vir die einde van die tyd en die oordeel.

3.  Die derde voorbeeld kom ook uit die verhaal van Genesis 19 (vers 7) en herroep die verhaal van Sodom en Gomorra en verbind dit aan die Genesis 6 verhaal. Dit is interessant dat dit nie die geweld van die beplande verkragting van Genesis 19 is wat hier in herinnering geroep word nie, maar die teen-natuurlike perverse karakter van die tipe seksuele omgang. Hulle is daarom deur God verwoes. Judas verwys anders as Petrus nie na Lot se ervarings nie.

4.  Die vierde voorbeeld kom uit die Hemelvaart van Moses (vers 8-9) en haal die gesprek tussen Migael en die duiwel aan as veroordeling van die dwaalleraars wat nie dieselfde respek in hulle eie gesprekke oor hemelwesens as Migael betoon het nie.

5. – 7. Die vyfde tot sewende voorbeeld kom uit Genesis 4 (Kain), Numeri 22-24 (Bileam), en Numeri 16 (Korag). Daarmee word moord (Kain was nie net die eerste moordenaar nie, maar ook dié een wat hom téén God en sy broer verset het, en daarmee die dubbele liefdesgebod verbreek het), onsedelikheid en hebsug (vgl. Num. 31:16; Deut. 23:4-5; Openb. 2:14 vir meer inligting oor Bileam) sowel as die verwerping van godsdienstige gesag (Korag, Datan en Abiram het hulle teen Moses en Aäron se leiing verset en die tragiese gevolge gedra) veroordeel.

Judas beskryf hierdie dwaalleraars daarom as “skandvlekke”, mense wat skaamteloos net vir hulleself sorg. Met ses verskriklike metafore beskryf hy hulle as: “miswolke wat deur die winde voortgedryf word”, “bome in die laatherfs wat sonder vrugte staan”, mense wat “twee maal dood” is – omdat hulle die lewe wat aan hulle voorgehou is, verloën het – “ontwortel”, “woeste seegolwe wat hulle eie skandes laat opskuim”, en “dwaalsterre” vir wie net die diepste duisternis voorlê (versus die drie metafore van Petrus).

8. – 9. Hy vervolg met nog twee voorbeelde, die agste een ‘n profesie uit Henog gemik teen die dwaalleraars se goddeloosheid (vers 14-16 – vgl. Gen. 5:4-20 vir sy geslagsregister), en die negende een uit die boodskap van die apostels gemik teen hulle gespottery (vers 17-18 – vgl. die volgende gedeeltes vir ‘n algemene tematiese ooreenstemming: 1 Tim. 4:1; 2 Tim. 3:1; 4:3; selfs ook Mark. 13:6,22).

Opsommenderwys beskryf hy hulle ten slotte as “klaagsiekes”, “knorpotte”, mense wat hulle “eie drange uitleef, “grootmond” wat ander “vlei … vir eie gewin”. Meer negatief kan ‘n mens dit amper nie stel nie! Dit is hulle wat skeuring bring omdat hulle nie met die dinge van die Gees werk nie, maar net et hulle eie begeerte, d.w.s. aardse dinge.

Vers 20-23 – Oproep om hulle lewe te bou op hul heiligste geloof

Daarteenoor spel Judas uit hoe die geloofsgemeenskap moet optree. Dit is opvallend hoe Judas dié geloof op Trinitariese wyse uitspel:

  1. Bou julle lewe op julle heiligste geloof, terwyl julle deur die Heilige Gees bid.” Hulle geloof in God word hier direk gebind aan hulle gebed deur die Gees. ‘n Mens herroep die opdrag van Paulus dat die Gees ons juis in ons swakheid bystaan en vir ons pleit met sugtinge wat nie met woorde gesê word nie (Rom. 8:26). Dit is iets wat ons altyd moet doen (Ef. 6:18).
  2. Bewaar julleself in die liefde van God, terwyl julle die ontferming van ons Here Jesus Christus met die oog op die ewige lewe verwag.” God se liefde is soos ‘n jas wat ons moet aantrek, sodat ons daarin kan bly en dit ons kan bewaar. En dit is iets wat nie net vir hierdie lewe betekenis het nie, maar ook vir die toekoms. Let op dat ons toekoms toegevou is in die ontferming van die Here Jesus Christus.

Dít is die wyse waarop ‘n mens jou lewe bou op jou heiligste geloof. Dit is ook die basis vir ons ontferming oor dié wat twyfel. God se ontferming vir ons, moet ons ook tot ontferming vir ander aanspoor, maar met versigtigheid dat dit nie negatief impakteer op ons eie verhouding met die Here nie. Let op hoe mense wat “twyfel” van naby af omhels word, maar dié wat verder afgedwaal het, meer drastiese stappe verg: sommige moet ons: “red deur hulle uit die vuur te ruk” en ander moet ons baie versigtig ons oor ontferm. Die gevaar van besoedeling is groot.

vers 24-25 – Lofprysing

Judas sluit sy brief af met ‘n soortgelyke lofprysing op God se bewaring as wat Paulus in sy Romeinebrief doen (Rom. 16:25-27). Hy loof God dat Hy die mag het om hulle van struikeling te bewaar. Nie net dít nie ook onberispelik en jubelend. Veral laasgenoemde verbly my hart! Hy loof God verder dat Hy ewig is: “van voor alle tye en ook nou en tot in alle ewigheid.” Dít is die God wat ons aanbidding en toewyding die moeite werd maak!

Boodskap

Judas herinner ons aan hoe maklik ‘n mens kan afdwaal weens losbandigheid en hebsug. Sy voorbeelde is bedoel om te skok en ons versigtig te maak aan die een kant vir dwaalleraars, maar aan die ander kant ook vir ons eie begeertes wat ‘n wig tussen ons en God kan indryf.

Maar die belangrikste boodskap bly die positiewe oproep om die verhouding met God ‘n absolute prioriteit te maak. Judas help ons verstaan dat dit ‘n drie-stap proses is:

  1. Bou julle lewe op julle heiligste geloof, terwyl julle deur die Heilige Gees bid.” Ons geloof in God word gebou op gebed deur die Gees. Dit is iets wat ons altyd en voortdurend moet doen.
  2. Bewaar julleself in die liefde van God, terwyl julle die ontferming van ons Here Jesus Christus met die oog op die ewige lewe verwag.” God se liefde is regtig soos ‘n jas wat ons moet aantrek, sodat ons daarin kan bly en dit ons kan bewaar. Dit is iets wat vir hierdie lewe betekenis het, asook vir die toekoms.
  3. Ontferm hulle ook oor diegene wat twyfel.” God se ontferming vir ons is ook die basis vir ons ontferming oor dié wat twyfel. Ons moet dit versigtig doen, maar nooit terugdeins daarvan nie.

Tabel van die teks van Judas en 2 Petrus

Hierdie tabel plaas die ooreenstemmende gedeeltes tussen Judas en 2 Petrus langs mekaar, sodat jy self die ooreenkomste en verskille kan vergelyk. Interessante leesstof!

Judas 2 Petrus 2:1-3:7
(Die volle teks van albei hoofstukke uit Judas en 2 Petrus 2:1-3:7 word hier gegee met die ooreenstemmende gedeeltes onderstreep.)
1 3 Geliefdes, alhoewel ek vas van plan was om aan julle oor ons gemeenskaplike verlossing te skryf, word ek nou genoodsaak om aan julle te skryf en julle aan te spoor om te stry vir die geloof wat vir eens en altyd aan die heiliges toevertrou is. 4 Want sekere mense oor wie die oordeel reeds lank tevore opgeteken is, het julle geledere binnegesypel, goddeloses, mense wat God se genade in losbandigheid laat ontaard, en ons enigste Meester en Here, Jesus Christus, verwerp. 

 

2 1 Daar was egter ook vals profete onder die volk, soos daar ook onder julle vals leraars sal wees wat vernietigende ketterye sal insmokkel en selfs die Heer wat hulle vrygekoop het, verloën. So bewerk hulle ‘n skielike ondergang vir hulleself.

 

 

5 Ek wil julle daaraan herinner — al weet julle dit alles — dat die Here, nadat Hy een maal die volk uit Egipteland gered het, die tweede keer diegene wat nie geglo het nie omgebring het, 6 en dat Hy die engele, wat hulle nie aan hulle magsgebied gehou het nie, maar hulle woonplek verlaat het, met ewige boeie in die duisternis in bewaring hou vir die oordeel van die groot dag. 2 Baie sal die losbandighede navolg van daardie mense deur wie se toedoen die pad van die waarheid belaster word. 3 Deur hebsug gedrewe, sal hulle julle met versinde argumente uitbuit. Hulle vonnis staan reeds lankal gereed; ja, hulle ondergang talm nie. 4 Trouens,  as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle oorgelewer het deur hulle met boeie in die digte duisternis van Tartarus te werp en hulle so tot met die oordeel gevange te hou;
7 So ook dien Sodom en Gomorra en die omliggende dorpe wat op ‘n soortgelyke manier as daardie engele ontug gepleeg en agter vreemde liggame aangeloop het, as waarskuwende voorbeeld omdat hulle die straf van ewige vuur ondergaan. 5 en as Hy die destydse wêreld nie gespaar het nie, maar Noag, die boodskapper van geregtigheid, saam met sewe ander bewaar het toe Hy die vloed oor die goddelose wêreld gebring het;  6 en as Hy die dorpe van Sodom en Gomorra tot as verbrand het toe Hy hulle tot vernietiging veroordeel en van hulle ‘n voorbeeld gemaak het van die dinge wat die goddeloses gaan tref;

 

 

8 En tog doen hierdie mense op grond van hulle droomvisioene dieselfde: Hulle besoedel hulle liggame, verwerp gesag en belaster die glansryke hemelwesens.

 

7 en as Hy die regverdige Lot, diep gekwel deur die onsedelike leefwyse van beginsellose mense, gered het 8 — die regverdige man het, terwyl hy onder hulle gewoon het, op grond van wat hy gesien en gehoor het, sy regverdige siel dag in en dag uit oor hulle wettelose optrede gepynig;  9 dan weet die Here tog baie goed om daardie mense wat ‘n toegewyde lewe lei, uit versoeking te red, maar ook om die onregverdiges tot op die dag van oordeel gevange te hou sodat hulle gestraf kan word — 10 veral dié wat agter die besoedelende begeerte van die natuurlike liggaam aanloop en wat gesag verag.  Hulle is roekelose, arrogante mense, hulle skram nie daarvan weg om die hemelse wesens te belaster nie;
9 Selfs Migael, die aartsengel, toe hy van die duiwel verskil en met hom oor die liggaam van Moses geargumenteer het, het dit nie gewaag om ‘n lasterlike oordeel uit te spreek nie, maar gesê: “Mag die Here jou straf.”

 

11 terwyl selfs engele, wat daardie wesens tog in sterkte en krag oortref, nie teen hulle ‘n klag van laster voor die Here inbring nie.

 

10 Hierdie mense belaster egter alles wat hulle nie ken nie, en dit wat hulle van nature soos redelose diere verstaan, veroorsaak hulle ondergang.

 

12 Aangesien hierdie mense — soos redelose diere, instinkmatige wesens, voortgebring net om gevang en geslag te word — oor dinge laster waaroor hulle onkundig is, sal hulle deur hulle vernietigende optrede ook vernietig word,

 

11 Ellende wag vir hulle, want hulle het die pad van Kain geloop en hulleself vir vergoeding aan die bedrog van Bileam oorgegee, en hulle sal soos met die verset van Korag omkom.

 

13 en as loon vir onreg sal húlle veronreg word. Hulle beskou dit as genotvol om helder oordag te fuif. Terwyl hulle saam met julle feesvier, is hulle skandvlekke wat hulle verlustig in hulle losbandigheid. 14 Hulle oë is vol owerspel en hulle kry nie genoeg van sonde nie; hulle verlei onstandvastige siele; hulle harte is geoefen in hebsug; hulle is vervloektes! 15 Omdat hulle die reguit pad verlaat het, het hulle verdwaal en hulle begewe op die pad van Bileam, die seun van Bosor, wat lief was vir onregmatige loon. 16 Hy is egter tereggewys vir sy oortreding: ‘n Donkie, wat stom is, het, deur met die stem van ‘n mens te praat, ‘n einde gemaak aan die profeet se waansin.

 

12 Hierdie mense is skandvlekke by julle liefdesmaaltye, hulle vier skaamteloos saam met julle fees, hulle sorg net vir hulleself. Hulle is miswolke wat deur winde voortgedryf word, bome in die laatherfs wat sonder vrugte staan, twee maal dood, ontwortel, 13 woeste seegolwe wat hulle eie skandes laat opskuim, dwaalsterre vir wie die somber duisternis vir ewig gereed gehou word.

 

17 Hierdie mense is opgedroogde fonteine, miswolke voortgedryf deur ‘n stormwind, mense vir wie die diepste duisternis gereed staan.

