Hebreërs 3:12-4:13 – Waak daarteen dat geeneen van julle van die lewende God afvallig word nie
Die skrywer brei in hierdie gedeelte uit op sy aanmoediging vanuit Psalm 95 dat die gelowiges na die stem van die Heilige Gees moet luister. Hy spoor hulle egter aan om dit nie net self te doen nie, maar daarteen te waak dat nie een van hulle ooit van God afvallig word nie.
Hy doen dit in twee dele:
- 3:12-19 – Spoor mekaar elke dag aan sodat niemand verhard word nie
- 4:1-13 – Wees versigtig dat niemand agterbly om in God se rus in te gaan nie
3:12-19 – Spoor mekaar elke dag aan sodat niemand verhard word nie
Die gevaar van ongeloof kan nie oorskat word nie. Dit is baie erger as ’n dwaling om engele te aanbid of vas te val in die basiese dinge van die Christelike geloof of te smag na die buitengewone. Die skrywer gebruik die woord apistia vir die ongeloof waarvoor die geloofsgemeenskap versigtig moet wees – beide in vers 12 as in vers 19 wat die gedeelte omraam.
Die woord beteken nie ’n gebrek aan geloof of gesukkel met vertroue nie, iets waarmee ’n mens nog deernis kan hê. Apistia is om te weier om in God te glo. Dit is om te rebelleer teen sy wil en selfs teen sy blote bestaan. Daarom dat die skrywer praat van ’n “bose hart vol ongeloof” wat van die “lewende God afvallig” word. Só ’n tipe ongeloof mond altyd uit in ’n wegdraai en verwerping van God se wil en plan vir die lewe, soos dit in die gebeure by die Paranwoestyn afgespeel het, waar die Israeliete geweier het om God te gehoorsaam (Num. 13-14).
Soos Josua en Kaleb daardie dag by die volk gepleit het om die Here te vertrou en die Intog aan te pak, só pleit die skrywer by die gelowiges om mekaar “elke dag” aan te spoor – “solank daar nog van ‘vandag sprake’ is”! – “sodat niemand deur die verleiding van die sonde verhard word nie”. Want dit is wat gebeur as ongeloof toeneem in jou lewe. Jy word verlei deur die sonde en jou hart raak hard vir God.
Sommige geleerdes sê dat dié oproep om dit elke dag te doen, eintlik veronderstel dat die gelowiges mekaar elke dag in ’n huisbyeenkoms gesien het. Só belangrik was dié oproep. Iets om oor na te dink in jou eie pad wat jy met jou geloofsgenote op reis met die Here Jesus stap.
Só roep die skrywer sy mense op om, in ’n daaglikse noue verbintenis met mekaar, enduit stewig vas te hou aan hulle aanvanklike geloofsvertroue in die Here Jesus Christus. Hulle het immers deelgenote geword van alles waarvoor Hy staan en wat Hy besig is om te doen. Ongehoorsaamheid aan sy roepstem diskwalifiseer hulle vir die rus wat God vir sy mense wil gee.
4:1-13 – Wees versigtig dat niemand agterbly om in God se rus in te gaan nie
Waar die skrywer in vers 12 hulle opgeroep het om te waak daarteen dat mense nie in ongeloof verval nie, sê hy in hfst. 4:1 dat hulle versigtig moet wees dat dit nie uiteindelik blyk dat iemand agtergebly het nie. Die een woord, waak, druk omgee uit, ’n raaksien van, ’n saamneem van. Die ander woord, versigtig wees, druk eintlik vrees uit, ’n onrus oor, ’n sensitiewe opsoek van, ’n pastorale hart vir mense wat lyk asof hulle agterbly. Twee kante van dieselfde munt.
Dit is noodsaaklik, omdat net soos die gevaar van ongeloof ’n kernbedreiging vir die geloofsgemeenskap is, so is die gevaar van ongehoorsaamheid dit ook. Dít was die verdere probleem van die woestyngemeenskap wat by die Intog in Kanaän die aftog geblaas het. Hulle was ongehoorsaam om te doen wat God vra. Hulle het nie net geweier om Hom te vertrou nie – ongeloof – maar hulle het ook geweier om Hom te volg, te doen wat Hy vra – ongehoorsaamheid (vers 6 en 11).
Dit het die Skeppergod wat die “rus” reeds op die sewende dag van die Skepping ingestel het, deur self te rus van al sy werke (Gen. 2:2), laat besluit dat sulke ongeloof en ongehoorsaamheid hulle diskwalifiseer om te deel in wat Hy vir sy mense voorberei het.
Die skrywer is egter oortuig dat die Hebreërs positief sal reageer op die roepstem van die Gees wat steeds roep en uitnooi om die rus van God deur geloof en gehoorsaamheid binne te gaan. Hulle moet net nie hulle harte verhard nie, weer aangehaal uit Ps. 95.
Hy spel die “rus” uit as iets wat nie volledig met Josua se uiteindelike inname van die land Kanaän gebeur het nie: “Daar bly steeds ’n sabbatsrus oor vir die volk van God.” Dit is dus iets wat eers met die wederkoms van die Here Jesus volledig kan aanbreek. Die woord sabbatsrus beteken ook nie net ’n rus alleen nie, maar ’n feesviering oor dít wat ’n mens bereik het.
Daarom moedig die skrywer ons aan om ons te beywer om die wedloop van die geloof enduit te hardloop, sodat ons ook kan rus van ons werke, soos God dit op die sewende dag van die Skepping gedoen het. Soos Paulus aan die Efesiërs skryf, ons is geskep: “in Christus Jesus om goeie werke te doen en daarvolgens te leef, soos God dit voorberei het.” (Ef. 2:10). Dit is dié dinge wat ons in ons lewe moet afhandel, sodat ons met vreugde in die rus wat God gee, kan ingaan.
Ongehoorsaamheid, veral as dit ’n patroon in ’n mens se lewe raak, gaan jou diskwalifiseer van dié rus: “Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand dalk in dieselfde patroon van ongehoorsaamheid verval nie.”
In die twee laaste verse van die gedeelte fokus die skrywer uiteindelik op die positiewe verbintenis wat die gelowiges in geloof aan God moet maak. En dit het te make met die boodskap wat God aan ons adres rig, sy woord. Dieselfde boodskap kon immers na almal, maar dit is net dié wat in geloof en gehoorsaamheid reageer wat in God se rus ingaan.
Daarom moet die woord van God – met ’n klein lettertjie gespel om uit te druk dat nie net oor die geskrewe Woord van God gaan, of oor Jesus as die Woord van God nie, maar oor alle maniere waarop God met ons praat – toegelaat word om sy kragtige (effektiewe) werk in ons lewe te doen, soos ’n lewende, skerp tweesnydende swaard.
Dit is duidelik dat die woord van God – soos ’n swaard – nie net oopmaak wat verborge is nie, maar inderdaad ook kan oopsny wat pyn tot gevolg kan hê. “Dit dring deur tot by die raakpunt tussen siel en gees, tussen gewrig en murg, en beoordeel die hart se voornemens en gedagtes.” God se woord ontbloot en maak sigbaar wat in ons harte aangaan, as ons toelaat dat Hy die lewende swaard, sy woord, inspan.
Daarom moet ons toelaat dat ons voornemens en gedagtes beoordeel word deur die woord van God. Daarin speel die Woord van God, die Bybel, sowel as die Woord van God, Jesus, ’n beslissende en bepalende rol. Ons hele lewe sal immers aan God verantwoord moet word.
Boodskap
Dit kom vir geleerdes voor asof die skrywer met die boek Numeri voor hom oop gesit het, toe hy hierdie boodskap geskryf het. Hy is getref deur die verlies wat die meeste van die Israeliete gely het, toe hulle die meerderheidsverslag van die tien verkenners aanvaar het, en in ongeloof verval het deur die Here nie op sy woord te neem nie. Daarmee het hulle die kans gemis om die rus te ervaar wat die Here vir hulle in Kanaän wou gee.
Dieselfde gevaar lê voor ons deur, sê hy. Nie in die eerste plek omdat ons verskil oor engele, gawes, of reëls nie, hoewel dit ook belangrik is. Maar die grootste gevaar is dat ons in ongeloof en ’n patroon van ongehoorsaamheid kan verval, dat ons die Here nie meer met ons lewe wil vertrou nie. Dan raak ons vatbaar vir die verleiding van die sonde en raak ons van die lewende God afvallig, rebelleer ons teen sy pad met ons.
En hierdie gevaar van ongeloof en ongehoorsaamheid is nie net iets waarteen ons by onsself moet waak nie, maar iets waarteen ons in ander se lewens moet waak en versigtig voor moet wees. Ons moet “elke dag” mekaar aanspoor en maniere vind om te sorg dat daar by niemand van ons ’n “bose hart van ongeloof” ontstaan en hulle “deur die verleiding van die sonde verhard word nie”.
Die oplossing is om die woord van God – en ek verwys hier na die Bybel en die lewende verhouding met Jesus – ’n huis te maak waarin jy woon, een waarheen jy almal heen uitnooi, by wyse van spreke. Hy is die lewende God wat op vele maniere met ons praat, maar veral deur sy Woord. Dit is daarom ook die sekerste manier waardeur ’n verval in ongeloof en ongehoorsaamheid verhoed kan word, deur te fokus op sy boodskap aan ons.
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Karen Strydom
Dit is vreesaanjaend om te dink slegs 2 uit 12 mense het werklik God se leiding vertrou om die land inbesit te kan neem. Dis amper ‘n refleksie op die persentasie mense wat vandag WERKLIK God so in hulle lewe vertrou dat hulle elke dag in Sy vrede en rus leef omdat hulle Hom in gehoorsaamheid vertrou. Die impak van gehoorsaamheid aan God is deur die eeue heen bewys as enorm vir die een wat dit doen, al dan nie.
Elsie
Besig met bybelstudie oor Hebreers, nou besig met 6:13 -20.
Het die intermezzo soos beskryf deur Andrie du Toit moeilik gevind m.b.t. die waarskuwing dat iemand wat afvallig raak nie weer tot bekering kan kom nie.
Chris van Wyk
Ek hou van die manier waarop William Lane dit sê: “If those who have enjoyed a full and authentic Christian experience should then fall away, a renewal to repentance is impossible” (Word Biblical Commentary: Hebrews 1-8). Let op die “if” en die “should“, want die skrywer dink nie só iets is regtig moontlik nie. Hy sê wel: “Dit is immers onmoontlik om hulle wat eenmaal verlig is, wat die hemelse gawe gesmaak, en deel gekry het aan die Heilige Gees, en wat die goeie woord van God gesmaak, en ook die kragte van die komende bedeling, en tog afvallig geword het, weer opnuut tot bekering te bring, aangesien hulle wat hulleself betref, die Seun van God opnuut kruisig en openlik tot skande maak,” (Hebr 6:4-6 in BDV). Hoekom sou ons dit só erg wees, as ‘n mens ter wille van die argument sou bedink? Want dit sou beteken dat die lewende God aktief teengestaan word. Maar, dit is iets wat eintlik nie kan gebeur nie. Daarom sê die skrywer: “Maar selfs wanneer ons só praat, geliefdes, is ons, wat julle betref, oortuig van beter dinge wat betrekking het op verlossing.” (Hebr. 6:9).
Die Dordtse Leerreëls sê daarom die volgende: