Skip to main content

Tag: Beloftes

Psalm 119:57-64 – God se troue liefde vul die aarde

20 Oktober

Psalm 119:57-64 – God se troue liefde vul die aarde

ח GET 57U, Here, is my deel, ek het onderneem om u woorde na te kom. 58Ek het met my hele hart u guns gesoek: Wees my genadig volgens u belofte. 59Ek het my paaie bedink en my voete teruggebring na u bepalings. 60Ek het my gehaas en nie getalm om u bevele na te kom nie. 61Die toue van goddeloses het my omstrengel, maar u wet het ek nie vergeet nie. 62In die middel van die nag staan ek op om U te prys oor u regverdige beslissings. 63Ek is ‘n vriend van almal wat vir U ontsag het, en u opdragte nakom. 64Here, u troue liefde vul die aarde; leer my u voorskrifte.

Die agtste deel van Psalm 119 fokus soos die vorige deel steeds op die krag van God se belofte om hom genadig te wees in die aanvegting wat hy ervaar van goddelose mense. Hulle impak op hom is soos vangtoue of strikke wat hom omstrengel, sodat hy die gevaar loop om in sy gehoorsaamheid aan God se wet ontkrag te word. Hy bid dus dat niks hom sal keer of verhinder in sy voorneme om God se openbaring in alle opsigte na te kom. Let op hoe hy sewe van die agt woorde vir God se openbaring gebruik: woorde, bepalings, bevele, wet, regverdige beslissings, opdragte, voorskrifte na te kom. Dit illustreer sy vaste voorneme om in alle opsigte aan God gehoorsaam te wees. Hy wil hê dat die Here hom self sy voorskrifte sal leer.

Hoekom fokus hy só sterk op gehoorsaamheid, selfs al kos dit hom so baie? Omdat, soos die 1983-vertaling dit dinamies vertaal: “Dit is my lewe, Here, om u woord te gehoorsaam.” Letterlik staan daar: “U, Here, is my deel.” (2020-vertaling). Daarmee verwys die Psalmis na die uitsprake in die wet dat die priesters nie ‘n stuk grond ontvang het met die Intog nie, maar dat die Here self hulle deel is: “Ek is jou deel en jou erfenis onder die kinders van Israel.” (Num 18:20 – OAV). En dié deel kan net in ontvangs geneem word, en in stand gehou word, as die Here aan die een kant sy belofte waarmaak – waarvoor die Psalmis hier bid – en ons aan die ander kant ons heelhartig op gehoorsaamheid toelê – waaraan die Psalmis hom hier toewy. Die idee dat God ons deel is, is ‘n tema wat in die Psalms van toepassing gemaak word nie net op priesters nie, maar op alle mense wat die Here die totale fokus van hulle lewe maak. Vergelyk Dawid in Psalm 16:5: “Here, my erfdeel, my beker, U bepaal my lot. Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.”. Hy kan dit selfs sê in die grootste gevaar toe hy in die grot vir Saul geskuil het: “U is my skuilplek, my deel in die land van die lewendes.” (Ps 142:6). Een van die Asaf Psalms uit die derde Psalmboek het dit ook van toepassing gemaak op mense – soos in Psalm 119:57-64 – waar hulle geloof in God in ‘n krisis kom weens die effek van goddeloses, in daardie geval weens die impak van hulle voorspoed. Asaf bely dan: “My liggaam en my hart kan maar wegkwyn, God is die rots van my hart en my erfdeel vir altyd. Want kyk, dié wat ver van U af is, gaan te gronde.” (Ps 73:26).

Daarom lees ons dat die Psalmis bid en worstel met die Here: “Ek het met my hele hart u guns gesoek … Wees my tog genadig volgens u belofte.” Hy het sy paaie (koers) oordink en dit teruggebring na God se bepalings. Hy het hom gehaas: “en nie getalm nie” om God se bevele te gehoorsaam. Hy het God se wet nie vergeet nie, selfs in die middel van die nag die Here geloof. Hy sorg ook dat hy hom omring met mense wat soos hy ontsag het vir die Here, en sy opdragte nakom. Want, hy weet, dit is dán wat hy die belydenis dat die Here sy deel is, sal kan volhou, en die ervaring kan hê dat sy troue liefde die aarde vul.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-11957-64-get-u-here-is-my-deel-u-troue-liefde-vul-die-aarde/

Lukas 18:9-14 – Elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, maar elkeen wat homself verneder, sal verhoog word

19 Oktober

Lukas 18:9-14 – Elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, maar elkeen wat homself verneder, sal verhoog word

9Met die oog op sommige mense wat oortuig was van hulle eie regverdigheid en op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel: 10“Twee mense het opgegaan na die tempelterrein om te bid. Die een was ‘n Fariseër en die ander ‘n tollenaar. 11Die Fariseër het gaan staan en só oor homself gebid, ‘God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is, wat roof, onreg doen en egbreuk pleeg nie, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. 12Ek vas twee keer per week, en ek gee ‘n tiende van alles wat ek verdien.’ 13Die tollenaar het egter op ‘n afstand bly staan, en wou selfs nie eers na die hemel opkyk nie, maar het op sy bors geslaan en gesê, ‘O God, wees my, die sondaar, genadig!’ 14Ek sê vir julle, hierdie man, eerder as die ander een, het na sy huis gegaan as iemand wie se saak met God reggestel is. Want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, maar elkeen wat homself verneder, sal verhoog word.”

Ná die aanmoediging om te volhard in gebed – Lukas 18:1-8 – vertel Jesus daarby ‘n ander gelykenis om hulle tot nederigheid te maan in hulle verhouding met God. Veral om nie op hulleself te vertrou dat hulle regverdig is en dan ander te verag nie. Dit is immers net God wat ons kan regverdig maak.

Twee manne – ‘n Fariseër en ‘n tollenaar – het in die tempel gaan bid. Die Fariseër het “by homself” gebid en God gedank dat hy nie “soos die ander mense” is nie. Hy het nie gesteel nie. Hy was nie onregverdig nie. Hy het geen owerspel gepleeg nie. En dan gebruik hy die tollenaar as voorbeeld van die tipe mens wat hy nie is nie. Tollenaars was gehate mense, omdat hulle vir die Romeine gewerk het en bedrog met die insameling van die tolgeld gepleeg het. Daarby prys die Fariseër homself in sy gebed dat hy twee keer ‘n week vas en ‘n tiende gee van alles wat hy kry – dws meer as wat die wet vra. Die wet het net van een vas in ‘n jaar gepraat (Lev 16:29-31)! En die tiende was net op sekere goed van toepassing (Deut 14:22-23). Die Fariseërs het egter selfs op kruie ‘n tiende gegee, gebaseer op hulle eie reëls waarmee hulle eintlik die Skrif ontkrag het (Luk 11:42).

Die tollenaar het egter nie in die kollig gaan staan nie, miskien selfs in die voorhof van die tempel waar die heidene toegelaat is, en het selfs nie in sy gebed op die gebruiklike manier na die hemel gekyk nie. Hy het homself verneder as sondaar voor God en om genade gesmeek terwyl hy op sy bors slaan. Jesus verklaar dan die gelykenis deur te sê dat die tollenaar as regverdige teruggegaan het, nie die Fariseër nie. Elkeen wat homself voor God verhoog, sal verneder word. Elkeen wat homself voor God verneder, sal verhoog word. Daar is net een manier om voor God geregverdig te word. Dit is om jou sonde voor Hom te bely en so jouself voor Hom te verneder. Dit is God se genade wat lei tot ‘n lewe wat vir Hom aanneemlik is. ‘n Dankbaarheid vir genade, nie ‘n poging om jou eie geregtigheid te verdien nie.

Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-181-1944-god-is-meer-as-gewillig-om-gebede-te-beantwoord/

2 Timoteus 4:9-18 – Die Here sal jou van elke bose daad red met die oog op sy hemelse koninkryk

18 Oktober

2 Timoteus 4:9-18 – Die Here sal jou van elke bose daad red met die oog op sy hemelse koninkryk

9Doen jou bes om gou na my toe te kom, 10want Demas het my verlaat: Hy het die huidige wêreld liefgekry, en na Thessalonika vertrek, Kressens na Galasië, en Titus na Dalmasië. 11Net Lukas is nog by my. Gaan haal vir Markus, en bring hom saam met jou, want hy is vir my baie nuttig in die bediening. 12Tigikus het ek na Efese gestuur. 13Wanneer jy kom, bring die mantel saam wat ek in Troas by Karpus agtergelaat het, en ook die boekrolle, veral die perkamente. 14Aleksander, die kopersmid, het my baie kwaad aangedoen. Die Here sal hom volgens sy dade vergeld. 15Wees ook jy op jou hoede vir hom, want hy het ons woorde heftig teengestaan. 16Tydens my eerste verdediging het niemand my bygestaan nie; inteendeel, almal het my in die steek gelaat. Mag dit hulle nie toegereken word nie! 17Die Here het my egter ondersteun en my versterk, sodat ek die verkondiging kon voltooi, en al die heidene dit kon hoor; en ek is uit die bek van die leeu gered. 18Die Here sal my van elke bose daad red, en Hy sal my verlos, met die oog op sy hemelse koninkryk. Aan Hom die heerlikheid vir ewig en ewig! Amen.

Die tweede (en laaste) brief van Paulus aan Timoteus sluit af met ‘n paar persoonlike versoek. Hy moedig Timoteus aan om voor die winter by Paulus besoek af te lê en sekere persoonlike items vir hom te bring, die reismantel vir die naderende koue, en die boeke (moontlik afskrifte van sy briewe) en perkamente wat boeke van die OT bevat het. Hy waarsku Timoteus teen Aleksander van Troas, aangesien dié vir Paulus baie leed veroorsaak het. Let op hoeveel medewerkers Paulus hier noem, altesame 16! En hoewel ons net van ‘n paar van hulle ietsie meer weet, gee dit ons ‘n goeie prentjie van die mense met wie Paulus saamgewerk het om die evangelie aan die hele bekende wêreld van sy tyd te neem:

  • Demas het nog saam met Paulus gewerk toe hy die brief aan Kolosse geskryf het (Kol 4:14, Filemon 24), maar hom nou ongelukkig verlaat omdat die lewe saam met Paulus net te swaar was, en hy ‘n makliker lewe wou hê.
  • Kressens is na Galasië toe, en het waarskynlik die biskop van Gallië geword.
  • Titus ken ons uit die brief aan hom op Kreta. Hy het weer by Paulus in Rome kom besoek aflê, en is toe na Dalmasië gestuur (Kroasië).
  • Lukas is die bekende skrywer van die evangelie van Lukas en die Handelinge van die apostels.
  • Markus is die jongman met wie Paulus stry gekry het oor sy volharding en toewyding, maar wat deur die mentorswerk van Barnabas weer met Paulus versoen is, deur hom in Kolosse ingespan is (Kol 4:10), en uiteindelik dus nie net vir Paulus tot diens was nie, maar vir die oudste evangelie, die evangelie van Markus verantwoordelik was.
  • Tigikus was saam met Paulus op sy derde sendingreis na Jerusalem toe (Hand 20:4) en het onder andere Paulus se gevangenskap briewe afgelewer (Kol 4:7; Ef 6:21) en hom tot diens gewees in ‘n hele paar gemeentes (Tit 3:12). Paulus het hom op hierdie stadium na Efese gestuur.
  • Priscilla en Akwila was vermoënde Christen leiers wat in Rome, Korinte en Efese groot werk gedoen het, en onder andere die groot prediker Apollos onderrig het.
  • Onesiforus het baie vir Paulus in Rome beteken en diens in Efese gedoen (1:18).
  • Esrastus was die stadstesourier van Korinte (Rom 16:23) en word deur Paulus in die bediening ingespan (Hand 19:22).
  • Trofimus was van Efese en die persoon wat deur die Jode misbruik is om Paulus by te kom (Hand 21:29). Hy het Paulus op sy verdere reis Rome toe vergesel, maar moet weens siekte in Milete agter gelaat word.
  • Ons weet ongelukkig niks verder van Karpus, Eubulus, Pudens, Linos en Claudia nie.

Let egter op dat Paulus in die laaste instansie nie op mense nie, maar op God staatgemaak het. Want, dit is op God se belofte van ondersteuning, versterking, en verlossing wat hy regdeur sy bediening staat gemaak het. Daarsonder sou hy nooit die verkondiging van die evangelie kon voltooi, sodat al die heidene dit kon hoor nie. Nie net het die Here hom uit “die bek van die leeu gered” nie – moontlik ‘n aanduiding van sy redding van die komplot teen hom in Jerusalem (Hand 23) – maar, het die Here sy belofte gestand gedoen dat hy van elke bose daad gered sal word – ook dié van Alexander – en ongeskonde sal aankom in God se “hemelse koninkryk”. Daarom loof hy dié God vir sy heerlikheid, vir ewig en ewig!

Lees meer: https://bybelskool.com/2-timoteus-41-22-getrou-aan-jou-roeping/

Joël 2:28-32 – Ek sal my Gees uitstort op alle mense

17 Oktober

Joël 2:28-32 – Ek sal my Gees uitstort op alle mense

28“Ná hierdie dinge sal Ek my Gees uitstort op alle mense. Dan sal julle seuns en julle dogters profeteer. Julle ou mense sal drome droom, en julle jong mense sal visioene sien. 29Selfs op die slawe en slavinne sal Ek in daardie dae my Gees uitstort. 30Ek sal tekens gee in die hemel en op aarde: bloed en vuur en kolomme rook. 31Die son sal verander word in donkerte, en die maan in bloed, voordat die groot en verskriklike dag van die Here kom. 32Dan sal elkeen wat die Naam van die Here aanroep, ontkom; want op die berg Sion en in Jerusalem sal daar ontvlugting wees, soos die Here gesê het. Net hulle wat deur die Here geroep word, sal vry wees.”

Hierdie hoofstuk is in twee dele opgedeel, telkens ingelei deur die frase: “Blaas die ramshoring in Sion” (2:1 en 2:15). Dit fokus op die “dag van die Here” wat onafwendbaar kom en oordeel en redding sal inhou. Die kosmiese tekens wat dit begelei (2:10, 20, 30-31; vgl. ook 3:15), dui op ‘n vervulling wat nie net vir hulle tyd betekenis het nie. In albei rondtes word die volk uitgenooi in die hoop dat daar tog miskien ‘n herroeping van die straf van die oordeel vir die volk kan wees. In die eerste rondte – 2:1-14 – volstaan die profeet met die oproep tot bekering en eindig met ‘n vraag of dit die gewenste uitwerking sal hê.  In die tweede rondte – 2:15-32 – bars die visioen deur dat die verootmoediging van die volk (Joël 2:15-17) die gewenste uitwerking sal kan hê. Die redding van die Here sal in drie transformasies gesien kan word: 1) die vyand sal verdryf word (Joël 2:18-20), 2) die volk sal volledig herstel word (Joël 2:21-27), en 3) God se Gees sal op alle mense uitgestort word (Joël 2:28-32). Ons lees net die laaste deel.

Dit is die toppunt van die belofte aan Israel, en let op dat dit geestelik is: “Ná hierdie dinge sal Ek my Gees uitstort op alle mense…” Die Here herstel hulle geestelike gemeenskap met Hom.

Daar word ‘n hele paar plekke in die OT gepraat oor die Gees wat op individue gekom het. Vgl. die volgende:

  • Kunstenaars – Eksodus 31:3: Besaleël;
  • Leiers – Numeri 11:16-29: Moses as profeet en leier van die volk, sowel as ‘n deel daarvan op die sewentig leiers van die volk waaronder Eldad en Medad wat as profete opgetree het, wat Moses laat opmerk het: “Ek sou wou wens dat die hele volk van die Here profete was, en dat Hy sy Gees op almal mag lê.” – dit gebeur later ook met Josua (Num 27:18);
  • Rigters – Otniël (Rigt 3:10); Gideon (Rigt 6:34); Jefta (Rigt 29); Simson (Rigt 13:25; 14:6, 19; 15:14);
  • Konings – Saul (1 Sam 10:10; 19:23- die Gees het ook gewyk van Saul – 1 Sam 16:14); Dawid (1 Sam 16:13; 2 Sam. 23:2 – Hy bid dat die “Heilige Gees” nié van hom sal wyk nie – Ps 51:13)
  • Boodskappers – Saul s’n (1 Sam 19:20)
  • Leiersoldaat – 1 Kron 12:18: Amasai as aanvoerder van Dawid se voorkeur soldate.
  • Profete – bv Asarja (2 Kron 15:1) – Nehemia dink terug aan die verlede en sê: “U het hulle gewaarsku deur u Gees, deur middel van u profete …” (Neh 9:30)
  • Priesters – bv. die Leviet Jagasiël (2 Kron 20:14) en die priester-profeet Sagaria (2 Kron 24:20);
  • Messias – bv Jes 11:2.

Hier is egter die eerste aanduiding dat die Gees op alle mense uitgestort gaan word, ‘n antwoord op die wens van Moses! Joël brei dus die prentjie van die werk van die Gees op beduidende radikale en nuwe wyse uit, iets wat met Pinksterdag in vervulling gegaan het (Hand 2). Let op dat die Gees op jonk en oud – dws multigenerasioneel – manlik en vroulik – dws multigender – op alle sosiale klasse van die samelewing – “Selfs op die slawe en slavinne”– en op alle mense – “Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word” (1983-vertaling) – uitgestort word. Die Gees se werking sluit inderdaad niemand uit nie, wat ook beteken dat ons niemand mag uitsluit wat die Here se Naam aanroep nie. Later sou Esegiël ook soortgelyke dinge sê oor die uitstorting van die Gees oor die volk (Eseg 37), maar Joël se belofte troon uit as ‘n unieke skets van wat in die toekoms sou wag. Die kosmiese tekens, soos vroeër genoem, bevestig dat dié belofte eers in ‘n latere tydsgewrig vervul sal word, soos inderdaad gebeur het.

Die gevaar is altyd groot dat ons deur die bril van die ballingskap na God kyk en net ‘n God sien wat oordeel, wat agter die skerms werk en verlies en vernietiging bewerk weens mense se ongehoorsaamheid en afvalligheid. Joël help ons verstaan met dié twee gedeeltes dat God se bedoeling altyd op inkeer en omkeer gemik is. Hy wil herstel bring, omvattend en vir almal. Hy red egter nie sondermeer nie, want redding sonder ‘n herstel van die verhouding met die land, met ander nasies, met mekaar en veral met Hom is ‘n redding wat nêrens gaan nie. Daarom dat die profeet hulle so innig smeek om tot inkeer te kom, want: “Wie weet of Hy nie die straf sal herroep nie?” Dieper nog, Joël weet uit die verlede: “Hy is bereid om straf te herroep!” Maar dan moet hulle van binne-af tot inkeer kom: “Skeur julle harte, nie julle klere nie.” Dít is wie God is, reeds in die OT, eintlik veral in die OT! Dit ontroer ‘n mens as jy die oorgawe van God om omvattend te seën in die tweede gedeelte raak lees. Dit is nie net die land wat herstel nie; dit is ook die verhouding met die nasies (waaroor hfst. 3 verder gaan uitbrei); dit is ook die omgewing waar hulle bly, en hulle ekonomie: “Ek stuur vir julle koring en wyn en olie. Julle sal oorgenoeg hê.” Die diepste seën lê egter in die uitstorting van sy Gees op almal. Dit omsluit generasies, gender, klasse, en alle mense wat die Here aanroep. Dit sluit ook die mense in wat die Here sal roep uit die nasies uit om deel van sy herstelde wêreld te wees, iets waarop die NT natuurlik omvattend uitbrei.

Lees meer: https://bybelskool.com/joel-21-32-die-here-belowe-medelye-en-voorspoed-vir-die-wat-na-hom-terugkeer/

Jeremia 31:23-40 – Ek sal my wet in hulle binneste gee, en dit op hulle harte skryf

16 Oktober

Jeremia 31:23-40 – Ek sal my wet in hulle binneste gee, en dit op hulle harte skryf

23“So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel, ‘Hulle sal weer hierdie woorde sê in die land Juda en in sy dorpe wanneer Ek hulle lot verander: “Mag die Here jou seën, woonplek van geregtigheid, heilige berg!” 24Juda en al sy dorpe sal saam daar woon, landbouers en hulle wat met kuddes kleinvee rondtrek. 25“ ‘Want Ek verkwik ‘n dors mens, en aan elkeen wat versmag, gee Ek genoeg.’ ” 26Hierop het ek wakker geword en gekyk, en my slaap was vir my soet. 27“Kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “wanneer Ek in die huis van Israel en in die huis van Juda die saad van mense en diere sal saai. 28En soos Ek daarop bedag was om hulle uit te ruk en af te breek, plat te slaan, ten gronde te laat gaan en skade aan te rig, so sal Ek daarop bedag wees om hulle op te bou en te plant,” is die uitspraak van die Here. 29“In daardie tyd sal hulle nie meer sê, “ ‘Die ouers het groen druiwe geëet, en die kinders se tande het stomp geword’ nie. 30“Maar elkeen sal vir sy eie sondeskuld sterf. Elke mens wat groen druiwe eet, se tande sal stomp word. 31“ ‘Kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond sal sluit. 32Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorouers gesluit het die dag toe Ek hulle aan die hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie – my verbond wat hulle self verbreek het, al was Ek Heer oor hulle,” is die uitspraak van die Here. 33“Nee, dít is die verbond wat Ek ná daardie dae met die huis van Israel sal sluit,” is die uitspraak van die Here: “Ek sal my wet in hulle binneste gee, en dit op hulle harte skryf. Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees. 34Hulle sal nie meer elkeen sy medemens of sy broer leer en sê, ‘Ken die Here!’ nie, want hulle almal sal My ken, van die kleinste tot die grootste onder hulle,” is die uitspraak van die Here. “Want Ek sal hulle sondeskuld vergewe en aan hulle sonde sal Ek nie weer dink nie.” 35So sê die Here, wat die son bedags as ‘n lig gee, die vaste voorskrifte vir die maan en sterre as ligte snags, Hy wat die see in beweging bring, sodat sy golwe dreun; die Here, Heerser oor alle magte is sy naam: 36“As hierdie vaste voorskrifte voor My verdwyn,” is die uitspraak van die Here, “sal ook die nageslag van Israel ophou om vir altyd ‘n nasie te wees voor My.” 37So sê die Here, “As die hemelruim daar bo gemeet kan word, en die fondamente van die aarde daar onder vasgestel kan word, sal Ek ook die hele nageslag van Israel verwerp oor alles wat hulle  gedoen het,” is die uitspraak van die Here. 38“Kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “wanneer die stad vir die Here herbou sal word, van die Gananeltoring af tot by die Hoekpoort. 39Die maatlyn moet dan verder reguit aangelê word tot op die Garebheuwel; dan moet daar gedraai word na Goa. 40Die hele vallei waar die lyke en die as is, en al die terrasse tot by die spruit Kidron en die hoek van die Perdepoort aan die oostekant, sal vir die Here ‘n heilige gebied wees. Dit sal nooit weer uitgeruk of platgeslaan word nie.”

Hierdie sewende perikoop vat die voorafgaande beloftes van die Here in hoofstuk 30-31 saam en beskryf die omvattende lotsverandering wat die Here vir Israel en Juda beplan. Dit sluit die volgende vyf aspekte in:

  1. Jeremia 31:23-26 – Die herstel van hulle grondgebied – die Here wil hê dat mense weer gedy in hulle eie woonplek: “Want Ek verkwik ‘n dors mens, en aan elkeen wat versmag, gee Ek genoeg.” Geen wonder Jeremia word verkwik wakker ná hierdie woord nie!
  2. Jeremia 31:27-30 – Die herstel van die gemeenskapslewe – die Here wil hê dat mens en dier vrugbaar sal wees in die land, soos dit met die skepping bedoel is, en besluit om hulle te bou en te plant, die metafore van Jeremia se roepingsopdrag. Hy sal spesifiek individuele verantwoordelikheid instel, sodat die “groen druiwe” nie die hele oes sal benadeel nie (vgl ook Eseg 18)!
  3. Jeremia 31:31-34 – Die sluit van ’n Nuwe Verbond – die Here wil die gebreke van die Ou Verbond herstel waarin die volk dit kon verbreek, al was God getrou aan hulle. Hy skrywe nou die wet (woorde) van die verbond as ’n interne werklikheid in hulle harte en binneste (gedagtes) wat hulle op ’n onverbreekbare manier aan Hom sal verbind. God gee dus die innerlike motivering en krag wat nodig sal wees vir die nakoming van die wet in die nuwe verbond. Nie dat dit nie nog altyd die droom van God vir sy mense was nie (Deut. 6:6 – “hierdie woorde moet in jou hart wees”), maar God maak self die droom nou ’n werklikheid. “Their memories, desires, and decisions will be brought into conformity with God’s self-revelation to Israel,” sê Keown (Word kommentaar). Elkeen sal deel in dié werklikheid, sowel as in die vergifnis van die sondes van die verlede. Dieselfde tipe gedagtes sal herhaal word in hoofstukke 32-33, asook in Esegiël 34-37. En in die NT word die vervulling hiervan natuurlik met Jesus Christus verbind, soos veral die Hebreërskrywer dit vir ons duidelik interpreteer (Hebr 8:8-12; 10:16-17).
  4. Jeremia 31:35-37 – Die bevestiging van die onverbreekbare band tussen die Here en die nasie Israel – die Here is aan die nasie van Israel só verbonde soos Hy aan die skepping verbonde is. Hy sal nooit die hele nageslag van Israel in totaliteit verwerp “oor alles wat hulle gedoen het” nie. Maar onthou die herstel van die individuele verantwoordelik in die tweede belofte wat saam met hierdie vierde belofte gelees moet word. Die geestelike verbintenis met God is noodsaaklik om die werklikheid hiervan te kan geniet.
  5. Jeremia 31:38-40 – Die herbou van die stad Jerusalem (vgl. Neh. 3) – die Here sal Jerusalem herbou sodat dit weer sy heilige plek sal wees. En onthou, selfs in die nuwe hemel en aarde, bly Jerusalem die fokus van die belewenis van God se teenwoordigheid, soos die Openbaring aan Johannes dit veel later steeds sal bevestig.

Let op dat die belofte van die Nuwe Verbond die hart van hierdie vyf beloftes uitmaak. Die eerste en vyfde belofte is geografies van aard en het met die grondgebied en die stad te make. Die tweede en vierde belofte is sosiaal van aard en het met die gemeenskapslewe en God se verbintenis aan hulle as nasie te make. Die derde belofte vorm dus die kern van die belofte van ’n omvattende lotsverandering, dit is die geestelike belofte van ’n nuwe verbond van vergifnis en vernuwing. ’n Mens sou daarom kon sê dat die Nuwe Verbond die geografiese en sosiale dimensies van God se transformasie van die volk beslissend bepaal. Sonder die deelname aan dié verbond, kom die geestelike en godsdienstige betekenis van die ander beloftes in gedrang.

Lees meer: https://bybelskool.com/jeremia-312-40-ek-sluit-n-nuwe-verbond-met-julle/

Onlangse kommentaar