Skip to main content

Inleiding op Hooglied

Lied van liedere

Hooglied is ‘n digterlike perspektief op die liefdeskuns tussen ‘n man en vrou.  Dit werk met ‘n hele aantal liefdesgedigte wat verskillende kante van die liefde uitlig.  Dit is letterlik ‘n “Lied van liedere”, ‘n “Song of songs” (“Canticle of Canticles”) soos dit in Engels vertaal word.  Luther het dit Hooglied genoem.

Salomo

Hoewel die boek tradisioneel aan Salomo toegeskryf is, is daar baie min geleerdes wat dit vandag nog handhaaf.

  • Aan die een kant kom Salomo se naam 7 keer voor in die boek (1:1, 5; 3:7, 9, 11; 8:11, 12).  In hoofstuk 3:6-11 word ‘n beskrywing gegee wat met Salomo self geïdentifiseer kan word.  Die man verwys ook na homself as die koning (7:5).  Die vrou word ook in die gedigte as koningin beskryf (6:8-9).
  • Aan die ander kant kan die titel van die boek bv vertaal word as: “Die mooiste lied oor Salomo” (1:1).  Dit maak sin as ‘n mens in ag neem dat dit in 8:11-13 wil voorkom asof die man iemand anders as Salomo is.  Die verwysing na die man en vrou as koning en koningin kan daarby liefdesname wees wat hulle in die digterlike verwysings na mekaar gebruik.

Belangriker as die mening hieroor, is egter die deurlopende feit dat die vrou in haar gedigte duidelik kies vir persoonlike liefde, eerder as die gedeelde liefde van die harem, soos wat die geval met Salomo sou wees.  Dit maak dit onwaarskynlik dat die skrywer Salomo is.

Sulammitiese vrou

Die vrou in die gedigte word as ‘n Sulammitiese vrou geïdentifiseer (6:13).  Sulam was ‘n boerderygemeenskap 96 km noord van Jerusalem.  Sommige geleerdes identifiseer haar (of ‘n ander vrou) ook as die digteres self (Christina Landman).  Van die getuienis dat die digteres ‘n vrou is – in die uitstekende werk van Elliot, Literary Unity – is dat die fokus, anders as in ander poësie uit daardie tyd, deurgaans op die vrou en haar ervaring gerig is.  Die dialoog in die gedigte is ook duidelik ‘n poëtiese tegniek, nie die gevolg van die samevoeging van gedigte van bv die man en die vrou nie.

Dit is moeilik om terugskouend ‘n mening hieroor te verdedig, aangesien ons min detail het om op te gaan.  Hooglied sou ook die werk kon wees van verskillende digters wat deur ‘n redaktor versamel is.  Maar, dit sou opwindend wees as die Hooglied wel deur ‘n vrou geskryf is!

Van droom na werklikheid

‘n Mens kan ‘n sekere mate van progressie van gedagtes in die loop van die gedigte waarneem, waar die gedigte algaande meer en meer van die droom oor en verlange na die liefde beweeg na die vervulling en werklikheid daarvan.  Hooglied werk dus beide met die liefdesdrome wat ons oor mekaar het, sowel as met die werklikheid van daardie liefde.  Dit sluit ook die teleurstellings en misverstande van die liefde in.

Indeling in gedigte

Om Hooglied egter in te deel in ‘n logiese geheel, is ‘n groot uitdaging.  Die paar herhalings in die teks (“vroue van Jerusalem” in 2:7; 3:5; 8:4 en “sy linkerarm is onder my kop, sy regterarm omhels my” in 2:6; 8:3) help nie veel nie, omdat daar net te veel kleiner gedagte-eenhede in die boek is, wat eintlik as selfstandige en afsonderlike gedigte gelees kan word.

Sommige geleerdes lees daarom die boek vers-vir-vers en verklaar dit as sodanig (Pope).  Ander verdeel dit in korter en langer gedigte op grond van die inhoud en struktuur, soms so min as 9 gedigte (Murphy) en soms so veel as 42 (Keel).

