Josua 10 – Josua loop die suide plat in een deurslaggewende veldtog
Die nuus van Josua se beheer van drie stede in die middel van Kanaän – Jerigo, Ai en Gibeon – het koning Adoni-Sedek van Jerusalem tot aksie laat oorgaan om ‘n koalisie te vorm met die konings van vier ander stede in die suide: Hoham van Hebron, Piram van Jarmut, Jafia van Lakis en Debir van Eglon. Hierdie vyf Amoritiese konings het teen Gibeon opgetrek om só Josua in ‘n geveg in te trek (vgl die soortgelyke verhaal van Abram in Genesis 14).
Op versoek van Gibeon en in opdrag van die Here het Josua die uitdaging aanvaar en deur die nag getrek – 35 km ver van Gilgal na Gibeon! – om die Amoriete te verras. Israel het ‘n groot slagting onder hulle aangerig en hulle verslaan. Let op dat die Here eintlik meer van die Amoriete doodgemaak het met haelstene – een van die plae van Egipte – as wat Israel met die swaard doodgemaak het.
Toe Josua egter sien dat die tyd uitloop om die geveg te voltooi, het hy die Here gevra om die son te laat stilstaan in Gibeon en die maan in Ajalonlaagte. En dit is presies wat gebeur het. Die Here het vir Josua geluister en op dié manier verder vir die Israeliete oorlog gevoer. Hulle het amper nóg ‘n twaalf uur bykomende daglig gekry om die oorlog af te handel.
Onlangse kommentaar