Psalm 119:49-56 – God se belofte hou my lewend
Psalm 119:49-56 – God se belofte hou my lewend
ז ZAJIN 49Dink aan u woord aan u dienskneg waarmee U aan my hoop gegee het. 50Dit is my vertroosting in my ellende, dat u belofte my lewend hou. 51Vermeteles het my tot die uiterste toe gespot, maar van u wet het ek nie weggedraai nie. 52Ek het u beslissings onthou, van lank gelede af, Here, en ek was getroos. 53Woede het my beetgepak oor goddeloses – hulle wat u wet verlaat. 54Maar u voorskrifte was vir my liedere in ‘n plek waar ek ‘n vreemdeling was. 55Ek het u Naam in die nag onthou, Here, en ek het u wet nagekom. 56Dit het deel geword van my – dat ek by u opdragte hou.
Die sewende deel van die Psalm tref my op ‘n besondere diep manier. Dit wentel om die krag van God se belofte – sy woord aan sy dienskneg – wat nie net hoop in die verlede gegee het nie, maar altyd sy vertroosting in enige teenswoordige ellende is. God se belofte hou hom letterlik aan die lewe wanneer dit swaar gaan. Dit gee hom die moed om aan te gaan en die toekoms op grond van God se beloftes aan te pak. En die Psalmis draai nie doekies om oor hoe swaar dit gaan nie. Vermetelde en arrogante mense spot hom tot die uiterste toe oor sy gehegtheid aan God se wet. Tóg het hy nie van God se wet – sy openbaring, sy woord aan die Psalmis – weggedraai nie. In die proses het ‘n groot woede oor goddelose mense hom beetgepak – dié mense wat God se wet verlaat.
Meer nog, die Psalmis stel homself nog meer daarop in om God se beslissings te onthou, dié dinge wat hy van lank gelede af al weet, en word daardeur getroos. Dit is die liedere wat hom in die vreemde aan die gang gehou het, elke keer wanneer hy in die nag daaroor nagedink het (ietwat anders as die ballinge in die roerende Ps. 137 met wie dit só swaar gegaan het, dat hulle dit nie kon regkry om Sionsliedere in die vreemde te sing nie). En die Psalmis het nie net oor God se wet gesing nie, dit was sy gewoonte om hulle na te kom, elkeen van hulle.
Vanuit hierdie onthou en vashou, skeur daar dan uit hom hierdie kreet: “Onthou tog u woord aan u dienskneg waarmee U aan my hoop gegee het.” (119:49). Want sy troos lê uiteindelik nie in sy eie onthou, óf sy eie woede oor goddeloses, óf sy eie gewoonte om God se woord te onderhou nie. Sy troos lê in God wat sy beloftes onthou en daarom nakom. Dít is ook my eie troos. Ek dink vandag ver terug na woorde wat die Here my gegee het as opdragte en beloftes vir my lewe en bediening – woorde wat reeds op baie maniere vervul is, maar ander wat nog tot volle verwerkliking moet kom. Vertroetel dié woorde in jou eie lewe, en bid soos die Psalmis dat God sy woorde aan jou altyd sal onthou.
Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-11949-56-zajin-onthou-tog-u-woord-aan-u-dienskneg/

Onlangse kommentaar