Skip to main content

Tag: Wie is God?

Wat is die Bybel? – Eksodus 17:14; 34:27

Hamer en beitel – simbool van die skryfwerk op die tafels van die wet.

Die Here het toe vir Moses gesê: “Skryf op wat vandag gebeur het sodat julle dit altyd kan onthou. Bevestig aan Josua dat Ek Amalek se naam totaal sal uitwis.” (NLV)

Die Here het ook vir Moses gesê: “Skryf alles neer wat Ek vir jou sê. Dit is die bepalings van my verbond met Israel.” (NLV)

1. Dit is waar dit alles begin het. God wat sy woord op skrif stel ter wille van Josua en die hele volk. Wat leer jy uit die tekste van God se bedoeling met die Skrif?

2. Dink daaroor dat dit beide historiese gebeure sowel as etiese riglyne is wat eerste neergeskrywe is. Wat leer dit jou van die bedoeling van die Skrif?

3. Lees die gedeelte later vandag weer om jou aan die betroubaarheid van die Skrif te herinner.

4. Jy kan later vanaand die gedeeltes weer lees in die konteks van Eksodus 17 en 34 sowel as my bydraes daaroor: Eksodus 17 – Is die Here by ons of nie? en Eksodus 34 – Ek is barmhartig en genadig, maar Ek laat niks ongestraf nie.

Wat is die Bybel? – Romeine 15:4 en Hebreërs 4:12

Hamer en beitel – simbool van die skryfwerk op die tafels van die wet.

Ons moet leer uit wat al lank gelede reeds in die Skrif opgeteken is. Die standvastigheid en die bemoediging wat die Skrif aan ons gee, help ons om aan ons toekomsverwagting te bly vashou. (NLV)

Die woord van God is vol lewenskrag en energie. Dit is skerper as ’n swaard wat twee skerp kante het. Dit sny diep tot binne-in ons innerlikste wese, tot in ons gewrigte en murg. Dit vlek ons diepste motiewe en oorwegings oop. (NLV)

1. Wat is God se doel met die Bybel?

2. Wat gee God deur die Bybel vir jou?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan God se krag in ons lewe deur die Woord.

4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van Romeine 15-16 en Hebreërs 3-4 sowel as my bydraes daaroor: Romeine 15-16 – Aanvaar mekaar soos Christus julle aanvaar het en Hebreërs 3:12-4:13 – Waak daarteen dat geeneen van julle van die lewende God afvallig word nie.

Wat is die Bybel? – Psalm 119:105-112

Hamer en beitel – simbool van die skryfwerk op die tafels van die wet.

U woord is ’n lamp vir my voete en ’n lig op my pad. Ek het reeds belowe, en ek bevestig: u regverdige bepalings sal ek gehoorsaam. Ek het baie swaar gekry, Here. Vernuwe my lewe volgens u woord. Here, aanvaar die offers van my mond, en leer my u bepalings. My lewe is gedurig in die weegskaal, maar u gebooie sal ek nie vergeet nie. Die goddeloses stel vir my ’n strik; tog sal ek van u bevele nie afdwaal nie. U verbondsbepalings is my erfdeel vir altyd; dit is die vreugde van my hart. Ek wil leef volgens u voorskrifte, vir altyd, tot die einde toe. (NLV)

1. Psalm 119 besing die wonder van die woord van God. Onderstreep al die beskrywings daarvan en oordink die betekenis daarvan vir jou. Watter vreugdes het die woord al vir jou gegee?

2. Gebruik dié verse as ‘n dank- en lofgebed in jou eie woorde. Onthou ook dat die Psalmis praat van die strikke van bose mense wat sy lewe in die weegskaal bring. Bring jou eie situasie voor die Here en bid vir volhardende gehoorsaamheid en vertroue.

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die wonder van die woord van God.

4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van Psalm 119 (bydraes oor die hele Psalm is daar beskikbaarof my bydrae oor die gedeelte: Psalm 119:105-112 – NUN – Ek gehoorsaam U ten spyte van gevaar.

Wat is die Bybel? – 2 Petrus 1:19-21

Hamer en beitel – simbool van die skryfwerk op die tafels van die wet.

Dit laat die boodskap van die profete vir ons nog vaster staan. Luister baie mooi na hulle woorde, want dis soos ’n lamp wat in ’n donker plek skyn – totdat Christus verskyn en sy helder lig julle harte verlig. Julle moet veral weet dat geen profesie van die Skrif ontstaan het deur die profeet se eie insig nie. Geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie. Inteendeel, dit was die Heilige Gees wat die profete God se woorde laat verkondig het. (NLV)

1. Hierdie beskrywing van die Skrif is fundamenteel. Wat staan vir jou uit van Petrus se beskrywing daarvan? Hoe verskil dit van ander kennis wat ons opdoen in die lewe?

2. Net so fundamenteel is die belydenis dat die Skrif die werk van die Heilige Gees is wat mense geïnspireer het om God se woorde te verkondig. Dit vul ons met ontsag en sekerheid. Loof God dat ons die Skrif kan vertrou as sy gawe aan ons.

3. Lees die verse later vandag weer om jou aan die sekerheid van God se openbaring in die Skrif te herinner.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van 2 Petrus 1 sowel as my bydrae daaroor: 2 Petrus 1 – Lê julle daarop toe om julle roeping en verkiesing stewig te vestig.

Vraag 6: Wat is die Bybel?

Hamer en beitel – simbool van die skryfwerk op die tafels van die wet.

1. Hoe het jy die Bybel leer ken? Wie het jou die Bybel leer lees? Wat is die Bybel vir jou?

2. Lees my antwoord en oordink dit.

Die Bybel is die geskrewe Woord van God. Die Heilige Gees getuig in my hart dat dit so is. Die kerk aanvaar slegs die 66 boeke van die Bybel as begronding, bevestiging en riglyn van ons geloof. My oortuiging van die onfeilbare waarheid en Goddelike gesag van die Bybel is nie op kerklike tradisies gebaseer nie, maar op die innerlike werking van die Heilige Gees.

3. Hoe verryk hierdie antwoord jou gedagtes oor die Bybel?

4. Lees die verhaal van die begin van die geskrewe Woord in Eksodus 24. Wat tref jou?

5. Lees my opsomming van die boodskap daarvan en oordink dit.

God het baie keer direk met Moses gepraat. Hy wou sy woorde egter vir almal vir altyd gee. Daarom het God self die Tien Gebooie op twee plat klippe geskryf (vgl ook Eksodus 32:15-16). Moses het al die woorde, wette en gebooie van God neergeskryf en vir die volk voorgelees. Dit was die dinge wat God vir die mense wou leer. Die volk het soos een man geantwoord: “Ons sal alles doen wat die Here gesê het! Ons sal daarna luister!” Dit was die begin van die Bybel soos ons dit vandag ken. Die Heilige Gees getuig in ons hart dat dit die Woord van God is.

6. Wat maak jou opgewonde van die Bybel? Loof die Here dat Hy met ons so helder praat deur sy Woord.

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…