Drie-karakter liefdesverhaal

Een manier om ‘n logiese geheel te vind, is om Hooglied teen die agtergrond van ‘n drie-karakter liefdesverhaal te lees, waarin ‘n Sulammitiese vrou deur Salomo die hof gemaak word, en sy – teen die insluiting in die harem saam met honderde ander vroue – kies vir persoonlike liefde, liefde vir die man wat haar op sy beurt ook liefhet.  Die vroue van Jerusalem (6:1, 13; 8:5 – deel van die harem?), sowel as (waarskynlik) haar broers (8:8-9), lewer dan op gesette tye bykomende kommentaar.  Dit is ‘n aantreklike opsie, hoewel ‘n mens net moet besef dat dit ‘n hipotese is, en slegs ‘n handige manier om eenheid tussen die onderskeie selfstandige gedigte te vind.

Maar om dan selfs met die gerief van só ‘n standpunt af by ‘n eenvormige algemeen-aanvaarde struktuur te kom vir die onderskeie gedigte, is nog weer ‘n ander storie!  Die onderskeie indelings in die kommentare, en verskillende vertalings, weerspieël eintlik maar net die betekenis wat die gedigte vir die individuele kommentatore en vertalers het, eerder as dat die indelings noodwendig met stelligheid slegs op grond van tekstuele oorwegings aangetoon kan word.  En ‘n mens kan steeds elke gedig ook afsonderlik lees.

Poësie

Voel dus vry om self te besluit watter indelings vir jou sin maak of nie.  Die impak wat die beskrywing van die liefde op jou persoonlik gaan maak, is veel belangriker as die presiese wetenskaplikheid van enigiemand se indeling.  Dit is na alles poësie waarmee ons werk, en nie ‘n handboek van die een of ander aard nie.

Indeling van die leeswerk

Ek het gehou van Christina Landman se indeling van die boek in 32 gedigte wat sy nog verder in 10 episodes opgesom het (Lirieke van die liefde, Lux Verbi: 1999).

  1. Ek hoop ek is mooi genoeg – Die vrou se eerste droom: 1:1-11
  2. Ek kan ook deelneem aan hierdie verhouding – Die vrou se tweede droom: 1:12-2:7
  3. Die man kom my haal – Die vrou se derde droom: 2:8-17
  4. My maat bly weg – Die vrou se eerste nagmerrie: 3:1-5
  5. Die troudag breek aan – Die vrou se vierde droom: 3:6-11
  6. Nou vir die eerste huweliksnag – Die vrou se vyfde droom: 4:1-5:1
  7. Ek gaan hom verloor – Die vrou se tweede nagmerrie: 5:2-8
  8. My vriendinne spot my – Die nagmerrie duur voort: 5:9-6:3
  9. Hy wil nie sonder my lewe nie – Die vrou se sesde droom: 6:4-8:4
  10. Die werklikheid kan beter as ‘n droom wees – Die vrou kom tot die besef: 8:5-14

‘n Ander manier is om die boek op grond van Duanne Garrett  se indeling in liefdes-”liedere” as volg te lees (let op hoe die indeling ‘n chiastiese inklusiewe patroon openbaar [A-A’; B-B’ ensovoorts):

A I. Koor en Sopraan: die toetrede (1:2–4)
B      II. Sopraan: die maagd se onderrig I (1:5–6)
C           III. Sopraan en Koor: om die geliefde te vind (1:7–8)
D                IV. Tenoor, Koor, en Sopraan: die eerste lied van wedersydse liefde (1:9–2:7)
E                     V. Sopraan en Tenoor: die uitnodiging om te vertrek (2:8–17)
F                          VI. Drie huweliksnag liedere (3:1–5; 3:6–11; 4:1–15)
Fa                               a. Sopraan: die bruid se angs (3:1–5)
Fb                               b. Koor: die bruid kom na die bruidegom (3:6–11)
Fc                               c. Tenoor: die vleklose bruid I (4:1–15)
G                          VII. Sopraan, Tenoor, en Koor: die huweliksdaad (4:16–5:1)
                         VIII. Drie huweliksnag liedere (5:2–16; 6:1–3; 6:4–10)
Fa´                               a. Sopraan, Tenoor, en Koor: die bruid se pyn (5:2–8)
Fb´                               b. Koor en Sopraan: die bruid herwin die bruidegom (5:9–6:3)
Fc´                               c. Tenoor en Koor: die vleklose bruid II (6:4–10)
                    IX. Sopraan, Koor, en Tenoor: om kindwees agter te laat (6:11–6:13)
               X. Tenoor en Sopraan: die tweede lied van wedersydse liefde (7:1–8:4)
          XI. Koor en Sopraan: om die geliefde toe te eien (8:5–7)
     XII. Koor en Sopraan: die maagd se onderrig II (8:8–12)
XIII. Tenoor, Koor, en Sopraan: die afskeid (8:13–14)

[1]

Ek het besluit om die boek op voetspoor van Landman se indeling te lees, hoewel elkeen van ons steeds natuurlik self sal moet luister na wat God vir ons daardeur en vir ons eie situasie wil sê.

Liefdesname

Dit is opmerklik hoe die twee liefdesgenote mekaar met ‘n wye reeks liefdesname aanspreek en dat hulle fokus op die seksuele en lyflike kant van hulle liefde, nie op hulle persoonlikhede of karaktereienskappe nie, hoewel ‘n mens party daarvan kan aflei uit hulle beskrywings van mekaar.  Dit is natuurlik ook beelde wat in hulle kultuur sin gemaak het, en nie noodwendig in alle gevalle vir ons goed op die oor val nie!

Hy noem haar “my mooiste” (1:8; 2:10, 13), sy “lelie” (2:1), “my liefling” (2:1, 10, 13; 4:1, 7; 6:4), “my duif” (2:14; 5:2; 6:9), “my bruid” (4:8), “my beminde bruid” (4:9, 10, 12; 5:1, 2), “my volmaakte” (5:2; 6:9), en sy “liefste” (7:6).

Hy vergelyk haar met afwisselende beelde uit die natuur en hemelruim, sowel as die gemeenskap.  Sy is soos ‘n “spogperd” (1:9 – hy praat van ‘n merrie, wat soms in oorloë gebruik is om die aandag van die hingste af te lei …!), “‘n tuin wat toegemaak is” (4:12), haar liggaam is “’n lushof” van verskillende bome, struike en vrugte (4:13-15 – beelde wat in Egiptiese liefdesgedigte ook gereeld gebruik is), “‘n fontein in sy tuin” (4:15), so “mooi soos Tirsa” (6:4 – ‘n stad in die landstreek van Samaria), so “aantreklik soos Jerusalem” (6:4), so “pragtig soos die maan” (6:10), so “helder soos die son” (6:10), so “indrukwekkend soos ‘n afdeling vaandeldraers” (6:4, 10) met ‘n slanke gestalte “soos ‘n palmboom” (7:7).

Baie kere praat hy spesifiek van dele van haar liggaam: “oë soos duiwe” (4:1) of “soos die damme by Gesbon” (7:4 – ‘n dorp oos van die Jordaan), “neus soos die toring op Libanon” (7:4 – ‘n beeld wat miskien vandag nie só gebruik sal word nie!), “lippe soos skarlakenrooi lint” (4:3), “tande so wit soos ’n ry pasgeskeerde skape” (4:2; 6:6), “nek soos ‘n toring van ivoor” (7:4), “kop soos Karmel” (7:5), “hare soos rooi wol” (7:5) of  “soos ‘n trop bokke” (4:1; 6:5),  “borste soos takboklammers” (4:5; 7:3) of “druiwetrosse” (7:7, 8), “rondings van haar heupe soos juwele” (7:1), “naeltjie ‘n ronde kom waarin die kruiewyn nie ontbreek nie” (7:2), “maag ‘n hoop koring met lelies omring” (7:2).  Sy is sy “mirreberg” (4:6), sy “wierookheuwel” (4:6).

Sy noem hom “koning” (1:4; 12 – iets wat hy ook van homself sê: 7:5), “my liefling” (1:9), “my lewensmaat” (5:16), ‘n “appelboom” (2:3), ‘n “ribbok” (2:9, 17), en “‘n takboklam” (2:9, 17).  Sy wensdroom oor hom as haar “broer”, sodat sy in die strate hom sou kon soen (8:1).  Maar in die privaatheid van haar ma se huis is sy darem vry om hom te laat drink van haar kruiewyn (vergelyk haar naeltjie vol kruiewyn – 7:2), en van haar granaatsap (8:2).

Ook sy praat van dele van sy liggaam wat vir haar uitstaan: “oë soos duiwe” (5:12), “wange soos kruiebeddings” (5:13), “lippe soos lelies” (5:13), “voorkop soos suiwer goud” (5:11), “haarlokke soos dadeltrosse” (5:11), “lyf soos ‘n blok ivoor” (5:14), “hande soos stawe goud” (5:14), en “bobene soos marmerpilare” (5:15).

Boodskap

Vier perspektiewe oor die liefde van die boek Hooglied is vir my van belang om die boodskap van die boek te verstaan:

  1. Hooglied besing die selfstandige waarde van die seksuele en erotiese kant van die liefde tussen man en vrou.  Die behoefte aan seksuele intimiteit is ‘n universele deel van menswees.  In Hooglied se onverbloemde verheerliking van die seksuele en erotiese kant van die liefde, word ‘n sterk saak uitgemaak vir die gelykwaardige betekenis van die seksuele liefde, sodat dit nie as ondergeskik beskou sal word aan die ander aspekte van die liefde nie, bv die geestelike, of kameraadskaplike, of lewensgemeenskaplike dimensies daarvan. Seksuele liefde is volgens Hooglied dus nie minderwaardig teenoor ander vorme van die liefde tussen man en vrou nie.
  2. Hooglied besing die waarde van die seksuele liefde in die konteks van die wedersydse, persoonlike en getroue verhouding tussen een man en een vrou.  Die liefdesgedigte van Hooglied bevestig die privaatheid van seksuele intimiteit tussen man en vrou.  Seksuele liefde moet dus nie oorhaastig aangeblaas word nie (2:7; 3:5; 8:4 – veral nie as dit jou deel van die harem maak nie!), dit moet nie publiek vertoon word nie (1:4; 3:1-4; 8:1-2), dit moet nie lei tot enige vorm van promiskuïteit met ander vroue/mans nie (6:3; 7:10; 8:8-10).  Natuurlik mag dit ook nie lei tot uitbuiting of misbruik binne die verhouding nie, iets wat na alle waarskynlik binne ‘n harem sou kon gebeur.  In die lig van die interpretasie van Hooglied as ‘n drie-karakter liefdesverhaal, kies die digter(es) dus vir persoonlike liefde, teenoor die praktyk van die harem van Salomo se tyd.  En spel die boek uit hoe ‘n mens lief kan wees, sonder om jouself te verloor.
  3. Hooglied wys dat seksuele liefde die guns van God geniet.  Die insluiting van Hooglied in die Bybel bevorder daarmee die gedagte dat die instelling van die huwelik sowel as die rol wat seksuele liefde daarin speel, iets is wat God se guns geniet.  Tradisioneel het die Jode immers dié boek gelees op die 8ste dag van die Paasfees, waarin die belang van die seksuele liefde as deel van die feestelike herdenking van die Trek, Tora en Tabernakel van die Eksodus beskou is.  Daarmee is die seksuele liefde tussen man en vrou as deel van die normale lewe voor God bevestig.
  4. Hooglied wys dus dat seksuele liefde vir die verhouding tussen man en vrou bedoel is, nie vir die verhouding met God en/of die gode soos in die vrugbaarheidsgodsdienste nie.  Seksuele liefde het vir Hooglied geen godsdienstige funksie nie, en wys dat dit uitsluitlik bedoel is vir die intieme lewensgemeenskap tussen man en vrou.  Daarmee word ‘n streep getrek deur die gebruik van tempelprostitusie wat in sommige godsdienste van dié tyd voorgekom het. Die seksuele liefde tussen man en vrou is doodgewoon deel van die lewe voor God, nie ‘n manier om Hom te aanbid nie.

 


[1]Garrett, Duane: Word Biblical Commentary : Song of Songs/ Lamentations. Dallas : Word, Incorporated, 2004 (Word Biblical Commentary 23B), S. 32


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Hooglied


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda