Skip to main content

Tag: Wie is God?

Wat beteken dit vir jou dat God alles gemaak het? – Psalm 33:4-9

Die woord van die Here is waarheid, en alles wat Hy doen, staan vas. Hy het regverdigheid en reg lief, en sy troue liefde vul die aarde. Deur die woord van die Here is die hemele geskape; en deur sy woord al die hemelliggame. Hy stel grense vir die see, in die diepwaters versamel Hy hulle. Laat elkeen op die aarde die Here dien. Laat die inwoners van die wêreld ontsag hê vir Hom. Want Hy het gepraat, en dit was daar; Hy het beveel, en dit was so. (NLV)

1. Onderstreep al die eienskappe van God se woord, wese en werke. Dit is regtig omvattend. Dit sluit ‘n boodskap aan alle nasies in. Wat staan vir jou uit?

2. Hoe laat hierdie teks jou anders dink en voel? Wat vra dit van jou?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan God se omvattende voorsiening vir jou.

4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van Psalm 33 sowel as my bydrae daaroor: Psalm 25 + 33 – God sorg vir dié wat Hom vertrou. (Psalm 25 is ‘n bonus. Dit is Psalm 33 se tweeling-Psalm, omdat albei oor vertroue gaan.)

Wat beteken dit vir jou dat God alles gemaak het? – Johannes 1:1-5

Heel aan die begin het die Woord reeds bestaan. Die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding wat bestaan, ontstaan nie. In Hom was daar lewe, en dié lewe het gedien as die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, ja – die duisternis het dit nie uitgedoof nie! (NLV)

1. Johannes verbind die skepping aan die Genesis-verhaal wat God se goeie skepping en oorvloedige voorsiening verheerlik. Hoe hou dit verband met Jesus Christus?

2. Jesus Christus word hier as God beskryf – “die Woord het mens geword en onder ons kom woon” (1:14). Watter troos hou die beskrywings van Hom as lewe en lig vir jou in? Watter hoop hou dit vir hierdie wêreld in?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die lewe en lig wat die Here Jesus vir jou gee.

4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van Johannes 1 en my bydraes daaroor: Johannes 1:1–18 – Die genade en waarheid van Jesus sluit die lewe oop.

Wat beteken dit vir jou dat God alles gemaak het? – Genesis 1:1, 31

In die begin het God die ganse heelal geskep, die hemel daarbo en die aarde hieronder. God het na sy handewerk gekyk en dit was uitstekend goed. (NLV)

1. Hierdie beskrywings van God se skepping is fundamenteel. Wat staan vir jou uit daarvan? Hoe laat dit jou anders dink oor hierdie wêreld? En oor jouself?

2. Die beskrywings van God se goeie skepping lei ‘n mens tot verwondering en lofprysing. Loof God dat Hy alles goed gemaak het.

3. Lees die verse later vandag weer om jou aan die wonder van die skepping te herinner. Gaan stap langs die see, of in die veld, of kyk ‘n natuurprogram op TV, of luister ‘n bruisende lied wat jou gedagtes op God kan fokus.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van Genesis 1 sowel as my bydrae daaroor: Genesis 1:1-2:3 – In die begin het God die hemel en die aarde geskep.

Vraag 4: Wat beteken dit vir jou dat God alles gemaak het?

1. Hoe dink jy oor die hele Skepping? Die oorsaak en oorsprong van alles. Die doel en bestemming. Die betekenis daarvan.

2. Lees my antwoord en oordink dit.

God het alles wat bestaan goed gemaak deur sy woord. Hy laat niks aan toeval of geluk oor nie. Hy onderhou en regeer my deur sy ewige raad en voorsienigheid om volgens sy heilige wil te floreer. Niks gebeur in hierdie wêreld sonder sy beskikking nie. Ek kan in alle teëspoed geduldig en in alle voorspoed dankbaar wees.

3. Hoe verryk hierdie beskrywings jou gedagtes oor die skepping? Hoe laat dit jou voel?

4. Lees Jesus se omvattende belofte in Matteus 6:25-34. Wat tref jou?

5. Lees my opsomming van die boodskap daarvan en oordink dit.

God het alles gemaak wat ons kan sien. Selfs dit wat ons nie kan sien nie. Hy het dit goed gemaak en sorg vir alles. Dit sien ons in die voëls wat kos kry al saai en oes hulle nie. Ons is nog baie kosbaarder vir God as hulle. Ons sien dit ook in die veldlelies wat nie vir hulleself klere maak nie, maar tog so mooi aangetrek is. Ons kan God vertrou dat Hy ook vir ons sal sorg. Soos ons vir God lewe, gee Hy vir ons wat ons nodig het. Hy laat niks aan toeval of geluk oor nie.

6. Wat maak jou opgewonde van God se voorsiening? Loof die Here dat Hy niks aan toeval of geluk oorlaat nie.

Wat is die mens? – Motivering maak saak: Haman en Mordegai in Ester

Wraak verkoop flieks. Man on fireThe EqualizerJohn Wick.

Creasy (Denzel Washington) skilder sy groot meesterstuk in Man on Fire. Sy kuns is die dood. Sy motivering is om ‘n dogtertjie van haar ontvoerders te red. En die onaantasbare korrupte polisiemag te ontbloot. Maar met oordadige bloederige geweld.

In The Equalizer neem Robert McCall (Denzel Washington) ook wraak teen die Russiese Mafia. Sy motivering is mense wat misbruik en gemarginaliseer word. Maar op ‘n bloederige dodelike manier. Dit neem minder as ‘n halfminuut om sonder ‘n wapen in sy hand ‘n hele kamer mense uit te wis.

En Keanu Reeves in John Wick neem op skouspelagtige manier wraak. John se motivering? ‘n Nikswerd seun van ‘n Mafia baas wat sy hond doodgemaak en sy motor gesteel het. As hyself ‘n teiken word in die opvolg fliek, omdat hy een van die kardinale reëls van sy professie oortree het, en die hele wêreld se sluipmoordenaars teen hom opgekommandeer word, sê hy vir Winston:

“Tell them… Tell them all… Whoever comes, whoever it is… I’ll kill them. I’ll kill them all …”

Hoe dink julle oor sulke wraak? Voel dit goed? Is dit bevredigend? Is dit billik? Voel julle die mense kry wat hulle verdien het? Voel julle dit is geregverdig om wraak te neem? Wanneer is dit geregverdig? Vir ‘n jong dogtertjie? Vir prostitute wat misbruik word? Vir ‘n hond wat doodgemaak word? Vir ‘n motor? As ander se lewe op die spel is? As jou lewe op die spel is?

Die verhaal van Haman en Mordegai in die boek Ester kan ons help om hieroor te dink.

Continue reading

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…