“Om u wil te doen, o God”
Ek het dié stuk opgedateer met ‘n fokus op goeie werke.
In Psalm 40 spel Dawid die sin van die lewe uit op ’n diepsinnige wyse: “Wat U behaag, my God, wil ek graag doen, u wet is in my binneste.” (Ps 40:9 – BDV).
Dit is alreeds ’n motto wat aan ons lewens die diepste sin en betekenis kan gee. Om God se wil te doen, om sy openbaring die sentrum van ons doen en late te maak, om sy woord die bepalende faktor vir ons gedagtes en ons gedrag te laat wees, dit is die lewenswyse wat God behaag.
Wat hierdie lewensmotto egter ’n deurslaggewende betekenis vir alle mense gee, is dat hierdie woorde van Dawid volgens die Hebreërskrywer die lewensmotto van die Here Jesus self was.
Die Hebreërskrywer haal Psalm 40:9 aan as die beskrywing van die doel van Jesus se koms na hierdie aarde: “Kyk, Ek kom – in die boekrol is dit van My geskrywe – om u wil te doen, o God.” (Hebr 10:7).
Die Hebreërskrywer spel hierdie wil van God uit in die kruisdood van Jesus. God se wil was dat Jesus sy liggaam as offer gegee het vir al ons sondes. Daardeur is alle gelowiges vir altyd volkome van sonde vrygemaak, eens en vir altyd (Hebr 10:9-10,14).
Daarin kan ons ons net verheug en God vir sy genade in Jesus Christus loof.
Maar wat beteken dit egter vir ons om God se wet in ons binneste te laat wees? Ons kan immers nie aan ’n kruis betaal vir ons eie sonde nie, laat staan nog iemand anders s’n. Wat beteken dit dus vir ons om God se wil te doen?
Hier is ’n paar gedagtes wat hierdie twee vrae uit die Skrif beantwoord. Hoe God se wil ons gedagtes kan vorm. En hoe God se wil ons dade kan bepaal.
Ek gaan eers vyf algemene opmerkings maak oor God se wil:
- God het alles gemaak.
- God se wil is in die Skrif geopenbaar.
- God se wil vorm die fokus van ons gebede.
- God se wil die inhoud van ons dade vorm;
- Dat God se wil deursigtig is vir dié wat dit doen.
Daarna gaan ek vyf spesifieke aspekte van die inhoud van God se wil uitspel vir die praktyk van ons lewe:
- God se wil is die redding van alle mense.
- God se wil is dat sy mense barmhartig lewe.
- God se wil is dat sy mense heiligmaking najaag.
- God se wil is dat sy mense goeie werke doen.
- God se wil is dat sy mense dankbaar leef.
1. ALGEMENE OPMERKINGS OOR GOD SE WIL
1.1 God het alles gemaak deur sy wil
Dit is in die eerste plek belangrik om by die bestaan van alle dinge te begin. Want die blote feit dat ons bestaan op hierdie aarde is nie vanweë ons eie wil nie, maar God s’n. So beskryf die Bybel dit vir ons deurgaans.
In die groot loflied in die hemelse erediens wat Johannes bevoorreg is om te aanskou, word die hele skepping, alles wat bestaan, aan God se soewereine wil toegeskryf: “U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.” (Openb 4:11).
Hierdie Skeppingsmag word bevestig in die verhale van Genesis 1-2 oor die hemel en aarde, en in die begronding van God se heerskappy van enige besit van grond (Lev 25). God se Skeppingsheerskappy word geloof in die Psalms (Ps 8;19;104) en geëer in die heil en onheil wat elke profeet aankondig.
Ons doen dus God se wil omdat ons in die wêreld leef wat Hy gemaak het. Trouens, ons blote bestaan is deur Hom gegee en van Hom afhanklik.
1.2 God se wil is geopenbaar in die Skrif
Dit is in die tweede plek belangrik om God se wil in die boodskap van die Bybel te soek. Dit is waar God gekies het om sy wil aan ons te openbaar.
Dit geld van die sluit van God se verbond met Noag (Gen 6;9), Abraham (Gen 15;17), Moses (Eks 19-24) en Dawid (2 Sam 7) waarmee die verhouding tussen God en sy mense sowel as die aarde uitgespel word en waarin elkeen van ons ingesluit word as ons in Hom glo, veral soos dit in die Here Jesus vir ons moontlik geword het (Gal 3:29).
Dit geld van sy reddingsdade in die OT met die Uittog uit Egipte (Eks 3:17) waar sy wil uitgevoer word op grond van die beloftes aan die vaders (Eks 2:24). Dit geld van sy voorsiening in die woestyn sowel as met die Intog in die beloofde land.
Die enigste manier waarop hierdie verbonde en beloftes volhoubaar beleef kan word, is in ’n noue verhouding met God waarin sy Woord die sentrum is van ons lewe en Hy nougeset daarin gehoorsaam word.
Hoe God wil hê dat ons op hierdie aarde wat Hy gemaak het, moet leef, is daaro duidelik in die Bybel beskrywe sodat sy mense Hom kan gehoorsaam. Trouens, elke woord wat God in die Skrif vir ons gegee het, maak sy wil aan ons bekend sodat ons daarin kan lewe.
Soos die twee saligsprekings aan die begin van Psalm 119 dit verwoord: “Dit gaan goed met dié wat onberispelik lewe, dié wat wandel volgens die woord van die Here. Dit gaan goed met dié wat sy verordeninge gehoorsaam, dié wat met hulle hele hart sy wil doen.” (Ps 119:1-2).
Gelowiges word daarom sonder uitsondering opgeroep om ag te slaan op die Skrif: “soos op ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte.” Die rede daarvoor is dat: “geen profesie van die Skrif ’n saak van eie uitlegging is nie want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek. (2 Pet 1:19-21).
Dit geld die hele Bybel. Daarom kan Paulus die gelowiges in Rome retories aanspreek asof hulle Jode is: “en jy ken sy wil en onderskei die dinge waar dit op aankom, omdat jy uit die wet onderrig word,” (Rom 2:18).
1.3 God se wil is die fokus van ons gebede
Dit is in die derde plek belangrik om in ons gebede te fokus op God se wil. Dit is die bedoeling van die derde bede van die Ons Vader: “laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.” (Matt 6:10; Luk 11:2).
Dit beteken dat ons sal bid dat die geopenbaarde wil van God sal geskied. Dat Hy sy beloftes sal vervul (2 Kor 1:20). Dat Hy gebede sal verhoor (1 Joh 5:15). Dat Hy die goed oor die kwaad sal laat seëvier (Rom 12:19). Dat Hy krag in swakheid sal gee (2 Kor 12:9). Dat Hy oorwinning sal gee (1 Kor 15:59).
Maar, soms is dit ook nodig om God se wil vir ’n praktiese situasie uit te vind. Daarvoor moet ook gebid word terwyl ’n mens voortgaan om te doen wat jy in elk geval weet wat God se wil is.
Paulus wou bv verskeie kere, eintlik onophoudelik, die gelowiges in Rome besoek. Hy het homself verskeie kere voorgeneem om dit te doen, maar is telkens verhinder (Rom 1:13; vgl Rom 15:32). Dieselfde geld Korinte. Hy sou hulle besoek: “as die Here wil.” (1 Kor 4:19).
Daarom het Paulus nooit opgehou om daarvoor te bid dat God dit moontlik sal maak nie: “Want God, wat ek in my gees dien in die evangelie van sy Seun, is my getuie hoe ek onophoudelik aan julle dink en altyd in my gebede smeek of ek tog nou eindelik ’n goeie geleentheid sal vind deur die wil van God om na julle te kom.” (Rom 1:9-10).
Paulus kan daarom in sy brief aan die Efesiërs alle gelowiges oproep om alles in die stryd te werp om God se wil te ken: “Daarom moet julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is.” (Ef 5:17).
Daarom hou Paulus nie op: “om vir julle te bid en te vra dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig.” (Kol 1:9). Ook Épafras, wat namens die gemeente van Kolosse vir Paulus bygestaan het, het in dié gebed volhard: “en stry altyd vir julle in die gebede, dat julle volmaak en volkome mag staan in die ganse wil van God.” (Kol 4:12).
Hierdie gebed om God se wil is egter ook om berusting in God se reeds geopenbaarde wil te vind. Soos Jesus self in die tuin van Getsemane bid: “Abba, Vader, alle dinge is vir U moontlik; neem hierdie beker van My weg; nogtans nie wat Ek wil nie, maar wat U wil.” (Mark 14:36; Matt 26:39,42; Luk 22:42).
Soos Paulus ook gebid het dat die doring in sy vlees weggeneem word, en moes berus daarin dat dié versoek nie toegestaan is nie (2 Kor 12:7).
Hierin het ons die belofte dat die Gees ons hierin bystaan. Dit is een van die primêre take wat die Heilige Gees op Hom geneem het, om volgens God se wil in te tree vir gelowiges, selfs al is dit soms vir ons verborge: “En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree.” (Rom 8:27).
Dit is waarom Jakobus, die broer van Jesus, gelowiges aanraai om ’n afhanklike lewenstyl aan te leer wat sonder arrogansie leef met die motto: “As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen.” (Jak 4:15).
Aan hierdie tipe gebed is daar ‘n belofte van verhoring gekoppe: “En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil.” (1 Joh 5:!4).
1.4 God se wil is die inhoud van ons dade
Dit is in die vierde plek belangrik dat God se wil die inhoud van ons dade vorm. Só word dit van Jesus self gesê “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring.” (Joh 4:34).
Jesus het nie gekom om sy eie wil te doen nie, selfs al was Hy self God: “Want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.” (Joh 6:38).
Soos die Hebreërskrywer dit uit die Psalms gemotiveer het en ons vroeër aangehaal het: “Kyk, Ek kom — in die boekrol is dit van My geskrywe — om u wil te doen, o God.” (Hebr 10:7; aangehaal uit Ps 40:7-9).
Daarom kan Jesus aan alle mense verkondig: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.” (Matt 7:12). “Want elkeen wat die wil van God doen, dié is my broer en my suster en moeder.” (Mark 3:35; Matt 12:50; Luk 8:21).
Goeie bedoelings tel voor God niks nie, soos die gelykenis van die twee seuns illustreer. Dit is die eerste seun wat berou gekry het en tóg gaan werk het in die wingerd, soos sy pa gevra het, wat wat die wil van die vader gedoen het. Nie die tweede seun wat gesê het hy gaan, maar dit uiteindelik nie gedoen het nie (Matt 22:28-32).
Dit geld almal wat in diens staan van God, soos die gelykenis van die waaksame dienskneg uitspel: “En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en nie klaargemaak of volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word; maar hy wat nie geweet het nie en gedoen het wat slae verdien, sal met min slae geslaan word. En elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word; en aan wie hulle veel toevertrou het, van hom sal hulle oorvloediger eis.” (Luk 12:47-38).
Paulus verwoord dit só: “EK vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer—dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” (Rom 12:1-2).
Dit moet nie net gedoen word waar ander mense dit kan sien nie, maar te alle tye: “soos diensknegte van Christus wat die wil van God van harte doen.” (Ef 6:6).
1.5 God se wil is deursigtig vir dié wat dit doen
Dit is in die vyfde plek belangrik om te weet dat God se wil net deursigtig is vir dié wat dit inderdaad doen! Gehoorsaamheid lei tot ‘n beter begrip van God se wil. Sonder dat jy doen wat God wil, sal sy wil vir jou ‘n geslote boek bly. Selfs al kan jy goed lees!
“As iemand gewillig is om sy wil te doen, sal hy aangaande die leer weet of dit uit God is, en of Ek uit Myself spreek.” (Joh 7:17).
2. DIE INHOUD VAN GOD SE WIL
Die inhoud van God se wil kan in vyf praktiese aspekte opgesom word. Redding, Barmhartigheid, Heiligmaking, Goeie werke en Dankbaarheid. God wil hê dat alle mense gered word, dat sy mense barmhartig sal wees, dat sy mense heiligmaking sal najaag, dat hulle goeie werke doen, en in dankbaarheid leef.
2.1 God se wil is die redding van alle mense
Die hart van God se wil vir alle mense is dat hulle gered sal word. God wil nie hê dat enigiemand verlore sal gaan nie. Hy wil hulle met Homself versoen en die ewige lewe aan hulle skenk. Dit is duidelik uit die hele boodskap van die Skrif. Dit is die sentrum van alles wat die Skrif aan ons wil oordra.
Daarom is dit die eerste ding waarvan enige gelowige seker moet maak. Vóór dié boodskap aan enigiemand anders gebring word, moet jy seker maak dat jy gered is. Dit kom deur die geloof in die Here Jesus Christus.
Soos Johannes sê: “Wie in die Seun van God glo, het die getuienis in homself. Hy wat God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak, omdat hy die getuienis nie geglo het wat God aangaande sy Seun getuig het nie. En dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het, en dié lewe is in sy Seun. Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie. Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God.” (1 Joh 5:10-13).
2.1.1 Dit is ons gebed vir alle mense
Dat God wil hê dat alle mense gered word, is die hart ook van Paulus se boodskap aan gemeentes. Hy onderstreep dit aan Timoteus in die gemeente van Efese dat hierdie wil van God vir alle mense geld en vra dat daar daarom vir alle mense gebid moet word:
“Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, wat Homself gegee het as ’n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd.” (1 Tim 2:3-6).
Gebed vir die redding van alle mense moet dus ‘n prioriteit wees vir alle gemeentes. Daar moet gebid word vir alle mense in die gemeenskap dat hulle gered sal word en tot kennis van die waarheid kom. Dit sluit alle leiers en gesagsfigure in sodat ‘n lewe in godsvrug en waarheid gelei kan word.
2.1.2 Dit is die motivering vir ons volharding
Dit is ook die hart van Petrus se brief aan die gelowiges wat as vreemdelinge deur die wêreld versprei is. God wil hê dat alle mense gered word. Trouens, God se wil vir die redding van mense is ’n belangrike motivering vir gelowiges om te volhard ten spyte van die uitdagings van die lewe vóór die wederkoms.
Petrus bemoedig gelowiges wat bekommerd was dat die wederkoms nie aanbreek nie met die boodskap van redding: “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.” (2 Pet 3:9).
2.1.3 Dit is die hart van Jesus se bediening
Uiteraad was redding van mense daarom ook die hart van Jesus se bediening. Jesus het dit as die hart van God se bedoeling vir kinders uitgespel: “So is dit nie die wil van julle Vader wat in die hemele is, dat een van hierdie kleintjies verlore gaan nie.” (Matt 18:14).
Jesus het dit ook as metafoor gebruik in sy beskrywing van mense wat soos kindertjies sy boodskap van redding moet ontvang. Jesus loof sy: “Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het.” (Luk 10:21)
Hy was oortuig dat die redding van mense in die sentrum van God se wil was, en dat dit die hoofrede vir sy bediening op aarde was. Hy het God aan die Jode kom openbaar tot hulle redding: “Ja, Vader, want so was dit u welbehae. Alles is aan My oorgegee deur my Vader; en niemand weet wie die Seun is nie, behalwe die Vader, en wie die Vader is nie, behalwe die Seun en hy aan wie die Seun dit wil openbaar.” (Luk 10:22).
2.1.4 God se wil tot lewe of veroordeling is soewerein
In wie egter gered word al dan nie, het Jesus ‘n soewereine wil, deur die Vader aan Hom gegee, dat Hy lewend maak wie Hy wil: “Want soos die Vader die dode opwek en lewend maak, so maak ook die Seun lewend wie Hy wil. Want die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee, sodat almal die Seun kan eer net soos hulle die Vader eer. Wie die Seun nie eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie.” (Joh 5:21-23)
Die onderskeid tussen dié wat opstaan tot die lewe, en dié wat opstaan tot die veroordeling, wentel om wie Jesus se woord hoor, in Hom glo en dit doen:
“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit gehoor het, sal lewe. Want soos die Vader lewe het in Homself, so het Hy aan die Seun ook gegee om lewe in Homself te hê. En Hy het Hom mag gegee om ook te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is. Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling. Ek kan uit Myself niks doen nie. Soos Ek hoor, oordeel Ek; en my oordeel is regverdig, omdat Ek nie my wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het.” (Joh 5:24-30).
Dit pas in God se soewereine wil tot barmhartigheid en ontferming in reeds van die begin af. Hy kies aan wie Hy sy barmhartigheid en ontferming wil bewys: “Want aan Moses sê Hy: Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm. So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is. So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil.” Rom 9:15-16,18).
Dit beteken dat niemand God kan verwyt nie, want niemand kan sy wil weerstaan nie: “Jy sal dan vir my sê: Waarom verwyt Hy dan nog, want wie het sy wil weerstaan?” (Rom 9:19).
Hierdie soewereiniteit word onderstreep met die voorbeeld van die pottebakker: “Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie?” (Rom 9:21).
Dit maak ‘n onderskeid tussen dié wat vir die verderf toeberei word, en dié wat vir die heerlikheid toeberei word: “En as God, al wil Hy sy toorn bewys en sy mag bekend maak, tog met groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra het, juis om bekend te maak die rykdom van sy heerlikheid oor die voorwerpe van barmhartigheid wat Hy voorberei het tot heerlikheid, ons naamlik wat Hy geroep het, nie alleen uit die Jode nie, maar ook uit die heidene?” (Rom 9:22-24).
2.1.5 Niemand wat in Jesus glo, sal verlore gaan nie
Wat ons wel kan sê is dat niemand wat in Jesus glo, verlore sal gaan nie: “En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag. En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.” (Joh 6:39-40).
Jesus wil dat elkeen wat die Vader Hom gegee het, saam met Hom sal wees in ewigheid: “Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het, omdat U My liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld.” (Joh 17:24).
2.1.6 God trek geen deelnemer aan die koninkryk van die hemele voor nie
Die gelykenis van die arbeiders wat op verskillende tye gehuur is, illustreer die beginsel dat geen deelnemer aan die koms van die koninkryk van die hemele nie voorgetrek word nie. Hy sê by wyse van spreke vir dié wat op voorrang aanspraak maak: “Neem dan wat joue is, en gaan heen. Ek wil aan hierdie laaste een gee net soos aan jou. Of staan dit my nie vry om met my eie goed te maak wat ek wil nie? Of is jou oog verkeerd, omdat ek goed is?” (Matt 20:14-15).
2.1.7 Dit is die hart van Paulus se boodskap
Paulus som dié goeie nuus in Christus Jesus op as volg, dat Jesus: “Homself gegee het vir ons sondes, sodat Hy ons kan uitred uit die teenwoordige bose wêreld, volgens die wil van onse God en Vader.” (Gal 1:4). Daar is geen ander evangelie nie.
Hierdie redding is deel van God se verkiesende genade: “deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil.” (Ef 1:5).
Vir daardie doel het: “Hy aan ons die verborgenheid van sy wil bekend gemaak het na sy welbehae wat Hy in Homself voorgeneem het om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig.” (Ef 1:9-10).
Die wonderlike resultaat is dat ons in Hom: “’n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil.” (Ef 1:11).
2.1.8 Dit is die hart van Jakobus se boodskap
Ook Jakobus, Jesus se broer, skryf: “Volgens sy wil het Hy ons voortgebring deur die woord van die waarheid, sodat ons as eerstelinge van sy skepsele kan wees.” (Jak 1:18).
2.1.9 Dit is die hart van die Hebreërskrywer se boodskap
Daarom is die Hebreërskrywer ook so ernstig daaroor dat ons moet: “ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie. Want as die woord deur engele gespreek, onwankelbaar was, en elke oortreding en ongehoorsaamheid regverdige vergelding ontvang het, hoe sal ons ontvlug as ons so ’n groot saligheid veronagsaam wat, nadat dit eers deur die Here verkondig is, aan ons bevestig is deur die wat dit gehoor het, terwyl God ook nog saam getuig het deur tekens en wonders en allerhande kragtige dade en bedélinge van die Heilige Gees volgens sy wil?” (Hebr 2:1-4).
Dit beteken dat ons met vrymoedigheid deur die bloed van die Here Jesus Christus ons geloof in Jesus bevestig binne die gemeenskap van gelowiges. Daar moet ons mekaar aanspoor tot liefde en goeie werke en mekaar vermaan tot gehoorsaamheid: “Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar ’n verskriklike verwagting van oordeel en ’n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer.” (Hebr 10:26-27).
Daar wag ‘n oordeel vir elkeen: “wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het. Want ons ken Hom wat gesê het: My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die Here; en weer: Die Here sal sy volk oordeel. Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.” (Hebr 10:29-31).
Daarom herinner die Hebreërskrywer sy gemeente dat hulle die tyd toe hulle die Here leer ken het, in herinnering sal roep, ook die lyding wat hulle deurstaan het, sodat hulle kan volhard om “die wil van God” te doen en die belofte van die ewige lewe kan verkry (Hebr 10:36). “Want nog ’n klein tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie versuim nie. Maar die regverdige sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie. Maar by ons is daar geen onttrekking tot verderf nie, maar geloof tot behoud van die lewe.” (Hebr 10:37-39).
Die Hebreërskrywer sluit sy brief af met die gebed: “Mag die God van die vrede, wat die groot Herder van die skape, naamlik onse Here Jesus Christus, deur die bloed van die ewige testament uit die dode teruggebring het, julle volmaak in elke goeie werk, om sy wil te doen, deur in julle te werk wat welbehaaglik is voor Hom deur Jesus Christus aan wie die heerlikheid toekom tot in alle ewigheid! Amen.” (Hebr 13:20-21).
2.2 God se wil is dat sy mense barmhartig lewe
Hierdie redding kom in drie aspekte van ons lewe na vore: barmhartigheid, heiligmaking en dankbaarheid.
In die proses van God se hand van redding wat na alle mense uitgesteek word, speel nie net ons getuienis ’n belangrike rol nie, maar ook ons barmhartigheid. Dit is die wyse waarop God mense na Hom toe roep: “Maar gaan leer wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie; want Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.” (Matt 9:13).
Jesus herhaal dié beskrywing van God se wil in sy gesprek oor die Sabbat met die Fariseërs en berispe hulle dat as hulle geweet het: “wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie sou julle die onskuldiges nie veroordeel het nie.” (Matt 12:7).
Die feit dat die dissipels hulle honger met koringare gestil het op pad saam met Jesus na die sinagoge moes die Fariseërs met barmhartigheid laat optree het, nie met veroordeling op grond van hulle mensgemaakte reëls oor gewaande werk op die Sabbat nie.
Die dissipels was dus onskuldig in die aanklag van die Fariseërs teen hulle. Hulle het geen wet oortree nie. Die dissipels se honger moes die barmhartigheid van die Fariseërs laat opvlam het. Die Fariseërs moes hulle óf toegelaat het om droeë are uit te vryf en te kou, óf iets gegee het om te eet.
Dit is hoe God se mense moet leef. En Jesus het hierdie barmhartige wil van Hom prakties en persoonlik geïllustreer met die verhaal van die broodvermeerdering: “Toe het Jesus sy dissipels na Hom geroep en gesê: Ek voel innig jammer vir die skare, omdat hulle al drie dae by My bly en niks het om te eet nie; en Ek wil hulle nie graag honger wegstuur nie, sodat hulle nie miskien op die pad beswyk nie.” (Matt 15:32).
2.3 God se wil is dat sy mense heiligmaking najaag
Barmhartigheid moet egter gekoppel word aan heiligmaking: “Want dit is die wil van God: julle heiligmaking.” (1 Tes 4:3). Dit was immers God se doel met die offerdood van die Here Jesus: “Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal.” (Hebr 10:9).
Soos God eenmaal deur Moses aan die volk bekend gemaak het: “In die wat naby My is, wil Ek My as die Heilige laat ken.” (Lev 10:3).
Heiligmaking sluit veral die persoonlike lewe in. Gelowiges moet hulle spesifiek onthou van seksuele sondes: “dat julle jul moet onthou van die hoerery (porneia – onsedelikheid).” (1 Tes 4:3).
Maar dit sluit daarby eintlik alle ander: “vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel” in (1 Pet 2:11). Gelowiges moet hulle van alle vleeslike begeertes onthou behalwe dié waarvoor God voorsiening gemaak het, bv in die huwelik.
2.4 God se wil is dat sy mense goeie werke doen
Heiligmaking moet ook gekoppel word aan die publieke lewe deurdat gelowiges hulle “lewenswandel onder die heidene” skoon hou sodat die heidene God kan verheerlik in die gelowiges se goeie werke (1 Pet 2:12).
Dit sluit ‘n gehoorsaamheid in aan “elke menslike verordeninge” – hetsy van die politieke heersers (konings) of hulle staatsmasjinerie (goewerneurs) – ter wille van die Here (1 Pet 2:13). Petrus vat God se doel met goeie werke saam as hy sê: “Want so is dit die wil van God dat julle deur goed te doen die onkunde van die dwase mense tot swye sal bring.” (1 Pet 2:15).
Hierdie gehoorsaamheid moet volgehou word selfs as dit tot lyding tot gevolg het. Die kwaad moet nie met kwaad begroet word nie, maar met seën en ‘n goeie gewete: “Want dit is beter, as die wil van God dit eis, dat julle ly wanneer julle goed doen as wanneer julle kwaad doen.” (1 Pet 3:17).
Ons word geroep uit ‘n sondige lewe, dinge soos “ongebondenheid, begeerlikheid, dronkenskap, brasserye, drinkpartye en ongeoorloofde afgoderye” wat uiteraard ook met heiligmaking te make het. Ons roeping is egter breër: “om die orige tyd in die vlees nie meer volgens die begeerlikhede van die mense te leef nie, maar volgens die wil van God.” (1 Pet 4:2).
Ons publieke lewe moet dieselfde waardes ten toon stel as ons persoonlike lewens, absolute getrouheid aan God self. Hoekom? Want dit is wat God van ons verwag.
Soos Paulus aan die Efesiërs skryf: “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.” (Ef 2:8-10).
Goeie werke kan ons dus nie red nie, maar ons word gered om in goeie werke te wandel, dié dinge wat God vir ons in sy Woord uitspel.
Hierdie fokus in die lewe van gelowiges is nodig omdat die tyd vir God se finale oordeel naby is: “En as die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die sondaar verskyn? So laat dan ook die wat volgens die wil van God ly, hulle siele aan Hom as die getroue Skepper toevertrou met goeie dade.” (1 Pet 4:18-19).
Die belofte is dat: die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.” (1 Joh 2:17).
2.5 God se wil is dat sy mense dankbaar leef
Hierdie reddende genade van die Here word ook gekenmerk in ’n lewe van dankbaarheid: “Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.” (1 Tes 5:18).
Dit is wanneer die woord van Christus ryklik in ons woon in alle wysheid, ons mekaar leer en vermaan met psalms en lofsange en geestelike liedere, dat ons werklik kan sing in ons hart: met dankbaarheid tot eer van die Here.” (Kol 3:16).
Mieke Klapwijk
Ds Van wyk, baie dankie vir al u Skrifgetroue artikels. Ek gebruik baie gedeeltes daaruit vir ons gemeentenuusbrief, wat (as ek nie oppas nie) ‘n boekwerk word.
mag die Here u bly seën en u dra.
groete in Christus
Retha van Graan
Soli Deo Gloria!! Baie dankie!!