Skip to main content

Tag: Beloftes

Psalm 119:97-104 – Insig kom wanneer ‘n mens gehoorsaamheid aan God se wil begin beoefen

10 Oktober

Psalm 119:97-104 – Insig kom wanneer ‘n mens gehoorsaamheid aan God se wil begin beoefen

מ MEM 97Hoe lief het ek u wet – die hele dag dink ek daaroor na. 98U gebod maak my wyser as my vyande, want dit is altyd daar vir my. 99Ek is verstandiger as al my leermeesters, want u bepalings is vir my stof tot nadenke. 100Ek het meer insig as oumense, want by u opdragte hou ek. 101Van elke slegte pad het ek my voete weerhou sodat ek u woord kon onderhou. 102Van u beslissings het ek nie afgewyk nie, want dit is U wat my onderrig. 103Hoe strelend is u woord vir my verhemelte, meer as heuning vir my mond. 104Uit u opdragte kry ek insig; daarom haat ek elke bedrieglike pad.

In die dertiende deel van hierdie Psalm verklaar die Psalmis sy liefde vir die hele openbaring van God – wet, gebod, bepalings, opdragte, woord (dâbâr), beslissings, woorde (‘imrâh) – sewe van die woorde wat daarvoor in die Psalm gebruik word. Let op dat die Psalmis hier niks vra van die Here nie, net fokus op sy eie besig wees met God se openbaring.

In die eerste vier verse wissel hy telkens sy eie fokus op die openbaring van God af met die effek wat dit in sy lewe het:

  • Sy liefde vir die wet – die hele dag dink hy daaroor na, dit bly hom elke oomblik by.
  • Die wysheid van God se gebod – dit is altyd daar vir hom.
  • Die verstandigheid van God se bepalings – dit is beter as al sy leermeesters en bly vir hom stof tot nadenke; hy munt selfs uit bó sy leermeesters weens die krag van God se bepalings.
  • Sy gehoorsaamheid aan God se opdragte gee hom selfs meer insig as oumense.

In die laaste vier verse verklaar hy sy gehoorsaamheid aan God se openbaring en die wederkerige effek wat dit nie net op sy lewe het nie, maar veral op sy begrip en insig in wat God wil.

  • Sy gehoorsaamheid sluit in dat hy sy voete van verkeerde paaie weerhou, sodat hy God se woord kan onderhou.
  • Hy wyk nie af van God se beslissings nie, want dit is na alles dié beslissings wat hom onderrig.
  • God se woorde en beloftes is vir hom soeter as heuning, soos die BDV vertaal: “Hoe strelend is u woorde teen my verhemelte, selfs strelender as heuning vir my mond.”
  • Hy haat elke bedrieglike verkeerde pad, want dit kan God se opdragte waardeur hy insig kry, verduister.

Die Psalmis help ons hier om te verstaan dat insig nie net kom deur verklaring nie, maar veral deur God se wil te begin doen. Insig kom wanneer ‘n mens gehoorsaamheid aan God se wil begin beoefen. Soos ek baie keer sê, die Bybel moet ons lewe vorm. Daarvoor is dit nodig dat ons leer om die Bybel te leef terwyl ons dit lees. Dit is dán wat ons God regtig leer ken en ons die pad wat Hy vir ons het, kan onderskei.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-11997-104-mem-insig-in-god-se-openbaring-kom-deur-gehoorsaamheid/

Jeremia 29:1-14 – Julle sal My soek en vind as julle My met julle hele hart raadpleeg

9 Oktober

Jeremia 29:1-14 – Julle sal My soek en vind as julle My met julle hele hart raadpleeg

1Dit is die woorde van die brief wat die profeet Jeremia uit Jerusalem gestuur het na die res van die oudstes in ballingskap en na die priesters, die profete en die hele volk wat Nebukadnesar uit Jerusalem in ballingskap weggevoer het na Babel, 2nadat koning Jegonja, die koninginmoeder en die eunugs, die hoë amptenare van Juda en Jerusalem, die vakmanne en metaalwerkers reeds uit Jerusalem vertrek het, 3deur bemiddeling van Elasa, seun van Safan, en Gemarja, seun van Gilkija, hulle wat deur Sedekia, koning van Juda, na Babel, na Nebukadnesar, die koning van Babilonië, gestuur is: 4So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel, aan al die ballinge wat Ek uit Jerusalem na Babel in ballingskap weggevoer het: 5“Bou huise en bewoon dit; plant tuine aan en eet die vrugte daarvan! 6Neem vroue en verwek seuns en dogters, en kry vir julle seuns vroue en gee julle dogters aan mans, sodat hulle seuns en dogters kan kry. Word daar meer en moenie minder word nie. 7Bevorder die voorspoed van die stad waarheen Ek julle in ballingskap laat gaan het, en bid tot die Here vir die stad, want in sy voorspoed is daar ook voorspoed vir julle.” 8Ja, so sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel, ‘Moenie dat julle profete en die voorspellers in julle midde julle mislei nie, en moenie aandag gee aan die drome wat julle hulle laat droom nie. 9Want dit is leuens wat hulle vir julle profeteer in my Naam. Ek het hulle nie gestuur nie,’ is die uitspraak van die Here. 10Ja, so sê die Here: “As sewentig jaar vir Babel verloop het, sal Ek aan julle aandag gee en my goeie belofte aan julle gestand doen, om julle na hierdie plek toe terug te bring. 11Ja, Ek ken die planne wat Ek vir julle het,” is die uitspraak van die Here. “Dit is planne van voorspoed, en nie teenspoed nie, om aan julle ‘n toekoms en hoop te gee. 12Julle sal My aanroep, en kom en tot My bid, en Ek sal na julle luister. 13Julle sal My soek en vind as julle My met julle hele hart raadpleeg. 14Ek sal My deur julle laat vind,” is die uitspraak van die Here, “en Ek sal julle lot verander en julle bymekaarmaak uit al die nasies en al die plekke waarheen Ek julle verdryf het,” is die uitspraak van die Here, “en Ek sal julle terugbring na die plek waarvandaan Ek julle in ballingskap weggevoer het.”

Die eerste opdrag aan die ballinge word verwoord met dieselfde tipe belofte van seën wat aan die eerste mense in die tuin van Eeden gerig was (Gen. 1:28). Dit bevat ’n “implied promise of success” (Keown)! “Bou huise en bewoon dit; plant tuine aan en eet die vrugte daarvan! Neem vroue en verwek seuns en dogters, en kry vir julle seuns vroue en gee julle dogters aan mans, sodat hulle seuns en dogters kan kry. Word daar meer en moenie minder word nie.” ’n Mens hoor hier dieselfde tipe opdrag wat van die begin af die opdrag aan die mensdom is: bewoon, bewerk en bewaar. Laasgenoemde word uitgespel in terme van die plek waar hy hulle nou die seën van die Here moet soek en beleef: “Bevorder die voorspoed van die stad waarheen Ek julle in ballingskap laat gaan het.” Daaraan word boonop nou ’n opdrag tot intersessie gekoppel: “Bid tot die Here vir die stad, want in sy voorspoed is daar ook voorspoed vir julle.” Let op dat dié belofte van die Here gekoppel word aan ’n waarskuwing om nie te luister na profete en waarsêers wat hulle met drome en profesieë probeer mislei dat die ballingskap gou verby sal wees, en daarom hulle in opposisie teen die Galdeërs beide in Babel as in Jerusalem probeer opsweep (vgl veral later in vers 28). Die Here sê kortweg dat Hy hulle nie gestuur het en nie met hulle gepraat het nie.

Die tweede opdrag aan die ballinge word verwoord met ’n belofte van bevryding dat die ballingskap sewentig jaar sal duur waarna hulle na Jerusalem sal kan terugkeer. Aan die belofte van bevryding word die baie bekende woorde gekoppel: “Ja, Ek ken die planne wat Ek vir julle het… Dit is planne van voorspoed, en nie teenspoed nie, om aan julle ‘n toekoms en hoop te gee.” Daaraan word ’n opdrag gekoppel, wat die Here aanvaar nagekom sal word, dat die volk tot God sal bid en dat Hy hulle sal verhoor. En onthou, dit is dié belofte van Jeremia wat Daniël geïnspireer het om – toe die sewentig jaar van ballingskap amper verby is – die Here te smeek om die volk se ballingskap te beëindig en die volk terug te laat trek na hulle land toe. Daniël was amper negentig jaar oud teen hierdie tyd (Dan 9): “Julle sal My aanroep, en kom en tot My bid, en Ek sal na julle luister. Julle sal My soek en vind as julle My met julle hele hart raadpleeg. Ek sal My deur julle laat vind… en Ek sal julle lot verander en julle bymekaarmaak uit al die nasies en al die plekke waarheen Ek julle verdryf het.”

Die dilemma van die ballingskap word hier op besonder treffende manier geskets. Hoe onderskei ’n mens die wil van die Here in ’n tyd van ontwrigting? Daar is die gevaar van selfaangestelde “dromers” – die ballingskap sal kort wees: Semaja. Daar is die versoeking van magsmisbruik – sit die “malles” in blokke, dws dié mense wat met die heersende diskoers verskil: Sefanja. Gelukkig sê hy nee daarvoor! Die ware woord van die Here word hier gevind in die aanvaarding van die ontwrigting. Dit sluit die aanvaarding van skuld vir die ontwrigting in. Hulle is immers in ballingskap vanweë hulle ongehoorsaamheid aan die boodskap van die Here. Sonder dié belangrike instemming kan nuwe lewe nie grondvat nie.

Waar dié aanvaarding posvat in die psige van die geloofsgemeenskap, open dit egter die weg vir die hoor van die belofte van die Here beide: in die belofte van seën wat gesoek moet word in die ruimte wat die Here gee, sowel as in die biddende verwagting wat gebid moet word, dat die belofte van bevryding en bevestiging terug in hulle eie land deur Hom bewaarheid sal word. Elkeen van ons sal dié boodskap op verskillende wyses in ons eie lewe en dié van ons geloofsgemeenskappe kan toepas.

Lees meer: https://bybelskool.com/jeremia-29-ek-beplan-vir-julle-voorspoed-nie-teenspoed-nie/

Psalm 119:33-40 – God se onderrig in sy voorskrifte sal jou enduit daarby kan hou

8 Oktober

Psalm 119:33-40 – God se onderrig in sy voorskrifte sal jou enduit daarby kan hou

ה HE 33Here, onderrig my in die pad van u voorskrifte, sodat ek enduit daarby kan hou. 34Gee my insig, sodat ek by u wet kan hou, dit met my hele hart kan nakom. 35Begelei my op die pad van u bevele, want daarin vind ek vreugde. 36Laat my hart na u bepalings neig, en nie na winsbejag nie. 37Wend my oë daarvan af om na nuttelose dinge te staar; hou my lewend op u paaie. 38Doen u woord gestand aan u dienskneg – u woord wat ontsag wek vir U. 39Neem die bespotting wat ek vrees van my weg, want u beslissings is goed. 40Kyk, ek verlang na u opdragte; hou my lewend deur u geregtigheid.

Hierdie vyfde gedeelte van Psalm 119 is ‘n gebed wat saamgestel is uit agt versoeke aan die Here, dinge wat jy nodig het om in ‘n verhouding met God te kan lewe. Ek maak dit dus persoonlik:

  1. Onderrig my …
  2. Gee my insig …
  3. Begelei my …
  4. Laat my hart …
  5. Weerhou my oë …
  6. Doen u woord gestand …
  7. Neem bespotting van my weg …
  8. Hou my lewend … (2x – 119:37,40)

Hoekom? Want dit sal jou om help om die doel van jou lewe te kan bereik, ‘n doel wat alles met God se openbaring aan jou te make het. Vind saam met die Psalmis vreugde daarin en verlang daarna. Jy kan dit met die Here deurgesels soos volg:

  1. Ek wil u voorskrifte enduit nakom… dit is iets wat U my moet leer.
  2. Ek wil u wet met my hele hart nakom en onderhou… dit is iets waarvoor ek insig nodig het.
  3. Ek  vind vreugde in u bevele… daarom kan dit my begelei.
  4. Ek wil u bepalings nakom, en nie op winsbejag uit wees nie… daarom is dit ‘n hartsaak vir my.
  5. Ek wil nie na nuttelose dinge staar wat my my lewe kan kos nie… daarom het ek ‘n wag voor my oë nodig, soos Job ook eenmaal vermeld het, om nie iemand anders te begeer nie (Job 31:1 – vgl Jesus in Matt 5:29 wat dieselfde sê).
  6. Ek wil hê dat daar ontsag vir U sal wees… daarom vra ek dat God sy woord aan my gestand sal doen as ‘n getuienis aan ander.
  7. Ek wil u goeie beslissings ervaar… want dit sal bespotting van my af wegneem.
  8. Ek verlang na u opdragte… want die geregtigheid daarvan sal my in die lewe hou.

Dit gee jou eintlik ‘n uitgebreide model om in jou gebedslewe te gebruik.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-11933-40-he-onderrig-my-dat-ek-enduit-u-voorskrifte-kan-nakom/

Spreuke 19:8-9, 20-21, 27 – Daar is baie planne, maar die raad van die Here – dít kom tot stand

7 Oktober

Een van die vreugdes van die boek Spreuke is dat elke vers eintlik ‘n preek op sy eie is.  Elke spreuk maak vir jou ‘n wêreld van gedagtes oop om te ontgin. Die spreuke vervul daarmee dieselfde funksie as die gelykenisse van die NT, wat waarhede op ‘n pittige en stimulerende manier deel van jou lewe maak. In hierdie hoofstuk is daar wel die goue draad van integriteit wat regdeur die hoofstuk loop. Ek lig net ‘n paar uit met veral die belofte in vers 21 as kern, maar jy is welkom om die hele hoofstuk te lees.

Spreuke 19:8-9, 20-21, 27 – Daar is baie planne, maar die raad van die Here – dít kom tot stand

8Wie verstand verkry, het sy lewe lief; hy koester verstandigheid om die goeie te vind. 9‘n Vals getuie bly nie ongestraf nie, en wie leuens uitryg, gaan ten gronde.

20Luister na raad en aanvaar vermaning, sodat jy uiteindelik wys kan wees. 21Daar is baie planne in ‘n mens se hart, maar die raad van die Here – dít kom tot stand.

27As jy ophou, my seun, om na vermaning te luister, dan is dit net om te dwaal – weg van die woorde van kennis.

Vers 8. Jy doen jouself ’n guns as jy groei in wysheid van hart. Net so sal jy sal vir jouself ’n goeie lewe verseker deur ’n helderheid van verstand te behou. Vers 9. ‘n Gebrek aan integriteit – vals getuienis en leuens – kan jou jou lewe kos. Die wet het immers geleer dat wat ‘n vals getuie aan die een wat hy beskuldig wou doen, aan hom gedoen moet word (vgl Deut 19:18-19). Dit vorm moontlik die agtergrond vir hierdie spreuk.

Vers 20. Wysheid kom deur te luister na raad en teregwysing. Wysheid is daarom ’n langtermyn belegging (Kidner). Vers 21. Daar is altyd ‘n element van onsekerheid met ‘n mens se eie planne, omdat ons insig beperk en die veranderlikes te veel is vir ons om in ag te neem. Maar, die oplossing lê in ‘n vertroue op die Here wat nie net met absolute sekerheid beplan nie, maar sy planne kan uitvoer. Dit is daarom beter dat jy jou eie planne laat vaar en eerder alles in die stryd werp om God se planne agter te kom. Hierdie kenmerk van God is ’n gerusstelling vir dié wat sy wil soek en doen. Dit is egter ’n waarskuwing vir dié wat hulle eie kop volg en onafhanklik van God wil leef. Want, dit is net God se planne wat die toets van die tyd sal deurstaan.

Vers 27. Luister na raad – ook net God se raad – word egter net ‘n bate as jy iets positiefs daarmee doen. Anders kan jy net sowel ophou luister daarna. ’n Groei in wysheid veronderstel ’n lewenslange luister en gehoorsaamheid daaraan.

Lees meer: https://bybelskool.com/spreuke-191-29-integriteit-in-alles/

Psalm 119:25-32 – God se woord maak ons lewend

6 Oktober

Psalm 119:25-32 – God se woord maak ons lewend

ד DALET 25My lewe kleef aan die stof; maak my weer lewend volgens u woord. 26Van my lewenspaaie het ek vertel, en U het my geantwoord; leer my u voorskrifte. 27Die pad van u opdragte – laat my dit verstaan, sodat ek oor u wonders kan nadink. 28My lewe vloei weg van verdriet; rig my op volgens u woord. 29Die pad van bedrog – neem dit van my weg; en u wet – gee dit genadiglik vir my. 30Die pad van eerlikheid het ek gekies; u beslissings hou ek voor oë. 31Ek hou aan u bepalings vas; Here, laat my nie beskaamd staan nie. 32Die pad van u bevele volg ek geesdriftig, want U verruim my insig.

Ek verkneukel my in die vernuftigheid van die Psalmis wat in hierdie vierde gedeelte – waarvan elke reël begin met die letter DALET – regdeur die ander groot woord van God se pad met ons inspan om sy boodskap oor te bring. Dit is die woord DÊRÊG (pad) wat ook met ‘n Dalet begin. Let op hoe hy aan die een kant oop en eerlik voor die Here kom en sy eie lewenspad met die Here deel (vers 26) wat uiteraard ook kommer insluit (vers 28) en die problematiek van bedrog (vers 29). En wonder bo wonder het die Here hom geantwoord deur hom sy voorskrifte te gee sodat hy God se pad kan verstaan en daarvolgens – of meer korrek – daarop kan wandel.

Dit is die pad van God se opdragte, van eerlikheid, en van God se bevele. Daarom leer die Psalmis by God sy voorskrifte, vra hy dat God hom sal help om sy opdragte te verstaan: “sodat ek oor u wonders kan nadink.” Hy verlaat hom ook heel pertinent op God se genade, want in die lig van die wet se eise is dit presies wat hy nodig het (vers 29)! En soos hy God se beslissings en bepalings agterkom, hou hy dit voor oë, hou hy daaraan vas in die gebed dat die Here hom nie beskaamd sal laat staan nie: “Die pad van u bevele volg ek geesdriftig, want U verruim my insig.”

Die Woord is regtig ‘n huis om in te woon. Soos ‘n mens groei in die insig en begrip van God se pad met jou, neem sy wil vorm aan soos ‘n huis waarin jy vertroud raak met die kamers en die lewe wat daarin moontlik is. God se woord maak inderdaad lewend.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-11925-32-dalet-die-pad-van-u-bevele-volg-ek-geesdriftig/

Onlangse kommentaar