Josua 15 – Juda kry hulle erfdeel met besondere vermelding van Kaleb en Aksa sy dogter
Nadat Kaleb sy deel ontvang het, word ‘n proses van loting gevolg met lootjies (klippies, stokkies, potskerwe) wat ongesiens getrek is uit ‘n houer. Die houer kon ook geskud word totdat een klippie uitskud. Dit is aanvaar as ‘n beslissing van die Here, omdat dit in sy teenwoordigheid gedoen is.
Hierdie loting is onder andere gebruik vir die aanwys van diere vir die heiligdom (Lev 16:8), vir mense wat skuldig is (Jon 1:7), die uitdeel van werk (1 Kron 26:14), ‘n beslissing van die Here (Spr 18:18) en natuurlik ook grondgebied soos hier. Moses het dié proses reeds vroeër beveel (vgl Num 26). Ons tref dit ook aan in die NT met die keuse tussen twee kandidate om die dissipel Judas te vervang (Hand 1:26).
Die eerste gebied word aan Juda toegeken, die een waaraan die beloftes van leierskap gekoppel is (vgl Gen 47-48). Hulle kry die gebied in die suide van die land. Dit was geografies die grootste gebied met 60 stede waarvan Jerusalem egter eers in die tyd van Dawid onder hulle beheer gekom het. Kyk op die kaart wat ek vroeër gegee het om die grense te kan identifiseer.
Onlangse kommentaar