Skip to main content

Jakobus 5 – Volhard in gebed

JakobusLEES

Raak stil voor die Here met ’n kort gebed. Lees die teksgedeelte deeglik deur. Let op vir temas in die gedeelte. Vra jouself af: Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Soek vir een sleutelgedagte wat jou besonderlik tref. Skryf dit in jou joernaal neer. Lees dan wat ek hieronder geskryf het.

My bydrae

Jakobus sluit sy brief af met vier verdere bydraes wat die uitdagings van die lewe met die voorsiening van die Here verbind. Hy rig dié boodskappe aan die rykes om hulle te waarsku, aan die lydendes om hulle tot geduld in lyding aan te spoor, en aan die hele geloofsgemeenskap om met integriteit te lewe, en veral nie op te hou om te bid nie, want dit is kragtig en effektief. Ek deel dit as volg in:

  • Dit is dwaas om skatte te vergader in die laaste dae – 5:1-6
  • Wees geduldig in lyding – 5:7-11
  • Leef met integriteit – 5:12
  • Bid gelowig – dit is kragtig en effektief – 5:13-20

5:1-6 – Dit is dwaas om skatte te vergader in die laaste dae

Dit is weereens opvallend dat die rykes nie gekwalifiseer word as noodwendig deel van die geloofsgemeenskap nie, soos ook in Jak. 1:9. Die armes wat hier onder uitbuiting lei, word ook nie eksplisiet as deel van die geloofsgemeenskap geteken nie, terwyl dit op ander plekke in die brief wel die geval is (1:9; 2:15-16). Dié gedeelte het dus ‘n betekenis ook vir die gemeenskap waarbinne die gelowiges woon en werk.

Die punt wat Jakobus hier maak, is dat ‘n mens se houding teenoor jou besittings radikaal beïnvloed word deur die feit dat ons in die “laaste dae” lewe. Omdat die Here op pad is met sy wederkoms (5:7), vra dit van ons om anders met ons besittings om te gaan.

Om skatte te vergader, meer as wat jy nodig het, is dwaas in die lig van die verganklikheid van rykdom sowel as die nabyheid van die wederkoms. In die woorde van Jesus: “Julle kan nie God én Mammon dien nie” (Matt. 6:24). Wanneer God gedien word, kan jy staatmaak op sy voorsiening: “Julle hemelse Vader weet tog wat julle alles nodig het. Maar soek bo alles na God se koninkryk en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (Matt. 6:32-33). Meer as dit kan jou in die versoeking van onreg, weelde en losbandigheid bring.

Dit is daarom dubbeld dwaas om dié rykdom op onregverdige manier te bekom deur die loon van arbeiders te weerhou en dan weelderig en losbandig daarmee te lewe. Dit kan op die oog af lyk asof dié mense geen verweer het nie, maar hulle geroep “het die ore van die Here, Heerser oor alle magte, bereik.” Hy sal optree. Hy waarsku hulle: “Julle het julle harte vet gevoer vir die slagdag”!

5:7-11 – Wees geduldig in lyding

Dat Jakobus egter ook die lydendes in die geloofsgemeenskap in die oog het, raak nou duidelik, want hy spel nou uit hoe hulle geduldigheid aan die dag moet lê in die lyding wat hulle ervaar. Hy bemoedig hulle met twee eienskappe van God. Die een is die feit dat die wederkoms van die Here naby is en dat hulle hul harte met dié gedagte kan staal. Die ander is die feit dat dié Here ook die Regter is wat nie net gehoor het wat gebeur nie, maar sal optree en regstel.

Daarom moet hulle nie die roete van klagtes teenoor mekaar volg nie, maar op die Here se medelye en ontferming staatmaak. Hy herinner hulle aan die einddoel van die Here met Job wat in sy volhardig seën ervaar het. Dít moet hulle inspireer om geduldig te wees in lyding.

5:12 – Leef met integriteit

In nog ‘n verwysing na die Bergrede raai Jakobus sy mense aan om met integriteit te lewe (vgl. Matt. 5:33-37). Dit is nooit nodig om te sweer nie, want ‘n mens se ja’s en nee’s moet bedoel word.

5:13-20 – Bid gelowig – dit is kragtig en effektief

Jakobus sluit af met ‘n uitbreiding van die gedagtes oor gebed waarmee hy sy brief begin het. Daar het hy klem gelê op die wysheid wat van God gevra moet en kan word. Hier brei hy daarop uit en betrek gebed op ‘n verskeidenheid situasies in die geloofsgemeenskap se lewe:

  • As jy swaarkry, moet jy bid.
  • As jy opgeruimd is, moet jy sing.
  • As jy siek is, moet die ouderinge gelowig bid vir genesing en vergifnis.
  • As jy sondig teenoor mekaar, moet dit bely en voor gebid word, sodat dit uitgesorteer, “gesond”, kan word.

Dié oproep word ondersteun met ‘n skets van Elia – “’n mens net soos ons” – wat vurig gebid het vir die weer, en God het hom telkens geantwoord. “Die gebed van ‘n regverdige is kragtig en effektief.” ‘n Voorbeeld wat ons kan, trouens, móét navolg.

Boodskap

Dit tref my hoe Jakobus sy brief afsluit met ‘n opeenstapeling van eienskappe van die Here as motivering waarom hy hulle tot geduld, volharding, integriteit en gebed oproep. En onthou, Jesus is die Here, soos Jakobus reeds in Jak. 1:1 bevestig het:

  • Jesus is dus die Here – die een wat gesag het oor alles.
  • Jesus is die Heerser oor die magte – die een wat mag het oor alles.
  • Jesus is die een wat weer kom – wat ons geduld sal beloon.
  • Jesus is die Regter – die een wat nie net hoor nie, maar sal optree om dinge reg te stel.
  • Jesus is die een wat vol medelye en ontferming is – die een wat na ons luister.
  • Jesus is die een wat genesing gee – daarom kan daarvoor gebid word.
  • Jesus is ook die een wat vergewe – daarom kan ons ons sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid, want só ‘n gebed is kragtig en effektief.

Met dié Here Jesus Christus kan ‘n mens enduit gaan. Op Hóm kan ‘n mens wag en Hom vertrou vir uitkoms in alles. Sela.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou prakties deur hierdie gedeelte wil sê. Vra jouself af: Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee?

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed en skryf dit neer in jou joernaal. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan.

Jakobus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar