Skip to main content

Tag: Wie is God?

Hoe ken jy God? – Psalm 19:2, 8; Spreuke 22:17-21

Die hemele verkondig die heerlikheid van God. Die uitspansel getuig van die werk van sy hande. Die Here se voorskrifte is volkome, dit gee nuwe lewenskrag. Die bepalings van die Here is betroubaar; dit maak die eenvoudige verstandig. (NLV)

Gee aandag en luister baie goed na wat die wyse mense sê. Probeer verstaan wat ek jou wil leer. My onderrig sal goed wees as jy dit jou eie maak en dit kan gebruik. Vandag onderrig ek spesifiek vir jou sodat jy op die Here kan vertrou. Ek skryf 30 voorskrifte vir jou neer. Hulle is vol raad en kennis. Deur hulle sal jy in staat wees om die waarheid te herken en betroubaar verslag te doen aan die mense wat jou stuur. (NLV)

1. Hierdie beskrywings van hoe ons God leer ken, is fundamenteel. Wat staan vir jou uit van die twee maniere waarop ons Hom leer ken? Hoe verskil dit van ander kennis wat ons opdoen in die lewe?

2. Die beskrywings van hoe ons God leer ken, lei ‘n mens tot verwondering en lofprysing oor sy omvattende openbaring. Loof God dat Hy dit so maklik maak om Hom te ken.

3. Lees die verse later vandag weer om jou aan die wonder van die God se openbaring te herinner.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van Psalm 19 en Spreuke 30 sowel as my bydraes daaroor: Psalm 19 – God bestaan en God praat met ons; Spreuke 30:1-33 – God is daar vir dié wat by Hom skuil!

Vraag 5: Hoe ken jy God?

1. Hoe het jy God leer ken? Wie en wat het jou kennis van God gevorm?

2. Lees my antwoord en oordink dit.

Deur die skepping en versorging van die heelal. Dit is soos ’n mooi boek waarin ek God se ewige krag en Goddelikheid duidelik sien. Hy het alles gemaak en op Hom is alles gerig. Deur die Bybel wat God se wil volkome bevat. Alles wat ek vir my saligheid moet glo, word daarin voldoende geleer.

3. Hoe verryk hierdie beskrywings jou gedagtes oor hoe ons God leer ken?

4. Lees God se belofte en opdrag in Josua 1:1-9. Wat tref jou?

5. Lees my opsomming van die boodskap daarvan en oordink dit.

Josua het veertig jaar lank gesien hoe God vir hulle in die woestyn sorg. Nou is Moses dood. Die Here praat met Josua en herhaal die belofte van die land. God sal Josua nooit in die steek laat en nooit los nie. Josua moet sterk en dapper wees en al die opdragte uitvoer wat God in sy wetboek, die Bybel, vir hom gee. Josua moet dag en nag daaroor nadink sodat hy alles kan doen wat daarin geskryf is. Hy moenie links of regs daarvan afwyk nie. Dan sal hy God se wil ken en suksesvol wees in alles wat hy doen.

6. Wat maak jou opgewonde van God se openbaring in die Bybel? Loof die Here dat Hy met ons in die skepping praat, en nog helderder deur sy Woord.

Wat beteken dit vir jou dat God alles gemaak het? – Hoe groot is ons God – Psalm 104

Die pragtige gedig van die Sweedse digter Carl Gustav Boberg: “O Sture Gud” (1885) het wêreldwye aanklank gevind en word regoor die wêreld gesing op die bekende Sweedse volkswysie. Dit is vertaal en uitgebrei deur die Britse sendeling Stuart K Hine as: “How great Thou art“. In die Liedboek van die NG Kerk lui dit soos volg (Lied 464):

O Heer my God as ek in eerbied wonder
En al U werke elke dag aanskou
Die son en maan, die aarde, sterre, wolke,
Hoe U dit elke dag so onderhou…

Refrein:

Dan moet ek juig, my Redder en my God!
Hoe groot is U, hoe groot is U!
Want deur die hele skepping klink dit saam
Hoe heerlik Heer U grote Naam!

Ek sien die veld – die bosse, berge, vlaktes
Ek hoor hoe fluister grasse, stroom en wind
O Heer, U sorg vir klein, vir groot, vir alles
en U sorg dag na dag vir my, U kind.

Refrein

U maak ons deel van al U grootse werke.
U laat ons bid, Heer, dat U ryk mag kom.
En kom U weer, in heerlikheid op wolke,
maak U volkome nuut U eiendom.

Refrein

Hoewel Psalm 8 waarskynlik die inspirasie vir Boberg se gedig was, onder andere na aanleiding van sy verrukking oor die natuurskoon van ‘n geweldige storm wat opgevolg is deur ‘n vredevolle kalmte, vind ‘n mens dieselfde perspektiewe en selfs nog meer in Psalm 104. Dit is by uitstek ‘n lofpsalm uit die natuur en die skepping vir God se versorging.

Continue reading

Wat beteken dit vir jou dat God alles gemaak het? – Die getuienis van die belydenisskrifte

1. Lees die aanhalings uit die belydenisskrifte hieronder. Wat leer jy van God se voorsiening? Hoe laat dit jou voel? Wat vra dit van jou?

Nederlandse Geloofsbelydenis

Artikel 12

DIE SKEPPING VAN ALLE DINGE, VERAL VAN DIE ENGELE

Ons glo dat die Vader, toe Hy dit goedgedink het, deur sy Woord, dit wil sê deur sy Seun, die hemel en die aarde en alle skepsels uit niks geskep het. Hy het aan elke skepsel `n eie wese, gestalte en voorkoms en onderskeie take gegee om sy Skepper te dien. Hy onderhou en regeer hulle almal nou nog deur sy ewige voorsienigheid en oneindige krag om die mens te dien, sodat die mens sy God kan dien; en Hy het ook die engele goed geskep om sy boodskappers te wees en sy uitverkorenes te dien.

Sommige van die engele het uit die verhewenheid waarin God hulle geskep het, in die ewige verderf geval, maar die ander het deur die genade van God in hulle oorspronklike toestand volhard en staande gebly. Die duiwels en bose geeste het só ontaard dat hulle vyande van God is sowel as van alles wat goed is.

Soos moordenaars loer hulle op die kerk – ook op elke lidmaat – om dit met alle mag in die verderf te stort en om alles deur hulle bedrieëry te verwoes. Daarom staan hulle deur hulle eie boosheid veroordeel tot die ewige verdoemenis en verwag hulle daagliks hulle verskriklike pyniging. Daarom verfoei ons ook die dwaling van die Sadduseërs, wat ontken dat daar geeste en engele is; ook verwerp ons die dwaling van die Manigeërs, wat sê dat die duiwels hulle oorsprong uit hulleself het en reeds van nature sleg is en nie sleg geword het nie.

Jes. 40:26; Matt. 28:19; 1 Joh. 5:15,. Hand. 5:3; 1 Kor. 3:16; 6:11; Rom. 8:9; Kol. 1:16; 1 Tim. 4:3; Heb. 3:4; Op. 4:11; 11:16; Heb. 1:14; Ps. 103:21; 34:8; Joh. 8:44; 2 Pet. 2:4; Luk. 8:31; Matt. 25:41; Hand. 23:8; Matt. 4.

Meer inligting oor:

Sadduseërs – Hulle was aanhangers van ’n aristokratiese Joodse sekte in die tyd van Christus. Hulle was groot teëstanders van die Fariseërs, omdat hulle onder andere nie geglo het aan ’n lewe na die dood nie. (Vgl verwysings in die Bybel: Matt 3:7; 16:1, 6, 11, 12; 22:23, 34; Mrk 12:18; Luk 20:27; Hand 4:1; 5:17; 23:6-8)

Manigeërs – Dit was ’n Persiese of Iranese filosofie van die profeet Mani uit die derde eeu nC. Hy wou die leringe van Boeddha en Jesus aanvul en verbeter. Hulle het aan drie gode geglo, en Jesus se mensheid ontken. Jesus se kruis was oëverblindery. God was nie almagtig nie en in ’n stryd tussen goed en kwaad gewikkel, ’n sterk dualistiese godsdiens.

Continue reading

Wat beteken dit vir jou dat God alles gemaak het? – Matteus 6:25-26; Romeine 8:28

Ek sê vir julle, hou op om julle te bekommer oor julle daaglikse lewe – wat julle sal eet of drink; of oor julle liggame – wat julle sal aantrek. Is die lewe nie baie belangriker as kos nie? En is ’n mens se liggaam nie baie belangriker as klere nie? Hou die voëls wat daar vlieg dop. Hulle saai nie, hulle oes nie, en hulle maak nie in skure bymekaar nie. Dit is onnodig, want julle hemelse Vader gee aan hulle hulle kos. Besef julle dan nie dat julle vir God nog baie kosbaarder is as hulle nie? (NLV)

Ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe. (NLV)

1. Jesus besweer ons kommer oor ons daaglikse lewe met sy belofte dat ons vir hom kosbaar is. Wat tref jou van sy voorsiening? Wat vra dit van jou?

2. Paulus besweer ons kommer oor die uitkoms van ons lewe met sy belofte dat alles ten goede meewerk? Hoe laat dit jou voel? Wat vra dit van jou?

3. Lees die twee gedeeltes later vandag weer om jou aan God se voorsiening in alles te herinner.

4. Jy kan later vanaand die twee gedeelte weer lees in die konteks van Matteus 6 en Romeine 8 sowel as my bydraes daaroor: Matteus 6 – Jesus fokus op die lewe van geregtigheid; Romeine 8:18-39 – As God vir ons is, wie kan teen ons wees.

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…