2 Petrus 1 – Lê julle daarop toe om julle roeping en verkiesing stewig te vestig

600-x-800px-Voorblad---Petrus-JudasPetrus begin sy brief in vers 1 met ‘n baie belangrike beskrywing van homself – dienskneg en apostel – waarna hy twee belangrike temas van die inhoud van sy brief aankondig. Hy skryf eerstens oor die kosbare geloof wat hulle van die Here ontvang het en tweedens oor die feit dat hulle in hulle kennis van Hom moet toeneem – vers 2. Dit is die boustene van ware geestelike groei wat hulle in staat stel om aan die ware evangelie vas te hou.

  • Hy behandel vervolgens die tweede bousteen – kennis – eerste en moedig hulle aan om hulle te beywer om geestelik te groei – vers 3-15.
  • Hy behandel die eerste bousteen – geloof – tweede en bevestig op drie maniere dat die geloofsinhoud wat hulle van die Here Jesus Christus ontvang het, betroubaar is. Dit is betroubaar vanweë die kragtige teenwoordigheid van die Here Jesus (2 Pet. 1:16), vanweë Petrus se eie ooggetuie ervaring daarvan (2 Pet. 1:17-18), en vanweë die getuienis van die Skrifte, onder leiding van die Heilige Gees (2 Pet. 1:19-20) – vers 16-21.

1:1-2 – Simeon Petrus fokus op geloof en kennis

Petrus noem homself in hierdie tweede brief, anders as die eerste een, by sy volle naam, Simeon Petrus.

  • Simeon is die Hebreeuse vorm van sy naam soos sy ouers hom waarskynlik genoem het, Simon die Griekse vorm daarvan, soos dit meesal in die res van die NT gevind word. Lukas noem hom interessant genoeg op sy Hebreeuse naam Simeon in sy beskrywing van die vergadering rondom die besnydenis in die oorspronklike teks van Handelinge 15:14. Daar was dit waarskynlik belangrik om sy Joodse wortels te beklemtoon in dié gesprek wat in die bakermat van die Christendom, Jerusalem, plaasgevind het.
  • Petrus is die naam wat die Here Jesus aan hom by sy roeping gegee het (Mark. 3:16). Dit beteken rots in Grieks. Terloops, Petrus word ook Sefas genoem (Joh. 1:22). Sefas is weer die Aramese vertaling van die Griekse Petrus, wat ook rots beteken.

Daarmee dui Petrus eintlik reeds aan hoe hy homself en sy roeping verstaan het. Hy spel dit uit as dat hy: “’n dienskneg en apostel van Jesus Christus” is. Hy is iemand wat Jesus volg, én hy is iemand wat deur Jesus gestuur is om ‘n spesifieke taak te verrig. Dit dui dus enersyds sy nederigheid aan as dienskneg van die Here, andersyds die gesag waarmee hy kan optree as apostel. Die woord apostel beteken immers gestuurde.

Hy gaan voort om die ontvangers van die brief te beskryf as “dié wat dieselfde kosbare geloof as ons verkry het deur die geregtigheid van ons God en die Verlosser, Jesus Christus.” Dit is dieselfde mense van die noorde en noord-weste in hedendaagse Turkye, soos ons uit die eerste brief agter gekom het. Aan hulle bid hy dat die Here genade en vrede in oorvloed sal skenk, spesifiek: “deur julle kennis van God en van Jesus, ons Here.

Let op dat hierdie geloof nie as iets wat hulle doen, beskryf word nie, d.w.s. subjektief, maar as iets wat hulle van God af ontvang het, d.w.s. objektief. Geloof is die werk van God in ons hart, sê Petrus daarmee. Dit is iets wat ons ontvang, iets waarvoor ons nie kan werk nie.

Let aan die ander kant op dat die genade en vrede wat hy hulle toebid aan hulle kennis van God en van die Here Jesus verbind word. Dit is ‘n tema wat hy nog ‘n paar keer in die brief sal aanraak:

  • In 2 Pet. 1:3 skryf hy: “Sy goddelike krag het ons immers alles gegee wat ons nodig het vir ‘n toegewyde lewe, deurdat ons Hom ken”. Toewyding is dus een van die gevolge van ‘n intiemer wordende kennis van die Here Jesus Christus.
  • In 2 Pet. 1:8 skryf hy dat wanneer hulle toeneem in uitnemendheid, insig, selfbeheersing, volharding, ‘n toegewyde lewe, broederliefde en liefde vir alle mense: “sal dit daartoe lei dat julle nie nutteloos en sonder vrug is wat julle kennis van ons Here Jesus Christus betref nie.” Toewyding is op sy beurt een van die boustene van ‘n beter kennis van die Here Jesus Christus, spesifiek ten opsigte van dinge wat hulle lewens verryk en laat vrug dra.
  • In 2 Pet. 2:20 waarsku Petrus teen ‘n verwaarlosing van die “kennis van ons Here en Verlosser Jesus Christus,” want as ‘n mens ten spyte van dié kennis tog verstrik raak in die besoedeling van die wêreld, is jou uiteinde eintlik slegter daaraan toe as jou begin.
  • In 2 Pet. 3:18 roep hy hulle op om te: “sorg dat julle aanhou groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus. Die verantwoordelikheid berus ook by hulle.

Geestelike groei deur ons kennis van Jesus is dus soos twee kante van dieselfde munt. Toewyding aan Hom lei tot dieper kennis van Hom. Kennis van Hom lei weer tot dieper toewyding aan Hom. Uiteraard is geestelike groei dus aan die een kant iets wat deur sy goddelike krag aan ons geskenk word, soos hy in die volgende verse gaan uitspel, maar aan die ander kant ook iets waaraan ons onsself moet en kan toewy.

1:3-15 – Vestig julle roeping en verkiesing deur geestelik te groei

Die beginpunt en ook kragpunt van die geestelike lewe is God se goddelike krag wat ons alles gegee het wat ons nodig het vir ‘n toegewyde lewe – ‘n lewe wat van godsvrug getuig. Dit kom van ons kennis van Hom wat deur die geloof aan ons geskenk is.

Sy hele wese is daarin opgesluit sodat ons in ons groei in die kennis van Hom: “deel kan hê aan die goddelike natuur”. Dit is die enigste keer wat die NT só oor geestelike groei praat. Petrus bedoel hiermee nie dat ons as’t ware vergoddelik word nie, maar dat ons al hoe meer as nuwe mense kan lewe op grond van die werk wat Hy in ons doen. In Paulus se woorde, dat ons nie langer deur ons “sondige natuur” beheers sal word nie, maar deur die Gees (veral Rom. 8:1-17; Gal. 5:16-25).

Omdat God daarmee Homself vir ons gegee het, moet hulle hulle toelê daarop om húlle geloof – d.w.s. hulle subjektiewe vasgryp aan die Here – te verryk met ‘n sewetal geestelike aspekte – Petrus se weergawe van Paulus se vrug van die Gees (Gal. 5:22) – sodat hulle kennis vrug kan dra in hulle lewe. Anders is nie net die geloof nutteloos nie, maar ook hulle kennis. Iets om ter harte te neem.

Dié sewe aspekte waarop hulle dus moet fokus wat veral ‘n etiese karakter dra, is: uitnemendheid (deugsaamheid of verantwoordelikheid), insig (kennis in die sin van begrip, soos ook in Fil. 1:10), selfbeheersing, volharding, ‘n toegewyde lewe (godsvrug), broederliefde (in Grieks filadephia – liefde onder mekaar) en liefde vir alle mense (in Grieks agape – onselfsugtige liefde).

As dié dinge ontbreek in hulle geestelike lewe, is hulle blind en kortsigtig oor God se doel met hulle lewe en het hulle vergeet dat die Here hulle skoongemaak het om vir Hom te lewe. Hy het hulle gekies en geroep om saam met Hom die ewigheid binne te gaan. Geestelike groei sal verseker dat hulle dié doel nie mis nie.

Petrus is oortuig dat hulle eintlik reeds dié dinge nie net begryp nie, maar uitlewe, maar hy wil hulle herinner daaraan sodat hulle vas kan bly staan in die lig van die uitdagings wat deur die dwaalleraars op hulle wag. Hy weet dat hy nie meer lank oor het om te lewe nie, soos die Here Jesus aan hom bekend gemaak het. Daarom dié brief en ook ander inisiatiewe wat hy onderneem om seker te maak dat hulle nie dié dinge sal vergeet as hy nie meer daar is nie.

1:16-21 – Die getuienis oor Jesus Christus is betroubaar

Hy herinner hulle dus aan die feit dat die getuienis oor Jesus Christus volledig betroubaar is. Dit is nie maar ‘n vindingryke fabel, ‘n goeie storie nie.

In die eerste plek is dit betroubaar vanweë sy kragtige teenwoordigheid in die verkondiging aan hulle in Turkye nie (2 Pet. 1:16). Die geloofsgemeenskap het sy krag in hulle lewe ervaar toe hulle tot geloof gekom het. Hulle kan dus self getuig van die krag en betroubaarheid van die Here Jesus en sy lewende teenwoordigheid.

Die getuienis oor Jesus Christus is in die tweede plek betroubaar weens die ooggetuie karakter van Petrus se eie ervaring daarvan tydens Jesus se lewe op aarde (2 Pet. 1:17-18). Petrus verwys hier na die ervaring wat hy met Jesus en twee ander dissipels op die berg van verheerliking gehad het (Matt. 17). Hy het nie net die eer en heerlikheid van Jesus met sy eie twee oë aanskou nie, maar die stem van God met sy eie twee ore uit die hemel gehoor wat gesê het: “Hy is my Seun, my geliefde Seun, in wie Ek My verbly.” Dit is iets wat selfs Paulus nie beskore was nie, en daarom ‘n baie kragtige ondersteuning van die betroubaarheid van die getuienis oor Jesus Christus.

Die getuienis oor Jesus Christus is in die derde plek betroubaar weens die getuienis daaroor in die Skrifte, soos die Heilige Gees dit aanwend en uitlê, wat hulle die regte begrip van al dié dinge kan gee (2 Pet. 1:19-20). Dít is uiteindelik die belangrikste deel van hulle fokus in hulle geestelike groei: “Julle doen die regte ding as julle daarop fokus soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte.

Hiermee verwys hy na die fokus op die Skrif onder leiding van die Heilige Gees totdat daar begrip van God se woord vir hulle lewe kom. Petrus gebruik die metafoor van die môrester hier as ‘n vergelyking met die boodskap van die profete wat is soos ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn. Dat die môrester moet opkom in “julle harte” beteken dus, figuurlik gesproke, dat hulle op die Skrif moet fokus, spesifiek ook die boodskap van die profete, totdat hulle dit deeglik verstaan.

Boodskap

Dit is ‘n ongelooflike ryk gedeelte. Petrus praat só omvattend oor geloof. Geloof is iets wat God vir ons gee, waarvan die inhoud die hele evangelie van Jesus Christus is. Geloof is ook iets wat ons beoefen, deurdat ons vasgryp aan dié Een waarvan die evangelie ons vertel, Jesus Christus. Dit is objektief en subjektief. Petrus koppel geloof verder onomwonde aan ons kennis van die Here en sy wil vir ons lewe. Díe kennis moet groei in inhoud en ervaring en veral in die manier waarop ons lewe – uitnemend, met insig, selfbeheersd, volhardend, toegewyd, en vol liefde beide vir ons eie mense as vir alle mense.

En Petrus laat ons op geen manier onseker oor die betroubaarheid van die inhoud van ons geloof, Jesus Christus nie. Ons kan dit eerstens self ervaar in die kragtige teenwoordigheid van die Here Jesus Christus onder ons. Ons kan Petrus se ooggetuie verslag as begronding daarvan aanvaar. En ons kan die Skrifte lees, onder leiding van die Heilige Gees, sodat die boodskap daarvan ons van binne af kan oortuig van die waarheid daarvan. Watter voorreg!

2 Petrus


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: