Lukas 17:11-19 – Genesing is tydelik, maar geloof in Jesus red jou vir die ewigheid
Lukas 17:11-19 – Genesing is tydelik, maar geloof in Jesus red jou vir die ewigheid
11Op ‘n keer het Jesus op pad na Jerusalem deur die grensgebied tussen Samaria en Galilea gereis. 12Toe Hy ‘n sekere dorpie binnegaan, het tien melaatse mans Hom tegemoet gekom. Hulle het op ‘n afstand bly staan 13en uitgeroep: “Jesus, Meester, ontferm U tog oor ons!” 14Toe Hy hulle sien, sê Hy vir hulle: “Gaan wys julleself vir die priesters.” Op pad daarheen is hulle gereinig. 15Een van hulle het, toe hy sien dat hy gesond geword het, omgedraai en God met ‘n harde stem geloof. 16Hy het op sy gesig aan Jesus se voete neergeval en Hom gedank. Hy was ‘n Samaritaan. 17Jesus antwoord hom toe: “Is daar dan nie tien gereinig nie? Waar is die ander nege? 18Was daar niemand onder hulle te vinde wat omgedraai het om God te loof, behalwe hierdie vreemdeling nie?” 19Toe sê Hy vir die man: “Staan op en gaan! Jou geloof het jou gered.”
Jesus sit sy reis na Jerusalem voort. Terwyl Hy op die grens tussen Samaria en Galilea reis, gaan Hy in ‘n dorp in waar tien mans met ‘n ernstige velsiekte Hom van ‘n afstand af vra om Hom oor hulle te ontferm. Let op dat hulle Hom Jesus noem en Meester. Daarmee erken hulle dat Hy ‘n persoon van hoë status was, ‘n leier soos Petrus Hom ook vroeër genoem het (Luk 5:5). Toe Jesus hulle sien, het Hy hulle na die (plaaslike) priesters toe gestuur. Die rede daarvoor blyk uit die feit dat toe hulle gehoorsaam weggaan, hulle gereinig is. Om hulle toe te laat tot die geloofsgemeenskap was egter die priesters se verantwoordelikheid; vandaar die opdrag. Jesus het hulle genees, maar die priesters moes hulle ritueel rein verklaar om weer in die tempel in God se teenwoordigheid te mag verskyn.
Net een van hulle, ‘n Samaritaan nogal, sê Lukas, het omgedraai, God met ‘n groot stem verheerlik, en in dankbaarheid aan Jesus se voete neergeval, toe hy agterkom dat hy genees is. Jesus sien dan die ironie in die situasie raak dat net ‘n “vreemdeling” aan God eer vir sy genesing gegee het, maar nie een van die ander nege nie. Die kontras tussen die “vreemdeling” en die “nege ander” laat ‘n mens vermoed dat hulle Jode was. Jesus verklaar dit dan vanuit die “vreemdeling” se geloof. Sy geloof het hom nie net genees nie, maar “gered”, soos die Griekse woord sōzō ook vertaal kan word. Die verhaal van die genesing van die tien siekes, waarvan net een, ‘n Samaritaan, ‘n vreemdeling, Jesus kom bedank het, maak dus die punt dat genesing van verbygaande aard is, maar geloof in Jesus jou red vir die ewigheid.
Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-161-1737-dissipels-leef-met-integriteit-en-genade/

Onlangse kommentaar