 

14 Henog, uit die sewende geslag ná Adam, het ook teen hulle geprofeteer en gesê: “Kyk, die Here het gekom met sy heilige tienduisende 15 om oor almal die oordeel te vel en om alle mense te straf vir al die goddelose dade wat hulle in hulle goddeloosheid verrig het, en vir al die vermetele dinge wat goddelose sondaars teen Hom uitgespreek het.” 16 Hulle is klaagsiekes, knorpotte, wat hulle eie drange uitleef; hulle is grootmond en vlei mense vir eie gewin.

 

18 Want terwyl hulle aanmatigende onsin verkondig, lok hulle deur onsedelike liggaamlike drange diegene uit wat met moeite ontkom aan dié wat in dwaling leef19 mense wat aan hulle vryheid beloof, alhoewel hulle self slawe van die verderf is. ‘n Mens is immers verslaaf aan dit waaraan jy toegee. 20 Trouens, as mense, nadat hulle deur die kennis van ons Here en Verlosser Jesus Christus aan die besoedeling van die wêreld ontsnap het, tog weer daarin verstrik raak en daaraan toegee, is die einde vir hulle slegter as die begin. 21 Dit sou immers vir hulle beter gewees het as hulle die pad van die geregtigheid nie leer ken het nie, as wanneer hulle dit wel leer ken het, net om dan weer af te wyk van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is. 22 Op hulle is die waarheid van die volgende gesegdes van toepassing:  “’n Hond keer terug na sy eie braaksel,” en  “’n Gewaste vark gaan rol weer in die modder.”

3 1 Hierdie brief, geliefdes, is reeds die tweede een wat ek aan julle skryf. In beide probeer ek om, deur middel van herinnering, julle helder denke aan te wakker,

17 Maar julle, geliefdes, onthou wat die apostels van ons Here Jesus Christus reeds vroeër gesê het. 18 Hulle woorde aan julle was: “In die laaste tyd sal daar spotters wees wat hulle eie drange na goddelose dinge uitleef.”

 

2 sodat julle die woorde kan onthou wat voorheen deur die heilige profete uitgespreek is, en ook die opdrag van ons Here en Verlosser wat julle apostels deurgegee het.  3 Julle moet veral dit weet: In die laaste dae sal spotters met hulle gespot opdaag — mense wat hulle lewens volgens hulle eie drange inrig 4 en vra: “Wat het geword van die belofte van sy koms? Sedert die vaders ontslaap het, bly alles steeds soos dit van die begin van die skepping af was.” 5 Hulle ignoreer dit willens en wetens dat daar lank reeds hemele bestaan, en ook ‘n aarde wat deur die woord van God uit water en deur water tot stand gekom. 6 En deur hierdie dinge is die destydse wêreld deur water oorstroom en het dit vergaan, 7 maar die huidige hemele en die aarde word deur dieselfde woord vir vuur opsy gesit; dit word bewaar vir die oordeelsdag en die vernietiging van die goddelose mense.
19 Dit is hierdie mense wat skeuring bring; hulle is gerig op die aardse dinge; hulle het nie die Gees nie.

20 Maar julle, geliefdes, bou julle lewe op julle heiligste geloof, terwyl julle deur die Heilige Gees bid; 21 bewaar julleself in die liefde van God, terwyl julle die ontferming van ons Here Jesus Christus met die oog op die ewige lewe verwag. 22 Ontferm julle ook oor diegene wat twyfel, 23 maar ander moet julle red deur hulle uit die vuur te ruk. Oor nog ander moet julle julle ontferm, maar wees versigtig: verafsku selfs die onderkleed wat deur die liggaam besoedel is.

24 Aan Hom wat die mag het om julle daarvan te bewaar dat julle struikel, en om julle onberispelik en jubelend voor sy heerlikheid te stel, 25 aan ons enigste God en Verlosser deur Jesus Christus ons Here, behoort die heerlikheid, majesteit, krag en mag — van voor alle tye en ook nou en tot in alle ewigheid. Amen.

Judas


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Ds Chris. Vanoggend het ek die bybelskool se studie deur die Bybel, wat ek in 2015 begin het, voltooi. Ek is 70 jaar oud en oneindig dankbaar vir die voorreg. Die feite sal ek nie onthou nie al het ek my Bybel vol geskryf en dit vreeslik interessant gevind. MAAR, my begrip is verbreed en my geloof versterk. Ek verstaan baie duideliker wat van my verwag word in die lewe. Ek weet nou wat ‘n verhouding met die Here Jesus beteken. Dankie vir die deel van jou insig en vaardigheid. Ek sien uit na al die ander leerstof wat nog vir my lê en wag.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: