Inleiding op Hooglied
Lied van liedere
Salomo
Hoewel die boek tradisioneel aan Salomo toegeskryf is, is daar baie min geleerdes wat dit vandag nog handhaaf.
- Aan die een kant kom Salomo se naam 7 keer voor in die boek (1:1, 5; 3:7, 9, 11; 8:11, 12). In hoofstuk 3:6-11 word ‘n beskrywing gegee wat met Salomo self geïdentifiseer kan word. Die man verwys ook na homself as die koning (7:5). Die vrou word ook in die gedigte as koningin beskryf (6:8-9).
- Aan die ander kant kan die titel van die boek bv vertaal word as: “Die mooiste lied oor Salomo” (1:1). Dit maak sin as ‘n mens in ag neem dat dit in 8:11-13 wil voorkom asof die man iemand anders as Salomo is. Die verwysing na die man en vrou as koning en koningin kan daarby liefdesname wees wat hulle in die digterlike verwysings na mekaar gebruik.
Belangriker as die mening hieroor, is egter die deurlopende feit dat die vrou in haar gedigte duidelik kies vir persoonlike liefde, eerder as die gedeelde liefde van die harem, soos wat die geval met Salomo sou wees. Dit maak dit onwaarskynlik dat die skrywer Salomo is.
Sulammitiese vrou
Die vrou in die gedigte word as ‘n Sulammitiese vrou geïdentifiseer (6:13). Sulam was ‘n boerderygemeenskap 96 km noord van Jerusalem. Sommige geleerdes identifiseer haar (of ‘n ander vrou) ook as die digteres self (Christina Landman). Van die getuienis dat die digteres ‘n vrou is – in die uitstekende werk van Elliot, Literary Unity – is dat die fokus, anders as in ander poësie uit daardie tyd, deurgaans op die vrou en haar ervaring gerig is. Die dialoog in die gedigte is ook duidelik ‘n poëtiese tegniek, nie die gevolg van die samevoeging van gedigte van bv die man en die vrou nie.
Dit is moeilik om terugskouend ‘n mening hieroor te verdedig, aangesien ons min detail het om op te gaan. Hooglied sou ook die werk kon wees van verskillende digters wat deur ‘n redaktor versamel is. Maar, dit sou opwindend wees as die Hooglied wel deur ‘n vrou geskryf is!
Van droom na werklikheid
‘n Mens kan ‘n sekere mate van progressie van gedagtes in die loop van die gedigte waarneem, waar die gedigte algaande meer en meer van die droom oor en verlange na die liefde beweeg na die vervulling en werklikheid daarvan. Hooglied werk dus beide met die liefdesdrome wat ons oor mekaar het, sowel as met die werklikheid van daardie liefde. Dit sluit ook die teleurstellings en misverstande van die liefde in.
Indeling in gedigte
Om Hooglied egter in te deel in ‘n logiese geheel, is ‘n groot uitdaging. Die paar herhalings in die teks (“vroue van Jerusalem” in 2:7; 3:5; 8:4 en “sy linkerarm is onder my kop, sy regterarm omhels my” in 2:6; 8:3) help nie veel nie, omdat daar net te veel kleiner gedagte-eenhede in die boek is, wat eintlik as selfstandige en afsonderlike gedigte gelees kan word.
Sommige geleerdes lees daarom die boek vers-vir-vers en verklaar dit as sodanig (Pope). Ander verdeel dit in korter en langer gedigte op grond van die inhoud en struktuur, soms so min as 9 gedigte (Murphy) en soms so veel as 42 (Keel).
Drie-karakter liefdesverhaal
Een manier om ‘n logiese geheel te vind, is om Hooglied teen die agtergrond van ‘n drie-karakter liefdesverhaal te lees, waarin ‘n Sulammitiese vrou deur Salomo die hof gemaak word, en sy – teen die insluiting in die harem saam met honderde ander vroue – kies vir persoonlike liefde, liefde vir die man wat haar op sy beurt ook liefhet. Die vroue van Jerusalem (6:1, 13; 8:5 – deel van die harem?), sowel as (waarskynlik) haar broers (8:8-9), lewer dan op gesette tye bykomende kommentaar. Dit is ‘n aantreklike opsie, hoewel ‘n mens net moet besef dat dit ‘n hipotese is, en slegs ‘n handige manier om eenheid tussen die onderskeie selfstandige gedigte te vind.
Maar om dan selfs met die gerief van só ‘n standpunt af by ‘n eenvormige algemeen-aanvaarde struktuur te kom vir die onderskeie gedigte, is nog weer ‘n ander storie! Die onderskeie indelings in die kommentare, en verskillende vertalings, weerspieël eintlik maar net die betekenis wat die gedigte vir die individuele kommentatore en vertalers het, eerder as dat die indelings noodwendig met stelligheid slegs op grond van tekstuele oorwegings aangetoon kan word. En ‘n mens kan steeds elke gedig ook afsonderlik lees.
Poësie
Voel dus vry om self te besluit watter indelings vir jou sin maak of nie. Die impak wat die beskrywing van die liefde op jou persoonlik gaan maak, is veel belangriker as die presiese wetenskaplikheid van enigiemand se indeling. Dit is na alles poësie waarmee ons werk, en nie ‘n handboek van die een of ander aard nie.
Indeling van die leeswerk
Ek het gehou van Christina Landman se indeling van die boek in 32 gedigte wat sy nog verder in 10 episodes opgesom het (Lirieke van die liefde, Lux Verbi: 1999).
- Ek hoop ek is mooi genoeg – Die vrou se eerste droom: 1:1-11
- Ek kan ook deelneem aan hierdie verhouding – Die vrou se tweede droom: 1:12-2:7
- Die man kom my haal – Die vrou se derde droom: 2:8-17
- My maat bly weg – Die vrou se eerste nagmerrie: 3:1-5
- Die troudag breek aan – Die vrou se vierde droom: 3:6-11
- Nou vir die eerste huweliksnag – Die vrou se vyfde droom: 4:1-5:1
- Ek gaan hom verloor – Die vrou se tweede nagmerrie: 5:2-8
- My vriendinne spot my – Die nagmerrie duur voort: 5:9-6:3
- Hy wil nie sonder my lewe nie – Die vrou se sesde droom: 6:4-8:4
- Die werklikheid kan beter as ‘n droom wees – Die vrou kom tot die besef: 8:5-14
‘n Ander manier is om die boek op grond van Duanne Garrett se indeling in liefdes-”liedere” as volg te lees (let op hoe die indeling ‘n chiastiese inklusiewe patroon openbaar [A-A’; B-B’ ensovoorts):
A | I. Koor en Sopraan: die toetrede (1:2–4) |
B | II. Sopraan: die maagd se onderrig I (1:5–6) |
C | III. Sopraan en Koor: om die geliefde te vind (1:7–8) |
D | IV. Tenoor, Koor, en Sopraan: die eerste lied van wedersydse liefde (1:9–2:7) |
E | V. Sopraan en Tenoor: die uitnodiging om te vertrek (2:8–17) |
F | VI. Drie huweliksnag liedere (3:1–5; 3:6–11; 4:1–15) |
Fa | a. Sopraan: die bruid se angs (3:1–5) |
Fb | b. Koor: die bruid kom na die bruidegom (3:6–11) |
Fc | c. Tenoor: die vleklose bruid I (4:1–15) |
G | VII. Sopraan, Tenoor, en Koor: die huweliksdaad (4:16–5:1) |
F´ | VIII. Drie huweliksnag liedere (5:2–16; 6:1–3; 6:4–10) |
Fa´ | a. Sopraan, Tenoor, en Koor: die bruid se pyn (5:2–8) |
Fb´ | b. Koor en Sopraan: die bruid herwin die bruidegom (5:9–6:3) |
Fc´ | c. Tenoor en Koor: die vleklose bruid II (6:4–10) |
E´ | IX. Sopraan, Koor, en Tenoor: om kindwees agter te laat (6:11–6:13) |
D´ | X. Tenoor en Sopraan: die tweede lied van wedersydse liefde (7:1–8:4) |
C´ | XI. Koor en Sopraan: om die geliefde toe te eien (8:5–7) |
B´ | XII. Koor en Sopraan: die maagd se onderrig II (8:8–12) |
A´ | XIII. Tenoor, Koor, en Sopraan: die afskeid (8:13–14) |
Ek het besluit om die boek op voetspoor van Landman se indeling te lees, hoewel elkeen van ons steeds natuurlik self sal moet luister na wat God vir ons daardeur en vir ons eie situasie wil sê.
Liefdesname
Dit is opmerklik hoe die twee liefdesgenote mekaar met ‘n wye reeks liefdesname aanspreek en dat hulle fokus op die seksuele en lyflike kant van hulle liefde, nie op hulle persoonlikhede of karaktereienskappe nie, hoewel ‘n mens party daarvan kan aflei uit hulle beskrywings van mekaar. Dit is natuurlik ook beelde wat in hulle kultuur sin gemaak het, en nie noodwendig in alle gevalle vir ons goed op die oor val nie!
Hy noem haar “my mooiste” (1:8; 2:10, 13), sy “lelie” (2:1), “my liefling” (2:1, 10, 13; 4:1, 7; 6:4), “my duif” (2:14; 5:2; 6:9), “my bruid” (4:8), “my beminde bruid” (4:9, 10, 12; 5:1, 2), “my volmaakte” (5:2; 6:9), en sy “liefste” (7:6).
Hy vergelyk haar met afwisselende beelde uit die natuur en hemelruim, sowel as die gemeenskap. Sy is soos ‘n “spogperd” (1:9 – hy praat van ‘n merrie, wat soms in oorloë gebruik is om die aandag van die hingste af te lei …!), “‘n tuin wat toegemaak is” (4:12), haar liggaam is “’n lushof” van verskillende bome, struike en vrugte (4:13-15 – beelde wat in Egiptiese liefdesgedigte ook gereeld gebruik is), “‘n fontein in sy tuin” (4:15), so “mooi soos Tirsa” (6:4 – ‘n stad in die landstreek van Samaria), so “aantreklik soos Jerusalem” (6:4), so “pragtig soos die maan” (6:10), so “helder soos die son” (6:10), so “indrukwekkend soos ‘n afdeling vaandeldraers” (6:4, 10) met ‘n slanke gestalte “soos ‘n palmboom” (7:7).
Baie kere praat hy spesifiek van dele van haar liggaam: “oë soos duiwe” (4:1) of “soos die damme by Gesbon” (7:4 – ‘n dorp oos van die Jordaan), “neus soos die toring op Libanon” (7:4 – ‘n beeld wat miskien vandag nie só gebruik sal word nie!), “lippe soos skarlakenrooi lint” (4:3), “tande so wit soos ’n ry pasgeskeerde skape” (4:2; 6:6), “nek soos ‘n toring van ivoor” (7:4), “kop soos Karmel” (7:5), “hare soos rooi wol” (7:5) of “soos ‘n trop bokke” (4:1; 6:5), “borste soos takboklammers” (4:5; 7:3) of “druiwetrosse” (7:7, 8), “rondings van haar heupe soos juwele” (7:1), “naeltjie ‘n ronde kom waarin die kruiewyn nie ontbreek nie” (7:2), “maag ‘n hoop koring met lelies omring” (7:2). Sy is sy “mirreberg” (4:6), sy “wierookheuwel” (4:6).
Sy noem hom “koning” (1:4; 12 – iets wat hy ook van homself sê: 7:5), “my liefling” (1:9), “my lewensmaat” (5:16), ‘n “appelboom” (2:3), ‘n “ribbok” (2:9, 17), en “‘n takboklam” (2:9, 17). Sy wensdroom oor hom as haar “broer”, sodat sy in die strate hom sou kon soen (8:1). Maar in die privaatheid van haar ma se huis is sy darem vry om hom te laat drink van haar kruiewyn (vergelyk haar naeltjie vol kruiewyn – 7:2), en van haar granaatsap (8:2).
Ook sy praat van dele van sy liggaam wat vir haar uitstaan: “oë soos duiwe” (5:12), “wange soos kruiebeddings” (5:13), “lippe soos lelies” (5:13), “voorkop soos suiwer goud” (5:11), “haarlokke soos dadeltrosse” (5:11), “lyf soos ‘n blok ivoor” (5:14), “hande soos stawe goud” (5:14), en “bobene soos marmerpilare” (5:15).
Boodskap
Vier perspektiewe oor die liefde van die boek Hooglied is vir my van belang om die boodskap van die boek te verstaan:
- Hooglied besing die selfstandige waarde van die seksuele en erotiese kant van die liefde tussen man en vrou. Die behoefte aan seksuele intimiteit is ‘n universele deel van menswees. In Hooglied se onverbloemde verheerliking van die seksuele en erotiese kant van die liefde, word ‘n sterk saak uitgemaak vir die gelykwaardige betekenis van die seksuele liefde, sodat dit nie as ondergeskik beskou sal word aan die ander aspekte van die liefde nie, bv die geestelike, of kameraadskaplike, of lewensgemeenskaplike dimensies daarvan. Seksuele liefde is volgens Hooglied dus nie minderwaardig teenoor ander vorme van die liefde tussen man en vrou nie.
- Hooglied besing die waarde van die seksuele liefde in die konteks van die wedersydse, persoonlike en getroue verhouding tussen een man en een vrou. Die liefdesgedigte van Hooglied bevestig die privaatheid van seksuele intimiteit tussen man en vrou. Seksuele liefde moet dus nie oorhaastig aangeblaas word nie (2:7; 3:5; 8:4 – veral nie as dit jou deel van die harem maak nie!), dit moet nie publiek vertoon word nie (1:4; 3:1-4; 8:1-2), dit moet nie lei tot enige vorm van promiskuïteit met ander vroue/mans nie (6:3; 7:10; 8:8-10). Natuurlik mag dit ook nie lei tot uitbuiting of misbruik binne die verhouding nie, iets wat na alle waarskynlik binne ‘n harem sou kon gebeur. In die lig van die interpretasie van Hooglied as ‘n drie-karakter liefdesverhaal, kies die digter(es) dus vir persoonlike liefde, teenoor die praktyk van die harem van Salomo se tyd. En spel die boek uit hoe ‘n mens lief kan wees, sonder om jouself te verloor.
- Hooglied wys dat seksuele liefde die guns van God geniet. Die insluiting van Hooglied in die Bybel bevorder daarmee die gedagte dat die instelling van die huwelik sowel as die rol wat seksuele liefde daarin speel, iets is wat God se guns geniet. Tradisioneel het die Jode immers dié boek gelees op die 8ste dag van die Paasfees, waarin die belang van die seksuele liefde as deel van die feestelike herdenking van die Trek, Tora en Tabernakel van die Eksodus beskou is. Daarmee is die seksuele liefde tussen man en vrou as deel van die normale lewe voor God bevestig.
- Hooglied wys dus dat seksuele liefde vir die verhouding tussen man en vrou bedoel is, nie vir die verhouding met God en/of die gode soos in die vrugbaarheidsgodsdienste nie. Seksuele liefde het vir Hooglied geen godsdienstige funksie nie, en wys dat dit uitsluitlik bedoel is vir die intieme lewensgemeenskap tussen man en vrou. Daarmee word ‘n streep getrek deur die gebruik van tempelprostitusie wat in sommige godsdienste van dié tyd voorgekom het. Die seksuele liefde tussen man en vrou is doodgewoon deel van die lewe voor God, nie ‘n manier om Hom te aanbid nie.
[1]Garrett, Duane: Word Biblical Commentary : Song of Songs/ Lamentations. Dallas : Word, Incorporated, 2004 (Word Biblical Commentary 23B), S. 32
View all posts in this series
- Bybelskool oor Prediker en Hooglied
- Inleiding op Hooglied
- Hooglied 1:1-11 – Passievolle plesier in saamwees
- Hooglied 1:12-2:7 – Wedersydse geborgenheid, tuiswees, bevestiging en opwinding
- Hooglied 2:8-17 – Bedwelming en beskerming in die liefde
- Hooglied 3:1-5 – Liefde kom tot sy reg binne families
- Hooglied 3:6-11 – Die huwelik is ryk aan betekenis
- Hooglied 4:1-5:1 – In die tuin van liefde
- Hooglied 5:2-8 – Verskillende behoeftes bring maklik verwydering
- Hooglied 5:9-6:3 – Die vreugde van vrywillige versoening
- Hooglied 6:4-8:4 – Verwonderde verrukking en verbeeldingryke verwagting
- Hooglied 8:5-14 – Die liefde is wederkerig en interafhanklik
- MENINGSOPNAME 2012
- Hooglied – Lees, luister, leef – ePub
Tags: Hooglied
Trackback from your site.
Chris van Wyk
| #
Hi Yunis, die reëling was om vermorsing te voorkom. Die pa moes bereken of sy familie ‘n lam sou kon opeet. Minder as tien mense in ‘n gesin, veral as dit kleiner kinders was, sou dit moontlik nie maak nie! Daarom kon hulle met hulle bure deel, sodat die vleis nie vermors word nie. Want, onthou, alles is verbrand aan die einde van die maaltyd. As ‘n mens simbolies daarna kyk, kan ‘n mens mededeelsaamheid en samewerking in die koninkryk daarin lees.
Yunis Duimpies
| #
Goeie middag Ds Chris
Baie dankie vir Ds se uiteensetting oor Exodus 12 in verband met die uittog uit Egipte.Ek wil net graag weet,wat beteken dit simbolies wanneer as huisgesinne die lammetjie saam moet eet en as hulle te klein is vir die lam,hulle saam met hulle bure deel.Ek hoop u verstaan wat ek bedoel.Baie dankie
Chris van Wyk
| #
Hi Yvonne, dankie vir die korreksie! Seën vir jou leeswerk hierdie jaar.
Chris van Wyk
| #
Hi Miems, die wet is duidelik dat ‘n mens nie moord mag pleeg nie (Eks 20:13) soos Jesus (Matt 5:21-22) en Paulus (Rom 13:9) dit ook bevestig. Die Heidelbergse Kategismus verduidelik dit so:
Sondag 40
105 Vraag: Wat eis God in die sesde gebod?
Antwoord: Ek mag nie self en ook nie deur iemand anders my naaste onteer, haat, beledig of doodmaak nie. Ek mag dit nie met my gedagtes, woorde of gebare doen nie en nog minder met die daad (a). Ek moet alle wraaksug laat vaar (b). Ek mag ook myself nie kwaad aandoen of moedswillig in gevaar begewe nie (c). Daarom dra die owerheid die swaard om doodslag te weer (d).
(a) Matt 5:21, 22; 26:52; Gen 9:6. (b) Ef 4:26; Rom 12:I9; Matt 5:25;18:35. (c) Rom 13:14; Kol 2:23; Matt 4:7. (d) Gen 9:6; Eks 21:14; Matt 26:52; Rom 13:4.
106 Vraag: Praat hierdie gebod net van doodmaak?
Antwoord: Deur doodmaak te verbied, leer God ons dat Hy die wortel daarvan (a), soos afguns, haat (b), woede (c) en wraaklus verafsku. Dit alles is vir Hom heimlike moord (d).
(a) Spr 14:30; Rom 1:29. (b) 1 Joh 2:11. (c) Jak 1:20; Gal 5:19-21. (d) 1 Joh 3:15.
107 Vraag: Het ons die gebod gehoorsaam as ons maar net nie ons naaste doodmaak, soos hierbo gesê is nie?
Antwoord: Nee, terwyl God afguns, haat en woede verbied, gebied Hy dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself (a). Ons moet teenoor hom geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en vriendelik wees (b), alles wat hom kan benadeel, sover moontlik probeer voorkom (c) en selfs aan ons vyande goed doen (d).
(a) Matt 22:39; 7:12; Rom 12:10. (b) Ef 4:2; Gal 6:1, 2;Matt 5:5; Rom 12:18; Luk 6:36; Matt 5:7; 1 Pet 3:8; Kol 3:12. (c) Eks 23:5. (d) Matt 5:44, 45; Rom 12:20.
Chris van Wyk
| #
Ek het ook ‘n paar gedagtes oor gebed by: https://bybelskool.com/drie-vaste-gebedstye-vir-elke-dag/
Chris van Wyk
| #
Hi Frans – ek het ‘n paar gedagtes oor vas geplaas by: https://bybelskool.com/die-plek-van-vas-in-geloofsgewoontes/. Daarin is ‘n pdf van Calvyn oor vas.
Frans Scheepers
| #
Ek soek na handleiding vir die tyd waarin ons is, vir die pandemie. Veral oor intense gebed.
Chris van Wyk
| #
Dankie Chantelle – jy kan my bydraes oor Esegiël hier bereik: https://bybelskool.com/esegiel-blad/
Chantelle
| #
Baie Dankie hier oor Baie ekstra kennis by gelas 🙏👋, ek is op soek na notasoor die boek Esegiel.
Kan my kontak op my epos Dankie
Groete
Chantelle du Plessis
Chris van Wyk
| #
Hi Anton
Dit is nie my punt nie, maar die punt van die Dordtse Leerreëls op grond van die Skrif. Hier is dit in konteks aangehaal:
1. Alle mense het in Adam gesondig en hulle skuldig gemaak aan die vloek en die ewige dood. Daarom sou God niemand verontreg het as dit sy wil was om die hele menslike geslag in die sonde en vervloeking te laat bly en vanweë die sonde te veroordeel nie. Daarom leer die apostel: die hele wêreld is voor God doemwaardig (Rom 3:19). Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God (Rom 3:23) en: Die loon van die sonde is die dood (Rom 6:23).
2. Die liefde van God is egter hierin geopenbaar dat Hy sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê (1 Joh 4:9; Joh 3:16).
3. Om mense tot geloof te bring, stuur God uit louter goedheid verkondigers van hierdie vreugdevolle boodskap na wie Hy wil en wanneer Hy wil. Deur hulle diens word die mense geroep tot bekering en geloof in Christus, die gekruisigde, want: Hoe kan hulle in Hom glo van Wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? (Rom 10:14,15).
4. Die toorn van God bly op hulle wat hierdie evangelie nie glo nie. Hulle wat die evangelie egter aanneem en die Verlosser, Jesus, met ‘n ware en lewende geloof omhels, word deur Hom van die toorn van God en van die verderf verlos, en Hy skenk hulle die ewige lewe (Joh 3:36; Mark 16:16).
5. Die oorsaak of skuld van daardie ongeloof, net soos van alle ander sondes, lê beslis nie by God nie, maar by die mens. Die geloof in Jesus Christus en die saligheid deur Hom is egter ‘n genadegawe van God. Soos geskrywe is: Uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God (Ef 2:8), ook: Dit is aan julle genadiglik gegee om in Christus te glo (Fil 1:29).
6. Dat God aan sommige mense in die tyd die gawe van die geloof skenk en aan ander dit nie skenk nie, volg uit sy ewige besluit. Immers: Aan God is al sy werke van ewigheid af bekend (Hand 15:18), en Hy doen alles volgens die raad van sy wil (Ef 1:11). Volgens hierdie besluit maak God genadiglik die harte van die uitverkorenes ontvanklik – hoe verhard hierdie harte ook al mag wees – en buig hulle om tot geloof. Hulle wat egter nie uitverkies is nie, laat Hy volgens sy regverdige oordeel in hulle boosheid en verharding bly. Hierin veral kom vir ons tot openbaring die diepe, barmhartige en tegelyk regverdige onderskeiding tussen die mense wat almal ewe verlor is. Dit is die besluit van die uitverkiesing en verwerping wat in die Woord van God geopenbaar is. Verkeerde, onreine en onstandvastige mense verdraai hierdie leer tot hulle eie verderf, maar aan die heiliges en godvresendes gee dit ‘n onuitspreeklike troos.
7. Hierdie uitverkiesing is ‘n onveranderlike voorneme van God. Daarvolgens het Hy nog voor die skepping ‘n sekere aantal mense uit die hele menslike geslag uitverkies. Hierdie menslike geslag het deur hulle eie skuld van hulle oorspronklike ongeskondenheid in sonde en verderf verval. Die uitverkorenes is dus nie beter of waardiger as die ander nie, maar verkeer saam met die ander in die gemeenskaplike ellende. Nogtans het Hy hulle, uit volkome vrye welbehae van sy wil en uit louter genade, tot die saligheid in Christus uitverkies. God het Christus ook van ewigheid af tot Middelaar en Hoof van al die uitverkorenes en tot Fondament van die saligheid gestel. So het Hy ook besluit om die uitverkorenes aan Christus te gee om hulle salig te maak. Deur sy Woord en Gees roep en trek God die uitverkorenes kragdadiglik tot gemeenskap met Hom. Hy het dus besluit om aan die uitverkorenes die ware geloof in Christus te gee, hulle te regverdig en te heilig en om hulle, wat kragtig in die
gemeenskap van sy Seun bewaar word, uiteindelik as bewys van sy barmhartigheid en tot lof van sy oorvloedige en heerlike genade te verheerlik. Soos geskrywe is: In Christus het God Hy ons uitverkies voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons vir sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil, tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde (Ef 1:4,5,6); en elders: Die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook
verheerlik (Rom 8:30).
8. Hierdie uitverkiesing is nie veelvoudig nie, maar een en dieselfde vir almal wat salig word, in die Ou sowel as in die Nuwe Testament. Die Skrif verkondig immers aan ons net een welbehae, voorneme en raad van die wil van God. Hiervolgens het Hy ons van ewigheid af uitverkies tot die genade sowel as tot die heerlikheid, tot die saligheid sowel as tot die weg na die saligheid wat Hy voorberei het, sodat ons daarin kan wandel (Ef 1:4,5; 2:10).
9. Hierdie uitverkiesing het nie op grond van vooruitgesiene geloof, geloofsgehoorsaamheid, heiligheid of enige ander goeie hoedanigheid of geskiktheid van die mens tot stand gekom nie. Dit alles kan nooit vooraf as rede of voorwaarde vir die uitverkiesing van die mens vereis word nie. Die uitverkiesing is immers die oorsaak van geloof en geloofsgehoorsaamheid, heiligheid, ensovoorts. Daarom is die uitverkiesing die fontein van alle saligheid waaruit geloof, heiligheid en al die ander saligmakende gawes, en uiteindelik die ewige lewe self, as vrugte en gevolge daarvan voortvloei. Die apostel getuig immers: Om heilig en sonder gebrek voor Hom te wees (Ef 1:4), en nie ómdat ons alreeds so was nie.
10. Die oorsaak van hierdie genadige uitverkiesing is inderdaad slegs die welbehae van God. Dit bestaan nie daarin dat Hy uit alle moontlikhede sekere menslike hoedanighede of dade as ‘n voorwaarde vir die saligheid uitgekies het nie. Dit bestaan wel hierin dat Hy sekere bepaalde mense uit die hele menigte van sondaars as sy eiendom aangeneem het. Soos geskrywe is: Toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie, …, is vir haar (nl Rebekka) gesê: Die oudste sal die jongste dien. Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat (Rom 9:11,12,l3); en: Daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe (Hand
13:48).
11. God self is alwys, onveranderlik, alwetend en almagtig, en daarom kan sy daad van uitverkiesing nie ongedaan gemaak, oorgedoen, verander, herroep of afgebreek word nie. Die uitverkorenes kan ook nie verwerp of in getal verminder word nie.
12. Die uitverkorenes word op God se tyd van hulle ewige en onveranderlike uitverkiesing tot saligheid verseker. Dit gebeur verskillend en nie vir almal in gelyke mate nie. Hierdie versekering ontvang hulle nie as hulle nuuskierig die verborgenhede en dieptes van God probeer deursoek nie. Hulle ontvang die sekerheid egter as hulle in hulleself die onfeilbare vrugte van die uitverkiesing, soos in die Woord van God aangewys, met geestelike blydskap en heilige vreugde waarneem. Hierdie onfeilbare vrugte van die uitverkiesing is die ware geloof in Christus, die kinderlike vrees van God, die droefheid oor die sonde volgens die wil van God, die honger en dors na die geregtigheid, ensovoorts (2 Kor 13:5).
13. Vir die kinders van God is die besef en die sekerheid van hierdie uitverkiesing daagliks steeds meer rede om hulle voor die aangesig van God te verootmoedig, om die diepte van sy barmhartigheid te aanbid, om hulleself te reinig en om Hom, wat hulle eerste so uitnemend liefgehad het, ook van hulle kant vurig lief te hê. Dit is dan ook onmoontlik dat hierdie leer van die uitverkiesing en die besinning daaroor die kinders van God sal laat ophou om die gebooie van God te gehoorsaam of dat hulle onverskillig sou word deur ‘n sondige lewe te lei. Deur die regverdige oordeel van God is dit juis die geval met hulle wat die genade van die uitverkiesing ligtelik vir hulleself toe-eien of ydellik en ligsinnig daaroor praat, sonder dat hulle begeer om in die weë van die uitverkorenes te
wandel.
14. Hierdie leer van die Goddelike uitverkiesing is verder, volgens die wyse besluit van God, deur die profete, deur Christus self en deur die apostels in sowel die Ou as die Nuwe Testament verkondig. Daarna is dit in die heilige Skrifte bekend gemaak en bewaar. Daarom moet dit vandag nog op die regte tyd en plek in die kerk van God – waarvoor dit in die besonder bestem is – uiteengesit word. Hierdie leer moet egter oordeelkundig, met gelowige eerbied en heilige ontsag, sonder ‘n nuuskierige ondersoek na die weë van die Allerhoogste, verkondig word. Dit alles moet gebeur tot eer van die heilige Naam van God en tot ‘n lewende troos vir sy volk (Hand 20:27; Rom 12:3; 11:33,34; Heb 6:17,18).
15. Verder toon die heilige Skrif hierdie ewige en onverdiende genade van ons uitverkiesing baie duidelik aan en verkondig dit nadruklik aan ons. Dit getuig bowendien dat nie alle mense uitverkies is nie, maar dat sommige nie uitverkies is nie of in die ewige uitverkiesing van God verbygegaan is. God het besluit om hulle, na sy volkome vrye, regverdige, onberispelike en onveranderlike welbehae, in die gemeenskaplike ellende te laat bly. Daarin het hulle hulleself deur hulle eie skuld gestort. God het immers besluit om nie aan hulle die saligmakend~ geloof én die genade van die bekering te gee nie. Om sy geregtigheid te openbaar, het God besluit om hierdie mense aan hulleself oor te laat, hulle onder sy regverdige oordeel te laat bly en om hulle nie alleen oor hulle ongeloof nie, maar ook oor al hulle ander sondes te veroordeel en ewig te straf. Dit is die besluit van die verwerping, wat God hoegenaamd nie tot bewerker van die sonde maak nie, want dit sou ‘n godslasterlike gedagte wees. Inteendeel, dit sê juis dat God ‘n gedugte, onberispelike en regverdige Regter is wat die sonde straf.
16. Hulle wat die lewende geloof in Christus, die vaste vertroue, die gewetensrus, die beoefening van kinderlike gehoorsaamheid en die roem in God deur Christus nog nie ten volle ervaar nie – ofskoon hulle die middele gebruik waardeur God hulle beloof, het om hierdie dinge in ons te bewerk – moet nie mismoedig word wanneer hulle van die verwerping hoor nie. Hulle moet hulleself ook nie onder die verworpenes reken nie, maar ywerig voortgaan om die middele te gebruik, vurig verlang na die tyd van oorvloediger genade en dit ook met eerbied en ootmoed verwag. Hulle wat ernstig begeer om hulle tot God te bekeer, om Hom alleen gehoorsaam te wees en van die liggaam van die dood verlos te word, maar op die pad van die vroomheid en die geloof nog nie so ver gekom het as wat hulle wel wou nie, behoort nog minder die leer van die verwerping te vrees. Die barmhartige God het immers beloof dat Hy die dowwe lamppit nie sal uitblus en die geknakte riet nie sal verbreek nie. Maar
hierdie leer is tereg verskriklik vir almal wat God en die Verlosser, Jesus Christus, verag en hulleself geheel en al aan wêreldse sorge en sondige begeertes oorgegee het. Dit sal so bly solank hulle hulle nie met erns tot God bekeer nie.
17. Die Woord van God, waaruit ons die wil van God leer ken, getuig daarvan dat die kinders van die gelowiges heilig is. Hulle is nie van nature heilig nie, maar kragtens die genadeverbond waarin hulle saam met hulle ouers opgeneem is. Gelowige ouers moet daarom nie twyfel aan die uitverkiesing en saligheid van hulle kinders wat God in hulle kinderjare uit hierdie lewe wegneem nie (Gen 17:7; Hand 2:39;1 Kor 7:14).
18. Teen iemand wat oor hierdie genade van die onverdiende uitverkiesing en gestrengheid van die regverdige verwerping in opstand is, stel ons die woorde van die apostel: O, mens, wie is jy wat teen God antwoord? (Rom 9:20); en ook die woorde van ons Saligmaker: Of staan dit my nie vry om met my eie goed te maak wat ek wil nie? (Matt 20:15). Maar ons wat hierdie verborgenhede godvresend en met eerbied aanbid; roep saam met die apostel uit: O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken of wie was sy raadsman gewees? Of wie het iets aan Hom gegee, dat dit vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid! Amen (Rom 11:33-36).